Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 7/8 bl. 20-24
  • God se naam het my lewe verander!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se naam het my lewe verander!
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lewe in die reservaat
  • Die huwelik—’n droom en ’n nagmerrie
  • Ek begin besef dat daar ’n ware God is
  • Ek kom vir die eerste keer met die Getuies in aanraking
  • Die uitwerking van Christelike vergaderinge
  • Twee belangrike besluite
  • Hoop vir die toekoms
  • Teokratiese uitbreiding in die land van die Navaho
  • Wat hou die toekoms vir hulle in?
    Ontwaak!—1996
  • Die uitdagings van ’n unieke gebied
    Ontwaak!—2004
  • Ek het twee here probeer dien
    Ontwaak!—2003
  • Hoe hulle hulle wêreld verloor het
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 7/8 bl. 20-24

God se naam het my lewe verander!

SOOS VERTEL DEUR SANDY JAZZIE TSOSIE

EK EN my sussies, wat onder die bed weggekruip het, het gegiggel en mekaar geslaan toe die Mormone aan ons deur klop.a Toe ek uiteindelik die deur oopmaak, het ek kortaf vir hulle gesê dat ons tradisionele Navaho is en nie wil hê dat hulle met ons oor enige wit man se godsdiens moet praat nie.

Ons ouers het na die handelstasie gegaan vir benodigdhede. Hulle sou met sononder terug wees. Met hulle terugkoms het hulle gehoor dat ek ongeskik met die Mormone was. Hulle goeie raad aan my was om nooit weer oneerbiedig teenoor enigiemand te wees nie. Ons is geleer om mense met respek en vriendelikheid te behandel. Ek onthou toe ’n onverwagte besoeker eendag by ons opgedaag het. My ouers was buite besig om kos te kook. Hulle het die besoeker vriendelik genooi om eers te eet, en daarna het ons geëet.

Lewe in die reservaat

Ons het in Howell Mesa, Arizona, gewoon, 14 kilometer noordwes van die Hopi- Indianereservaat, en ver van die oorvol stede en dorpe. Dit is in die suidwestelike deel van die Verenigde State waar skouspelagtige woestyntonele plek-plek met buitengewone rooi sandsteenformasies versier word. Daar is baie mesas—hoë plato’s met styl kante. Van hier af kon ons ons skape agt kilometer in die verte sien wei. Hoe lief is ek tog vir die rustigheid van hierdie land, my geboorteland!

Gedurende hoërskool het ek besonder geheg geraak aan my neefs en niggies wat die Indiane-beweging (AIM)b gesteun het. Ek was baie trots daarop om ’n Indiaan te wees en het vir wit mense gesê wat ek van die dekades van onderdrukking dink, wat ek geglo het deur die Buro vir Indiane-aangeleenthede (BIA) begin is. In teenstelling met my neefs en niggies het ek nie my haat openlik gewys nie. Ek het dit in my hart omgedra. Dit het gemaak dat ek enigiemand wat ’n Bybel besit het, gehaat het.

Ek het geredeneer dat dit weens die Bybel is dat die wit mense die mag gehad het om ons land en ons regte weg te neem, sowel as ons vryheid om ons eie heilige seremonies te hou! Toe ons gedurende my kosskooldae gedwing is om kerkdienste by te woon, het ek selfs my pa se handtekening vervals sodat ek nie die Protestantse en Katolieke godsdiensseremonies hoef by te woon nie. Daardie skole is bedoel om ons in hulle manier van lewe op te neem en ons ons Indiaanse erfenis te laat vergeet. Ons is selfs nie eers toegelaat om ons eie taal te praat nie!

Ons het groot respek vir die natuur en ons omgewing gehad. Elke oggend het ons na die ooste gekyk, ons gebede opgesê en ons dank betuig deur die heilige mieliestuifmeel te sprinkel.c Dit was my formele opleiding in die Navaho manier van aanbidding, en ek het dit heelhartig met trots aanvaar. Die Christendom se leerstelling dat ’n mens hemel toe gaan, het my nie aangetrek nie, en ek het ook nie aan vurige foltering in die hel geglo nie. Dit was my hartsbegeerte om op die aarde te lewe.

Gedurende skoolvakansies het ek dit geniet om saam met ons gesin te wees wat so geheg aan mekaar was. Dit was my daaglikse roetine om die hogan—ons Navaho-woning—skoon te maak, te weef en na die skape om te sien. Ons as Navaho-Indiane is al eeue lank skaapwagters. Elke keer wanneer ek ons hogan skoongemaak het (sien foto hieronder), het ek ’n klein rooi boekie gesien wat die Bybelboek Psalms en verskeie boeke van die “Nuwe Testament” bevat het. Ek het dit van die een plek na die ander verskuif en nooit oor die inhoud en betekenis daarvan gedink nie. Maar ek het nooit daarvan ontslae geraak nie.

Die huwelik—’n droom en ’n nagmerrie

Nadat ek met hoërskool klaar was, het ek beplan om na die ambagskool in Albuquerque, Nieu-Mexiko, te gaan. Maar ek het my toekomstige huweliksmaat ontmoet voordat ek gegaan het. Ek het na die Navaho-reservaat, wat ons die Rez noem, teruggekeer om te trou. My ouers was al jare lank getroud. Ek wou hulle voorbeeld volg en het dus getrou. Ek het baie daarvan gehou om ’n huisvrou te wees en het ons huislewe geniet, veral ná die geboorte van ons seun, Lionel. Ek en my man was baie gelukkig—totdat ek eendag hartverskeurende nuus gehoor het!

My man het ’n ander vrou gehad! Ons huwelik is deur sy ontrouheid vernietig. Ek was verpletter en het hom verskriklik begin haat. Ek wou wraak neem! Maar in die stryd om toesig oor my seun asook onderhoud te kry, is ek eenvoudig oorweldig deur hartseer en ’n gevoel van nutteloosheid en wanhoop. Ek het dikwels kilometers ver gehardloop om my smart te verlig. Ek het maklik in trane uitgebars en my eetlus verloor. Ek het heeltemal alleen gevoel.

’n Ruk later het ek met ’n man begin uitgaan wat soortgelyke huweliksprobleme gehad het. Ons was albei seergemaak. Hy het my jammer gekry en die emosionele ondersteuning gegee wat ek nodig gehad het. Ek het hom van my diepste gedagtes en gevoelens oor die lewe vertel. Hy het geluister, wat vir my getoon het dat hy omgee. Ons het planne gemaak om te trou.

Toe het ek uitgevind dat hy ook ontrou was! So moeilik en pynlik soos wat dit was, het ek ons verhouding verbreek. Ek het verworpe en baie neerslagtig gevoel. Ek het woedend en haatdraend geword en selfmoordneigings gehad. Ek het twee keer probeer om selfmoord te pleeg. Ek wou net sterf.

Ek begin besef dat daar ’n ware God is

Ek het baie gehuil terwyl ek tot ’n God gebid het wat ek nie geken het nie. Maar ek het tog geglo dat daar ’n Opperwese is wat die ontsagwekkende heelal geskep het. Ek is gefassineer deur die pragtige sonsondergange en het nagedink oor hoe wonderlik daardie Iemand moet wees om ons toe te laat om hierdie wonders te geniet. Ek het daardie persoon, wat ek nie geken het nie, leer liefkry. Ek het vir hom begin sê: “God, as u werklik bestaan, help my tog, lei my en laat my weer gelukkig wees.”

Intussen was my familie, veral my pa, bekommerd. My ouers het toordokters gehuur om my gesond te maak. My pa het gesê dat ’n goeie toordokter ’n mens nooit geld sal vra nie, en hy sal toepas wat hy ander leer. Om my ouers tevrede te stel, het ek by verskeie geleenthede aan die godsdiensseremonies van die Navaho-seënbede deelgeneem.

Ek het dae alleen, met net ’n radio langs my bed, in die hogan deurgebring. Ek het met weersin na ’n geestelike se veroordeling geluister omdat ek nie Jesus in my hart aanvaar het nie. Dit het my teen die bors gestuit! Ek het genoeg gehad van die wit man se godsdiens en selfs van my eie godsdiens! Ek het besluit om God op my eie manier te vind.

Gedurende my afsondering het ek weer daardie klein rooi boekie gesien. Ek het besef dat dit ’n deel van die Bybel was. Ek het die Psalms gelees en gesien dat koning Dawid ook gely en neerslagtig gevoel het, en dit het my vertroos (Psalm 38:1-23; 51:1-21). Maar weens my trotsheid het ek gou alles verwerp wat ek gelees het. Ek sou nie die wit man se godsdiens aanneem nie.

Ten spyte van my neerslagtigheid het ek dit reggekry om goed na my seun om te sien. Hy het my bron van aanmoediging geword. Ek het na godsdiensprogramme op TV begin kyk wat gebede vir mense gedoen het. Ek het die telefoon opgetel en ’n desperate oproep na ’n hulplyn gedoen. Ek het die telefoon neergegooi toe daar vir my gesê is om ’n donasie van $50 of $100 (R350 of R700) te belowe!

Die verhore in die skeihof het my neerslagtig gemaak, veral om te sien dat my man nie eerlik met die stamregter was nie. Dit het lank geneem om ons egskeiding af te handel weens die stryd om toesig oor ons seun. Maar ek het gewen. Gedurende die verhore het my pa my, sonder ’n woord, liefdevol bygestaan. Hy het gesien dat ek diep seergemaak is.

Ek kom vir die eerste keer met die Getuies in aanraking

Ek het besluit om die lewe een dag op ’n slag aan te pak. By een geleentheid het ek ’n Navaho-gesin met my bure sien praat. Ek kon dit nie weerstaan om hulle af te loer nie. Die besoekers was met die een of ander werk van huis tot huis besig. Hulle het ook na my huis toe gekom. Sandra, ’n Navaho, het haar as een van Jehovah se Getuies voorgestel. Die naam Jehovah het my aandag meer as enigiets anders getrek. Ek het gesê: “Wie is Jehovah? Julle moet ’n nuwe godsdiens wees. Waarom is ek nie God se naam in die kerk geleer nie?”

Sy het vriendelik haar Bybel by Psalm 83:18 (NW) oopgemaak, wat sê: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” Sy het verduidelik dat God ’n persoonlike naam het en dat sy seun, Jesus Christus, ’n getuie vir Jehovah is. Sy het aangebied om my van Jehovah en Jesus te leer en het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewed by my gelaat. Ek het opgewonde gesê: “Ja. Ek sal graag hierdie nuwe godsdiens wil ondersoek!”

Ek het die boek oornag klaargelees. Die inhoud was nuut en anders. Dit het verduidelik dat die lewe ’n doel het, en dit was wat ek nodig gehad het om my weer die begeerte te gee om te lewe. Ek het die Bybel begin studeer, en tot my vreugde is baie van my vrae met behulp van die Bybel beantwoord. Ek het alles geglo wat ek geleer het. Dit het sin gemaak, en dit moes die waarheid wees!

Ek het Bybelwaarheid aan Lionel begin leer toe hy ses jaar oud was. Ons het saam gebid. Ons het mekaar aangemoedig met die gedagte dat Jehovah omgee en dat ons op hom moet vertrou. Soms het ek nie die krag gehad om voort te gaan nie. Tog het dit die wêreld se verskil gemaak as hy sy armpies om my gesit het en oortuigend en gerusstellend gesê het: “Moenie huil nie, Mamma. Jehovah sal vir ons sorg.” Hoe het dit my tog nie bemoedig en vasbeslote gemaak om voort te gaan om die Bybel te bestudeer nie! Ek het onophoudelik vir leiding gebid.

Die uitwerking van Christelike vergaderinge

Ons waardering vir Jehovah het ons beweeg om altesaam 240 kilometer heen en weer te reis om die vergaderinge van Jehovah se Getuies in Tuba City by te woon. Gedurende die somer het ons die vergaderinge twee keer per week en gedurende die winter die hele dag op Sondae bygewoon weens die ongure weer. Toe ons motor eenkeer gaan staan het, het ons na die Koninkryksaal geryloop. Die lang ritte was vermoeiend, maar Lionel het eenkeer gesê dat ons nooit van ’n vergadering moet wegbly nie tensy ons besig is om te sterf. Dit het my laat besef hoe belangrik dit is om nie die geestelike onderrigting van Jehovah as vanselfsprekend te aanvaar nie.

By die vergaderinge het ek maklik gehuil wanneer ons Koninkryksliedere gesing het wat ewige lewe sonder die lewe se ellendes beklemtoon. Jehovah se Getuies het my vertroos en bemoedig. Hulle was gasvry en het my na hulle huise genooi vir middagete en verversings, en ons het hulle gesinsbybelstudies bygewoon. Hulle het belangstelling in ons getoon en na ons geluister. Die ouer manne het veral empatie met ons getoon en ons oortuiging versterk dat Jehovah God omgee. Ek was bly om ware vriende te maak. Hulle het my opgebeur en selfs saam met my gehuil wanneer ek gevoel het dat ek nie meer kon aangaan nie.—Matteus 11:28-30.

Twee belangrike besluite

Net toe ek vergenoeg met Jehovah se voorsienings was, het my kêrel teruggekeer om met my versoen te raak. Ek was nog steeds lief vir hom en kon sy versoeke nie verwerp nie. Ons het planne gemaak om te trou. Ek het gedink dat die waarheid hom sal verander. Dit was die grootste fout van my lewe! Ek was nie gelukkig nie. My gewete het my vreeslik gepla. Tot my ontsteltenis wou hy nie die waarheid aanneem nie.

Ek het een van die ouer manne in my vertroue geneem. Hy het met my uit die Skrif geredeneer en saam met my oor my besluit gebid. Ek het tot die slotsom gekom dat Jehovah my nooit sal seermaak of pyn sal besorg nie, maar dat onvolmaakte mense dit wel sou doen, maak nie saak hoe lief ons hulle het nie. Trouens, ek het gesien dat daar geen sekuriteit in sogenaamde gemeenregtelike huwelike is nie. Ek het ’n besluit gemaak. Dit was baie moeilik en pynlik om hierdie verhouding te beëindig. Selfs al sou ek finansieel ly, moes ek met my hele hart op Jehovah vertrou.

Ek het Jehovah liefgehad en was vasbeslote om hom te dien. Op 19 Mei 1984 het ek die toewyding van my lewe aan Jehovah God deur middel van waterdoop gesimboliseer. My seun, Lionel, het ook ’n gedoopte Getuie van Jehovah geword. Ons het baie vervolging van ons familie en my gewese man verduur, maar ons het sake voortdurend aan Jehovah oorgelaat. Ons is nie teleurgestel nie. My familie se teenkanting het afgeneem, en hulle het ná 11 jaar met ons nuwe lewenswyse vrede gemaak.

Ek is baie lief vir hulle, en al wat ek baie graag wil hê, is dat hulle Jehovah leer ken sodat hulle ook gelukkig kan wees. My pa, wat vroeër gedink het dat ek nooit my depressie en selfmoordneigings sal oorkom nie, het moedig vir my opgekom. Hy was tevrede om my weer gelukkig te sien. Ek het gevind dat gebed tot Jehovah, die bywoning van vergaderinge van Jehovah se Getuies en die toepassing van God se Woord onontbeerlik vir die herstelproses is.

Hoop vir die toekoms

Ek sien uit na die tyd wanneer alle spore van lyding, onvolmaaktheid, leuens en haat heeltemal uitgewis sal wees. Ek stel my voor hoe ons Navaho-land met welige plantegroei bedek sal wees, met die perske- en appelkoosbome wat eens op ’n tyd hier was. Ek sien hoe verskillende stamme dit geniet om hulle halfdorre geboorteland met behulp van riviere en die reën in ’n pragtige paradys te omskep. Ek sien hoe ons ons land met ons Hopi-bure en ander stamme deel, pleks van mededingers te wees soos wat ons in die laaste tyd was. Ek sien nou hoe God se Woord alle nasies, stamme en groepe verenig. In die toekoms sal ek sien hoe gesinne en vriende verenig word met hulle afgestorwe dierbares deur middel van die opstanding. Dit sal ’n tyd van groot vreugde wees met ewige lewe in die vooruitsig. Ek kan my nie indink dat iemand nie van hierdie wonderlike vooruitsig sal wil leer nie.

Teokratiese uitbreiding in die land van die Navaho

Dit was opwindend om te sien hoe ’n Koninkryksaal in Tuba City gebou is en hoe vier gemeentes in die Navaho- en Hopi-reser-vaate groei—Chinle, Kajenta, Tuba City en Keams-canyon. Toe ek in 1983 by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit het, het ek maar net gedroom dat dit eendag in Navaho gehou sal word. Nou is dit nie meer ’n droom nie. Sedert 1998 word die skool in die Navaho-taal gehou.

Om ander te vertel dat God ’n persoonlike naam het, het eindelose seëninge meegebring. Ek kan nie woorde vind om te beskryf hoe wonderlik dit is om die geloofversterkende boodskap in ons eie moedertaal te kan lees en dit aan ander te verkondig nie, soos gevind word in die brosjures Nihookáá’gi Hooláágóó liná Bahózhoóodoo! (Jy kan vir ewig op die aarde lewe!), Ha’át’fíísh éí God Nihá yee Hool’a’? (Wat vereis God van ons?) en die jongste een Ni Éí God Bik’is Dííleelgo Át’é! (Jy kán God se vriend wees!). Ek is dankbaar dat die “getroue en verstandige slaaf”-klas die voortou in hierdie Bybelonderrigtingswerk neem sodat alle nasies en stamme en tale daaruit voordeel kan trek, insluitende die Navaho-mense, die Diné.—Matteus 24:45-47.

Ek werk voltyds om myself te onderhou, maar neem gereeld aan die hulppionierdiens deel. Ek is bly dat ek ongetroud is en wil Jehovah graag sonder afleidings dien. Ek is tevrede en verheug om my mense en ook ander, veral diegene wat in wanhoop verkeer, te vertel dat ‘Jehovah naby die gebrokenes van hart is, en die verbryseldes van gees red’.—Psalm 34:18, NW.

Ek dink nie meer dat die Bybel die wit man se godsdiens is nie. God se Woord, die Bybel, is vir almal wat dit graag wil leer en toepas. Wanneer Jehovah se Getuies jou besoek, laat hulle jou wys hoe om waarlik gelukkig te wees. Hulle bring vir jou goeie nuus van God se naam, Jehovah, die naam wat my lewe verander het! “Aoo,’ Diyin God bízhi’ Jiihóvah wolyé” (“Ja, God se naam is Jehovah.”).

[Voetnote]

a Sien die Ontwaak! van 8 November 1995 vir breedvoerige inligting oor die Mormoonse geloof.

b AIM is ’n burgerregterlike organisasie wat in 1968 deur ’n Indiaan gestig is. Dit is dikwels krities teenoor die BIA, ’n staatsinstansie wat in 1824 gestig is, skynbaar met die doel om die welsyn van die nasie se Indiane te bevorder. Die BIA het dikwels minerale, water- en ander regte in die reservate aan nie-Indiane toegestaan.—World Book Encyclopedia.

c Stuifmeel word as ’n heilige bestanddeel beskou en word in gebede en seremonies gebruik, as simbool van lewe en vernuwing. Die Navaho glo dat die liggaam heilig word wanneer ’n persoon oor ’n pad loop wat met stuifmeel besprinkel is.—The Encyclopedia of Native American Religions.

d Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

e Sien die reeks “Indiane—Wat hou die toekoms vir hulle in?” in die Ontwaak! van 8 September 1996 vir meer inligting.

[Prent op bladsy 21]

’n Tipiese Navaho-hogan

[Prent op bladsy 21]

Saam met my seun, Lionel

[Prent op bladsy 23]

Saam met Russiese vriende in 1993 by die internasionale byeenkoms in Moskou

[Prent op bladsy 24]

Saam met my geestelike familie in die Kajenta-gemeente, Arizona

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel