“Dis nie my skuld nie”
HOE dikwels hoor jy vandag dat iemand sê: ‘Ek is jammer. Dit was my skuld. Ek is geheel en al daarvoor verantwoordelik!’? Dit is selde dat sulke opregte eerlikheid nog gehoor word. Trouens, selfs wanneer mense wel ’n fout erken, probeer hulle hard om die skuld te skuif op iemand anders of op versagtende omstandighede waaroor die kwaaddoener sê hy geen beheer gehad het nie.
Party blameer selfs hulle gene! Maar is dit aanvaarbaar? Die boek Exploding the Gene Myth bevraagteken die oogmerke en doeltreffendheid van sommige aspekte van geennavorsing. Die Australiese joernalis Bill Deane het in sy oorsig van die boek tot hierdie gedagteprikkelende gevolgtrekking gekom: “Dit lyk of sosiale deterministe in die laaste tyd begin glo het dat hulle so te sê onfeilbare bewyse gevind het vir hulle filosofie dat niemand vir hulle dade verantwoordelik gehou moet word nie: ‘Dis nie sy skuld dat hy haar keel afgesny het nie, U Edele—dis in sy gene.’”
Nie werklik ’n nuwe neiging nie
Omdat hierdie geslag vinnig besig is om te ontwikkel tot wat een skrywer die “nie-ek-nie”-geslag noem, lyk dit dalk of hierdie neiging toeneem. Die geskiedenis toon egter dat die mens sedert sy begin reeds die skuld op ander skuif deur te sê: “Dis nie eintlik my skuld nie.” Adam en Eva se reaksie ná hulle eerste sonde, deur die vrugte te eet wat God hulle verbied het, was ’n klassieke voorbeeld van verontskuldiging. In Genesis vind ons ’n verslag van die gesprek wat plaasgevind het, met God wat eerste praat: “Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”—Genesis 3:11-13.
Sedertdien het die mens verskillende opvattings gevorm en na die eienaardigste verskonings gesoek om hulle van enige werklike aanspreeklikheid vir hulle dade vry te stel. ’n Goeie voorbeeld hiervan was die eertydse opvatting van die noodlot. ’n Boeddhistiese vrou wat opreg aan Karma geglo het, het gesê: “Ek het gedink dat dit geen sin het om te boet vir iets waarmee ek gebore is, maar waarvan ek niks geweet het nie. Ek moes dit as my lot aanvaar.” Die leerstelling van voorbeskikking wat deur Johannes Calvyn geleer is, het daartoe gelei dat dit ook algemeen in die Christendom voorkom. Geestelikes vertel dikwels vir bedroefde familielede dat ’n sekere ongeluk God se wil was. Daarbenewens blameer talle welmenende Christene Satan ook vir alles wat in hulle lewe verkeerd loop.
Ons begin nou gedrag bespeur waarvoor mense nie aanspreeklik gehou word nie en wat deur die wet en gemeenskap goedgekeur word. Ons lewe in ’n era waarin die individu se regte vermeerder en sy verantwoordelikhede verminder.
Navorsing oor mensegedrag het vermoedelik wetenskaplike bewys gelewer wat na party se mening vrye teuels kan gee aan gedrag wat wissel van onsedelikheid tot moord. Dit toon hoe gretig die gemeenskap is om die skuld op enigiets of enigiemand behalwe die individu te skuif.
Die volgende vrae moet beantwoord word: Wat het die wetenskap in werklikheid ontdek? Word mensegedrag nét deur ons gene bepaal? Of word ons gedrag deur innerlike sowel as uiterlike faktore beheers? Wat word werklik deur die bewyse geopenbaar?