Wie se skuld is dit?
DIE eerste mens, Adam, het die tendens begin. Nadat hy gesondig het, het hy vir God gesê: “Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.” Hy het in werklikheid gesê: “Dis nie my skuld nie!” Die eerste vrou, Eva, het dieselfde gedoen toe sy gesê het: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”—Genesis 3:12, 13.
So is daar in die tuin van Eden ’n presedent geskep vir mense om te weier om verantwoordelikheid vir hulle eie dade te aanvaar. Was jy al ooit hieraan skuldig? Is jy gou om ander die skuld te gee wanneer probleme opduik? Of ontleed jy die situasie om uit te vind wie se skuld dit werklik is? In die daaglikse lewe is dit so maklik om verstrik te raak in die gewoonte om ander vir ons foute te blameer en te sê: “Dis nie my skuld nie!” Kom ons neem ’n paar algemene situasies en kyk wat sommige mense geneig is om te doen. Nog belangriker, dink na oor wat jy onder dieselfde omstandighede sou doen.
Finansiële teëspoed
“Dis nie my skuld nie—dis die ekonomie, oneerlike sakelui, die hoë lewenskoste”, sê sommige moontlik wanneer hulle hulle diep in ’n finansiële verknorsing bevind. Maar kan hierdie faktore werklik blameer word? Miskien het onbestendige toestande daartoe gelei dat hulle hulle tot twyfelagtige of onsekere sakeondernemings gewend het. Soms is hebsug sterker as objektiwiteit en mense bevind hulle op ’n onbekende terrein, waar hulle die maklike prooi van geldwolwe word. Hulle vergeet die gesegde: “As iets te goed lyk om te glo, dan is dit gewoonlik.” Hulle soek die raad wat hulle wil hoor, maar wanneer ekonomiese teëspoed begin kop uitsteek, soek hulle iemand anders om te blameer. Dit gebeur ongelukkig soms selfs in die Christengemeente.
Sommige het by onwyse beleggingskemas of selfs skynbeleggingskemas betrokke geraak, soos om diamante te koop wat nie bestaan nie, sogenaamde treffer-televisieprogramme te finansier wat gou op niks uitgeloop het nie of om vaste eiendomsontwikkelings te ondersteun wat bankrot gespeel het. ’n Oordrewe begeerte na rykdom het hulle moontlik dié Bybelraad laat vergeet: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke . . . en [het] hulleself met baie smarte deurboor.”—1 Timotheüs 6:9, 10.
Ongedissiplineerde besteding kan ook tot finansiële ondergang lei. Party meen dat hulle soos die mense in die jongste modetydskrifte moet lyk, duur vakansies moet gaan hou, by luukse restaurante moet uiteet en die nuutste grootmens-“speelgoed” moet koop—motorwonings, bote, kameras, stereotoerusting. Sommige kan natuurlik met verloop van tyd hierdie dinge bekom deur oordeelkundige beplanning en deur te spaar. Maar dié wat haastig is om hierdie dinge te hê, kan hulleself dalk tot oor die ore in die skuld bevind. Wie se skuld is dit as dit wel met hulle gebeur? Hulle het klaarblyklik die betroubare raad van Spreuke 13:18 geïgnoreer: “Armoede en skande is vir hom wat die tug verwerp.”
Kinders wat ’n teleurstelling is
“Dis die ouere manne se skuld dat my kinders die waarheid verlaat het”, sê party ouers miskien. “Hulle het nie genoeg aandag aan my kinders gegee nie.”
Die ouere manne het wel die verantwoordelikheid om as herders oor die kudde toesig te hou en vir hulle te sorg. Maar wat van die ouers self? Openbaar hulle op navolgenswaardige wyse die vrug van God se gees in al hulle handelinge? Is die gesinsbybelstudie gereeld gehou? Het die ouers ywer in Jehovah se diens getoon en hulle kinders gehelp om daarvoor voor te berei? Het hulle gelet op hulle kinders se keuse van maats?
Dit is eweneens vir ’n ouer maklik om aangaande skoolwerk te sê: “Dis die onderwysers se skuld dat my seun nie goed gevaar het op skool nie. Hulle het nie van my seun gehou nie. En daardie skool het in elk geval nie ’n baie hoë standaard nie.” Maar was die ouer ten nouste by die skool betrokke? Het die ouer in die kind se leerplan en studies belanggestel? Is ’n rooster vir sy huiswerk opgestel en is hulp aangebied wanneer dit nodig was? Kan die onderliggende probleem ’n kwessie van gesindheid of luiheid aan die kant van die kind of die ouer wees?
In plaas daarvan dat die ouers die skoolstelsel blameer, is dit baie produktiewer as hulle positiewe stappe doen om te verseker dat hulle kinders die regte gesindheid het en dat hulle die beskikbare leergeleenthede by die skool benut.
’n Versuim om geestelik vooruitgang te maak
Af en toe hoor ons iemand sê: “Ek sou geestelik sterker gewees het, maar dis nie my skuld dat dit nie die geval is nie. Die ouere manne gee nie genoeg aandag aan my nie. Ek het geen vriende nie. Jehovah se gees is nie op hierdie gemeente nie.” Intussen het ander in die gemeente vriende, is gelukkig en maak goeie geestelike vordering; en die gemeente word met groei en geestelike voorspoed geseën. Waarom ondervind sommige dus probleme?
Min mense wil intieme vriende wees met diegene wat ’n negatiewe en ’n klaerige gees openbaar. ’n Skerp, bitsige tong en aanhoudende klagtes kan uiters ontmoedigend wees. Aangesien hulle nie geestelik afgebreek wil word nie, beperk sommige hulle sosiale verkeer met sulke persone. Die gemeente word dan as koel beskou en hulle begin moontlik rondtrek, eers na die een gemeente, dan na nog een en nog een. Soos die trekkuddes van Afrika se vlaktes wat gedurig na groener weivelde soek, soek hierdie “trek”-Christene gedurig na die regte gemeente. Hoeveel gelukkiger sal hulle tog wees as hulle liewer die goeie in ander mense sou raaksien en daarna sou streef om die vrug van God se gees in groter mate in hulle eie lewens te openbaar!—Galasiërs 5:22.
Party doen dit deur ’n spesiale poging aan te wend om by elke vergadering by die Koninkryksaal met iemand anders te gesels en hom opreg te prys oor iets goeds. Dit kan wees vir sy welopgevoede kinders, sy gereeldheid by Christenvergaderinge, sy goed voorbereide kommentare tydens die Wagtoring-studie, sy gasvryheid om sy huis vir ’n Gemeentelike Boekstudie en velddiensvergaderinge beskikbaar te stel, ensovoorts. Deur jou dit ten doel te stel om verder as die lagie onvolmaaktheid te kyk, sal jy beslis edele eienskappe in jou Christenbroers en -susters ontdek. Dit sal jou by hulle bemind maak en jy sal vind dat jy geen gebrek aan lojale vriende het nie.
Die grootste verskoning
“Dis God se wil.” “Dis die Duiwel se skuld.” Die grootste verskoning is waarskynlik om óf God óf die Duiwel vir ons eie mislukkings te blameer. God of Satan kan weliswaar ’n invloed op sekere gebeure in ons lewe hê. Maar party glo dat feitlik alles in hulle lewe, goed of sleg, die gevolg van God of Satan se bemiddeling is. Dit is asof niks wat met hulle gebeur het die gevolg van hulle eie dade was nie. “As God wil hê dat ek daardie nuwe motor moet hê, sal hy sorg dat ek dit kry.”
Sulke mense lewe dikwels roekeloos; hulle maak finansiële en ander besluite in die veronderstelling dat God hulle sal behoed. As hulle onbesonne dade die een of ander rampspoed, van ’n ekonomiese of ander aard, tot gevolg het, gee hulle die Duiwel die skuld. Om onverantwoordelik op te tree sonder om eers ‘die koste te bereken’ en Satan dan die skuld vir die mislukking te gee, of selfs erger, om te verwag dat Jehovah moet ingryp, sou nie net vermetel wees nie, maar ook strydig met die Skrif.—Lukas 14:28, 29.
Satan het Jesus probeer kry om so te dink en nie verantwoordelikheid vir Sy dade te aanvaar nie. Mattheüs 4:5-7 sê aangaande die tweede versoeking: “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie.” Jesus het besef dat hy nie van Jehovah kon verwag om in te gryp indien sy optrede sonder twyfel onverstandig, selfs dodelik, sou wees nie. Daarom het hy geantwoord: “Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.”
Diegene wat geneig is om die Duiwel of God vir hulle eie twyfelagtige dade te blameer, het baie in gemeen met aanhangers van astrologie, wat bloot die sterre met God of die Duiwel vervang. Aangesien hulle heeltemal oortuig is dat byna alles wat gebeur buite hulle beheer is, ignoreer hulle die eenvoudige beginsel wat in Galasiërs 6:7 gemeld word: “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
Sien die werklikheid onder die oë
Niemand sal ontken dat ons in ’n onvolmaakte wêreld lewe nie. Die probleme wat hier bespreek word, is ’n werklikheid. Mense sal op finansiële gebied misbruik van ons maak. Sommige werkgewers sal onredelik wees. Kennisse kan ons kinders moontlik verkeerd beïnvloed. Party onderwysers en skole kan verbeter. Ouere manne kan soms liefdevoller en meer besorg wees. Maar ons moet die gevolge van onvolmaaktheid erken en die feit dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê”, soos die Bybel toon. Dit is dus nie realisties om te verwag dat ons pad deur die lewe altyd sonder teëspoed sal wees nie.—1 Johannes 5:19.
Daarbenewens moet ons ons eie onvolmaakthede en beperkinge besef en insien dat ons probleme dikwels die gevolg van ons eie dwaasheid is. Paulus het die Christene in Rome vermaan: “Ek [sê] vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie” (Romeine 12:3). Daardie raad is vandag net soveel op ons van toepassing. Wanneer iets in ons lewe verkeerd loop, sal ons nie onmiddellik ons voorouers Adam en Eva navolg nie en sê: “Dis nie my skuld nie!” In plaas daarvan sal ons ons afvra: ‘Wat kon ek anders gedoen het om hierdie ongelukkige uiteinde te vermy? Het ek goeie oordeel in die saak aan die dag gelê en ’n wyse bron geraadpleeg? Het ek die ander betrokkene of betrokkenes die voordeel van die twyfel gegee en waardigheid aan hulle toegeken?’
As ons Christelike beginsels volg en gesonde oordeel aan die dag lê, sal ons meer vriende en minder probleme hê. Baie van die onnodige probleme in ons daaglikse lewe kan uitgestryk word. Ons sal vreugde in ons handelinge met ander vind en die vraag: “Wie se skuld is dit?”, sal ons nie kwel nie.
[Prente op bladsy 28]
Ouers kan veel doen om hulle kinders te help om geestelik vooruitgang te maak