Is daar ’n land wat vry is van misdaad?
Sy begrafnis was een van die grootstes wat Moskou in jare gesien het. Duisende mense het langs die strate gestaan om die laaste eer te bewys aan die jong Rus wie se lewe skielik op 1 Maart 1995 deur die koeëls van sluipmoordenaars beëindig is. Wladislaf Listjef, wat in 1994 tot joernalis van die jaar benoem is en ’n baie gewilde televisiepersoonlikheid was, is so te sê reg voor sy deur doodgeskiet.
MINDER as drie weke later, op 20 Maart, is die Tokio-moltreinstelsel tydens sy spitsuur vroeg die oggend deur ’n gifgasaanval getref. Etlike mense het gesterf; baie ander is ernstig beseer.
Toe, op 19 April, het Oklahoma City die fokuspunt van televisiekykers regoor die wêreld geword. Hulle het met afgryse toegekyk terwyl reddingswerkers beskadigde liggame uit die puin van ’n regeringsgebou getrek het wat kort tevore deur ’n terroristebom verwoes is. Die dodetal was 168.
Einde Junie vanjaar, in ’n soortgelyke aanval, naby Dhahran, Saoedi-Arabië, het 19 Amerikaners gesterf en is sowat 400 beseer.
Hierdie vier voorvalle lig toe dat misdaad al hoe omvangryker word. Gewelddade deur terroriste word in toenemende mate by “normale” misdaad gevoeg. En al vier voorvalle—elkeen op sy eie besondere manier—toon hoe kwesbaar almal geword het vir aanvalle deur misdadigers. Of jy tuis, by die werk of op straat is, jy kan ’n slagoffer van misdaad word. Trouens, ’n Britse opname het getoon dat bykans driekwart van die Britse bevolking meen dat hulle kanse om die slagoffer van ’n misdaad te word nou groter is as tien jaar gelede. Die situasie is dalk dieselfde waar jy woon.
Wetsgehoorsame burgers smag na ’n regering wat meer sal doen as net misdaad beheer. Hulle wil ’n regering hê wat in werklikheid ’n einde daaraan sal maak. En hoewel ’n vergelyking van misdaadsyfers miskien aandui dat party regerings suksesvoller is in die bekamping van misdaad as ander, toon die geheelbeeld dat menseregerings besig is om hulle stryd teen misdaad te verloor. Dit is nogtans nie onrealisties of utopies om te verwag dat ’n regering binnekort ’n einde aan misdaad gaan maak nie. Maar watter regering? En wanneer?
[Venster/Kaart op bladsye 4, 5]
’n WÊRELD VOL MISDAAD
EUROPA: ’n Italiaanse boek (“Die geleentheid en die dief”) het gesê dat die aantal misdade teen eiendom in Italië in ’n kort tydsbestek “hoogtepunte bereik het wat eens as onmoontlik beskou is”. Die Oekraïne, ’n republiek van die voormalige Sowjetunie, het berig dat 490 misdade per 100 000 van die bevolking in 1985 gepleeg is en 922 teen 1992. Die getal bly styg. Dit is geen wonder nie dat ’n Russiese koerant (“Argumente en Feite”) geskryf het: “Ons droom daarvan om te leef—om te bly leef—om hierdie verskriklike tydperk te oorleef . . . vrees om per trein te reis—dit kan ontspoor of deur vandale verniel word; vrees om te vlieg—skakings is algemeen of die vliegtuig kan neerstort; vrees om met die moltrein te reis—weens botsings of ontploffings; vrees om op straat te loop—jy kan in ’n kruisvuur beland of beroof, verkrag, geslaan of doodgemaak word; vrees om in ’n motor te ry—dit kan aan die brand gesteek, opgeblaas of gesteel word; vrees om woonstelgebouportale, restaurante of winkels binne te gaan—jy kan in enigeen van hulle beseer of doodgemaak word.” Die Hongaarse tydskrif HVG het ’n sonnige stad in Hongarye vergelyk met ’n “Mafia-hoofkwartier” en gesê dat dit in die afgelope drie jaar “die oorsprong vir elke nuwe soort misdaad [was] . . . Vrees se kettingreaksie brei uit namate mense sien dat die polisie onvoorbereid is om teen die Mafia te stry.”
AFRIKA: Die Daily Times van Nigerië het berig dat die “instellings vir naskoolse geleerdheid” in ’n Wes-Afrikaanse land “’n vlaag van terreur [ervaar het], wat deur lede van geheime kultusse ontketen is: byna tot die punt waar die voortsetting van enige betekenisvolle akademiese studie verydel is”. Dit het voorts gesê: “Die vlaag is besig om al hoe verder te versprei en gaan gepaard met die verlies van lewens en eiendomme.” The Star van Suid-Afrika het oor ’n ander Afrikaland berig: “Daar is twee soorte geweld: onderlinge konflik tussen gemeenskappe en gewone geweldpleging. Die eerste het merkwaardig afgeneem, die tweede het die hoogte ingeskiet.”
OSEANIË: Australië se Instituut vir Kriminologie het geraam dat misdaad daar “elke jaar ten minste $27 miljard [R97 miljard], of byna $1600 [R5700] vir elke man, vrou en kind”, kos. Dit is “ongeveer 7,2 persent van die bruto binnelandse produk”.
DIE AMERIKAS: The Globe and Mail van Kanada het berig dat geweldsmisdade in Kanada tydens ’n onlangse periode van 12 agtereenvolgende jare toegeneem het, en dit vorm “deel van ’n tendens wat oor die laaste dekade tot ’n toename van 50 persent in geweld gelei het”. Intussen het El Tiempo van Colombia berig dat daar in ’n onlangse jaar 1714 ontvoerings in Colombia was, “’n syfer wat meer as twee keer hoër is as al die ontvoerings wat in die res van die wêreld gedurende dieselfde tydperk opgeteken is”. Volgens Mexiko se Departement van Justisie is daar in ’n onlangse jaar elke vier uur ’n seksmisdaad in sy hoofstad gepleeg. ’n Woordvoerster het daarop gewys dat die 20ste eeu deur ’n daling in die waarde van individue gekenmerk is. “Ons leef in ’n geslag van gebruik dit en gooi dit dan weg”, was haar gevolgtrekking.
WÊRELDWYD: Die boek The United Nations and Crime Prevention meld dat daar “in die sewentiger- en tagtigerjare regoor die wêreld ’n bestendige toename in misdadigheid” was. Dit sê: “Die getal aangemelde misdade het van ongeveer 330 miljoen in 1975 tot bykans 400 miljoen in 1980 gestyg, en daar word geraam dat dit in 1990 op 500 miljoen te staan gekom het.”
[Foto-erkenning]
Landkaart en aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Aarde op bladsye 3, 6 en 9: NASA photo