Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 10/8 bl. 6-8
  • Die stryd om ’n einde te maak aan misdaad

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die stryd om ’n einde te maak aan misdaad
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is hierdie beskouing te negatief?
  • Regerings probeer
  • Hulle verloor vertroue
  • Die verlore stryd teen misdaad
    Ontwaak!—1998
  • Die polisie—Wat hou die toekoms vir hulle in?
    Ontwaak!—2002
  • Waarom soveel misdaad?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Is daar ’n land wat vry is van misdaad?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 10/8 bl. 6-8

Die stryd om ’n einde te maak aan misdaad

“JONGMENSE beweer ledigheid is hoofoorsaak van jeugmisdaad”, het ’n opskrif in ’n toonaangewende Britse koerant gesê. “Onenigheid tuis vir toenemende misdaad blameer”, het ’n ander gesê. En ’n derde het gelui: “Verslawing ‘het duisende misdade tot gevolg’.” Die tydskrif Philippine Panorama het geraam dat 75 persent van alle geweldsmisdade in Manila deur dwelmslawe gepleeg is.

Ander faktore kan ook tot kriminele optrede aanleiding gee. “Armoede in teenstelling met groot rykdom” is een waarna die Nigeriese inspekteur-generaal van die polisie verwys het. Portuurdwang en swak werkvooruitsigte, die afwesigheid van streng wetlike afskrikmiddels, die algemene ineenstorting van gesinswaardes, die gebrek aan eerbied vir gesag en die gereg asook die buitensporige geweld in rolprente en video’s word genoem.

Nog ’n faktor is dat baie mense nie meer dink dat misdaad onbetalend is nie. ’n Sosioloog aan die Universiteit van Bologna in Italië het opgemerk dat “die aantal diefstalle wat aangemeld word en die aantal mense wat daaraan skuldig bevind word [oor ’n tydperk van baie jare] teenoorgestelde neigings getoon het”. Hy het gesê dat “die aantal skuldigbevindings in verhouding tot die totale aangemelde diefstalle van 50 tot 0,7 persent gedaal het”.

Die woorde van The New Encyclopædia Britannica is ongelukkig waar: “Dit lyk of die toename in misdaad ’n kenmerk van alle hedendaagse nywerheidsgemeenskappe is, en daar is geen bewys dat ontwikkelinge in die regstelsel of die penologie ’n betekenisvolle invloed op die probleem gehad het nie. . . . Daar is vir die hedendaagse stedelike samelewing, waarin ekonomiese groei en persoonlike sukses oorheersende waardes is, geen rede om te glo dat misdaadsyfers nie sal aanhou styg nie.”

Is hierdie beskouing te negatief?

Is die situasie werklik so erg? Toon sommige plekke dan nie afnames in misdaad nie? Dit is wel met sommige die geval, maar statistiek kan misleidend wees. Daar is byvoorbeeld berig dat misdaad in die Filippyne met 20 persent afgeneem het nadat ’n verbod op vuurwapens ingestel is. Maar Asiaweek het verduidelik dat een amptenaar van mening is dat motordiewe en bankrowers opgehou het om motors te steel en banke te beroof en “na ontvoering oorgeskakel” het. ’n Afname in bankrowery en motordiefstalle het ’n daling in die misdaadtotaal tot gevolg gehad, maar hierdie afname het grotendeels sy betekenis verloor met die oog op die viervoudige toename in ontvoerings!

Die tydskrif HVG het oor Hongarye berig gelewer en geskryf: “In vergelyking met die eerste helfte van 1993 is misdaadsyfers 6,2 persent laer. Wat die polisie vergeet het om te noem, is dat die afname . . . hoofsaaklik aan administratiewe veranderinge toe te skryf is.” Die geldvlak waarop gevalle van diefstal, bedrog of vandalisme voorheen aangeteken is, is met 250 persent verhoog. Misdade teen eiendom waarvan die waarde onder hierdie vlak is, word dus nie meer aangeteken nie. Aangesien misdade waarby eiendom betrokke is driekwart van al die misdade in die land uitmaak, was die afname nouliks ’n egte weergawe.

Dit is weliswaar moeilik om juiste misdaadsyfers saam te stel. Een rede hiervoor is dat baie misdade—moontlik tot 90 persent in sekere kategorieë—nie aangemeld word nie. Maar om daaroor te redeneer of misdaad toegeneem of afgeneem het, is eintlik nie ter sake nie. Mense smag daarna dat misdaad stopgesit word, nie net verminder word nie.

Regerings probeer

In 1990 het ’n opname deur die Verenigde Nasies aan die lig gebring dat die meer ontwikkelde lande ’n gemiddelde van 2 tot 3 persent van hulle jaarlikse begroting aan misdaadbeheer bestee, terwyl ontwikkelende lande selfs meer bestee, ’n gemiddelde van 9 tot 14 persent. In sommige plekke word die voorkeur daaraan gegee om die polisiemag te vergroot en van beter toerusting te voorsien. Maar met allerlei gevolge. Party Hongaarse burgers kla: “Daar is nooit genoeg polisiemanne om die misdadigers te vang nie, maar altyd genoeg om verkeersoortreders te vang.”

Baie regerings het dit onlangs nodig gevind om strenger wette teen misdaad te maak. Aangesien “ontvoering regoor Latyns-Amerika aan die toeneem is”, sê die tydskrif Time, het die regerings daar byvoorbeeld gereageer deur wette te maak wat “streng sowel as kragteloos [is]. . . . Om wette te maak, is een ding”, erken dit, “om hulle toe te pas, is ’n ander saak.”

Na raming was daar in 1992 meer as 100 000 buurtwagstelsels in Brittanje, wat ten minste viermiljoen huise gedek het. Soortgelyke programme is in die middel-tagtigerjare in Australië ingestel. Hulle oogmerk, sê die Australiese Instituut vir Kriminologie, is om misdaad in te kort “deur burgers bewuster te maak van openbare veiligheid, deur inwoners se gesindheid en optrede te verbeter wat die aanmelding van misdaad en verdagte gebeure in die buurt betref en deur mense teen misdaad te beveilig met behulp van herkenningstekens op eiendom en die installering van doeltreffende veiligheidstoestelle”.

Geslotebaantelevisie word in sommige plekke gebruik om polisiestasies met sakepersele te verbind. Videokameras word deur die polisie, banke en winkels gebruik as ’n afskrikmiddel vir misdaad of as ’n middel om wetsoortreders te identifiseer.

In Nigerië het die polisie kontrolepunte op hoofweë om rowers en motorkapers te probeer aankeer. Die regering het ’n taakmag op die been gebring wat wanpraktyke in die handel ondersoek om bedrog teë te werk. Komitees wat goeie verhoudinge tussen die polisie en die gemeenskap bevorder en uit gemeenskapsleiers bestaan, stel die polisie in kennis van kriminele bedrywighede en mense wat verdag voorkom.

Besoekers aan die Filippyne sien dat huise oor die algemeen nie onbewaak gelaat word nie en dat baie mense waghonde het. Sakemanne neem private veiligheidswagte in diens om hulle sakeondernemings te beskerm. Antidiefstaltoestelle vir motors geniet goeie aftrek. Mense wat dit kan bekostig, verhuis na onderverdeelde erwe of meenthuise met goeie sekuriteit.

Die Londense koerant The Independent het gesê: “Namate burgers vertroue in die regstelsel verloor, organiseer hulle die verdediging van hulle eie gemeenskappe op groter skaal.” En al hoe meer mense bewapen hulleself. In die Verenigde State word daar byvoorbeeld geraam dat elke tweede huisgesin ten minste een wapen besit.

Regerings ontwikkel voortdurend nuwe metodes om misdaad te bekamp. Maar volgens W. Wsewolodof, van die Akademie vir Binnelandse Sake in die Oekraïne, sê VN-bronne dat soveel begaafde mense “unieke metodes [vind] om hulle kriminele bedrywighede voort te sit” dat daar nie bygehou kan word met “die opleiding van geregsdienaars” nie. Vindingryke misdadigers stort groot somme geld terug in sakeondernemings en maatskaplike dienste; gevolglik word hulle deel van die gemeenskap en “verkry hulle hoë posisies in die gemeenskap”.

Hulle verloor vertroue

’n Toenemende aantal mense in sommige lande begin selfs dink dat regerings self deel van die probleem is. Asiaweek het die hoof van ’n misdaadbestrydingsgroep aangehaal wat gesê het: “Ongeveer 90% van die verdagtes wat ons in hegtenis neem, is óf polisiebeamptes óf soldate.” Of dit nou waar is of nie, sulke berigte het ’n wetgewer beweeg om te sê: “As diegene wat onder eed staan om die wet te onderhou self wetsoortreders is, is ons samelewing in die moeilikheid.”

Skandale as gevolg van korrupsie waarby hooggeplaaste amptenare betrokke was, het regerings in verskillende wêrelddele geruk en die vertroue van burgers verder ondermyn. Buiten die feit dat mense vertroue verloor in die vermoë van regerings om misdaad te bekamp, bevraagteken hulle nou ook regerings se vasbeslotenheid om dit te doen. ’n Opvoedkundige het gevra: “Hoe sou hierdie owerhede dan misdaad kan bekamp terwyl hulle self diep in die verknorsing sit?”

Regerings kom en gaan, maar misdaad bly. Die tyd is egter op hande wanneer misdaad tot die verlede sal behoort!

[Prente op bladsy 7]

Afskrikmiddels vir misdadigers: ’n Geslotebaantelevisiekamera en -monitor, ’n staalopskuifdeur en ’n wag met ’n opgeleide hond

[Prent op bladsy 8]

Misdaad veroorsaak dat mense gevangenes agter hulle eie deure is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel