Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 10/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tabakverbruik
  • Jeugdiges en vuurwapens
  • Selfmoordpatrone
  • Opleiding in geweld
  • Frankryk se tekort aan geestelikes neem vinnig toe
  • Die wêreld se akkuraatste horlosie
  • Die eenvoudige toebroodjie?
  • Asië se kindersekshandel
  • Mededinging of eenheid?
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1995
  • Selfmoord—’n plaag onder jongmense
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 10/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Tabakverbruik

Hoewel tabakverbruik in party lande aansienlik afgeneem het, het dit in die afgelope twee dekades in die meeste lande toegeneem. China is byvoorbeeld steeds die wêreld se grootste verbruiker en het ’n vermeerdering van 297 persent gehad. Die Verenigde State en Indië het in die tweede en derde verbruikersposisies gebly met vermeerderings van 27 persent en 50 persent onderskeidelik. Van die ander lande met groot vermeerderings is Rwanda met 388 persent; Griekeland, 331 persent; Noord-Korea, 325 persent; Tanzanië, 227 persent; Hongkong, 214 persent; Indonesië, 193 persent; Singapoer, 186 persent, en Turkye, 185 persent. Die syfers, wat in Asiaweek verskyn het, toon die persentasie van verandering tussen 1970 en 1993. Van die 138 nasies op die lys het slegs 26 ’n vermindering in tabakverbruik gehad.

Jeugdiges en vuurwapens

Sterftes deur geweerskote neem vinniger toe onder Amerikaanse jeugdiges tussen die ouderdomme van 10 en 19 as onder enige ander groep, sê ’n verslag deur die Kinders se Verdedigingsfonds. Vuurwapens is nou die tweede grootste oorsaak van sterftes. Ongelukke, meestal met voertuie, is die hoofoorsaak. Wat Amerikaanse jeugdiges onder 20 betref, het daar in 1993 een elke 92 minute as gevolg van geweerskote gesterf—’n vermeerdering van 7 persent in vergelyking met die vorige jaar. Vergelykenderwys was die vermeerdering in alle ouderdomsgroepe slegs 4,8 persent. Die verdedigingsfonds het die regering daarvan beskuldig dat hulle te min doen om vuurwapens van kinders en skole weg te hou. Die Amerikaanse Departement van Justisie stem na bewering hiermee saam. Die getal jeugmoordenaars het in die laaste dekade verdriedubbel en het 26 000 in 1994 oorskry. Die aantal persone wat vuurwapens as hulle moordwapens gebruik, het in dieselfde tydperk verviervoudig, hoewel die aantal persone wat ander wapens gebruik omtrent dieselfde gebly het. Die syfers vestig die aandag op die skade wat deur die beskikbaarheid van vuurwapens aangerig word.

Selfmoordpatrone

“Ongeveer 30 000 Amerikaners pleeg jaarliks selfmoord”, sê Scientific American, en “die kanse is vier keer groter dat mans selfmoord sal pleeg as vrouens”. Die selfmoordsyfer styg ook met die ouderdom, wat ’n weerspieëling is van die spanning wat met swak gesondheid en minder vooruitsigte gepaardgaan. Die selfmoordsyfer onder mense van 75 jaar of ouer is vier keer groter as dié van tienderjariges. Wat is die faktore wat bepaal of iemand selfmoord sal pleeg? Hoog op die lys is ’n gebrek aan gesins- en gemeenskapsondersteuning en minder betrokkenheid by godsdiens. Vergeleke met ander lande is Amerikaanse selfmoordsyfers redelik gemiddeld, met ongeveer 11 selfmoorde vir elke 100 000 mense.

Opleiding in geweld

◼ “’n Jaar lange studie van televisieprogramme, wat deur navorsers aan vier universiteite gedoen is, kom tot die slotsom dat uitsaai- en kabeltelevisieprogramme deurtrek is van geweld wat ‘sielkundig skadelik’ is”, sê The Washington Post. Die studie het nie net aan die lig gebring dat die meeste programme ’n mate van geweld bevat het nie, maar ook dat die wyse waarop dit uitgebeeld is ’n nadelige uitwerking op kykers kan hê. Dit “sluit in [dat mense] leer om gewelddadig op te tree, ongevoeliger vir die skadelike gevolge van geweld word en meer bevrees is dat hulle aangeval gaan word”. Een rede is dat die skuldiges in 73 persent van die gevalle van geweld op TV ongestraf gebly het, wat die boodskap oordra dat “geweld slaag”. Ook toon die meeste uitbeeldings nie watter uitwerking dit op die slagoffers het nie, soos die pyn of die emosionele of geldelike skade. En die studie toon dat die herhaaldelike gebruik van handgewere in gewelddadige voorvalle op TV “tot aggressiewe gedagtes en gedrag aanleiding [kan] gee”.

◼ Teen die ouderdom van 30 sal mense wat na baie geweld op TV gekyk het toe hulle nog klein was “meer male skuldig bevind word aan geweld, meer in hegtenis geneem word vir dronkbestuur, aggressiewer wees onder die invloed van drank en gewelddadiger optree teenoor hulle huweliksmaat [en] ook aggressiewer kinders hê”, beweer Len Eron, ’n sielkundeprofessor en ’n navorsingswetenskaplike aan die Universiteit van Michigan se Instituut vir Maatskaplike Navorsing. Videospeletjies veroorsaak soortgelyke probleme. Volgens die berig in die koerant The Toronto Star het Eron gesê dat die gevaar verbonde aan ’n videospeletjie die feit is dat dit interaktief is. Spelers “beweeg ’n hefboom of druk ’n knoppie en hulle pleeg self hierdie verskriklike gewelddaad—hulle maak iemand dood”. Professor Eron meen dat meer ouerlike toesig nodig is. Maar hy betreur die feit dat “baie ouers eenvoudig nie omgee nie”.

Frankryk se tekort aan geestelikes neem vinnig toe

Daar is ’n toenemende tekort aan Katolieke geestelikes in Frankryk. Die Paryse koerant Le Monde berig dat daar in 1995 in die hele Frankryk net 96 tot priesters georden is en net 121 in 1994. In 1995 het die Jesuïete maar net 7 nuwelinge gehad en die Dominikane 25. Die situasie is dieselfde wat die werwing van Katolieke nonne betref. Le Monde sê dat “die getal nonne sedert die sewentigerjare voortdurend gedaal het, van 92 326 in 1977 tot net 51 164 verlede jaar”. Met die oog op die feit dat die meeste geestelikes bejaard is en die kerk nie nuwelinge kan werf nie, toon voorspellings dat daar teen die jaar 2005 slegs sowat 9000 pastore in Frankryk sal wees. Le Monde noem die volgende redes vir die daling: “Die geestelikes se sosiale status wat afgeneem het, mense se vrees vir langtermynverpligtinge, die geestelikes se onaantreklike beeld en vertroue wat in kerkleiers verloor is.”

Die wêreld se akkuraatste horlosie

’n Horlosie wat duisend keer akkurater is as die atoomhorlosies wat in Engeland gebruik word om ’n algemene internasionale tydstandaard te bepaal, is deur wetenskaplikes in Perth, Wes-Australië, ontwikkel. Dit staan as die saffierhorlosie bekend; die koste daarvan beloop sowat R870 000 en ’n hele paar is reeds gemaak. Dit kan een blitsige femtosekonde meet, wat een miljoenste van ’n miljardste van ’n sekonde is! Wat is die nut hiervan? Volgens Einstein se algemene relatiwiteitsteorie beweeg tyd vinniger hoe hoër ’n mens bo die aarde is. “Ons doelwit is om te meet wat die verskil in spoed oor ’n hoogte van omtrent een meter is—met ander woorde, tussen jou voete en jou kop”, het die fisikus David Blair gesê, wat aan die ontwikkeling van die horlosie gewerk het. Die stabiliteit daarvan duur egter net vyf minute op ’n slag.

Die eenvoudige toebroodjie?

In 1762 het Brittanje se lord Sandwich, ’n verstokte dobbelaar, 24 uur lank by ’n dobbeltafel bly sit. Om sy honger te stil, het hy twee snye brood met ’n stukkie vleis tussenin bestel. Hierdie nuwe versnapering—die toebroodjie—is sonder meer na hom vernoem. Die Britte bestee nou daagliks R34,4 miljoen aan toebroodjies, ’n styging van 75 persent in die afgelope vyf jaar. “Toebroodjies maak meer as ’n derde van die totale kitskosmark uit”, berig The Times van Londen, en hulle word deur 8000 toebroodjiewinkels versprei. Ongeveer 1,3 miljard klaargemaakte toebroodjies word jaarliks in Brittanje geëet. Hierdie toebroodjies verskil egter grootliks van die eenvoudige kospakkies wat gesinne saamneem wanneer hulle in die natuur of by die see gaan piekniek hou. Sommige toebroodjiewinkels bied ’n besondere verskeidenheid aan, waaronder toebroodjies met kangaroe- of alligatorvleis of sjokoladebroodsmeer met aarbeie en room.

Asië se kindersekshandel

Regerings en maatskaplike werkers raam dat meer as ’n miljoen seuns en meisies, van 17 jaar en jonger, by prostitusie in Asië betrokke is, sê The New York Times. Hoewel die presiese syfer nie bekend is nie, kan kinders wat nog nie eers hulle puberteit bereik het nie in die bordele van lande soos Kambodja, China, Indië, die Filippyne, Taiwan en Thailand gevind word. Waarom is daar ’n aanvraag na kinders wat so jonk is? Een rede is die vrees vir vigs. “Mans oor die hele Asië verkies die kinders al hoe jonger, deels omdat daar gereken word dat die kanse kleiner is dat hulle met H.I.V., die virus wat vigs veroorsaak, besmet sal wees”, sê die Times. Nogtans is die vigs-virus vinnig aan die versprei onder prostitute in hierdie lande, deels weens die handel in prostitute tussen verskillende lande en deels omdat die klante, waarvan party op sekstoere is, van plek tot plek reis. Hoewel sommige kinders ontvoer word, word ander deur hulle ouers verkoop vir geldelike gewin.

Mededinging of eenheid?

“Die viering van die 2000ste herdenking van Christus se geboorte is vinnig besig om ’n gevoelige kwessie onder kerke te word”, berig ENI (Ekumeniese Internasionale Nuus) Bulletin. Konrad Raiser, die hoofsekretaris van die Wêreldraad van Kerke, het ’n beroep op die kerke gedoen om die gebeurtenis te beskou “as ’n geleentheid vir samewerking en eenheid—en nie vir mededinging om die kollig nie”. Hy het egter gesê dat die kerke blykbaar meer daarop uit is om die jaar as “’n geleentheid vir evangelisasie te gebruik . . . om hulle lae aansien onder die publiek te oorkom”. Hoewel hy die Pous geprys het vir sy versoek om die jaar 2000 “die geleentheid vir ’n kragtige bevestiging van Christelike eenheid te laat word”, het Raiser bygevoeg: “Hoeveel van hierdie ideale teen die jaar 2000 vervul sal word, moet ons nog sien—vorige ondervinding wek skeptisisme.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel