Brolga, kasuaris, emoe en jabiroe—party van Australië se buitengewone voëls
Deur Ontwaak!-medewerker in Australië
DIE kasuaris, wat nie kan vlieg nie en as die wêreld se gevaarlikste voël beskryf word, is gewapen met skrikwekkende kloue en kan met oorweldigende krag spring, skop asook dinge verskeur. Die emoe, wat aan hom verwant is en soos hy lyk, is net so goed gewapen en het nie vlerke nodig nie—hy hardloop soos die wind. Wanneer die brolga dans, openbaar hy die vernuftigheid van sy Skepper en Choreograaf. En waar die lang, skraal jabiroe deur die vlak water loop, is hy ’n toonbeeld van waardigheid en statigheid onder die voëls. Hetsy die keilstertarend nou vlieg of by ’n karkas waghou, hy spog met die voorkoms van ’n voortreflike jagter van die lug. Ja, elkeen van hierdie indrukwekkende voëls is waarlik ’n skeppingswonder. Dit is dus met genoeë dat ons aan julle bekend stel . . .
Die kleurvolle kasuaris —vriend van die reënwoud
Die suidelike kasuaris, of dubbellelkasuaris, wat in die digte reënwoude in die noordooste van Australië en in Nieu-Guinee leef, is ’n pragtige maar alleenlewende voël wat tussen 30 en 60 kilogram weeg. Die wyfie, wat ongeveer twee meter hoog is, is groter as die mannetjie en—iets ongewoons vir ’n voël—is ’n bietjie kleurvoller as die mannetjie, wat buiten in die paartyd wyslik uit haar pad bly. Ná die paring lê die wyfie ’n broeisel glansende, groen eiers, maar dan verdwyn sy eenvoudig en laat dit aan die mannetjie oor om hulle uit te broei en na die kuikens om te sien. Daarna paar sy met ander mannetjies en los elkeen van hulle met ’n broeisel om na om te sien!
Maar die kasuarisse word deur ontbossing bedreig. In ’n poging om hulle getalle te vermeerder, het die Billabong-reservaat naby Townsville, Queensland, met ’n program begin om die voëls in aanhouding te teel met die doel om hulle weer in die natuur vry te laat wanneer hulle oud genoeg is. Hoewel kasuarisse omnivore is, eet hulle hoofsaaklik vrugte, wat hulle heel insluk. Die sade van meer as honderd plantspesies gaan dus onverteer deur die voël se ingewande en word oral in die woud versprei in ’n beskermende en voedende hopie voëlmis. Dít, sê die deskundiges by die reservaat, kan beteken dat die kasuaris ’n noodsaaklike spesie is, aangesien opmerklike sekondêre uitsterwing op sy verdwyning sal volg. Maar is die voël gevaarlik vir mense?
Net vir onverstandige mense wat dit te naby waag. In werklikheid is mense ’n veel groter gevaar vir die kasuaris as wat hy ooit vir hulle was. In die donker skadu’s van die reënwoud sal die voël ’n diep, grommende keelgeluid maak om jou te waarsku dat hy naby is. Gee ag op die waarskuwing; moenie nader gaan nie. Hy sal heel waarskynlik deur die digte plantegroei weghardloop en sy harde helm gebruik om sy kop te beskerm. Maar wanneer hy in ’n hoek vasgekeer of gewond is of wanneer hy sy kleintjies beskerm, sal hy jou moontlik aanval as jy te naby kom.
Die emoe—swerwer en nasionale embleem
Die emoe is nou verwant aan en staan ’n bietjie hoër as die kasuaris en word in die meeste dele van die Australiese Agterveld gevind. Van al die voëls is net die volstruis groter as hy. Die skrikkerige emoe het lang, kragtige bene wat oor kort afstande ongeveer 50 kilometer per uur kan hardloop, en soos die kasuaris het hy drie dodelike kloue aan elke voet. Maar anders as sy gebiedsvaste familielid is die emoe ’n nomadiese swerwer en is hy selde aggressief. Hy sal feitlik enigiets eet—ruspes, kopkool, selfs ou stewels! Nadat die emoewyfie haar donkergroen eiers gelê het—gewoonlik tussen 7 en 10, maar soms tot 20—laat sy, soos die kasuaris, die broeiery en grootmaakproses aan die mannetjie oor.
Die koms van die blankes het teëspoed vir die emoe beteken. Nedersetters het hom vinnig in Tasmanië uitgeroei. En op die vasteland het sy voorliefde vir koring tot gevolg gehad dat hy as ’n pes beskou is en die slagoffer van beloningjagters geword het. Nogtans het die emoe se getalle, ten spyte van die voortdurende jagtery op hulle, ’n merkwaardige weerstandsvermoë geopenbaar, in so ’n mate dat daar in 1932 in Wes-Australië regstreeks teen die voël oorlog verklaar is. Die regering het letterlik die leër en twee Lewis-masjiengewere ingeroep! Hoewel die emoe nie bekend is vir sy intellek nie, het hy hierdie geveg gewen. Die “oorlog” was ’n openbare bespotting en ’n politieke verleentheid; tienduisend skote het op die meeste ’n paar honderd voëls van kant gemaak. Maar in die daaropvolgende uitputtingsoorlog—emoes versus die dubbelloopgewere van beloningjagters en die staatsgesteunde, gratis ammunisie vir boere—kon die emoes nie langer standhou nie.
Deesdae is die emoe egter ’n nasionale simbool. Hy staan trots teenoor ’n kangaroe op Australië se wapenskild en swerf veilig deur die veld. Droogte is sy grootste vyand. Emoes word nou selfs geteel en daar word op proefplase met hulle geboer vir ’n groot verskeidenheid produkte: vleis wat heeltemal vetvry is; sterk, duursame leer; vere en olie, wat verkry word van ’n vetlaag op die voël se bors. Omdat hierdie vetvoorraad op een plek gekonsentreer is, is die vleis heeltemal vetvry.
Hou jy van dans?
Dalk nie, maar die brolgas hou beslis daarvan. By hulle “danssaal” aan die waterkant “sal enige getal [van hierdie grys kraanvoëls], van twee tot ’n stuk of twaalf voëls”, sê die boek The Waterbirds of Australia, “rofweg in rye teenoor mekaar gaan staan en met die dans begin. Hulle trippel vorentoe op hulle steltagtige bene met halfuitgespreide en trillende vlerke. Hulle knik en buig hulle kop, terwyl hulle passies vorentoe en agtertoe maak en saggies koer en fluit. Nou en dan sal ’n voël stilstaan, sy kop agteroorgooi en onbeheers trompetter. Die voëls sal moontlik ook ’n paar voet [meter] hoog in die lug spring en op hulle breë swart en grys vlerke weer na die aarde neerdaal. Klein takkies of stukkies gras word rondgegooi en die Brolgas probeer die stukkies vang of met hulle snawels daarna steek terwyl dit ondertoe val.” ’n Besielende vertoning, veral as ’n mens dink aan die grootte van die voëls, wat meer as ’n meter hoog is en ’n vlerkspan van sowat twee meter het!
Hoewel talle voëlspesies ingewikkelde paringsdanse tydens die broeiseisoen uitvoer, sal die brolga, een van die grootste kraanvoëls, die hele jaar deur dans. Trouens, sy naam kom van die inboorlinge se legende oor ’n beroemde danseres met die naam Buralga. Sy het geweier dat ’n bose towenaar haar die hof maak. Hy het haar gevolglik in ’n bekoorlike kraanvoël verander.
Die jabiroe—Australië se enigste ooievaar
Die swartnekooievaar, wat in Australië die jabiroe genoem word, is ’n voël wat in die vleilande voorkom en die vogtige noordelike en oostelike kusgebiede van Australië gereeld besoek. (Die Suid-Amerikaanse jabiroe is ’n ander ooievaarspesie.) Die jabiroe is slank, 1,3 meter hoog en het treffende kleure sodat hy maklik onder die derduisende ander voëls in die vleilande uitgeken kan word. Terwyl hy in die vlak water wei, sal hy sy lang, sterk snawel met soveel geweld in die water steek dat hy sy vlerke gedeeltelik moet oopruk om die krag van die beweging teë te werk.
En hoe kragtig is daardie vlerke tog! Deur sy vlerke uit te sprei tot sowat twee meter van vlerkpunt tot vlerkpunt, met die slagvere wat soos vingers uitgesprei is, kan die jabiroe langsaam in sirkels sweef tot hy net ’n klein kruisie in die lug is. Ja, die vlieënde jabiroe, met sy lang vlerke, nek en bene wat ’n silhoeët vorm teen die groot bal van die ondergaande son, is ’n trotse simbool van die vleilande in die noorde van Australië.
Die keilstertarend—koning van die lug
Naby die rotsagtige piek van ’n berg in Victoria, en ondanks ’n sterk stormwind wat al die ander voëls uit die lug verdryf het, het ’n keilstertarend in die lug gespeel. Die skrywer David Hollands het die baie seldsame akrobatiese vertoning aanskou: “Die arend het net daar gehang”, skryf hy, “feitlik bewegingloos en heeltemal tuis in hierdie sterk wind. . . . Terwyl ek nog kyk, het hy begin sak en sy vlerke toegemaak om vertikaal te duik. Hy het honderd meter of wat geduik en toe sy vlerke effens oopgemaak sodat hy weer opgeskiet het om die meeste van die hoogte wat hy met die duik verloor het terug te wen. . . . Hy het ná ’n halwe rolbeweging weer horisontaal gevlieg, toe hoër gesweef [en] die duik keer op keer herhaal deur op dramatiese wyse op die bodem van die vallei af te peil en dan weer op te swiep in ’n volgehoue en opwindende vertoning.”
Met ’n vlerkspan van 2,5 meter en ’n duidelik wigvormige stert is dit onmoontlik om hierdie sierlike en kragtige voël met enige ander in die lug bokant Australië te verwar. Sy kloue kan sluit met ’n krag van drie ton! Maar ’n tyd lank was die enigste “behoorlike” manier om na ’n keilstertarend te kyk oor die loop van ’n geweer. Net soos die Amerikaanse witkoparend waaraan hy verwant is, en wat sonder genade geskiet is om die salm- en pelsbedrywe te beskerm, is daar op hierdie Australiese arend jag gemaak omdat hy nou en dan ’n lam gevang het. “Min ander roofvoëls in die wêreld”, sê die boek Birds of Prey, “is so erg deur die mens gejag as die Keilstertarend . . . Byna 100 jaar lank was hy as ’n pes beskou . . . , en groot bedrae geld is betaal vir bewyse dat een gedood is.”
Met verloop van jare is die aanklagte egter teruggetrek. Daar is uitgevind dat hy hoofsaaklik wilde hase eet en af en toe inheemse diere, met inbegrip van kangaroetjies wat tot twee keer soveel as hy weeg. Hierdie onthulling het uiteindelik die arend van die mens se vriendskap sowel as wetlike beskerming verseker.
Ja, wat ’n verstommend ingewikkelde, pragtige en noodsaaklike rol speel voëls tog nie in die verskeidenheid van lewe op aarde nie! Ons sal dit dalk mettertyd besef, maar wysheid kom dikwels te laat—nadat gierigheid en onkunde groot skade aangerig het. Maar hoe vertroostend is dit tog om te weet dat ons, as ons aandagtig luister, selfs nou die gekoer, gekwetter, gefluit, gesnater, gekwaak en gekrys in die lug, woude en vleilande van hierdie pragtige planeet kan hoor!
[Prente op bladsy 16]
Kasuaris
Brolga
[Erkenning]
Links en onder: Australian Tourist Commission (ATC); middel en regs bo: Billabong Sanctuary, Townsville, Australia
[Prente op bladsy 17]
Arend
Emoe
Jabiroe
[Erkenning]
Arendskuikens en emoekop: Graham Robertson/NSW National Parks and Wildlife Service, Australia; vlieënde arend: NSW National Parks and Wildlife Service, Australia; emoe met kleintjies en jabiroe: Australian Tourist Commission (ATC)
[Foto-erkennings op bladsy 15]
Links: Graham Robertson/NSW National Parks and Wildlife Service, Australia; regs: Australian Tourist Commission (ATC); bo: Billabong Sanctuary, Townsville, Australia