Waar ses vastelande ontmoet
Deur Ontwaak!-medewerker in die Oekraïne
HOU jy daarvan om diere in hulle natuurlike omgewing te sien? Indien wel, sal jy dit geniet om Afrika, Asië, Australië, Europa, Noord-Amerika en Suid-Amerika op een slag te besoek. Hoe is so ’n besoek moontlik? Deur na die Askanija-Nowa-biosfeerreservaat in die suide van die Oekraïne te gaan. Hier kom troppe wilde diere van hierdie ses vastelande op die vlaktes voor, waar hulle in vrede en harmonie saamlewe.
Die geskiedenis van die reservaat kan tot 1883 teruggevoer word. In daardie jaar het ’n Duitse nedersetter, Friedrich Pfalz-Pfein, ’n stuk land op die ongerepte steppe as ’n reservaat opsygesit. Hy het reeds ’n private dieretuin daar gehad met meer as 50 voël- en soogdiersoorte. Later, in 1887, is ’n botaniese tuin bygevoeg. Tans bestaan die Askanija-Nowa-biosfeerreservaat uit ’n botaniese park, ’n steppereservaat wat meer as 11 000 hektaar ongerepte prêrie beslaan, en ’n dieretuin.
Wanneer ’n mens nader aan die reservaat kom, sien jy die botaniese park eerste. Oor die jare heen het wetenskaplikes ’n groot verskeidenheid bome van baie wêrelddele hierheen gebring. Die bome is regoor die park versprei, wat sowat 200 hektaar beslaan. Aangesien die reservaat in ’n droë deel van die land is, is artesiese putte en watervore gegrawe om die bome en struike nat te lei. Die oorspronklike parkuitleg en watervoorsieningstelsel het in 1889 ’n goue medalje by die Wêreldskou in Parys gewen.
Diere van ses vastelande
Ons gaan van die skaduryke park na die sonnige steppe, waar troppe wilde diere van sowat 50 verskillende spesies op die bykans 2 500 hektaar omheinde vlaktes voorkom. Kom ons kyk eers na van die diere uit Afrika.
Die buffel is een van die bekendste en gevaarlikste diere onder die grootwild. Hulle is nie net indrukwekkend weens hulle grootte nie—ongeveer 1,7 meter tot by hulle skouer—maar ook weens hulle enorme, een meter lange horings. Aangesien die bulle onvoorspelbaar is en maklik aanval, is dit nie raadsaam om te naby aan hulle te kom nie.
Nog ’n dier wat ons aandag trek, is die eland, ’n wildsbok van Suidoos-Afrika. Omdat jag in die reservaat verbode is, het die eland onverstoord hier gelewe sedert hulle in 1892 vir die eerste keer hierheen gebring is. Hulle wei waar die besoekers hulle kan sien en is glad nie bang vir mense nie. Party van die elande is selfs mak gemaak en kan gemelk word net soos ’n mens gewone koeie melk. Hulle voedsame melk, wat ’n hoë vetinhoud het, word vir mediese doeleindes gebruik, soos om maagsere te behandel.
Die emoe, ’n groot loopvoël, kom van Australië. Dit is die tweede grootste voëlsoort—slegs die volstruis is groter. Sommige emoes word tot 1,8 meter hoog en weeg 60 kilogram. Hoewel ’n net hierdie voëls van die ander diere afskei, het hulle genoeg ruimte om vryelik rond te hardloop.
’n Fassinerende kenmerk van die emoe is dat die onuitgebroeide kuikens op die emoe-mannetjie se roep reageer. Wanneer ’n opname van die emoe-mannetjie se roep byvoorbeeld gespeel word kort voordat die eiers uitbroei, laat die kuikens binne die eiers die eiers glo heen en weer beweeg. Tog reageer die kuikens in die eiers nie op die roep van die wyfie nie. Waarom nie?
Hoewel die wyfie die eiers lê, broei die mannetjie die eiers uit. Hy sorg ongeveer 50 dae lank vir hulle totdat hulle uitbroei, en daarna versorg hy die kuikens. Selfs wanneer hulle nog in die eier is, weet die kuikens dus reeds wie vir hulle sorg. Terloops, dit is nie gewone eiers nie—hulle is donkergroen en groot—elkeen weeg sowat 700 gram!
Troppe Przewalski-perde kom ook in die reservaat voor. In 1899 is hulle van die Mongoolse prêries hierheen gebring. Die Przewalski-perde het vermoedelik as gevolg van jag en die verlies van weiding in die 1960’s in die natuur uitgesterf.
Tans is daar ongeveer 1 100 Przewalski-perde in aanhouding in verskeie dieretuine en parke, waarvan daar sowat honderd hier in die Askanija-Nowa-reservaat is. Wetenskaplikes probeer om hierdie diere in die natuur te hervestig. Om dié rede is 21 Przewalski-perde in 1992/93 na Mongolië teruggeneem.
Die volopste spesie in hierdie reservaat is die sikahert van China en Japan. Weens sy gespikkelde rug word hierdie pragtige bok ook die blomhert genoem. Dit is ’n aantreklike dier met ’n skraal liggaamsbou en pragtige, trotse horings op sy klein kop.
Gajale, groot halfmak Indiese beeste, kan ook gesien word waar hulle rustig op die steppe wei. In Indië loop hierdie diere gedurende die dag in die woud rond, en snags keer hulle na die dorp terug. Hoewel daar nie ’n woud of ’n dorpie in Askanija-Nowa is nie, lyk dit of die beeste heel tuis is op die plaaslike grasvlakte met ander troppe diere om hulle.
Die Amerikaanse bison, of buffel, is indrukwekkend weens sy krag en grootte. Omtrent 150 jaar gelede het miljoene van hierdie reuse op die Noord-Amerikaanse prêries voorgekom, maar hulle is so gejag dat hulle amper uitgesterf het. Hierdie plaaslike trop Amerikaanse buffels is enig in sy soort in Europa. Hulle voel in die somer sowel as in die winter tuis op die grasvlaktes van die steppe.
Suid-Amerika word verteenwoordig deur die nandoe, ’n groot loopvoël. Hulle is soortgelyk aan die Australiese emoe, en word 1,5 meter hoog en weeg 50 kilogram. Soos die emoe, broei die nandoe-mannetjie die eiers uit. ’n Kenmerkende verskil is dat emoes eenwywig is, terwyl nandoes veelwywig is. Drie tot vyf nandoe-wyfies kan hulle eiers in een nes lê.
Die edelhert en reebok kom van Europa. Hierdie geharde diere floreer op die steppegras en kan maklik koue sowel as hitte weerstaan. Hierdie bokke word gebruik om reservate in verskillende dele van Europa sowel as gebiede wat vir jag opsygesit is, aan te vul. Shetlandse ponies is in 1960 van Noord-Europa na die Askanija-Nowa-reservaat gebring. Sedertdien het hulle getalle aansienlik vermeerder.
Die reservaat is ook die tuiste van troppe sebras, blouwildebeeste, Asiatiese wilde-esels en saigas (Eurasiese wildsbokke), sowel as ’n groot verskeidenheid voëls. Party van die diere bly heeljaar lank op die steppe, terwyl ander na die plase geneem word, waar hulle gedurende die winter bly.
Hoe die reservaat onderhou word
Vandag is die Askanija-Nowa-reservaat ’n studiesentrum vir die Oekraïense wetenskaplike navorsingsinstituut. Die personeel van die instituut doen baie werk om die steppe in sy natuurlike toestand te bewaar en om die diere te help om by hulle nuwe omgewing aan te pas. Wetenskaplikes probeer ook om die gehalte van die bestaande versameling eksotiese en skaars diere te verbeter.
Natuurreservate kan in verskillende dele van die aarde gevind word. Hulle kom voor op die Noord- en Suid-Amerikaanse prêries en pampas, Afrika se savannes, Australië se graslande en Asië en Europa se steppe. Elkeen het sy eie besondere kenmerke en verskeidenheid plante en diere. Die internasionale karakter van die Askanija-Nowa-reservaat toon hoe diere van die verskillende uithoeke van die aarde by hulle omgewing kan aanpas en vreedsaam kan saamlewe.
Baie mense sien met groot afwagting uit na die tyd wat in die Bybel voorspel word wanneer God se Koninkryk nie net vrede tussen mense sal teweegbring nie, maar ook tussen die talle diersoorte op die aarde.—Jesaja 11:6-9; Hosea 2:18; Handelinge 10:34, 35.
[Kaart op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Askanija-Nowa- biosfeerreservaat
[Prent op bladsy 15]
Eland
[Prent op bladsy 15]
Buffel
[Prent op bladsy 15]
Emoe
[Prent op bladsy 16]
Sikaherte
[Prent op bladsy 16]
Przewalski- perd
[Prent op bladsy 16]
Amerikaanse bison
[Prent op bladsy 16, 17]
Die reservaat is ook die tuiste van ’n groot verskeidenheid voëls
[Prent op bladsy 17]
Nandoe
[Prent op bladsy 17]
Reebok
[Prent op bladsy 17]
Edelhert
[Prent op bladsy 17]
Botaniese park
[Foto-erkennings op bladsy 15]
Eland en emoe: Biosphere Reserve “Askaniya-Nova,” Ukraine; aardbolle: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Foto-erkennings op bladsy 16]
Herte: Biosphere Reserve “Askaniya-Nova,” Ukraine; aardbolle: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Foto-erkennings op bladsy 17]
Voëls: Biosphere Reserve “Askaniya-Nova,” Ukraine; blomme en park: Olha Dvorna/ Biosphere Reserve “Askaniya-Nova,” Ukraine; aardbolle: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.