Ons beskou die wêreld
Bloedskandaal in Frankryk
“’n Ongeëwenaarde tragedie in Wes-Europa.” Dit is hoe die Franse koerant Le Monde onlangs die skandaal beskryf het van die gebruik om gevangenes se bloed vir bloedoortappings te gebruik. In die tagtigerjare het ongeveer 5000 Franse pasiënte vigs opgedoen vanweë besmette bloed—wat na berig die ergste besmettingsyfer ter wêreld is. In 1985 het die bloed wat in tronke geskenk is 25 persent van die besmette bloedeenhede uitgemaak. Volgens ’n verslag wat deur die Raad van Inspekteurs vir Sosiale Aangeleenthede en die Raad van Inspekteurs vir Wetlike Dienste opgestel is, het die gebruik om gevangenes bloed te laat skenk in 1954 begin en het wat die berig “ekonomiese faktore” noem blykbaar daartoe aanleiding gegee. Die Franse Gesondheidsinspektoraat het reeds in 1983 aanbeveel dat hoë-risiko-skenkers se bloed nie gebruik mag word nie; tog het gevangenisbeamptes die daaropvolgende jaar gevangenes net nog meer bloed laat skenk.
Eerlikheid aan die afneem
“Daar is ’n gat in die sedelike osoonlaag en dit is waarskynlik besig om groter te raak.” Dit is die gevolgtrekking wat Michael Josephson, die stigter en president van die Instituut vir Sedelike Norme in Kalifornië, VSA, maak. Sy instituut het ’n opname onder byna 7000 hoërskoolleerlinge en universiteitstudente gedoen en het met verontrustende bevindings vorendag gekom. ’n Derde van die hoërskoolleerlinge en ’n sewende van die universiteitstudente het erken dat hulle die afgelope jaar winkeldiefstal gepleeg het. Een agtste van die universiteitstudente het reeds ál die volgende dinge gedoen: leuens aan ’n versekeringsmaatskappy vertel, leuens op vorms vir finansiële hulp vertel, leuens oor uitgawes vertel en geld geleen sonder dat hulle enigsins van plan was om dit terug te betaal. Volgens Michael Josephson is al hierdie oneerlikheid onder jongmense “eenvoudig ’n versterkte herhaling van die swakste gedrag onder volwassenes”. The Washington Post som sy beskouing soos volg op: “Oneerlikheid en onetiese gedrag kom dikwels onder jonger Amerikaners voor omdat dit al hoe meer onder volwassenes voorkom.”
Emoeboerdery?
Die Australiese emoe—’n groot voël wat nie kan vlieg nie en wat soos die volstruis lyk—word dalk binnekort ’n belangrike bron van inkomste. In 1991 is emoevleis wettiglik as ’n vorm van pluimvee geklassifiseer. Emoeboerdery kan in die nabye toekoms dus baie gewild raak. The Sydney Morning Herald haal ’n woordvoerder vir die Australiese Nasionale Parke en Natuurdienste aan wat gesê het: “Feitlik die hele dier kan gebruik word. Daar is selfs ’n mark vir die toonnaels; hulle politoer dit en maak juweliersware daarvan.” Emoevleis bevat glo min vet en cholesterol, maar baie proteïene. Die groot voëls lewer ook twee soorte leer: die leer van hulle liggaam wat vir klere gebruik word en dié van hulle bene wat soos ’n reptiel s’n lyk. Emoes lewer selfs olies wat vir die maak van skoonheidsmiddels gebruik kan word. Produkte wat van een uitgegroeide emoe verkry kan word, het ’n waarde van tussen R700 en R800.
Indonesië se koraalriwwe word bedreig
“Indonesië se seegebied bevat die rykste en uiteenlopendste groep koraalriwwe ter wêreld”, het The Jakarta Post onlangs gesê. Buiten die feit dat dit ’n belangrike toeriste-attraksie en die bron van talle farmaseutiese en mediese produkte is, beskerm hierdie ingewikkelde en pragtige ekosisteme die kuslyn teen erosie en versag dit die aanslae van storms op gemeenskappe wat aan die kus woon. Die Post berig dat die voortbestaan van hierdie kosbare riwwe nou bedreig word deur die mens se besoedeling, deur sy baggering vir boumateriaal, deur sy versameling van koraal en deur vernielsugtige visvangmetodes soos om die riwwe met dinamiet op te blaas, visnette oor die riwwe te sleep en gifstowwe te gebruik. Die Post berig: “Wanneer ’n rif eers vernietig is, neem dit ongeveer 20 jaar voor die eerste spesies weer verskyn en 50 tot 100 jaar voor daar weer enige soort diversiteit is.”
Oefening en slaap
“Oefening is dalk vir ouer mans die oplossing om beter te slaap”, berig die tydskrif Arthritis Today. In ’n onlangse studie in Noord-Carolina, VSA, is ’n groep van 24 mans tussen die ouderdom van 60 en 72 in twee groepe verdeel. Vir minstens ’n jaar het die een groep weekliks drie keer of meer strawwe oefeninge gedoen; die ander groep het baie min en ongereeld geoefen. Daar is bevind dat dié mans wat gereeld strawwe oefeninge gedoen het gemiddeld twee keer vinniger as hulle sedentêre eweknieë aan die slaap geraak het. Dit was die geval of die toetse nou op die dag waarop hulle geoefen het of op enige ander dag gedoen is. Die tydskrif voeg by: “Hulle het ook gedurende die nag minder wakker gelê.”
Jong drinkers
“Bykans 90 000 kinders in Brittanje word as oormatige drinkers beskou”, berig The Sunday Times van Londen. Die Britse regering bepaal ’n maksimum van 21 weeklikse alkoholeenhede vir mans en 14 vir vroue. ’n Eenheid is een glas wyn of een maatglas sterker drank of ’n blikkie bier. ’n Onlangse studie onder 18 000 Britse skoolkinders het bevind dat 11,5 persent van die 15-jarige seuns meer as die aanbevole weeklikse perk vir volwasse mans gedrink het. Wat die meisies betref, het 1 uit elke 20 van die 14- en 15-jariges erken dat hulle meer drink as die perk wat vir volwasse vroue gestel is. Navorsers meen dat hierdie verontrustende statistiek nie die ware omvang van die probleem toon nie.
Die kerk se tekortkominge bevorder die heidendom
Honderde het ’n Midsomersnagfees bygewoon wat onlangs in die woude van die plattelandse dele van Sentraal-Rusland gehou is. Dit kenmerk ’n herlewing van die heidendom, sê Alexei Dobrowolski, die leier van ’n groepie natuuraanbidders. Sy rituele sluit in dat mense deur vuur loop en “ontdoop” word om hulle sodoende van die kerk se besprinkelde “heilige water” te reinig. Hierdie “heidene” vier ook jaarliks op 25 Desember die geboorte van die son. Ná ongeveer 13 jaar in arbeidskampe het Alexei Dobrowolski hierdie herlewing van die heidendom begin verkondig. Waarom die oproep tot die heidendom? Na bewering sê hy dat die Russies-Ortodokse Kerk ’n kompromis met homself aangegaan het deur sy samewerking met die eertydse Kommunistiese regering. Hy sê: “Die kerk was nog altyd ’n verraaier. Dit het altyd dié met die meeste mag gedien.”
Die woestynolifant word gered
Miltvuursiekte het onlangs die 29 olifante in Afrika se uitgestrekte Namibwoestyn bedreig. Bewaringsgesindes was bekommerd, aangesien ’n olifant met miltvuur binne 24 uur kan sterf. Danksy internasionale geldelike hulp het hulle dus die ontsaglike taak aangepak om die trop vanuit ’n helikopter in te ent. Twee mans, wat gevaarlik aan weerskante uitgehang het, het te midde van ’n groot stofwolk na elke rondmalende, paniekbevange olifant gekorrel. Die een man het pyle geskiet wat die entstof bevat het, en die ander het ’n straaltjie kleurstof gespuit om elke ingeënte olifant te merk. Die bewaringsgesindes was tevrede dat hulle daarin geslaag het om altesaam 21 olifante te “skiet”. Daar is gereken dat die hele duur en gevaarlike proses om die enigste ware woestynolifante ter wêreld te red die moeite werd was.
Gevaarlike bestuurmetodes
Padkaarte word bestudeer, daar word op bandopnemers gepraat, motortelefone word gebruik en vroue trek ander sykouse aan. Dít is volgens The Star, ’n Suid-Afrikaanse koerant, sommige van die dinge wat mense doen terwyl hulle bestuur, soms teen ’n snelheid van meer as 100 kilometer per uur. Een veiligheidsbeampte sê dat hy dikwels mense sien wat hulle tande met albei hande vlos terwyl hulle bestuur! Daar is ook al gesien hoe bestuurders hulle tande borsel en hulle mond uitspoel. Een vrou het haar seun se hare gesny terwyl sy hom met die motor skool toe geneem het. Een ma het haar baba se doek omgeruil terwyl sy teen ’n snelheid van 90 kilometer per uur bestuur het. Waarom doen bestuurders sulke gevaarlike dinge? Een beampte het gesê dat bestuurders as gevolg van lang afstande en verkeersophoping in die versoeking kan kom om die tyd wat hulle in die motor deurbring “goed” te gebruik. Hy het egter daarop gewys dat dit tot ernstige ongelukke kan lei.
Is keisersneegeboortes veiliger?
Baie vroue verkies om met behulp van ’n keisersnee geboorte te gee omdat hulle glo dat dit veiliger en minder pynlik sal wees. Volgens die Jornal do Brasil verkies baie dokters ook om ’n keisersnee te doen, aangesien ’n normale “geboorte gewoonlik gemiddeld 8 tot 12 uur duur en nie op ’n vasgestelde dag plaasvind nie, terwyl die keisersnee beplan kan word en hoogstens ’n uur duur”. Die verloskundige Fernando Estellita Lins is egter as volg aangehaal: “Die aantal sterfgevalle, weens infeksies en bloeding as gevolg van chirurgie, is baie hoër onder vroue wat ’n keisersnee kry.” Brasiliaanse navorsing het getoon dat sterftes onder moeders “tydens vaginale geboortes 43 per 100 duisend was, terwyl dit tydens keisersneë 95 per 100 duisend was”.
Die ergste plaag in die geskiedenis
Die wetenskaplike gemeenskap het weer eens die hewigheid van die Spaanse griep bevestig. Volgens The New York Times Magazine het 196-000 mense gedurende Oktober 1918 in die Verenigde State alleen gesterf. “Teen die einde van die winter van 1918-19 het twee [miljard] mense oor die wêreld heen reeds die griep gehad, en tussen 20 miljoen en 40 miljoen het gesterf”, sê die tydskrif. John R. la Montagne, ’n amptenaar by die Nasionale Instituut vir Allergieë en Besmetlike Siektes in Bethesda, Maryland, het gesê dat die Spaanse griep van 1918 “die mees verwoestende epidemie was wat ons tot nog toe in die geskiedenis gehad het”. In 1347 het die builepes, of die Swart Dood, die mensdom nou wel ’n vernietigende slag toegedien wat vier jaar geduur het. Maar volgens die tydskrif het “net soveel mense in ’n enkele jaar aan [1918 se] pandemie gesterf as tydens die vierjarige Swart Dood”.