Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 11/8 bl. 18-21
  • Ons was gyselaars gedurende ’n opstand in ’n gevangenis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons was gyselaars gedurende ’n opstand in ’n gevangenis
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die opstand begin
  • Nog gyselaars
  • Die geweld neem toe
  • Dit het gelyk of die dood op hande is
  • Viering van die Gedenkmaal
  • Die beproewing kom tot ’n einde
  • Ek wag op ’n Koninkryk wat “geen deel van hierdie wêreld” is nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Versprei Koninkryksaad by elke geleentheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Is die oplossing ’n deel van die probleem?
    Ontwaak!—2001
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 11/8 bl. 18-21

Ons was gyselaars gedurende ’n opstand in ’n gevangenis

OMSTREEKS drie-uur die middag, op Saterdag, 30 Maart 1996, het ek, Edgardo Torres en Rubén Ceibel by die Sierra Chica-maksimumsekuriteitsgevangenis in die provinsie Buenos Aires, Argentinië, aangekom. Hierdie gevangenis wat bedoel was om plek vir ongeveer 800 gevangenes te hê, het 1052 veroordeelde misdadigers gehad. Hulle misdade het gewissel van roof tot reeksmoorde. Ons was daar as besoekers.

Vir Edgardo en Rubén was dit een van baie Saterdae wat hulle hierdie welbekende gevangenis besoek het. As ouer manne in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies het hulle gereeld na die gevangenis gegaan om weeklikse Bybellesings vir omtrent 15 gevangenes te hou. Vir my, ’n reisende opsiener, was dit iets ongewoons, aangesien ek nog nooit ’n vergadering in ’n gevangenis gehou het nie.

Die gevangenis het 12 selblokke wat in die vorm van ’n waaier gebou is. Toe ons die gebou binnegaan, het ons vier gevangenes op ’n afstand gesien wat geesdriftig vir ons gewaai het. Hierdie gevangenes het dermate vooruitgang in hulle Bybelstudies gemaak dat hulle ongedoopte verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk was. Ons is vinnig na selblok 9 vergesel, waar ons die vergadering sou hou. Een van die kamers daar is geverf en met gordyne versier, wat dit aantreklik laat lyk het.

Die opstand begin

Iets was egter nie pluis nie. Daar was slegs 12 gevangenes teenwoordig in plaas van 15 soos gewoonlik. Ons het almal gewonder waarom. Die vergadering het soos gewoonlik met ’n lied en gebed begin. ’n Paar minute later het die geluid van harde geweerskote, gevolg deur sarsies masjiengeweervuur, ons laat ruk soos ons skrik. Toe het ons skreeuery en krete gehoor. ’n Opstand het so pas in die gevangenis uitgebreek!

’n Paar gemaskerde gevangenes wat met tuisgemaakte messe gewapen was, het by ons vergaderplek ingestorm. Hulle was verbaas om ons daar te vind—drie besoekers! Ons is vinnig in ’n rookgevulde gang af gelei. Daar was brandende matrasse, gevangenes wat verward rondgehardloop het en ’n gewonde bewaarder wat op die vloer gelê het. Die wagtoring in die middel van die gevangenisgrond is deur ’n tuisgemaakte bom in vlamme gehul. Ons is buitentoe geneem en moes ongeveer 50 meter van die hoofheining af staan. Ons kon voor ons polisiemanne en gevangeniswagte buite die heining sien, met hulle gewere op ons gerig. ’n Groep gevangenes het agter ons geskuil en hulle messe teen ons kele gehou. Hulle het ons as ’n skild gebruik.

Nog gyselaars

Vyf uur later, ná sononder, het die belhamels ’n dokter in die gevangenis toegelaat om die gewondes te behandel. Die dokter het ook ’n gyselaar geword. Uiteindelik is ons, omstreeks nege-uur die aand, na die gevangenishospitaal geneem. Daar het ons by ’n groep bewaarders aangesluit wat ook as gyselaars aangehou is. Nou het die oproermakers al die gyselaars om die beurt as skilde gebruik.

Ná ’n kort rukkie is ’n regter en haar sekretaris toegelaat om die oproermakers te ontmoet in ’n poging om die saak op ’n vreedsame wyse te skik. Maar die krisis het vererger toe die gevangenes hulle albei brutaal as gyselaars aangehou het.

Daar was die hele nag lank sporadiese gevegte. Ons het probeer slaap, maar dit het gevoel of ons elke keer wat ons ingesluimer het deur ’n harde geskreeu uit ons slaap wakker geskud is. Toe, baie vroeg die oggend, was dit weer ons beurt om ’n skild te wees.

Die geweld neem toe

Op Sondag, 31 Maart, die tweede dag van die opstand, het die situasie vererger. Die belhamels kon nie oor hulle eise ooreenkom nie. Dit het ’n atmosfeer van woede en geweld geskep. Groepe oproermakers het amok begin maak en alles in hulle pad verwoes en verbrand. Ou geskille is deur middel van geweld en moord besleg. ’n Aantal gevangenes wat geweier het om aan die oproer deel te neem, is tereggestel. Van die liggame is in die bakkery se oond verbrand.

Allerhande gerugte en teenstrydige berigte oor ons vrylating was in die gevangenis in omloop. Dit was ’n emosionele tuimeltrein vir ons as gyselaars. Ons is soms toegelaat om na die nuus op televisie te kyk. Dit het ons verbaas om te sien hoeveel die televisieverslae van die werklikheid verskil het. Dit was ontmoedigend.

Hoe het ons dit verduur? Ons het volgehou met gebed, Bybellees en gesprekke met ander oor Bybelbeloftes aangaande ’n gelukkige toekoms. Dit was die sleutel tot ons emosionele krag gedurende die beproewing.

Die Maandag het die belhamels ingestem om met die owerheid te begin onderhandel. Dit het gelyk of die opstand amper verby was. Terwyl die oproermakers Edgardo en verskeie gevangeniswagte as skilde gebruik het, het ’n skietgeveg onder ’n paar gevangenes uitgebreek. In die gevolglike verwarring het die polisie, wat gedink het dat van die gyselaars geskiet word, hulle wapens afgevuur. Edgardo het die koeëlreën oorleef, maar van die gevange wagte is geskiet.

Dit het gelyk of die dood op hande is

Hulle het ons, die gyselaars, tot bo-op ’n dak geneem om vir die owerheid te wys dat ons nog lewe. Maar die polisie het aanhou skiet. Dit het die oproermakers woedend gemaak. Almal het terselfdertyd begin skreeu. Party het uitgeroep: “Maak die gyselaars dood! Maak hulle dood!” Ander het gepleit: “Nog nie! Kom ons wag!” Dit het gelyk of die dood op hande is. Ek en Rubén het na mekaar gekyk asof ons wou sê: ‘Sien jou in die nuwe wêreld.’ Toe het ons albei ’n stille gebed gedoen. Ons het onmiddellik ’n innerlike kalmte en gemoedsrus ondervind, wat, onder die omstandighede, net van Jehovah af kon gekom het.—Filippense 4:7.

Skielik het die polisie opgehou skiet, en een van die belhamels het ons teregstelling afgestel. Die jong gevangene wat my vasgehou het, is beveel om my op en af te laat loop op die dak, as ’n waarskuwing vir die polisie. Hy was verskriklik senuweeagtig. Net daar kon ek ’n gesprek aanknoop wat ons albei gekalmeer het. Ek het verduidelik dat menselyding deur Satan en sy demone veroorsaak word en dat Jehovah God binnekort ’n einde aan al sulke lyding gaan maak.—Openbaring 12:12.

Toe ons na die gevangenishospitaal teruggeneem is, het ons gevind dat baie van die gyselaars paniekbevange was. Ons het ons medegyselaars van ons geloof in Jehovah se beloftes probeer vertel. Ons het met hulle gepraat oor ons Bybelse hoop op ’n toekoms in die Paradys op aarde. Van die gyselaars het Jehovah by sy naam begin aanroep. Die dokter het besondere belangstelling getoon en ’n paar spesifieke vrae gestel. Dit het gelei tot ’n breedvoerige Bybelbespreking uit die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei.

Viering van die Gedenkmaal

Dinsdag, ons vierde dag in aanhouding, was die herdenking van Jesus Christus se dood. Op daardie dag sou miljoene Getuies van Jehovah asook belangstellendes regoor die wêreld bymekaarkom om hierdie geleentheid in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag te herdenk (Lukas 22:19). Ons het ook reëlings getref om die Gedenkmaal te vier.

Een hoek van die kamer is gekies vir privaatheid. Daar was geen ongesuurde brood of rooiwyn om as embleme te gebruik nie. Maar ons drie het dit geniet om lofliedere tot Jehovah te sing, te bid en die Bybelverslag oor Jesus se laaste aand en ander gebeure wat met sy dood verband hou te hersien. Ons het baie na aan ons gesinne en ons geestelike broers en susters gevoel terwyl hulle die Gedenkmaal tegelykertyd deur die hele land gevier het.

Die beproewing kom tot ’n einde

’n Atmosfeer van spanning, vrees en onsekerheid het die daaropvolgende vier dae geheers. Maar ons is vertroos deur talle briewe van familielede en vriende, wat die gevangenes ons toegelaat het om te ontvang. By een geleentheid is ons selfs toegelaat om per telefoon met ons gesinne in verbinding te tree. Dit was so verkwikkend om hulle stemme te hoor en hulle woorde van liefde en besorgdheid te lees!

Op Saterdag, ons agtste dag in aanhouding, het die oproermakers ’n ooreenkoms met die owerheid bereik. Ons is meegedeel dat ons die volgende dag vrygelaat sou word. Sondag, 7 April, om 2:30 die middag, het ons die nuus gekry: “Maak gereed om te gaan!” Die gevangenes het ’n ‘erewag’ gereël om ons na vryheid te begelei! Terwyl ons die hospitaal verlaat het, het die belhamels se woordvoerder Edgardo genader en gesê: “Broer, ek is baie beïndruk deur julle gedrag. Ek beloof om van nou af julle Saterdagvergaderinge in die gevangenis by te woon. Julle sal mos nog die vergaderinge hou selfs ná wat hier gebeur het, nè?” Edgardo het geglimlag en geantwoord: “Natuurlik!”

Buite het daar ’n verrassing op ons gewag. Die oomblik toe ons die gebou verlaat het, het al die gevangenes ons dawerend toegejuig. Dit was hulle manier om te wys dat hulle jammer was oor wat gebeur het. Dit was ’n emosionele oomblik. Ons Christelike gedrag gedurende die voorafgaande nege dae het hulle almal ongetwyfeld beïndruk, tot eer van Jehovah.

Buite die heining van die gevangenis het ons ons gesinne en ongeveer 200 van ons geestelike broers en susters ontmoet. Ons het mekaar met ’n gevoel van groot verligting omhels. Ons het dit oorleef! Een van die gyselaars het my vrou genader en vir haar gesê: “Ek dink Jehovah het my hart bereik en wil hê dat ek hom moet dien.”

Ek, Edgardo en Rubén het op ’n baie spesiale manier geleer dat Jehovah sy knegte kan onderskraag, selfs gedurende die ergste teenspoed. Ons het ondervind hoe wonderlik dit is om tot Jehovah te bid en deur hom verhoor te word. Ons kan soos die psalmis sê: “Ek sal U verhoog, HERE, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie. HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak. HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal” (Psalm 30:2-4).—Soos vertel deur Darío Martín.

[Lokteks op bladsy 19]

’n Paar gemaskerde gevangenes wat met tuisgemaakte messe gewapen was, het by ons vergaderplek ingestorm

[Lokteks op bladsy 20]

Die oproermakers het Edgardo en verskeie gevangeniswagte as skilde gebruik

[Lokteks op bladsy 21]

Die gevangenes het ’n ‘erewag’ gereël om ons na vryheid te begelei!

[Prent op bladsy 18]

Die drie besoekende bedienaars (links na regs): Edgardo Torres, Rubén Ceibel en Darío Martín

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel