Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 5/8 bl. 4-7
  • Is die oplossing ’n deel van die probleem?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die oplossing ’n deel van die probleem?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Skole vir misdadigers
  • Die maatskaplike prys
  • Openbare besorgdheid neem toe
  • Word die gemeenskap se belange bevorder?
  • Is ware rehabilitasie moontlik?
    Ontwaak!—2001
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—2003
  • Verhale van geloof uit ’n historiese gevangenis
    Ontwaak!—2001
  • Gevangenisse in ’n krisis
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 5/8 bl. 4-7

Is die oplossing ’n deel van die probleem?

“Die ergste manier om gevangenes vir die buitewêreld voor te berei, is om hulle te verneder en hulle moed te breek.”—’N HOOFARTIKEL IN THE ATLANTA CONSTITUTION.

IN BAIE gevalle dien gevangenisse bloot as ’n tydelike maatreël. Het ’n gevangene werklik vir sy misdaad betaal wanneer hy vrygelaat word?a Wat van die slagoffers of hulle geliefdes? “My kind is vermoor”, het Rita gepleit toe die veroordeelde moordenaar van haar 16-jarige seun vrygelaat is nadat hy ’n vonnis van net drie jaar uitgedien het. “Staan asseblief ’n oomblik stil. Dink. Kan jy jou enigsins voorstel wat dit beteken?” Soos Rita se geval toelig, duur ’n tragedie voort lank nadat die howe hulle werk gedoen het en die koerantopskrifte vergete is.

Dit is ’n saak wat nie net van belang is vir diegene wie se lewe deur misdaad geraak is nie, maar ook vir alle ander mense. Of vrygelate gevangenes gerehabiliteer of eenvoudig verhard is deur hulle ondervinding agter die tralies, het op stuk van sake ’n direkte uitwerking op jou gemoedsrus, selfs op jou veiligheid.

Skole vir misdadigers

Die gevangenisstelsel onderdruk nie altyd kriminele gedrag nie. “Wanneer geld eerder uitgegee word om nog ’n tronksel te bou as om ’n gevangene se selfbeeld op te bou, is dit dikwels net ’n voorspel tot meer—en erger—misdade”, skryf Jill Smolowe in die tydskrif Time. Peter,b wat 14 jaar agter die tralies was, stem saam met wat sy sê. “Die meeste van my medegevangenes het met klein misdade begin, toe het hulle oorgegaan na eiendomsmisdade en uiteindelik het hulle tot ernstige misdade teen ander mense gevorder”, sê hy. “Vir hulle is gevangenisse soos ambagskole. Hulle gaan erger wees as hulle uitkom.”

Hoewel gevangenisse misdadigers dalk tydelik van die straat af verwyder, lyk dit of hulle min—indien enigiets—doen om misdaad op die lang termyn te bestry. Seuns en jong mans in stedelike gebiede beskou gevangenisstraf dikwels as ’n inwydingsritus. Baie dikwels word hulle geharde misdadigers. “Die gevangenis rehabiliteer jou glad nie”, sê Larry, wat ’n groot deel van sy lewe in en uit die gevangenis was. “Hierdie ouens kom uit en doen weer presies dieselfde dinge.”

Hierdie ‘draaideur’ verklaar moontlik waarom 50 persent van alle ernstige misdade, volgens een studie in die Verenigde State, deur ongeveer 5 persent van die misdadigers gepleeg word. “Wanneer gevangenes niks konstruktiefs het om met hulle tyd te doen nie”, sê die tydskrif Time, “vul hulle dikwels die ure deur ’n wrok op te bou en allerhande kriminele vaardighede te leer, wat . . . hulle saam met hulle na die strate sal terugneem.”

Die situasie kom nie net in die Verenigde State voor nie. John Vatis, ’n dokter by ’n militêre hospitaal in Griekeland, sê: “Ons gevangenisse het baie goed daarin geword om mense gevaarlik, gewelddadig en gemeen te maak. Wanneer hulle vrygelaat word, wil die meeste gevangenes hulle op die samelewing wreek.”

Die maatskaplike prys

Die gevangeniskrisis raak jou ook finansieel. Daar word byvoorbeeld geskat dat elke gevangene in die Verenigde State belastingbetalers jaarliks ongeveer R160 000 kos. Gevangenes wat ouer as 60 is, kan tot drie keer soveel kos. In baie lande neem openbare vertroue in die strafstelsel weens ander redes af. Mense is bekommerd oor misdadigers wat vroeg vrygelaat word, asook oor oortreders wat gevangenisstraf heeltemal vryspring weens die een of ander tegniese punt wat ’n slim regsgeleerde ontdek het. Gewoonlik voel slagoffers nie dat hulle voldoende beskerm word teen verdere misdade nie, en hulle het dalk nie veel seggenskap in die regsproses nie.

Openbare besorgdheid neem toe

Die onmenslike toestande waaraan gevangenes blootgestel word, soos in die bygaande venster beskryf word, bou ook nie openbare vertroue in die gevangenisstelsel op nie. Gevangenes wat onregverdig behandel word terwyl hulle hulle vonnis uitdien, is beslis nie kandidate vir rehabilitasie nie. Daarbenewens is verskeie menseregtegroepe besorg oor die feit dat die aantal gevangenes uit minderheidsgroepe buite verhouding groot is. Hulle wil weet of dit toevallig so is en of dit die gevolg van rassediskriminasie is.

’n Verslag van die Associated Press in 1998 het die aandag gevestig op die lot van gewese gevangenes van die Holmesburg-gevangenis, in Pennsilvanië, VSA, wat skadevergoeding geëis het omdat hulle na bewering as menslike proefkonyne in chemiese eksperimente gebruik is terwyl hulle in die gevangenis was. En wat van die feit dat hulle in die Verenigde State beplan om weer groepe gevangenes as kettinggangers buite te laat werk? Amnestie Internasionaal het gesê: “Die kettinggangers werk 10-12 uur lank, en dikwels in die warm son, met baie kort rustye vir water en ’n uur vir middagete. . . . Die enigste toilet wat vir die kettinggangers beskikbaar is, is ’n pot agter ’n tydelike skerm. Gevangenes bly aanmekaar geketting terwyl hulle dit gebruik. Wanneer hulle nie by die pot kan uitkom nie, het die gevangenes nie ’n ander keuse as om hulle in die openbaar op die grond te ontlas nie.” Nie alle gevangenisse funksioneer natuurlik so nie. Maar op die ou end maak onmenslike behandeling die gevangenes sowel as diegene wat die straf toedien, ongevoelig.

Word die gemeenskap se belange bevorder?

Die meeste gemeenskappe voel natuurlik veiliger wanneer gevaarlike misdadigers agter die tralies is. Ander gemeenskappe hou van gevangenisse om ander redes. Toe daar besluit is om ’n gevangenis in die klein Australiese dorpie Cooma te sluit, het mense beswaar gemaak. Waarom? Omdat die gevangenis aan die armoedige gemeenskap werk verskaf het.

In onlangse tye het party regerings hulle gevangenisse aan privaat ondernemings verkoop om koste te bespaar. Ongelukkig is meer gevangenes en langer vonnisse goed vir besigheid. Gevolglik kan geregtigheid met kommersialisme verwar word.

Wanneer alles in ag geneem word, moet hierdie belangrike vraag nog beantwoord word: Rehabiliteer gevangenisse misdadigers? Hoewel die antwoord dikwels negatief is, sal jy moontlik verbaas wees om uit te vind dat party gevangenes al gehelp is om te verander. Kom ons kyk hoe.

[Voetnote]

a Hoewel ons in hierdie reeks na gevangenes as manlik verwys, geld die beginsels oor die algemeen vir manlike en vroulike gevangenes.

b Van die name in hierdie artikel is verander.

[Venster/Prent op bladsy 6, 7]

’n Kykie na die lewe agter die tralies

OORVOL GEVANGENISSE: Die probleem van oorvol gevangenisse is baie ernstig in Brittanje, en dit is geen wonder nie! Daardie land het die tweede meeste gevangenes per capita in die hele Wes-Europa, met 125 gevangenes vir elke 100 000 van die bevolking. In Brasilië is Sao Paulo se grootste gevangenis gebou om 500 gevangenes aan te hou. Maar dit huisves 6 000 gevangenes. In Rusland word tussen 90 en 110 gevangenes aangehou in selle wat vir 28 bedoel is. Die probleem is so erg dat gevangenes in skofte moet slaap. In ’n Asiatiese land is 13 of 14 gevangenes in ’n sel van drie vierkante meter geprop. Intussen het amptenare in Wes-Australië die probleem van ’n tekort aan ruimte opgelos deur skeepshouers te gebruik om gevangenes te huisves.

GEWELD: Die Duitse nuustydskrif Der Spiegel berig dat gewelddadige gevangenes in Duitse tronke ander vermoor en martel as gevolg van “die oorlog tussen strydende bendes oor die onwettige handel in alkohol en dwelms, seks en woekerrente”. Etniese spanning stook dikwels die vuur van gevangenisgeweld aan. “Daar is gevangenes uit 72 lande”, sê Der Spiegel. “Wrywing en konflikte wat tot geweld lei, is onvermydelik.” Die amptenare van een gevangenis in Suid-Amerika het gesê dat gemiddeld 12 gevangenes elke maand daar vermoor word. Die gevangenes het gesê dat dit twee keer soveel is, het die Financial Times van Londen berig.

SEKSUELE MOLESTERING: In die artikel “Die verkragtingskrisis agter die tralies”, sê The New York Times dat daar in die Verenigde State volgens ’n konserwatiewe skatting “elke jaar meer as 290 000 mans in gevangenisse seksueel aangerand word”. Die verslag sê verder: “Die verskriklike ondervinding van seksuele geweld behels gewoonlik meer as een voorval en word dikwels ’n daaglikse gebeurtenis.” Een organisasie skat dat sowat 60 000 ongewenste seksuele dade elke dag in Amerikaanse gevangenisse gepleeg word.

GESONDHEID EN HIGIËNE: Die verspreiding van seksueel oordraagbare siektes onder gevangenes is goed gedokumenteer. Tering onder gevangenes in Rusland en party Afrikalande maak wêreldwyd opslae in die nuus, asook die swak mediese behandeling, higiëne en voeding in baie gevangenisse regoor die wêreld.

[Prent]

’n Oorvol gevangenis in Sao Paulo, Brasilië

[Erkenning]

AP Photo/Dario Lopez-Mills

[Prent op bladsy 4, 5]

Die La Santé-maksimumsekuriteitsgevangenis in Parys, Frankryk

[Erkenning]

AP Photo/Francois Mori

[Prent op bladsy 6]

Vroue in ’n gevangenis in Managua, Nicaragua

[Erkenning]

AP Photo/Javier Galeano

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel