Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 12/8 bl. 20-23
  • Die “tradisionele huwelik” in Ghana

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “tradisionele huwelik” in Ghana
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ouers se verantwoordelikheid
  • Die aanklopseremonie
  • Die huwelikseremonie
  • Bruidsprys—Hoe moet Christene dit beskou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Wees bly oor die huwelik van die Lam!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Onderhandelinge oor ’n redelike bruidsprys
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 12/8 bl. 20-23

Die “tradisionele huwelik” in Ghana

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GHANA

DIE huwelik—honderdduisende mense regoor die wêreld begewe hulle jaarliks in hierdie staat. Hulle doen dit gewoonlik volgens die huweliksgebruik wat algemeen is waar hulle woon.

In Ghana is die algemeenste vorm van die huwelik die tradisionele huwelik. Dit behels dat die bruidegom se gesin ’n bruidsprys aan die bruid se gesin betaal. Tradisionele huwelike is gebruiklik in baie dele van Afrika en in plekke soos Hongkong, Papoea-Nieu-Guinee en die Salomon-eilande asook onder die Goajiro-Indiane in die noordooste van Colombia en die noordweste van Venezuela, om maar ’n paar te noem.

Die bruidsprys was ’n gebruik in Bybeltye (Genesis 34:11, 12; 1 Samuel 18:25). In die ou tyd en ook vandag word die bruidsprys as ’n vergoeding beskou aan die meisie se ouers vir die verlies van haar dienste en vir die tyd, energie en middele wat voor haar huwelik aan haar opvoeding en versorging bestee is.

Ouers se verantwoordelikheid

In die ou dae van Ghana het afsprake en hofmakery onder jongmense nie bestaan nie. Ouers het huwelike vir hulle volwasse kinders aangegaan nadat hubare jong manne en vroue in die gemeenskap deeglik bestudeer is. Sommige ouers in Ghana doen dit nog steeds.

Die seun se ouers oorweeg faktore soos die meisie se persoonlikheid; haar en haar gesin se reputasie; oorerflike siektes wat in die familie kan wees en in die geval van Jehovah se Getuies, haar geestelikheid. As die ouers tevrede is, nader hulle die meisie se ouers formeel met die huweliksaansoek.

Die meisie se ouers ondersoek nou die seun en sy gesin se agtergrond. Buiten die faktore wat hierbo genoem word, oorweeg hulle die seun se vermoë om vir ’n vrou te sorg—werk hy of is hy werkloos? As die meisie se ouers tevrede is, sê hulle dit vir die seun se ouers en, nadat die seun en die meisie albei daartoe ingestem het, werk die ouers saam besonderhede van die huwelik uit.

Waarom neem sommige ouers dit nog steeds op hulle om ’n huweliksmaat vir hulle volwasse kinders te vind? ’n Vrou in Indië wie se ouers haar huwelik gereël het, het gesê: “Hoe kan ’n jongmens bevoeg wees om so ’n gewigtige besluit te neem? Dis baie beter om dit oor te laat aan diegene wie se ouderdom en ondervinding hulle bevoeg maak om te weet wat die verstandigste keuse is.” Haar woorde weerspieël ook die beskouing van talle Afrikane.

Maar die tye is besig om te verander in Ghana. Afsprake en hofmakery raak al hoe gewilder. Op ’n gepaste stadium in die hofmakery lig die paartjie hulle ouers oor hulle planne in. Ná gesprekke tussen hulle ouers en nadat die ouers hulle daarvan vergewis het dat die kinders goed by mekaar pas, gaan die gesinne voort met die formele seremonie wat in verskeie Ghanese tale algemeen bekend is as aanklop by die deur, die huweliksdeur.

Die aanklopseremonie

Die paartjie se ouers stel gesinslede in kennis van die datum en die doel van die ontmoeting. Die uitdrukking “gesinslede” verwys na die uitgebreide Afrikaangesin, wat die paartjie se ooms, tantes, niggies, neefs en grootouers insluit. Op die bepaalde dag kom verteenwoordigers van albei gesinne byeen vir die seremonie. Die bruidegom hoef nie teenwoordig te wees nie. Hier volg ’n baie kort voorstelling van wat by so ’n aanklopseremonie plaasgevind het.

Meisie se verteenwoordiger (MV): [Praat met die bruidegom se verteenwoordigers] Ons weet waarom julle hier is, maar die gebruik vereis dat ons nogtans vra: Waarom is julle hier?

Seun se verteenwoordiger (SV): Ons seun Kwasi het by julle huis verbygegaan en ’n mooi blom gesien en hy wil julle toestemming kry om dit te pluk.

MV: [Hou hom onskuldig] Daar is nie ’n blom in hierdie huis nie. Julle kan maar self kom kyk.

SV: Ons seun het nie ’n fout gemaak nie. Ons hou vol dat daar so ’n mooi blom in hierdie huis is. Die blom se naam is Afi.

MV: Die blom is dus ’n mens. Ja, Afi woon wel hier.

SV: Ons wil by die deur aanklop en namens ons seun Kwasi om Afi se hand vra.

Die seun se gesin bied nou sekere dinge aan, soos verskeie soorte drinkgoed en geld. Die hoeveelhede en artikels wat aangebied word, wissel na gelang van die stam. Hierdie seremonie is amper iets soos ’n Westerse verlowing, en in sommige gevalle is ’n verloofring een van die bepalings.

Die bruid se verteenwoordiger vra haar nou voor al die omstanders of die artikels wat gebring is, aanvaar moet word. Deur haar bevestigende antwoord is al die aanwesiges ooggetuies van haar gewilligheid om te trou. Daar word ooreengekom oor ’n datum wat vir albei gesinne geleë is vir die viering van die huwelik. Die seremonie word afgesluit met verversings.

Die huwelikseremonie

Die aantal mense wat by die meisie se huis of by ’n gekose verteenwoordiger se huis bymekaarkom vir die betaling van die bruidsprys, wat eintlik die huwelik is, is gewoonlik meer as die aantal wat vir die aanklopseremonie teenwoordig is. Dit is omdat baie vriende nou teenwoordig is.

Daar heers ’n vrolike atmosfeer. Ongetroude jong manne en vroue is gretig om te sien wat vir die bruid gebring is. Maar die gelukkige atmosfeer raak gespanne wanneer die bruid se gesin kla dat die artikels van die bruidsprys onvolledig is. Van die mense in die gehoor hou hulle asem op as dit lyk of die bruid se gesin ontoegeeflik is. Die bruidegom se woordvoerder redeneer met bedrewenheid en oorreed die bruid se gesin om ’n bietjie simpatiek te wees. Die stemming raak meer ontspanne wanneer die bruid se gesin toegee. Die atmosfeer verander weer. Dit is nou feestelik, en ligte verversings word bedien.

Om die huwelikseremonie te begin, bring die bruid se woordvoerder almal tot orde en verwelkom hulle. Hy vra die bruidegom se verteenwoordigers uit oor hulle sending. Die bruidegom se woordvoerder sê waarom hulle gekom het en herinner almal daaraan dat hulle reeds aangeklop het en dat hulle toestemming gegee is om in te kom.

Elke gesin se woordvoerder stel dan die naaste familielede aan almal voor, waaronder die persoon wat die meisie in die huwelik afgee asook die persoon wat die seun in die huwelik steun. Die seremonie gaan voort.

MV: [Praat met die bruidegom se verteenwoordigers] Wys asseblief vir ons die trougoedere waarvoor ons gevra het.

Die bruid se woordvoerder noem die artikels van die bruidsprys op sodat almal kan bevestig dat dit daar is. As die bruidegom se verteenwoordigers meen dat die bruid se gesin die eise oordryf het, los hulle die saak privaat op voor die troudag. Die bruidegom se gesin kom egter voorbereid na die seremonie toe om vir minder ekstras te onderhandel as sommige van die bruid se gesin dalk onredelik is. Waar ’n mens ook al woon, die basiese bruidsprys—of dit hoog of laag is—moet ten volle betaal word.

Sommige gesinne stipuleer dinge soos drinkgoed, klere, halssnoere, oorbelle en ander artikels vir dames. In die noorde van Ghana kan die bruidsprys sout, kolaneute, tarentale, skape en selfs beeste insluit. Kontant is sonder uitsondering ook deel van die bruidsprys.

Terwyl die onderhandelings aan die gang is, is die bruid nie teenwoordig nie, maar in die nabyheid en hou dinge dop. Die bruidegom hoef nie teenwoordig te wees nie. Iemand wat ver weg woon, kan dus sy ouers magtig om die huwelik namens hom aan te gaan. By die geleentheid wat hier beskryf word, is die bruidegom egter teenwoordig. Dit is nou sy gesin se beurt om ’n eis te stel.

SV: Ons het alles nagekom wat van ons vereis is, maar ons het nog nie ons skoondogter gesien nie.

Die huwelikseremonie behels nie net ernstige sake nie; dit is ook ’n geleentheid om ’n bietjie pret te hê. Die meisie se gesin reageer nou op die eis van die seun se gesin om die bruid te sien.

MV: Ons wens die bruid was hier. Sy is ongelukkig op ’n oorsese reis en ons het nie die paspoorte of visums om daarheen te reis en haar te gaan haal nie.

Almal weet wat dit beteken. Die bruidegom se gesin bied onmiddellik ’n bedrag geld aan—enige bedrag wat die bruidegom kan bekostig—en siedaar! die denkbeeldige paspoorte en visums is gereed. En die bruid het teruggekeer van haar reis!

Om tot die pret by te dra, reël sommige stamme dat ’n paar van die bruid se vriendinne maak of hulle sy is. Elke vriendin word summier deur die skare afgekeur totdat die ware bruid, onder luide toejuiging, voorgestel word. Sy word dan deur haar woordvoerder genooi om na die verskillende artikels van haar bruidsprys te kyk. Sy word gevra of dit wat die bruidegom gebring het, aanvaar moet word. Daar is ’n stilte terwyl almal gretig op haar antwoord wag. Party meisies is skamerig en ander vrymoedig, maar die antwoord is sonder uitsondering ja en word deur dawerende applous gevolg.

As die bruidegom teenwoordig is, eis die bruid se gesin om hom te ontmoet. Die pret duur onverpoos voort as daar gereël is dat een van sy vriende voorgee dat hy die bruidegom is. Met ’n waardige houding staan sy vriend op, maar hy word onmiddellik deur luide geskreeu afgekeur.

Die bruid se ouers dring daarop aan om hulle skoonseun te sien. Die ware bruidegom staan nou met ’n stralende glimlag op. Die bruid se gesin laat haar toe om by haar man aan te sluit, wat ’n ring aan haar vinger steek as ’n ring ’n bepaling van die bruidsprys is. Die ring is ’n nuwigheid uit die Weste. Sy steek op haar beurt ’n ring aan sy vinger. Gelukwensinge en vreugde vul die lug. Ter wille van die gerief en om ekonomiese redes hou party mense deesdae die aanklopseremonie en die huwelik op dieselfde dag.

Ervare lede van albei gesinne en ander mense bedien die pasgetroudes nou van raad oor hoe hulle hulle huwelik kan laat slaag totdat die dood hulle skei. Om die dag af te rond, word verversings bedien.

Die huwelikseremonie is verby! In Ghana beskou die gemeenskap die paartjie, van daardie dag af, as wettig getroud. As van die belangrike lede van die meisie se gesin om die een of ander rede nie die seremonie kon bywoon nie, word van die drinkgoed wat aangebied is aan hulle gestuur om die voltrekking van die huwelik te bevestig. As die bruid en bruidegom Getuies van Jehovah is, reël die Getuies in sommige gevalle dat daar dan ’n Bybeltoespraak gehou word, en ligte verversings word daarna geniet.

In Ghana het sommige paartjies ’n Westerse huwelikseremonie, wat hier ’n burgerlike huwelik, of ’n huwelik voor ’n landdros, genoem word. Dit kan met of sonder die ouers se toestemming aangegaan word solank die paartjie mondig is. In tradisionele huwelike is die ouers se toestemming ’n vereiste.

In burgerlike huwelike lê die paartjie huweliksgeloftes af. Maar in tradisionele huwelike bestaan daar nie geloftes nie. Die staat vereis dat alle tradisionele huwelike geregistreer word, en Jehovah se Getuies kom daardie vereiste na (Romeine 13:1). ’n Registrasiesertifikaat word dan uitgereik.

Van die vroegste tye af totdat die Goudkus, nou Ghana, ’n Britse kolonie geword het, was tradisionele huwelike die enigste huweliksvorm in die land. Die Britte het toe Westerse huwelike ingestel vir hulle burgers wat daar gewoon het. Boorlinge van hierdie land is ook toegelaat om hierdie soort huwelike aan te gaan, en Westerse huwelike en tradisionele huwelike bestaan nou al baie jare lank saam. In Ghana word albei wetlik erken en is derhalwe vir Jehovah se Getuies aanvaarbaar. Dit berus by die individue om te besluit watter een hulle verkies.

In sommige Afrikalande moet tradisionele huwelike geregistreer word voordat paartjies as wettig getroud beskou kan word. In Ghana is ’n tradisionele huwelik, soos wat hierbo beskryf is, geldig sonder registrasie, en die paartjie word as wettig getroud beskou wanneer die tradisionele huwelik voltrek is. Later word die tradisionele huwelik slegs geregistreer om dit op rekord te hê.

Die huwelik is inderdaad ’n liefdevolle gawe van God aan die mensdom, ’n unieke gawe wat nie eens die engele ontvang het nie (Lukas 20:34-36). Dit is ’n kosbare verhouding wat verdien om in stand gehou te word tot die heerlikheid van die Insteller daarvan, Jehovah God.

[Prent op bladsy 23]

Ringe word uitgeruil

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel