Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 1/15 bl. 21-24
  • Bruidsprys—Hoe moet Christene dit beskou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bruidsprys—Hoe moet Christene dit beskou?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe dit die vader kan raak
  • Hoe dit die bruid en bruidegom kan raak
  • Behou ’n gebalanseerde beskouing
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Onderhandelinge oor ’n redelike bruidsprys
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die “tradisionele huwelik” in Ghana
    Ontwaak!—1996
  • Berei vir ’n suksesvolle huwelik voor
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 1/15 bl. 21-24

Bruidsprys—Hoe moet Christene dit beskou?

DIE eertydse gebruik om ’n bruidsprys te betaal, word steeds in talle lande beoefen. In die meeste gevalle maak geld, tesame met waardevolle geskenke, die betaling uit. Die waarde wissel van plek tot plek en van familie tot familie, na gelang van sosiale status, geleerdheid en ander faktore. Dit word in sommige lande deur die wet vasgestel, hoewel min mense die vasgestelde prys volg.

Noukeurige ondersoek toon dat die hedendaagse gebruik meer behels as om ’n bruidsprys te betaal. Dit is dus verstandig om vas te stel hoe dit jou as ’n Christen kan raak.

In Papoea Nieu-Guinee is die bruidsprysbetaling soos ’n oordrag van bates van die een familiegroep, die bruidegom se uitgebreide familie, na die ooreenstemmende groep aan die bruidskant van die huwelik. Die betaling kan wissel van R250 tot R115 000, afhangende van die welvaart van die bruidegom se familie. In Sri Lanka is die situasie die teenoorgestelde. Die ouers van die bruid moet ’n bruidskat aan die bruidegom gee. Dit kan juwele, eiendom, ’n huis en kontant insluit. Dit is gebruiklik om met ’n bloedneef of -niggie te trou om te voorkom dat die familie die eiendom verloor.

In talle dele van Afrika is die betaling een van die gewoontevereistes wat ’n huwelikskontrak volledig en geldig maak. “Onder die Ibo’s”, sê ’n Nigeriese vader wie se dogter haar vir die huwelik voorberei het, “is betaling van die bruidsprys essensieel vir die kulturele erkenning van die huwelik. Aanvaarding daarvan is ’n bewys dat die meisie se familie hulle toestemming gegee het. Dit bevredig die mense se begrip van die huwelik. Om hierdie rede sal selfs ’n huwelik wat in ’n kerk of in die staatsregistrasiekantoor voltrek is nie in die plaaslike gemeenskap erken word tensy die bruidsprys betaal is nie.”

Hoe dit die vader kan raak

Onder hierdie Swartmense was die betaling gewoonlik ’n simboliese gebaar van die man se vermoë om ’n gesin te onderhou. Lede van sy familie het die meisie se ouers besoek vir simboliese onderhandeling oor die bruidsprys. In talle gebiede is dit nie meer die geval nie, aangesien vaders nou wérklik onderhandel om die hoogste prys moontlik te kry. Bedrae wat wissel van R30, wat deur die wet in sommige streke in Nigerië vereis word, tot R3 500 of meer word geëis. Geld of geskenke kan selfs verwag word voor die aanvanklike besoek van die huwelikskandidaat se ouers. Dan, soos in Zaïre, moet daar dalk meer betaal word om “die vader se mond te ontsluit”, dit wil sê, om hom te beweeg om oor die prys vir sy dogter te onderhandel. Selfs nadat ’n sekere bedrag betaal is, kan ander betalings en geskenke geëis word.

Sulke gebruike kan geldgierigheid aanmoedig. Maar die Bybel sê: “Die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels” (1 Timotheüs 6:10). Hebsug kan mense uitbuiters maak, en dit dra nie God se goedkeuring weg nie. Die Bybel deel ons mee dat geen “gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie”.—Efesiërs 5:5; vergelyk Spreuke 20:21, NW; 1 Korinthiërs 5:11; 6:10.

Daar is nogtans niks onbehoorliks daaromtrent om ’n bruidsprys aan die vader te gee as ’n simboliese vergoeding vir die verlies van ’n dogter wat hy grootgemaak en opgevoed het nie. ’n Aanstaande skoonseun kan hierdie betaling tereg beskou as ’n simbool van sy waardering vir die opleiding wat sy verloofde gekry het. Sommige ouers probeer egter om alles wat hulle uitgegee het terug te kry omdat hulle meen dat hulle getroude dogters nie sal help met die opvoeding van die jonger kinders nie. Sulke ouers soek die hoogste bruidsprys moontlik, asof hulle dogters blote handelsartikels is. Maar hulle is ’n goeie opvoeding aan hulle kinders verskuldig. Dit moet hulle trots wees om hierdie verpligting na te kom, nie om te sien hoeveel hulle in geld of prestige deur ’n buitensporige bruidsprys kan terugkry nie. Pleks van ouers te laat dink aan materiële voordele wat kinders kan bring, se die Bybel: “Dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders.”—2 Korinthiërs 12:14.

Sommige sogenaamde Christenvaders stel eise sonder dat hulle die inkomste van jong Christenmans wat met hulle dogters wil trou in aanmerking neem. Daar is gevalle waar sulke vaders ’n redelike aanbod deur Christenbroers geweier het omdat wêreldse mans meer aangebied het! Sommige laat selfs wêreldse familielede toe om onderhandelinge te behartig, en hulle eis dan ’n buitensporige prys. Terwyl hierdie onderhandelinge aan die gang is, kan die situasie daartoe aanleiding gee dat die jongmense hulle aan hoerery skuldig maak. Dit is wat onder wêreldse mense plaasvind. Dit gebeur dikwels dat ’n gefrustreerde jong paartjie swangerskap gebruik as die maklikste manier om die meisie se familie te dwing om te aanvaar wat haar kêrel kan betaal.

Christene moet nie so optree nie. God se Woord verbied hoerery, en diegene wat hulle daaraan skuldig maak, kan uit die gemeente gesit word (1 Korinthiërs 6:9, 10; Hebreërs 13:4). ’n Vader kan nie van alle blaam onthef word as sy buitensporige eise daartoe bydra dat sy dogter haar aan onsedelikheid skuldig maak nie. Sulke blaam kan sy aansien in die gemeente ernstig raak. Dit is eweneens onteokraties om enige som bruidsgeld van ’n wêreldse persoon te aanvaar sodat hy met ’n toegewyde Christendogter kan trou. Dít sal ’n broer ten minste vir sekere spesiale voorregte in die gemeente diskwalifiseer. Dit moet Christenouers se begeerte wees dat hulle kinders sterk bly in die Christengemeente, en hulle moet hulle kinders help om rein gedrag te handhaaf. Hulle behoort te verlang dat hulle dogters gelukkig en “net in die Here” getroud is met mans wat Jehovah ook liefhet en diep respek vir sy wette en beginsels het.—1 Korinthiërs 7:39.

Dit is onchristelik om die bruidsprys te gebruik om geld met jou eie kind te maak deur buitensporig hoër bedrae te vra as wat reg is. ’n Christenvader moet teen gierigheid en selfsug waak, aangesien dit sy geestelikheid en die voorregte wat hy in die gemeente geniet ernstig kan raak.—1 Korinthiërs 6:9, 10.

Gelukkig het talle Christenvaders bedagsaamheid getoon wanneer hulle ’n bruidsprys vasgestel het, en dit openbaar ’n goeie gesindheid. Sommige het selfs verkies om glad nie ’n bruidsprys te vra nie ten einde daarteen te waak om die gewoonte te misbruik en geestelike probleme te veroorsaak.

Hoe dit die bruid en bruidegom kan raak

’n Meisie se gierigheid het in heelparty gevalle die bedrag beïnvloed wat die ouers as ’n bruidsprys vasgestel het. Daar is diegene wat ’n uiters duur en spoggerige troue wil hê, en hulle torring selfs gedurig aan hulle ouers hieroor. Ander eis dat hulle ouers vir hulle duur toestelle koop om in die nuwe huishouding te gebruik. ’n Vader voel dalk genoodsaak om die bruidsprys te vermeerder sodat hy aan sulke eise kan voldoen.

Dit dwing weer die bruidegom om sy huwelikslewe met ’n skuldelas te begin as gevolg van ’n duur troue en duur meubels. God se Woord sê: “Die wysheid van bo is . . . redelik.” Jong paartjies moet hulle ‘redelikheid aan alle mense bekend laat word’ deur ’n huwelik te beplan wat nie’n swaar finansiële las op enigiemand plaas nie.—Jakobus 3:17, NW; Filippense 4:5, NW.

’n Vrou begin dalk na die troue om haar man se liefde vir haar te meet aan die bedrag wat hy as bruidsprys betaal het. Sy voel moontlik onseker as sy betaling min was. Sy kan redeneer dat as hy vir haar moeg word en haar graag wil wegstuur hy dit maklik sal doen, omdat hy bereid sal wees om die klein bedraggie wat hy betaal het te verbeur. Dit is waar dat sommige mans hul vrouens om verskeie redes na hul ouers teruggestuur het, onder andere wanneer hulle nie kinders kon voortbring nie of opstandig was. Dit word onwetend aangemoedig deur diegene wat vir ’n jongman wat so pas die bruidsprys betaal het, sê: “Jy het ’n vrou gekoop.” As hy ’n hoë prys betaal het, kan hy in die versoeking kom om sy vrou as ’n gekoopte bediende, pleks van sy intiemste vriend, te beskou. Vaders het ook om verskeie redes die bruidsprys teruggegee en hulle dogters verplig om hulle mans te verlaat.

Sommige redeneer dat ’n hoë bruidsprys help om sulke situasies teë te werk, omdat dit so moeilik is om ’n groot bedrag geld terug te kry of terug te betaal. Hulle meen ook dat ’n hoë prys vroeë huwelike minder maak, aangesien die man langer moet spaar om te kan trou. Hierdie oorwegings het volgens hulle mening volwasse en verantwoordelike mans en stabieler huwelike tot gevolg.

Hoewel dit dalk in sommige gevalle waar is, moet die stabiliteit van ’n Christenhuwelik nie op sulke materialistiese oorwegings gebaseer word nie. ’n Christenman se getrouheid moet nie afhang van wat hy materieel kan verloor as die huwelik verbrokkel nie. Hy moet eerder gelei word deur dié Skriftuurlike beginsel: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Mattheüs 19:6). Pleks van vrouens as gekoopte eiendom te beskou, word mans beveel om ‘aan hulle eer te bewys’ (1 Petrus 3:7). Jesus het gesê dat ’n man en ’n vrou “een vlees” word wanneer hulle trou (Mattheüs 19:5; Genesis 2:24). Die Bybel maan mans om hulle vrouens net soos hul eie liggame lief te hê, te koester en vir hulle te sorg (Efesiërs 5:28, 29). Bowendien moet die werklike maatstaf van ’n man se liefde die manier wees waarop hy sy vrou gedurende die jare na die troue behandel. Hetsy ’n man enige bruidsprys betaal het of nie, kan enigiemand twyfel dat hy sy vrou liefhet as hy goed vir haar sorg en lojaal is in sy liefde?

Die bruidsprys kan ook ’n uitwerking hê op die manier waarop ’n man sy vrou se ouers beskou. As hy ’n hoë bruidsprys betaal het, kan hy die gevolgtrekking maak dat hy hulle niks meer skuld nie, selfs al sou hulle in ’n geldelike verknorsing beland. Maar die Bybel sê: “As ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God” (1 Timotheüs 5:4, NAV). Christene volg hierdie raad, maar ’n probleem kan ontstaan as ’n man toelaat dat die feit dat hy ’n bruidsprys betaal het sy verantwoordelikheidsin verdraai.

Behou ’n gebalanseerde beskouing

Sekere gebruike wat met die bruidsprys gepaard gaan, kan buitengewone probleme skep vir ’n jongman wat met ’n geestelike suster gaan trou wie se ouers nie Christene is nie. Hulle kan van hom verwag om deel te neem aan ritusse wat op voorouerverering en geloof in die onsterflikheid van die siel gebaseer is (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Maar kan hy dit doen sonder om God se guns en die seën te verloor wat Jehovah voorhou vir diegene wat ‘in gehoorsaamheid aan die waarheid hulle siele gereinig het’? (1 Petrus 1:22; Openbaring 18:4). ’n Toegewyde Christen wat voor sulke eise te staan kom, moet altyd vasbeslote wees om ‘aan God meer gehoorsaam te wees as aan die mense’.—Handelinge 5:29.

Die voorgaande kommentare oor uitbuiting, die voorkoming van hoerery en ’n huwelik met slegs ’n medegelowige is net so toepaslik wanneer die bruid se familie ’n bruidskat voorsien. ’n Christenmeisie en haar ouers moet nie deur wêreldse standaarde gelei word in die keuse van ’n eggenoot nie. Dit is ’n daad van ongehoorsaamheid aan God om met iemand te trou wat nie ’n Christen is nie. God het deur Moses vir die Israeliete gesê: “Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie” (Deuteronomium 7:3, 4; 1 Korinthiërs 7:39). Dit spreek vanself dat dit onvanpas sal wees as jong Christenmanne of -vroue in koerante adverteer dat hulle hubare huweliksmaats soek. Hulle moet onder hulle Christenbroers en -susters soek vir gepaste maats.

Die huwelik is ’n heilige instelling van Jehovah, en ons almal moet gelei word deur wat hy daaroor in sy Woord sê. Intense liefde vir Jehovah, ons kinders en ons medegelowiges moet ons beweeg om alle gebruike te vermy wat ’n skending is van wat reg en goed is (Psalm 119:105; Hebreërs 4:12). Jehovah se seën sal gewis bly rus op diegene wat hulle deur sy Woord laat lei in besluite oor, nie net bruidsprys en bruidskat nie, maar ook oor alle ander lewensaangeleenthede.—Spreuke 10:22.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel