Onderhandelinge oor ’n redelike bruidsprys
VANDAG, soos in Bybeltye, vereis party kulture dat ’n bruidsprys betaal word voordat ’n man met ’n vrou kan trou. “Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter”, het Jakob vir sy toekomstige skoonvader, Laban, gesê (Genesis 29:18). Omdat Jakob so lief was vir Ragel het hy ’n hoë prys aangebied—die ekwivalent van sewe jaar se loon! Laban het die aanbod aanvaar, maar het Jakob deur middel van ’n skelmstreek eers met sy ouer dogter, Lea, laat trou. Laban se latere handelinge met Jakob was ook slinks (Genesis 31:41). Die klem wat Laban op materiële gewin geplaas het, het daartoe gelei dat sy dogters respek vir hom verloor het. “Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring”, het hulle gesê.—Genesis 31:15.
Ongelukkig is baie ouers in vandag se materialistiese wêreld soos Laban. En party is baie erger. Volgens een Afrika-koerant word party huwelike gereël “bloot sodat hebsugtige vaders wins kan maak”. Nog ’n faktor is ekonomiese druk wat party ouers in die versoeking bring om hulle dogter as ’n middel te beskou om ’n finansiële krisis te verlig.a
Party ouers verhinder hulle dogters om te trou omdat hulle vir iemand wag wat meer sal aanbied. Dit kan ernstige probleme veroorsaak. ’n Koerantverslaggewer in Oos-Afrika het geskryf: “Jongmense verkies om weg te loop om buitensporige bruidskatte te vermy wat deur onversetlike skoonouers geëis word.” Geslagsonsedelikheid is een van die probleme wanneer ’n hoë bruidsprys gevra word. Daarbenewens kry party jong mans dit reg om ’n vrou te koop, maar hulle word in groot skuld gedompel. “Ouers moet redelik wees”, het ’n Suid-Afrikaanse maatskaplike werker ouers aangespoor. “Hulle moet nie hoë bedrae vereis nie. Die pas getroude egpaar moet ’n bestaan kan maak . . . Waarom moet die jong man dan bankrot gemaak word?”
Hoe kan Christenouers ’n voorbeeld van redelikheid stel wanneer hulle oor die betaling of ontvangs van ’n bruidsprys onderhandel? Dit is ’n ernstige saak, want die Bybel beveel: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.”—Filippense 4:5.
Redelike Bybelbeginsels
Of Christenouers besluit om ’n bruidsprys te vra of nie is ’n persoonlike saak. As hulle dit wel doen, moet sulke onderhandelinge in ooreenstemming met Bybelbeginsels plaasvind. “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld”, sê God se Woord (Hebreërs 13:5). As hierdie beginsel nie in huweliksonderhandelinge weerspieël word nie, openbaar ’n Christenouer dalk dat hy nie ’n goeie voorbeeld is nie. Manne met verantwoordelike posisies in die Christengemeente moet “redelik” wees, nie ‘liefhebbers van geld’ of ‘gierig na oneerlike gewin’ nie (1 Timoteus 3:3, 8). ’n Christen wat op gierige wyse en sonder berou ’n hoë bruidsprys afdwing, kan selfs uit die gemeente gesit word.—1 Korintiërs 5:11, 13; 6:9, 10.
As gevolg van die probleme wat deur gierigheid veroorsaak word, het party regerings wette uitgevaardig wat ’n perk stel op die bruidsprys. ’n Wet in die Wes-Afrikaanse land Togo sê dat die bruidsprys “in goedere of kontant of op albei maniere betaal kan word”. Die wet voeg by: “In geen geval mag die bedrag 10 000 F CFA [R100] oorskry nie.” Die Bybel beveel Christene herhaaldelik om wetsgehoorsame burgers te wees (Titus 3:1). Al pas die regering so ’n wet nie toe nie, sal ’n ware Christen dit gehoorsaam. Hy sal sodoende ’n goeie gewete voor God behou en sal ander nie laat struikel nie.—Romeine 13:1, 5; 1 Korintiërs 10:32, 33.
Wie is verantwoordelik vir die onderhandelinge?
In party kulture kan die manier waarop daar oor die bruidsprys onderhandel word met ’n ander belangrike beginsel bots. Volgens die Bybel is die vader verantwoordelik vir gesinsake (1 Korintiërs 11:3; Kolossense 3:18, 20). Diegene met verantwoordelike posisies in die gemeente moet derhalwe mans wees wat “kinders en hulle eie huisgesinne op voortreflike wyse beheer”.—1 Timoteus 3:12.
Dit kan egter algemeen in die gemeenskap wees dat belangrike huweliksonderhandelinge aan die familielede van die gesinshoof oorgelaat word. En hierdie familielede maak aanspraak op ’n deel van die bruidsprys. Dit is ’n toets vir Christenhuisgesinne. Onder die naam van kultuurgebruike laat party gesinshoofde toe dat ongelowige familielede ’n hoë bruidsprys afdwing. Dit het al daartoe gelei dat ’n Christenmeisie met ’n ongelowige getrou het. Dit is in stryd met die vermaning dat Christene “net in die Here” moet trou (1 Korintiërs 7:39). ’n Gesinshoof wat ongelowige familielede toelaat om besluite te neem wat skadelik kan wees vir die geestelike welsyn van sy kinders kan nie beskou word as iemand wat “sy eie huisgesin op voortreflike wyse beheer” nie.—1 Timoteus 3:4.
Wat gebeur wanneer ’n Christenvader, soos in die geval van die godvresende aartsvader Abraham, nie direk aan die huweliksonderhandelinge van een van sy kinders deelneem nie? (Genesis 24:2-4). As iemand anders aangestel word om dit te doen, moet die Christenvader seker maak dat die onderhandelaar instruksies volg wat in ooreenstemming met die redelike beginsels van die Bybel is. Daarbenewens moet Christenouers sake goed oordink voordat enige stappe gedoen word om oor ’n bruidsprys te onderhandel en nie toelaat dat hulle meegesleur word deur onredelike gebruike of eise nie.—Spreuke 22:3.
Vermy onchristelike neigings
Die Bybel veroordeel trotsheid en ’n “spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” (1 Johannes 2:16; Spreuke 21:4). Maar sekere persone wat met die Christengemeente omgaan, het hierdie eienskappe in hulle huweliksonderhandelinge geopenbaar. Party volg die wêreld na deur oor die betaling of ontvangs van ’n groot bruidsprys te spog. Daarenteen berig een van die Wagtoringgenootskap se takkantore in Afrika: “Wanneer die familie ’n redelike bedrag gevra het, het party mans nie respek getoon nie, omdat hulle hulle vrou beskou het as ’n besitting wat vir die prys van ’n ‘bok’ gekoop is.”
’n Hebsugtige begeerte na ’n hoë bruidsprys het party Christene oorval en het tragiese gevolge gehad. Beskou byvoorbeeld hierdie verslag van ’n ander takkantoor van die Wagtoringgenootskap: “Dit is gewoonlik moeilik vir ongetroude broers om te trou of vir susters om huweliksmaats te vind. Die gevolg is dat al hoe meer mense as gevolg van geslagsonsedelikheid uitgesit word. Party broers gaan na die myne op soek na goud of diamante wat hulle kan verkoop sodat hulle genoeg geld sal hê om te trou. Dit kan hulle een of twee of meer jaar neem, en hulle word dikwels geestelik swak wanneer hulle nie meer met die broers en die gemeente omgaan nie.”
Christenouers moet die voorbeeld van ryp broers in die gemeente volg om sulke droewige gevolge te vermy. Hoewel hy nie ’n ouer was nie, was die apostel Paulus redelik wanneer hy met medegelowiges te doen gekry het. Hy was versigtig om nie ’n duur las op enigiemand te plaas nie (Handelinge 20:33). Christenouers moet beslis sy onselfsugtige voorbeeld in gedagte hou wanneer hulle met bruidsprysonderhandelinge begin. Trouens, Paulus is deur God geïnspireer om te skryf: “Word eendragtig navolgers van my, broers, en hou julle oë gerig op dié wat op ’n wyse wandel wat ooreenkom met die voorbeeld wat julle in ons het.”—Filippense 3:17.
Voorbeelde van redelikheid
Baie Christenouers het ’n goeie voorbeeld van redelikheid gestel wat huweliksonderhandelinge betref. Beskou die geval van Joseph en sy vrou, Mae, wat as voltydse evangeliedienaars dien.b Hulle woon op een van die Salomon-eilande waar bruidsprysonderhandelinge soms ’n probleem is. Om sulke probleme te vermy, het Joseph en Mae gereël dat hulle dogter Helen op ’n naburige eiland trou. Hulle het dieselfde gedoen vir ’n ander dogter, Esther. Joseph het ook ingestem dat sy skoonseun Peter ’n baie laer bruidsprys betaal as wat as redelik aanvaar kon word. Toe Joseph gevra is waarom hy dit gedoen het, het hy verduidelik: “Ek wou nie ’n las op my skoonseun wat ’n pionier is, plaas nie.”
Baie Getuies van Jehovah in Afrika het ook ’n goeie voorbeeld van redelikheid gestel. In party gebiede verwag lede van die uitgebreide familie oor die algemeen om ’n groot som geld te ontvang voor die onderhandelinge oor die bruidsprys begin. En om ’n bruid te verseker, kan daar van die bruidegom verwag word om te beloof dat hy die toekomstige bruidsprys van ’n jonger broer van sy verloofde sal betaal.
Beskou in teenstelling hiermee die voorbeeld van Kossi en sy vrou, Mara. Hulle dogter, Beboko, is onlangs met ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies getroud. Voor die huwelik het familielede groot druk op die ouers geplaas vir hulle deel van ’n groot bruidsprys. Maar die egpaar het voet by stuk gehou en nie aan sulke eise toegegee nie. Hulle het eerder direk met hulle aanstaande skoonseun onderhandel en ’n minimum vir hulle dogter gevra en toe die helfte daarvan aan die paartjie teruggegee om te gebruik ter voorbereiding van hulle troudag.
Nog ’n voorbeeld in dieselfde land is van ’n jong Getuie met die naam Itongo. Aanvanklik het haar gesin ’n redelike bruidsprys gevra. Maar familielede het geëis dat die bedrag verhoog word. Die atmosfeer was gespanne, en dit het gelyk of hierdie familielede hulle sin sou kry. Hoewel sy van nature skugter is, het Itongo opgestaan en met respek gesê dat sy vasbeslote is om met ’n ywerige Christen met die naam Sanze te trou, soos gereël is. Toe het sy moedig gesê: “Mbi ke” (wat beteken: “Die saak is afgehandel”) en gaan sit. Sy is deur haar Christenmoeder, Sambeko, ondersteun. Daar was geen verdere bespreking nie, en die paartjie is getroud soos oorspronklik beplan is.
Daar is dinge wat vir liefdevolle Christenouers baie belangriker is as die persoonlike voordeel van ’n bruidsprys. ’n Getroude man in Kameroen verduidelik: “My skoonma gebruik elke geleentheid om vir my te sê dat ek die geld wat ek as bruidsprys vir haar wou gee, moet gebruik om vir haar dogter te sorg.” Liefdevolle ouers is ook besorg oor die geestelike welsyn van hulle kinders. Neem byvoorbeeld Farai en Rudo, wat in Zimbabwe woon en baie tyd bestee aan die werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Hoewel hulle nie ’n salaris verdien nie, het hulle net ’n geringe deel van die gewone bruidsprys vir hulle twee dogters gevra. Hulle rede? Hulle wou hê dat hulle dogters die voordeel moes hê van huwelike met mans wat Jehovah waarlik liefhet. “Ons het die geestelikheid van albei ons dogters sowel as dié van ons skoonseuns as van groter belang beskou”, het hulle verduidelik. Hoe verkwikkend tog! Skoonouers wat liefdevolle besorgdheid toon vir die geestelike en materiële welsyn van hulle getroude kinders moet geprys word.
Voordele van redelikheid
Joseph en Mae van die Salomon-eilande is geseën vir die ruimhartige en versigtige manier waarop hulle die huwelike van hulle dogters hanteer het. Hulle skoonseuns is gevolglik nie in skuld gedompel nie. Albei egpare was eerder in staat om baie jare te wy aan die voltydse werk om die Koninkryksboodskap te verkondig. Joseph kyk daarop terug en sê: “Die besluite wat ek en my gesin geneem het, het ryk seëninge tot gevolg gehad. Soms was daar weliswaar groot druk van mense wat nie verstaan het nie, maar ek het ’n skoon gewete en is tevrede wanneer ek sien dat my kinders besig en sterk in Jehovah se diens is. Hulle is ook gelukkig, en ek en my vrou is doodgelukkig.”
Nog ’n voordeel is goeie betrekkinge tussen die skoonfamilies. Zondai en Sibusiso dien byvoorbeeld saam met hulle vrouens, wat vleeslike susters is, as vrywillige werkers by die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Zimbabwe. Hulle skoonvader, Dakarai, is ’n voltydse evangeliedienaar en verdien nie ’n salaris nie. Gedurende bruidsprysonderhandelinge het hy gesê dat hy sou aanvaar wat hulle ook al kon bekostig. “Ons het ons skoonpa baie lief”, sê Zondai en Sibusiso, “en ons sal alles in ons vermoë doen om hom te help as hy behoeftig sou raak.”
Ja, redelikheid in bruidsprysonderhandelinge dra tot gesinsgeluk by. Die pasgetroudes sal byvoorbeeld nie in skuld gedompel wees nie, wat dit vir hulle makliker sal maak om by die getroude lewe aan te pas. Dit het baie jong egpare in staat gestel om geestelike seëninge na te streef, soos om voltyds te dien in die dringende werk om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak. Dit strek weer tot eer van die liefdevolle Insteller van die huwelik, Jehovah God.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
[Voetnote]
a In party kulture is die situasie omgekeerd. Die skoonouers verwag ’n bruidskat van die bruid se ouers.
b Die name in hierdie artikel is verander.
[Venster op bladsy 27]
HULLE HET DIE BRUIDSPRYS TERUGGEGEE
In party gemeenskappe word daar neergesien op die bruid en haar ouers as die bruidsprys laag is. Trots en ’n begeerte om met ’n familie se status te spog, is soms die motiewe agter onderhandelinge oor ’n hoë bruidsprys. ’n Gesin in Lagos, Nigerië, was verkwikkend anders. Hulle skoonseun, Dele, verduidelik:
“My vrou se familie het my van baie van die uitgawes bevry wat deel is van die tradisionele bruidsprysseremonie, soos om duur uitrustings te koop. Toe my familie die bruidsprys aan hulle oorhandig het, het hulle woordvoerder gevra: ‘Wil julle hierdie meisie as ’n vrou of as ’n dogter neem?’ My familie het saam geantwoord: ‘Ons wil haar as ’n dogter neem.’ Daarna is die bruidsprys in dieselfde koevert aan ons teruggegee.
“Tot vandag toe waardeer ek die wyse waarop my skoonfamilie ons troue hanteer het. Dit het my groot respek vir hulle gegee. Hulle uitstekende geestelike uitkyk maak dat ek baie na aan hulle voel. Dit het ook ’n groot uitwerking gehad op hoe ek my vrou beskou. Ek het ’n groot waardering vir haar opgebou weens die manier waarop haar familie my behandel het. As ons ’n meningsverskil het, laat ek nie toe dat dit ’n probleem word nie. Wanneer ek aan die familie dink waaruit sy kom, word die meningsverskil iets kleins.
“My familie en haar familie het hegte vriende geword. Selfs nou, twee jaar ná ons huwelik, stuur my vader nog steeds geskenke en voedsel aan my vrou se familie.”