Behoorlike balans kan jou lewe aangenaam maak
VERDRAAGSAAMHEID is soos suiker in ’n koppie koffie. Die regte hoeveelheid kan die lewe ’n bietjie aangenamer maak. Maar hoewel ons dalk vrygewig is met suiker, is ons dikwels suinig met verdraagsaamheid. Waarom?
“Mense wil nie verdraagsaam wees nie”, het Arthur M. Melzer, ’n adjunkprofessor aan die Michigan-staatsuniversiteit geskryf. “Vooroordeel . . . kom van nature.” Onverdraagsaamheid is dus nie bloot ’n karakterfout wat net ’n minderheid raak nie; bekrompenheid kom van nature by ons almal omdat die hele mensdom onvolmaak is.—Vergelyk Romeine 5:12.
Potensiële bemoeisiekes
In 1991 het die tydskrif Time berig gelewer oor die toenemende bekrompenheid in die Verenigde State. Die artikel het gepraat van “bemoeisiekes wat lewenswyse betref”, mense wat hulle eie gedragstandaarde op almal probeer afdwing. Diegene wat nie verander nie, ondervind teenstand. Byvoorbeeld, ’n vrou in Boston het haar werk verloor omdat sy geweier het om grimering te dra. ’n Man in Los Angeles is afgedank omdat hy oorgewig was. Waarom wil mense so graag ander dwing om te verander?
Bekrompe mense is onredelik, selfsugtig, hardnekkig en dogmaties. Maar is die meeste mense nie in sekere mate onredelik, selfsugtig, hardnekkig of dogmaties nie? As hierdie eienskappe in ons persoonlikheid wortelskiet, sal ons bekrompe wees.
Wat van jou? Skud jy jou kop oor iemand anders se kossmaak? Wil jy gewoonlik tydens ’n gesprek die laaste sê hê? Verwag jy dat mense jou denkwyse moet volg wanneer julle as ’n groep saamwerk? Indien wel, sal dit miskien goed wees om ’n bietjie suiker in jou koffie te gooi!
Maar soos in die vorige artikel gemeld is, kan onverdraagsaamheid in die vorm van vyandige vooroordeel na vore kom. ’n Faktor wat onverdraagsaamheid kan laat toeneem, is ernstige kommer.
“’n Diep gevoel van onsekerheid”
Etnoloë het die mensdom se verlede bestudeer om uit te vind wanneer en waar rassevooroordeel duidelik was. Hulle het gevind dat hierdie soort onverdraagsaamheid nie deurentyd aanwesig is nie en ook nie in die dieselfde mate in elke land voorkom nie. Die Duitse natuurwetenskaptydskrif GEO berig dat rassetwis in krisistye te voorskyn kom wanneer “mense ’n diep gevoel van onsekerheid het en agterkom dat hulle identiteit bedreig word”.
Is so “’n diep gevoel van onsekerheid” vandag algemeen? Beslis. Soos nog nooit tevore nie kom die mensdom voor die een krisis na die ander te staan. Werkloosheid, lewenskoste wat die hoogte inskiet, oorbevolking, vernietiging van die osoonlaag, misdaad in die stede, besoedeling van drinkwater, aardverwarming—’n knaende vrees vir enige van dié dinge laat kommer toeneem. Krisisse veroorsaak kommer, en oormatige kommer gee aanleiding tot onverdraagsaamheid.
Hierdie onverdraagsaamheid vind ’n uitlaatklep waar verskillende etniese en kultuurgroepe byvoorbeeld vermeng raak, soos in sommige Europese lande. Volgens ’n berig in 1993 deur die National Geographic was daar destyds 22 miljoen immigrante in Wes-Europese lande. Baie Europeërs “het oorweldig gevoel deur die instroming van nuwelinge” met ’n ander taal, kultuur of godsdiens. In België, Brittanje, Duitsland, Frankryk, Italië, Oostenryk, Spanje en Swede raak mense al hoe meer gekant teen buitelanders.
Wat van wêreldleiers? Gedurende die dertiger- en veertigerjare het Hitler onverdraagsaamheid ’n regeringsbeleid gemaak. Ongelukkig gebruik party politieke en godsdiensleiers vandag onverdraagsaamheid om hulle doelwitte te bereik. Dit was die geval in plekke soos Frankryk, Ierland, Oostenryk, Rusland, Rwanda en die Verenigde State.
Vermy die strik van onverskilligheid
As daar te min suiker in ons koffie is, besef ons dat iets ontbreek; as daar te veel suiker in is, kry ons ’n onaangename soet smaak in ons mond. Dit is dieselfde met verdraagsaamheid. Beskou die ondervinding van ’n man wat klas gee aan ’n kollege in die Verenigde State.
’n Paar jaar gelede het David R. Carlin jr. ’n eenvoudige dog effektiewe manier gevind om klasbesprekings aan te moedig. Hy het ’n stelling gemaak wat strydig was met die beskouings van sy studente, wetende dat hulle beswaar sou maak. Die gevolg was ’n lewendige bespreking. Maar in 1989 het Carlin geskryf dat dieselfde metode nie meer goed werk nie. Waarom nie? Hoewel studente nog steeds nie saamgestem het met wat hy gesê het nie, het hulle nie meer die moeite gedoen om daaroor te argumenteer nie. Carlin het verduidelik dat hulle die “maklike verdraagsaamheid van die skeptikus” aangeneem het—’n sorgelose, traak-my-nieagtige houding.
Is ’n traak-my-nieagtige houding dieselfde as verdraagsaamheid? As niemand omgee wat enigiemand anders dink of doen nie, is daar hoegenaamd geen standaarde nie. Waar standaarde afwesig is, is daar onverskilligheid—’n algehele gebrek aan belangstelling. Wat kan daartoe aanleiding gee?
Volgens professor Melzer kan onverskilligheid versprei in ’n gemeenskap wat talle verskillende gedragstandaarde aanvaar. Mense begin glo dat alle gedragswyses aanvaarbaar is en dat alles bloot op persoonlike voorkeure berus. In plaas daarvan dat hulle leer om te dink en te bevraagteken wat aanvaarbaar is en wat nie, “leer [mense] dikwels om glad nie te dink nie”. Hulle het nie die sedelike beginselvastheid wat ’n mens beweeg om sy man te staan teen die onverdraagsaamheid van ander nie.
Wat van jou? Vind jy dat jy nou en dan ’n traak-my-nieagtige houding inneem? Lag jy vir grappe wat onkuis of rassisties is? Laat jy jou tienerseun of -dogter toe om na video’s te kyk wat gierigheid of onsedelikheid bevorder? Meen jy dat dit in orde is as jou kinders gewelddadige rekenaarspeletjies speel?
Te veel verdraagsaamheid sal ’n gesin of gemeenskap ellende laat maai, aangesien niemand weet—of omgee—wat reg of verkeerd is nie. Die Amerikaanse senator Dan Coats het gewaarsku dat “die strik van verdraagsaamheid onverskilligheid is”. Verdraagsaamheid kan tot ’n oop gemoed lei; te veel verdraagsaamheid—onverskilligheid—kan tot leeghoofdigheid lei.
Wat moet ons dus verdra en wat moet ons verwerp? Wat is die geheim om behoorlike balans te verkry? Dit sal die onderwerp van die volgende artikel wees.
[Prent op bladsy 5]
Probeer op ’n gebalanseerde wyse op situasies reageer