Buigsaam, en tog gebonde aan goddelike standaarde
“VERDRAAGSAME mense is nooit dwaas nie, en dwase mense is nooit verdraagsaam nie”, sê ’n Chinese spreekwoord. Die spreekwoord is baie waar, aangesien dit ’n uitdaging is om verdraagsaam te wees en vereis dat ’n mens aan behoorlike gedragstandaarde gebonde is. Maar aan watter standaarde moet ons gebonde wees? Sal dit nie logies wees om die standaarde te volg wat deur die mensdom se Maker vasgestel is, soos dit in sy Woord, die Heilige Bybel, uiteengesit word nie? God self stel die beste voorbeeld wat die handhawing van sy standaarde betref.
Die Skepper—ons grootste voorbeeld
Die almagtige God, Jehovah, se verdraagsaamheid is in volmaakte ewewig; hy betoon nie te veel of te min nie. Duisende jare lank het hy diegene geduld wat sy naam oneer aandoen, die mensdom verderf en die aarde misbruik. Die apostel Paulus het in Romeine 9:22 geskryf dat God “voorwerpe van gramskap, wat vir vernietiging geskik gemaak is, met groot lankmoedigheid geduld het”. Waarom het God so lank verdraagsaam gebly? Omdat sy verdraagsaamheid ’n doel het.
God is geduldig met die mensdom “omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Die Skepper het die mensdom die Bybel gegee en sy knegte die opdrag gegee om sy gedragstandaarde oral bekend te maak. Ware Christene is gebonde aan hierdie standaarde. Maar beteken dit dat God se knegte onder alle omstandighede onbuigsaam moet wees?
Ferm, en tog buigsaam
Jesus Christus het diegene wat die ewige lewe begeer, aangespoor om ‘deur die nou poort in te gaan’. Maar om deur die nou poort in te gaan, beteken nie dat ’n mens bekrompe moet wees nie. As ons geneig is om dominerend of dogmaties te wees wanneer ons in ander se geselskap is, sal dit die lewe beslis vir almal aangenamer maak as ons hierdie neiging beteuel. Maar hoe?—Matteus 7:13; 1 Petrus 4:15.
Theofano, ’n Griekse student wat verduidelik het dat die tyd wat sy met mense uit verskillende agtergronde deurgebring het daartoe gelei het dat sy hulle beter verstaan, het gesê: “Dit is noodsaaklik dat ons eerder hulle denkwyse probeer verstaan as om ons s’n op hulle af te dwing.”
As ons iemand dus beter leer ken, sal ons moontlik uitvind dat sy kossmaak en selfs sy aksent nie so vreemd is soos ons gedink het nie. Ons kan talle nuttige dinge leer deur eerder na sy sienswyse te luister as om altyd die meeste te sê te hê of op die laaste woord aan te dring. Trouens, mense wat ’n oop gemoed het, lei ’n bevredigender lewe.
Wanneer persoonlike smaak ook al by ’n saak betrokke is, moet ons buigsaam wees en ander toelaat om self te kies. Maar wanneer gedrag ’n saak van gehoorsaamheid aan ons Skepper is, moet ons ferm wees. Die almagtige God vergoelik nie alle soorte gedrag nie. Hy het dit deur sy handelinge met sy eertydse knegte getoon.
Die strik van oordrewe verdraagsaamheid
Eli, ’n hoëpriester van die eertydse nasie Israel, was ’n kneg van God wat in die strik van oordrewe verdraagsaamheid getrap het. Die Israeliete het in ’n verbondsverhouding met God getree en gesê dat hulle sy wette sal gehoorsaam. Maar Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was gierig en onsedelik en was uiters oneerbiedig teenoor die Almagtige. Hoewel Eli die Wet van God goed geken het, het hy hulle net ligweg bestraf en was hy laks met sy dissipline. Hy het verkeerdelik gedink dat God goddeloosheid sou verdra. Die Skepper tref ’n onderskeid tussen swakheid en goddeloosheid. Weens hulle opsetlike verbreking van God se Wet is Eli se goddelose seuns heel tereg swaar gestraf.—1 Samuel 2:12-17, 22-25; 3:11-14; 4:17.
Wat ’n tragedie sal dit nie wees as ons te verdraagsaam in ons gesin is deur die herhaalde oortredings van ons kinders oor die hoof te sien nie! Hoeveel beter is dit tog om hulle “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed! Dit beteken dat ons altyddeur self by Goddelike gedragstandaarde moet bly en dit by ons kinders moet inskerp.—Efesiërs 6:4.
Die Christengemeente kan eweneens nie goddeloosheid duld nie. As ’n lid growwe sonde beoefen en weier om berou te toon, moet hy verwyder word (1 Korintiërs 5:9-13). Maar buite die gesinskring en die gemeente probeer ware Christene nie om die gemeenskap as ’n geheel te verander nie.
’n Sterk verhouding met Jehovah
Onverdraagsaamheid gedy in ’n atmosfeer waar kommer heers. As ons egter ’n hegte persoonlike verhouding met God het, geniet ons ’n gevoel van veiligheid wat ons help om behoorlike balans te handhaaf. Ons lees in Spreuke 18:10: “Die Naam van die HERE is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Daar is beslis geen leed wat ons of ons geliefdes kan ly wat die Skepper nie op sy bestemde tyd sal regstel nie.
Iemand wat grootliks by ’n hegte verhouding met God baat gevind het, was die apostel Paulus. As ’n Jood wat as Saulus bekend gestaan het, het hy Jesus Christus se volgelinge vervolg en was hy skuldig aan bloedvergieting. Maar Saulus het self ’n Christen geword en later, as die apostel Paulus, aan die voltydse evangelisasiewerk deelgeneem. Paulus het ’n oop gemoed gehad en vir alle mense gepreek, vir “Grieke sowel as Barbare, . . . [vir] wyses sowel as onverstandiges”.—Romeine 1:14, 15; Handelinge 8:1-3.
Hoe het hy dit reggekry om te verander? Hy het juiste kennis van die Skrif opgedoen en toegeneem in liefde vir die Skepper, wat onpartydig is. Paulus het geleer dat God regverdig is deurdat Hy elke mens oordeel, nie volgens kultuur of ras nie, maar volgens dit wat hy of sy is en doen. Ja, dade is vir God belangrik. Petrus het gesê dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Die almagtige God is nie bevooroordeeld nie. Dit vorm ’n teenstelling met party wêreldleiers, wat onverdraagsaamheid dalk opsetlik sal gebruik om hulle eie oogmerke te bereik.
Tye is aan die verander
Volgens John Gray, van die Universiteit van Oxford in Engeland, is verdraagsaamheid “’n deug wat in die laaste tyd skaars is”. Maar dit sal verander. Verdraagsaamheid wat met Goddelike wysheid in ewewig gehou word, sal seëvier.
In God se naderende nuwe wêreld sal onverdraagsaamheid uit die weg geruim wees. Uiterste vorme van onverdraagsaamheid, soos vooroordeel en veragting, sal iets van die verlede wees. Bekrompenheid sal nie meer die genot uit die lewe neem nie. Dan sal daar ’n baie mooier paradys wees as wat ooit in die Kasjmirvallei moontlik was.—Jesaja 65:17, 21-25.
Sien jy uit na die lewe in daardie nuwe wêreld? Wat ’n voorreg, en hoe opwindend sal dit tog nie wees nie!
[Prent op bladsy 8]
Die apostel Paulus het behoorlike balans aan die dag gelê omdat hy ’n verhouding met God gehad het