Wanneer vrugbare grond verander word in woestyne
DAAR word gesê dat vrugbare grond in byna 100 lande stadig besig is om in woestyne te verander wat die lewe van meer as 900 miljoen mense beïnvloed en ’n geraamde jaarlikse verlies van R183 miljard aan wêreldwye inkomste tot gevolg het. Hoewel arm gebiede die swaarste getref word (81 van die lande is ontwikkelende lande), bedreig woestynvorming lande op elke vasteland.
Die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) noem woestynvorming “een van die ernstigste wêreldwye omgewingsprobleme”. Navorsers sê terselfdertyd ook dat “die woestyn nie uitbrei nie”. Hoe is dit moontlik?
Woestyne beweeg en definisies verander
Ná die lang droogte in die Sahel-streek in Afrika (1968-73) is die beeld van landbougrond wat oornag in woestyne verander op mense se verstande gegrif. Maar die “scenario’s van somberheid en verderf” wat wetenskaplikes destyds beskryf het, sê Donald A. Wilhite, direkteur van die Internasionale Sentrum vir Inligting oor Droogtes by die Universiteit van Nebraska (VSA), was “gebaseer op onvoldoende data oor ’n betreklike kort tydperk wat ’n verkeerde beeld gegee het”.
Gevorderde satellietbeelde waarop biomassa (die hoeveelheid lewende materie) gesien kan word, toon nou dat plantegroei gedurende droë en nat seisoene wissel. Hierdie veranderinge, sê deskundiges, “skep die indruk dat die woestyn groter of kleiner word”. Woestyne “beweeg” dus, maar hulle ‘brei nie altyd uit nie’. Dr. Wilhite beklemtoon nietemin dat “woestynvorming wel plaasvind”. Maar wat beteken dit presies?
Woestynvorming
“Woestynvorming” word dikwels verwar met die feit dat woestyne groter en kleiner word. ’n Groep navorsers verduidelik egter dat woestynvorming na ’n ander verskynsel verwys. Terwyl vergroting en verkleining aan die rande van bestaande woestyne geskied, kom woestynvorming in uitermatig droë streke voor, waarvan sommige baie ver van enige woestyn geleë kan wees. Groot gebiede van sulke landboukundige droogland, wat 35 persent van die aarde se landoppervlak uitmaak, is stadig besig om in woestyne te verander. Daardie verskynsel word nou as woestynvorming beskou.
Maar ten spyte van hierdie duideliker beskouing van waar woestynvorming plaasvind, duur die verwarring oor die twee verskynsels steeds voort. Waarom? Panos, ’n inligtingsorganisasie in Londen wat in ontwikkelingskwessies spesialiseer, noem een rede. Soms word die duidelike beeld van woestyne wat uitbrei deur beleidvormers lewend gehou, aangesien dit “makliker is om politieke steun daarvoor te verkry as vir die ingewikkelder proses van ‘woestynvorming’”.
“Begripsverandering”, sê Panos, “het aanleiding gegee tot heelwat debatte oor wat ‘woestynvorming’ nou eintlik is.” Die geskil? Die mens teenoor die klimaat. Eers het die VN voorgestel dat woestynvorming gedefinieer word as “grondverarming in dor, halfdor en droë hoëveldgebiede wat hoofsaaklik die gevolg is van nadelige menslike invloed”. (Ons kursiveer.) Baie lande was ontevrede met hierdie definisie, sê Camilla Toulmin, direktrise van die Droogland-projek by die Internasionale Omgewings- en Ontwikkelingsinstituut, omdat dit die verantwoordelikheid vir woestynvorming op die mens plaas. Die laaste deel van die definisie is dus onlangs verander na “die gevolg . . . van klimaatswisseling en menslike bedrywighede”. (Ons kursiveer.) Hierdie nuwe definisie gee dus die mens sowel as die klimaat die skuld vir woestynvorming, maar dit het nie ’n einde aan die debat gemaak nie. Waarom nie?
“Sommige deskundiges glo dat die vermeerdering van definisies en die gevolglike geskille in werklikheid ’n poging is om ekstra fondse te bekom vir ’n groter aantal lande wat blykbaar in gevaar verkeer”, sê Panos. Die gevolg van die voortdurende geskil is dat “die term self feitlik niksseggend geword het”. Daar is mense wat selfs meen dat die term “woestynvorming” heeltemal verwerp moet word. Maar om die woord te vervang, sal natuurlik nie die probleem oplos of die oorsake daarvan uitwis nie. Wat is die oorsake van woestynvorming?
Grondoorsake en gevolge
Die boek Desertification, deur Alan Grainger, sê dat die grondoorsake oorbewerking, oorbeweiding, ontbossing en swak besproeiingsmetodes is. Wanneer twee of meer van hierdie oorsake saam voorkom, is die gevolg gewoonlik woestynvorming. Daarbenewens word die probleem vererger deur bydraende faktore—soos veranderinge in die bevolking, klimaat en sosio-ekonomiese toestande.
Een duidelike gevolg van woestynvorming is die vernietiging van die droogland se vermoë om voedsel voort te bring. Dit gebeur wêreldwyd, maar veral in Afrika waar 66 persent van die vasteland woestyn of droogland is. Woestynvorming het egter nog ander onaangename gevolge. Dit lei tot oorlog. “Omgewingsagteruitgang speel ’n al hoe groter rol in die ingewikkelde web van oorsake wat aanleiding gee tot maatskaplike en politieke onbestendigheid, bloedvergieting en oorlog”, sê die boek Greenwar—Environment and Conflict.
Selfs pogings om oorloë te voorkom, plaas swaar druk op die omgewing en vererger armoede. Hoe so? Panos verduidelik: “Wanneer regerings te staan kom voor politieke onbestendigheid wat die oorsaak is van stryde oor verminderende hulpbronne weens grondverarming, reageer hulle gewoonlik met militêre metodes om die geweld te onderdruk. Sodoende stort regerings geldmiddele in militêre begrotings in plaas van om armoede te verlig.” Maar wat kan gedoen word om eerder die oorsake van woestynvorming te bekamp as om teen die gevolge daarvan te stry?
Geen kitsmiddel nie
Nadat verteenwoordigers van meer as 100 lande 13 maande lank oor hierdie vraag nagedink het, het hulle die “VN se Konvensie vir die Bekamping van Woestynvorming” aangeneem, ’n plan wat volgens die VN “’n belangrike stap vorentoe” is om woestynvorming teë te werk. Een vereiste van hierdie konvensie was die oordrag van tegnologie vir antiwoestynvorming van ontwikkelde na ontwikkelende lande, navorsings- en opleidingsprogramme en veral beter benutting van plaaslike mense se kennis (UN Chronicle). Sal hierdie nuwe ooreenkoms die verarming van droogland stuit?
Panos sê dat woorde sowel as tasbare ondersteuning nodig is om ’n verskil te maak. Hama Arba Diallo, een van die organiseerders van die konvensie, het berig dat daar tussen 1977 en 1988 ongeveer R4 miljard per jaar aan antiwoestynvormingsmaatreëls bestee is. Volgens UNEP moet die 81 ontwikkelende lande egter ongeveer vier tot agt keer soveel spandeer om werklik vordering te maak.
Maar wie gaan hiervoor betaal? “Daar sal min nuwe fondse van die geïndustrialiseerde lande kom vir antiwoestynvormingswerk”, waarsku Panos en voeg by dat dit “onrealisties [is] van arm lande wat woestynvorming ondervind om te verwag dat die konvensie ’n maklike oplossing of kitsmiddel moet voorsien”. Maar die feit dat woestynvorming nou wêreldwyd bespreek word, stel die probleem meer op die voorgrond, “wat op sigself ’n prestasie is”, is die positiewe noot waarop Panos afsluit.
‘Die woestyn sal bly wees’
Gedurende die afgelope dekades het talle mans en vroue wel daarin geslaag om mense meer bewus te maak van die ramp wat sal plaasvind as woestynvorming voortduur. Slagspreuke soos “Die mens word voorafgegaan deur woude en gevolg deur woestyne” daag mense uit om daardie volgorde om te keer.
Tog besef ingeligte mense ook dat die probleem van woestynvorming ingewikkeld is. Hulle is realisties genoeg om in ag te neem dat die mens, ongeag hoe goed hy dit bedoel, beperkings het wanneer hy met die oorsake van vandag se wêreldwye probleme te doen het.
Terselfdertyd is dit egter bemoedigend vir mense wat besorg is oor die aarde se toekoms om te weet dat die Skepper van die aarde beloof het om hierdie en ander omgewingsprobleme doeltreffend op te los. En aangesien God se beloftes, wat in die Bybel opgeteken staan, nog altyd bewaarheid is, is dit realisties om uit te sien na die vervulling van wat Jehovah die profeet Jesaja geïnspireer het om aangaande die toekoms van woestyne en verarmde grond te skryf: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing. . . . Want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water” (Jesaja 35:1-7; 42:8, 9; 46:8-10). Watter vreugde sal dit tog wees om, in die nabye toekoms, te sien hoe die proses van woestynvorming gestuit en omgekeer word!
[Venster op bladsy 16]
Persentasie grond wat woestyn of droogland is
Afrika 66%
Asië 46%
Australië 75%
Europa 32%
Noord-Amerika 34%
Suid-Amerika 31%
Die wêreld 41%
[Venster op bladsy 17]
Besproeiing wat vrugbare grond in woestyne verander?
Kan besproeiing—om die grond nat te lei—vrugbare grond in ’n woestyn verander? Ja, verkeerde besproeiingsmetodes kan. Dit gebeur wanneer grond wat besproei word nie behoorlik gedreineer word nie. Die grond raak eers moerasagtig; dan word dit brak, en later vorm ’n soutlaag op die oppervlak. “Verkeerde besproeiingsmetodes”, sê Panos, “laat vrugbare grond net so vinnig in woestyne verander as wat nuwe besproeiingstelsels aangelê word.”
[Kaart op bladsy 16, 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
WOESTYN
IN GEVAAR
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.
[Prente op bladsy 15]
Landbougrond wat stadig besig is om in woestyne te verander