Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 12/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nuwe siektes verskyn, ou siektes keer terug
  • Nie genoeg kalsium nie
  • Wedrenne wat rook bevorder
  • Volop bier —nie genoeg kos nie
  • Nederlandse kerklidmaatskap neem af
  • Woestyne in Europa
  • Rook in die oë
  • Toenemende Bybelse ongeletterdheid
  • Groot skoonmaak op Mount Everest
  • Die pous se oproep om te preek
  • Skubaduik-ongelukke
  • Diewe in die biblioteek
  • Miljoene lewens gaan in rook op
    Ontwaak!—1995
  • Sigarette—Wys jy dit van die hand?
    Ontwaak!—1996
  • Tabakmaatskappye in ’n vuurstorm vasgevang
    Ontwaak!—1996
  • Tabakmoraliteit?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 12/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Nuwe siektes verskyn, ou siektes keer terug

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarsku dat die uitbreek van siektes, met inbegrip van nuwe siektes, die lewe van miljoene mense bedreig. Die treffendste voorbeeld is vigs, ’n siekte wat deur ’n virus veroorsaak word wat tien jaar gelede so te sê onbekend was. Nog ’n siekte is die hantavirus-pulmonêre sindroom, wat onlangs in die suidwestelike Verenigde State ontdek is. ’n Heeltemal nuwe soort cholera het in Asië verskyn. Twee soorte hemoragiese koors het in Suid-Amerika ontstaan, en albei is dodelik. Voorbeelde van die uitbreek van bekende aansteeklike siektes gedurende 1993 is onder andere cholera in Latyns-Amerika, geelkoors in Kenia, denguekoors in Costa Rica en witseerkeel in Rusland. Die WGO bepleit ’n wêreldwye netwerk van sentrums om nuwe siektes of ou siektes wat terugkeer te beveg.

Nie genoeg kalsium nie

Volgens The New York Times het ’n komitee van kenners wat deur die Nasionale Institute vir Gesondheid in die Verenigde State aangestel is onlangs bevind dat “die helfte van Amerika se volwassenes nie genoeg kalsium inneem nie, en dit dra by tot ’n epidemie van bros bene en breuke wat jaarliks vir mediese rekeninge van $10 miljard [R36 miljard] verantwoordelik is”. Volgens berig ly meer as 25 miljoen mense in die Verenigde State aan osteoporose, ’n beensiekte. Die komitee het in hulle verslag verduidelik dat die huidige aanbevole daaglikse dieettoelae vir kalsium onvoldoende is. Die beste bron van kalsium in voedsel is “hoofsaaklik suiwelprodukte en groen blaargroentes”, het die kenners gesê. Maar hulle het bygevoeg dat “die meeste Amerikaners hulle dieet moontlik sal moet aanvul met kalsiumpille of verwerkte kossoorte wat met kalsium verryk is”.

Wedrenne wat rook bevorder

Tradisioneel was Europese lande tot dusver die gasheer vir die gewilde Formule Een Grand Prix-motorwedrenne. Maar nou verkies die organiseerders om hierdie wedrenne in Asiatiese lande soos Japan en China te hou. Waarom? Vanweë Europa se strenger maatreëls oor tabakadvertensies. Die vernaamste borge van die wedrenne is tabakmaatskappye, met die gevolg dat tabakadvertensies opsigtelik op renmotors vertoon word. Volgens Japan se Asahi Evening News belê een tabakmaatskappy “jaarliks etlike miljarde jen in die finansiering van twee spanne”. Advertensies op renmotors moes al tydens wedrenne in Europa verwyder of bedek word. Onlangs is die Franse Grand Prix amper gekanselleer vanweë ’n verbod op sigaretadvertensies. Asiatiese lande, waar nagenoeg 60 persent van alle volwasse mans rook, word nou as beter plekke beskou om sigarette op renmotors te adverteer.

Volop bier —nie genoeg kos nie

Volgens die Venezolaanse koerant El Universal is 726 000 kinders van ses jaar en jonger in Venezuela vanweë ondervoeding korter vir hulle ouderdom as wat hulle behoort te wees. Dit is ’n skrikwekkende 23,8 persent van die kinders in daardie ouderdomsgroep, bykans 1 uit 4. Hoewel daar nie genoeg voedsame kos vir die kinders is nie, het die land blykbaar oorgenoeg bier. El Universal berig dat Venezuela die grootste bierverbruiker onder al die Latyns-Amerikaanse lande is. In 1991 het Venezolane gemiddeld 75 liter per persoon gedrink.

Nederlandse kerklidmaatskap neem af

’n Onlangse opname toon dat kerklidmaatskap in Nederland gedurende die afgelope 40 jaar skerp afgeneem het. In 1950, berig die Ecumenical Press Service (EPS), was 3 uit elke 4 Nederlanders kerklidmate. In 1991 het daardie gemiddeld tot minder as 2 uit elke 4 afgeneem, en navorsers voorspel dat daar binnekort slegs 1 kerklidmaat uit elke 4 Nederlanders oor sal wees. Volgens die Nederlandse koerant Trouw sê die EPS dat “onder 15 lande waarin daar ’n opname gedoen is die syfers vir kerklidmaatskap en geloof in God slegs in die voormalige Oos-Duitsland laer as in Nederland is”. Maar ten spyte van die afname in kerklidmaatskap het die opname ook getoon dat 75 persent van alle Nederlanders steeds in God glo.

Woestyne in Europa

Woestynvorming, die agteruitgang van vrugbare landbougrond tot dit woestyne word, is “een van die ernstigste wêreldwye omgewingsprobleme”, sê die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram. Die koerant The European berig dat hoewel woestynvorming oor die algemeen met Afrika vereenselwig word, bedreig dit nou nagenoeg 10 persent van Europa se landbougrond. Spanje word die meeste hierdeur geraak. Wetenskaplikes meen dat ’n kombinasie van oorbeweiding en watervermorsing die grond vatbaar vir droogte en erosie gemaak het, wat die boere sowat R5 miljard per jaar kos. ’n Ernstige gevolg is die migrasie van mense na stedelike gebiede, wat tot oorbevolking en burgerlike onrus lei. Meteoroloë voorspel dat die reëntekort in Suid-Europa gaan vererger.

Rook in die oë

Die direkteur van Australië se Nasionale Instituut vir Signavorsing, professor Robert Augusteyn, beweer dat hy onbetwisbare bewys het dat chemikalieë van sigaretrook katarakte veroorsaak. ’n Studie toon dat die gevaar van katarakte twee tot drie maal so groot is by rokers as by nie-rokers. Chemikalieë van sigaretrook word eers deur die liggaam opgeneem, maar dan beweeg dit na die oog, waar dit die “pompe” vernietig wat die oormaat sout en water uit die lens in die oog dreineer. Die gevolglike swelling van selle in die oog wat uiteindelik bars, veroorsaak katarakte. “Ek is heeltemal oortuig. Daar is ongetwyfeld iets in die sigaretrook wat verhinder dat die pompe in die lens werk”, verduidelik professor Augusteyn.

Toenemende Bybelse ongeletterdheid

“Daar heers skrikwekkende en toenemende onkunde oor die Bybel in alle dele van die Westerse gemeenskap”, berig die Wêreldraad van Kerke se Ecumenical Press Service. Bybelgenootskappe raam dat 85 persent van Westerse Christene nog nooit die hele Bybel gelees het nie, en ’n meningspeiling in die Verenigde State toon dat slegs 12 persent van die kerkgangers daar die Bybel gereeld lees. Die hedendaagse universiteitstudente, sê Fergus Macdonald, die algemene sekretaris van Skotland se Nasionale Bybelgenootskap, “is so onbekend met Bybelkarakters soos Abraham, Isak en Jakob, asook die name van Jesus se apostels, dat hulle nie die inhoud van klassieke werke in Europese literatuur kan verstaan nie.”

Groot skoonmaak op Mount Everest

Mount Everest is nie net die wêreld se hoogste spits nie, maar volgens die tydskrif UNESCO Sources staan dit nou ook bekend as die wêreld se “hoogste rommelwerf”. Gedurende die afgelope 40 jaar het bergklimmers ongeveer 20 ton suurstofbottels, tente, slaapsakke en kosverpakking op Everest agtergelaat. Teen die laer hange, waar die landskap deur stukke rondfladderende toiletpapier ontsier word, staan die paadjie na die Everest-basiskamp nou “as die toiletpapier-voetpad bekend”. Die hoeveelheid rommel hoër op teen die berg is iets afgrysliks. “Foto’s van hierdie tonele”, skryf die UNESCO Sources, “is ’n skok vir diegene wat aan Everest gedink het as ’n ongerepte wildernis, onaangeraak deur mense.” Om die berg van hierdie onooglikheid te bevry, het Nepal se regering vanjaar verskeie ekspedisies vir ’n “groot skoonmaak” goedgekeur.

Die pous se oproep om te preek

Vroeër vanjaar het pous Johannes-Paulus II vir ’n groep Katolieke in Italië gesê dat dit tyd is om die evangelie direk na die mense te neem. Hoe het Katolieke in Australië daarop gereageer? “Katolieke gaan nie gehoor gee aan pous se oproep om te preek nie”, was die hoofopskrif in die Australiese koerant Illawarra Mercury. Dit het gemeld dat Katolieke in daardie land “nie gretig is om die ‘Jehovah se Getuie’-tipe benadering tot hulle geloof aan te neem nie”. Die plaaslike Katolieke geestelike Sean Cullen het gesê dat hy nie seker is of die pous se oproep om te preek tot alle Katolieke of net tot dié in Italië gerig is nie. “Ons sal mense aanmoedig om die Evangelie wat hulle ken deur hulle lewenswyse uit te leef. Of dit nou beteken dat hulle aan deure moet gaan klop, is ’n ander saak.” ’n Plaaslike amptenaar van die stadsraad was nie so ontwykend nie. Hy het gesê: Evangelisasie is “nie deel van die Katolieke psige nie”.

Skubaduik-ongelukke

In die Verenigde State “sterf ongeveer 90 mense elke jaar terwyl hulle skubaduik”, berig The New York Times. Regeringsamptenare maak beswaar teen die feit dat daar nie wette is wat die skubaduik-bedryf reguleer soos met ander gevaarlike aktiwiteite, soos rekspring en vlieg, die geval is nie. In die Verenigde State alleen is daar tussen drie- en vyfmiljoen gekwalifiseerde duikers. Skubaduik-winkels reik jaarliks sertifikate aan sowat 300 000 tot 400 000 mense uit. Een winkeleienaar verduidelik dat die probleem is dat “duikers nie altyd riglyne volg nie”. Al Hornsby, van die Professionele Assosiasie vir Duikinstrukteurs, sê dat die aantal duikongelukke in werklikheid aan die afneem is. Die Times berig: “In die middel van die sewentigerjare, het hy gesê, was daar 12 sterftes per 100 000 duikers, en nou is daar ’n bietjie meer as 2 per 100 000.”

Diewe in die biblioteek

Die Konsortium van Biblioteke en Argiewe van Rome se Kulturele Institute het onlangs ’n studie gedoen. Volgens die navorsers word slegs enkele biblioteke in Italië tans deur doeltreffende elektroniese diefweringstelsels beskerm. Volgens die Italiaanse koerant La Repubblica word nagenoeg 100 000 boeke gevolglik elke jaar óf onherstelbaar verniel óf gesteel. Die koerant sê dat selfs universiteitsprofessore boeke steel wat nie meer op die mark is nie, maar wat hulle in hulle studies kan gebruik.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel