Hulle het dit met blomme gesê in Japan
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
SEDERT die Groot Tentoonstelling van 1851 in Londen het wêreldtentoonstellings nog altyd nywerheids- en tegnologiese vooruitgang beklemtoon. Die natuur was egter die middelpunt van die tentoonstelling wat gedurende die afgelope somermaande in Osaka, Japan, gehou is. Dit het die neiging omgekeer en blomme en groenigheid op die voorgrond gestel.
Terwyl dit die tema “Naasbestaan van die natuur en die mensdom” uitgebeeld het, het die pragtige tuine op die gronde van die sogenaamde Blommetentoonstelling getuig van die mens se vermoë om in harmonie met die natuur te leef. Waarskuwings omtrent wêreldwye omgewingskrisisse is terselfdertyd laat hoor.
Die gronde het oor 140 hektaar gestrek en is in vier dele rondom ’n sentrale watermassa verdeel, wat die See van die Lewe genoem is. Regs van die hoofingang was die Berggebied, met sy golwende heuwels. Die Veldgebied was na links geleë. Agter die Veldgebied was daar paaie wat na die Stadsgebied gelei het waar daar verskillende paviljoene was. Die Towerkruispad, ’n pretpark, was in die verste deel van die gronde.
Tydens ’n rustige wandeling deur die Veldgebied, die Berggebied en die internasionale tuine het die blomme by die Expo ’n groot indruk op ons gemaak. Lappe geel, pers, ligpers en baie ander kleure blomme het die oë gestreel en die gees verkwik. Ligte briesies, wat gevul was met die geur van rooi, wit en geel rose, het tot die ontspanne atmosfeer bygedra. Die sonderlinge Blomvallei met sy Japannese karakter het ’n spesiale afronding daaraan gegee. Dit alles dui daarop dat die mens gemaak is om in ’n tuinagtige omgewing te woon.
Terwyl ons deur die internasionale tuine gewandel het, is ons aandag getrek deur Israel se Bybeltuin wat die aandag op ou olyfbome en klipmure gevestig het. Plakkate met aanhalings uit die Hooglied van Salomo en ander Bybelboeke het bygedra om die atmosfeer van ’n tuin in Bybelse tye te herskep.
’n Ander uitstalling wat ons aan ’n Bybelse verslag herinner het, was ’n treffende demonstrasie van die skeiding van die water van die See van die Lewe. Die feit dat hulle “600 ton water binne vier minute wegpomp, maak dit moontlik”, het ’n beampte op die terrein verduidelik. Terwyl die see geleidelik geskei is, is die skouspel begelei deur ses fonteine van verskillende ontwerpe wat op die maat van musiek gedans het. As die mens dit deur middel van tegnologie regkry, kon die almagtige Skepper sekerlik die water van die Rooi See geskei het.—Exodus 14:21-28.
Hipertegnologiese paviljoene
Groot skares is ondanks die lang wagtyd na die uitstallings in die talle paviljoene getrek. Een paviljoen het ’n “towertapyt” gehad waarop ons die koningvlinder se trekroete deur sy oë kon sien. Terwyl ons op die “towertapyt”, ’n deursigtige plaat van getemperde glas, gesit het, het ’n pragtige toneel hom onder ons ontvou. Ons het gevoel asof ons saam met die koningvlinder vlieg. Toe ’n kaaiman na die vlinder hap, het ons ook die angs van ’n noue ontkoming beleef.
By die ingang van ’n ander paviljoen het ons ’n spesiale bril gekry sodat ons die driedimensionele rolprent The Last Buffalo kon sien. Ons kon amper aan ’n grysbeer raak wat besig was om ’n salm te vang, ’n bergleeu wat op ’n rots spring en twee buffels wat hulle kalfie teen vyande probeer beskerm!
Seldsame blomme en unieke uitstallings
Paviljoene wat deur tuine en groenigheid gekenmerk is, het ook baie besoekers getrek. Die wêreld se grootste blom, die Indonesiese rafflesia, was een so ’n besienswaardigheid. Hierdie parasitiese plant, wat ’n deursnee het van omtrent een meter en sowat sewe kilogram weeg, leef sonder wortels of blare. Nadat dit sowat 30 maande op die gasheer geteer het, verskyn ’n groteske blom, wat net vier dae lank leef.
In die Groot Glashuis, ’n enorme kweekhuis, was daar 15 000 plante van 2 600 spesies ten toon gestel, wat inheems is in lande van die trope tot by die poolstreke. ’n Pypnetwerk, wat die grond verhit of verkoel het, en luggordyne, wat die ruimtes van mekaar afgeskei het, het saamgewerk om agt verskillende klimaatgordels in die glashuis te handhaaf. Met sulke tegnologie kon tropiese plante en woestynkaktusse, sowel as Alpynse plante soos die skaars blou papawers van die Himalaja, onverstoord en sierlik daar bloei.
Gevaar van ekologiese krisisse
Asof hulle opsetlik probeer het om die vrede en prag te bederf, kon waarskuwings omtrent die ekologiese krisisse waarvoor die mensdom vandag te staan kom oral op die gronde gesien word. Byvoorbeeld, boodskappe en prente met titels soos: “Vernietiging van die osoonlaag”, “Wêreldwye verhitting”, “Suurreën/suurmis”, “Verdwynende tropiese woude” en “Die aarde is besig om ’n woestyn te word” is op prominente plekke in die paviljoene en die tuine van die Japannese Regeringstuin ten toon gestel.
Wat is egter die oorsaak van sulke verwoesting? “Mense—slagoffers van ons eie vernietiging”, was ’n uitstalling by die uitgang van die Groot Glashuis, wat die skuldige aangekla het. “Die mens het baie van die aarde se natuurlike hulpbronne vir eie gewin opgeoffer. . . . As gevolg daarvan staan ons nou voor die gevolg van ons optrede.”
Selfs in ekologiese krisisse wat aan die natuur toegeskryf word, sien ons die mens se handewerk. ’n Muurplaatjie in die VN se Vredestuin het ons gewaarsku dat woestynverbreiding een derde van die aarde se grondoppervlak bedreig en amper honderd lande beïnvloed. “Woestynverbreiding kan deur droogte versnel word, maar word selde daardeur veroorsaak”, het dit verduidelik. “Die hoofoorsake is mensgemaak en kan deur mense-optrede beheer en reggestel word.”
Wêreldwye tuintuiste—Hoe?
Die gronde waarop die Blommetentoonstelling se tuine en blombeddings geleë was, was vroeër een van Osaka se vullishope. Dit getuig van die mens se vermoë om ’n woesteny in ’n paradys te omskep. Al het talle groot maatskappye sulke pragtige uitstallings aangebied, word hulle nietemin “gekritiseer weens hulle behandeling van die omgewing in ander dele van Japan en die res van die wêreld”, het die Japan Quarterly gesê. Trouens, pleks van sy talente en vermoëns aan te wend om die aarde in ’n paradys te omskep, is die mens—deur sy hebsug en selfsug—besig om die aarde se ekologiese balans te vernietig.
Is daar enige hoop dat die verwoeste aarde in ’n paradys omskep sal word? Die Bybel gee hoop met hierdie woorde: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing.” Maar hoe sal dit tot stand kom? Jesaja gee die antwoord: “Hulle daar sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God” (Jesaja 35:1, 2). Ja, onder die heerskappy van God se Koninkryk deur Christus sal die mens se pogings om sy vooruitgang met die natuur in harmonie te bring, gewis slaag. Die aarde sal omskep word in ’n wêreldwye paradys, tot ewige seën vir die mens en tot die eer en lof van God.