Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 2/8 bl. 18-21
  • Ek het met trane gesaai en met vreugde gemaai

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het met trane gesaai en met vreugde gemaai
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Tyd van vreugde
  • ’n Tyd van trane
  • Krag tesame met trane
  • Weer vreugde
  • Meer vreugde, meer trane
  • Lesse wat ek geleer het
  • Kom nader aan die Hoorder van gebed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • In die ore van ’n klein kindjie
    Ontwaak!—1997
  • “Aangesien ons hierdie bediening het . . . , gee ons nie moed op nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Hoe ek by God se sorg baat gevind het
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 2/8 bl. 18-21

Ek het met trane gesaai en met vreugde gemaai

“GENIET jou aftrede in sonnige Spanje!” Miljoene Europeërs het al hierdie aanloklike aanbod aanvaar en daarheen verhuis. Toe ek die ouderdom van 59 bereik het, het ek ook besluit om alles te verkoop en van Engeland na Spanje te verhuis, maar ek was op soek na iets meer as sonskyn en ontspanning.

Ek het besluit om na Santiago de Compostela—een van die natste stede in Spanje—te gaan, aangesien dit my doelwit was om eerder as ’n voltydse bedienaar te dien as om in die son te ontspan. Twee-en-twintig jaar tevore het omstandighede my gedwing om my evangelisasiediens in Spanje te laat vaar, nadat ek daarheen gegaan het omdat daar hulp met dié werk nodig was. Dit was nog altyd my voorneme om terug te keer, en nou het ek uiteindelik daarin geslaag.

Maar die aanpassing was nie so maklik as wat ek gedink het dit sou wees nie. Die eerste maand was ’n nagmerrie! Ek kan nie onthou dat ek al ooit in my dag des lewens so moeg was nie. Ek het in ’n woonstel op die vierde verdieping gewoon in ’n gebou sonder ’n hysbak. Ek het elke dag al sukkelende heuwel op en heuwel af in die strate van Santiago geloop en ontelbare trappe geklim in my poging om die goeie nuus aan soveel mense as moontlik te verkondig. Ná daardie uitputtende maand het ek bedenkinge begin hê. Het ek die regte besluit geneem? Was ek eenvoudig te oud vir hierdie soort bedrywigheid?

Gedurende die tweede maand het ek egter my kragte begin herwin. Dit was amper soos ’n langafstandatleet se tweede asem. Trouens, ek het een van die gelukkigste tye van my lewe ingegaan. Nadat ek baie jare met trane gesaai het, het ek met vreugde begin maai (Psalm 126:5, vgl. NW). Laat ek verduidelik.

’n Tyd van vreugde

Ek en my vrou Pat het in 1961 na Spanje verhuis. Destyds het die bedieningsbedrywigheid van Jehovah se Getuies nie amptelike erkenning in daardie land gehad nie. Ons is nietemin na die sonnige stad Sevilla gestuur, waar daar slegs om en by 25 persone was wat aan die predikingswerk deelgeneem het.

In ons bediening het ek op ’n dag met ’n Fransman gepraat wat besig was om ’n huis te verf. Die volgende dag het ’n dame my en my vrou genader en gevra of ons die vorige dag met ’n verwer gepraat het. Sy het gesê dat hy haar man, Francisco, is. Hy het haar so ’n akkurate beskrywing van ons gegee dat sy ons onmiddellik herken het. “Hy is nou by die huis as julle hom wil besoek”, het sy vir ons gesê.

Ons het hierdie uitnodiging sonder meer aanvaar, en kort voor lank het die hele gesin die Bybel saam met ons gestudeer. ’n Ruk later het Francisco om ekonomiese redes na Frankryk teruggekeer. Ons was bekommerd. Sou hy kontak met die Getuies verloor? Kort ná sy vertrek, het ons egter ’n brief van hom ontvang wat ons gerusgestel het. Hy het gesê dat sy nuwe werkgewer hom uitgevra het oor hoeveel godsdienste daar in Spanje was.

“Wel, daar is twee, die Katolieke en die Protestante”, het Francisco versigtig verduidelik. Aangesien ons werk nog steeds nie wetlik erken was nie, het hy gedink dat dit beter sou wees om nie meer te sê nie.

“Is jy seker?” het sy werkgewer gevra.

“Wel, eintlik is daar drie”, het Francisco gesê, “en ek behoort aan die derde groep—Jehovah se Getuies.”

“Dis baie gaaf”, het sy werkgewer geantwoord. “Ek is ’n kneg in julle gemeente!” Daardie selfde aand het Francisco die gemeentelike vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon.

In 1963 is ons van Sevilla na Valencia en kort daarna na Barcelona verplaas. Daar is ek opgelei om as reisende opsiener te dien. Toe is ons na Valencia teruggestuur om reisende werk in daardie gebied te doen. Maar ná ’n paar jaar in hierdie genotvolle faset van die werk het Pat probleme met haar balans begin ondervind. Nie lank daarna nie het sy begin sukkel om te loop. Só het ’n tyd aangebreek waarin ons ‘met trane gesaai het’.—Psalm 126:5.

’n Tyd van trane

Ons het Spanje teësinnig verlaat om mediese behandeling in Engeland te kry. Die oorsaak van Pat se simptome? Veelvoudige sklerose, ’n degenerasiesiekte wat ’n mens geleidelik al hoe meer gestremd maak. As gevolg van newe-effekte en verwante probleme kan dit mettertyd die dood tot gevolg hê.

Dit was vir ons baie moeilik om aanpassings in ons lewe te maak en hierdie siekte te aanvaar. Maar deur dit alles heen het ons die waarheid van die psalmis se woorde geleer: “Die HERE sal hom [enigiemand wat met bedagsaamheid teenoor die geringe optree] ondersteun op die siekbed.”—Psalm 41:4.

Ongeveer tien jaar lank het ons van een huis na die ander getrek. Pat was baie gevoelig vir geraas, en ons het ’n ideale woning vir haar probeer vind—wat ons uiteindelik besef het onmoontlik is. Pat moes daaraan gewoond raak om ’n rolstoel te gebruik. Hoewel sy kon kook en baie ander take kon verrig, het die feit dat sy nie so maklik kon rondbeweeg nie haar terneergedruk gemaak. Omdat sy altyd ’n baie aktiewe mens was, was hierdie liggaamlike gebrek vir haar ’n voortdurende bron van emosionele spanning.

Krag tesame met trane

Ek het geleer om vir Pat te help opstaan, sit, aantrek, haarself was, asook om in en uit die bed te kom. Om die Christelike vergaderinge gereeld by te woon, was ’n ware uitdaging. Dit het baie inspanning geverg om ons gereed te maak. Maar ons het geweet dat omgang met ons Christenbroers die enigste manier was om geestelik sterk te bly.

Ek het Pat 11 jaar lank tuis versorg, terwyl ek bedags as ’n tekenaar gewerk het. Uiteindelik het ons besef dat sy weens die agteruitgang in haar gesondheid gespesialiseerde sorg nodig gehad het wat ek haar nie kon gee nie. Sy het dus gedurende die week in ’n hospitaal gebly, en ek het haar oor die naweek tuis versorg.

Elke Sondag ná middagete het ek Pat na die Openbare Vergadering en die Wagtoring-studie geneem, wat teen dié tyd die enigste vergaderinge was wat sy kon bywoon. Daarna het ek haar teruggeneem na die hospitaal toe. Die roetine was vir my baie uitputtend, maar dit was die moeite werd omdat dit Pat geestelik sterk gehou het. Soms het ek gewonder hoe lank ek daarmee sou kon volhou, maar Jehovah het my die krag gegee om voort te gaan. Elke Saterdagoggend het ek ’n groep in die veldbediening gelei voordat ek Pat by die hospitaal gaan haal het. Ek het gedurende hierdie traumatiese tyd gevind dat my Christelike roetine my gehelp het om kop bo water te hou.

Intussen het Pat gedoen wat sy kon om die goeie nuus te verkondig. In die hospitaal het sy twee Bybelstudies begin met verpleegsters wat haar versorg het. Die een, met die naam Hazel, het gevorder tot toewyding aan Jehovah. Ongelukkig kon Pat nie Hazel se doop bywoon nie, want sy is kort tevore, op 8 Julie 1987, oorlede.

Pat se dood was ’n tyd van verligting sowel as hartseer. Dit was ’n verligting om te weet dat sy nie meer ly nie, maar ek was baie hartseer omdat ek my maat verloor het. Haar dood het ’n baie groot leemte gelaat.

Weer vreugde

Dit klink dalk snaaks, maar ek en Pat het reeds besluit wat ek nou moes doen. Aangesien ons albei geweet het dat haar lewe ten einde loop, het ons gepraat oor hoe ek Jehovah na die beste van my vermoë kon dien ná haar dood. Ons het saam besluit dat ek moes terugkeer na Spanje, die toewysing wat ons noodgedwonge moes opgee.

Drie maande ná Pat se dood het ek na die takkantoor van Jehovah se Getuies in Spanje gereis om uit te vind waar hulle my die beste kon gebruik. Ek het ’n toewysing as ’n spesiale pionier ontvang en is na die antieke, reënerige stad Santiago de Compostela gestuur.

Nie lank daarna nie het ek ’n nota van die takkantoor ontvang waarop die adres van ’n belangstellende met die naam Maximino was. Nadat ek drie weke lank probeer het om hom tuis te vind, het ek hom uiteindelik ontmoet. Maximino, wat ’n portier by ’n plaaslike hospitaal was, het die traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld ontvang en het toe die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe aangevra.a Toe ek hom besoek het, het hy die boek reeds drie keer gelees. Hy het verskoning gevra omdat hy die Bybel nie baie gelees het nie—die ‘ou deel’ net een keer, en die ‘nuwe deel’ twee keer. Hy het dit alles gedoen terwyl hy gewag het dat iemand hom moet besoek.

Hy het ook vir my vertel dat hy na die Koninkryksaal toe gegaan het met die doel om een van ons vergaderinge by te woon. Maar aangesien hy baie skaam is, het hy nie ingegaan nie. Ek het ’n Bybelstudie met hom begin, en hy het dieselfde week nog die vergaderinge bygewoon. Hy het die waarheid ingedrink, maar hy het dit werklik moeilik gevind om teen sy tabakverslawing te stry. Met Jehovah se hulp het hy uiteindelik opgehou rook, en hy is nou ’n gedoopte Getuie.

Meer vreugde, meer trane

Slegs ’n jaar ná my terugkeer na Spanje is ek weer genooi om as reisende opsiener te dien. Maar voordat ek daardie toewysing kon aanpak, het my lewe ’n onverwagse wending geneem. Ek het ’n pionier met die naam Paquita ontmoet, wat naby Santiago gedien het. Sy was ’n weduwee wat al baie jare lank in die voltydse diens was. Ons het gou agtergekom dat ons baie in gemeen het. In 1990, net ses maande nadat ek met die reisende werk begin het, is ons getroud—weer vreugde.

Paquita het net soos ek ‘met trane gesaai’. Haar eerste toewysing as ’n spesiale pionier is deur ’n tragedie bederf. Terwyl haar man meubels na Orense, hulle nuwe tuiste, vervoer het, is hy in ’n motorongeluk dood—’n aankomende vragmotor het na sy baan oorgesteek. Paquita en haar tienjarige dogtertjie was reeds in Orense toe hulle die tyding van sy dood ontvang het. Ten spyte van die verskriklike verlies het Paquita, twee dae ná die begrafnis, met haar toewysing begin soos sy beplan het.

Deur die jare heen het Paquita in die voltydse bediening gebly. Toe tref nog ’n tragedie haar. Haar dogter, wat toe 23 jaar oud was, is ook in ’n motorongeluk dood. Dit was ’n baie pynlike ondervinding, en sy het lank oor haar getreur. Soos die vorige keer was haar Christelike roetine en die ondersteuning wat sy van mede-Christene ontvang het van die grootste belang vir haar herstel. Ek het Paquita in 1989 leer ken, net twee jaar ná haar dogter se dood.

Sedert ons in 1990 getroud is, dien ons in die reisende werk in Spanje. Hoewel hierdie laaste paar jaar van die bevredigendste tydperke in ons lewe was, is ons nie spyt dat ons beproewinge deurgemaak het nie. Ons is daarvan oortuig dat dit ons op ’n positiewe manier gevorm het.—Jakobus 1:2-4.

Lesse wat ek geleer het

Ek glo dat selfs die ergste beproewinge ’n positiewe sy het, omdat ons lesse daaruit leer. Deur beproewinge het ek bowenal geleer hoe belangrik empatie is, ’n onontbeerlike eienskap vir ’n Christenopsiener. Nie lank gelede nie het ek byvoorbeeld met ’n Christenbroer gesels wat ’n gestremde seun het. Ek het presies verstaan watter groot inspanning dit elke week van hom geverg het om sy seun na al die vergaderinge toe te neem. Ná ons gesprek het hy my bedank en gesê dat dit die eerste keer was dat iemand werklik die probleme verstaan het waarmee hy en sy vrou te kampe het.

Nog ’n belangrike les wat ek geleer het, is om op Jehovah te vertrou. Wanneer alles goed gaan, is ons dalk geneig om op ons eie krag en vermoë staat te maak. Maar wanneer ’n hewige beproewing jaar ná jaar voortduur en jy dit nie in jou eie krag die hoof kan bied nie, leer jy om op Jehovah te steun (Psalm 55:23). God se helpende hand het my in staat gestel om voort te gaan.

Dit beteken natuurlik nie dat dinge altyd maklik was nie. Ek moet erken dat ek gedurende my eerste vrou se siekte soms kwaad en gefrustreerd geraak het, veral wanneer ek moeg was. Agterna het ek skuldig gevoel oor my gevoelens. Ek het met ’n ouer man daaroor gepraat wat professionele ondervinding in die behandeling van pasiënte met langtermynsiektes gehad het. Hy het my verseker dat ek goed doen onder my omstandighede en dat dit baie algemeen is vir onvolmaakte mense om in hierdie opsig te kort te skiet wanneer hulle voor langdurige emosionele spanning te staan kom.

Hoewel ek en Paquita ons voltydse diens nou terdeë geniet, dink ek nie dat ons ooit ons seëninge as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Jehovah het ons in baie opsigte beloon en het ons ’n bevredigende werk gegee om te doen, ’n werk wat ons saam kan doen. Deur die jare heen het ons albei met trane gesaai, maar danksy Jehovah maai ons nou met groot vreugde.—Soos vertel deur Raymond Kirkup.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 21]

Ek en Paquita geniet ons bediening saam

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel