Ek het weggebreek van georganiseerde misdaad—“Ek was ’n Jakoeza”
“PAPA moet asseblief saam met ons vergaderinge toe gaan wanneer Papa huis toe kom. Belowe?” Ek het hierdie brief van my jongste dogter ontvang terwyl ek vir die derde keer in die gevangenis was. Sy het gereeld die vergaderinge van Jehovah se Getuies saam met my vrou bygewoon. Aangesien die briewe van my gesin my enigste bron van vertroosting was, het ek belowe om te doen wat sy gevra het.
‘Waarom lei ek ’n misdadige lewe wat my van my gesin wegneem?’ het ek gedink. Ek het teruggedink aan die dae toe ek nog baie jonk was. My pa is dood toe ek maar net 18 maande oud was, en daarom onthou ek nie eens sy gesig nie. My ma is daarna twee keer getroud. Hierdie gesinsomstandighede het my diep geraak, en op hoërskool het ek met bendelede begin omgaan. Ek het gewelddadig geword en dikwels by gevegte buite die skool betrokke geraak. Gedurende my tweede jaar op hoërskool het ek ’n groep leerlinge georganiseer om teen ’n ander groep te baklei. Ek is as gevolg daarvan gearresteer en vir ’n ruk na ’n verbeteringskool gestuur.
Ek was soos ’n bal wat op ’n afdraande pad na ’n lewe van geweld rol. Weldra het ek ’n bende jeugmisdadigers gevorm, en ons het naby die kantoor van ’n jakoeza-groep rondgehang. Toe ek 18 was, het ek ’n volwaardige lid van daardie groep geword. Toe ek 20 was, is ek weens verskeie gewelddade gearresteer en tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Ek het eers straf in die Nara-jeuggevangenis uitgedien, maar my gedrag het nie verbeter nie. Ek is dus na ’n ander gevangenis gestuur, ’n gevangenis vir volwassenes. Maar ek het verder versleg en het op die ou end in Kioto beland in ’n gevangenis vir geharde misdadigers.
‘Waarom hou ek aan om sulke misdade te pleeg?’ het ek my afgevra. Wanneer ek terugkyk, besef ek dat dit weens my dwase redenasies was. Destyds het ek gedink dat sulke gedrag macho was, ’n bewys van my manlikheid. Toe ek op 25-jarige ouderdom uit die gevangenis vrygelaat is, het medebendelede na my opgesien. Nou was die weg vir my oop om opgang in die misdaadwêreld te maak.
My gesin se reaksies
Ek is om en by daardie tyd getroud, en kort voor lank het ek en my vrou twee dogters gehad. My lewe het egter nie verander nie. As ek nie by my huis was nie, was ek by die polisie—ek het mense aangerand en hulle afgepers. Elke voorval het my gehelp om die respek van my medebendelede en die vertroue van die baas te wen. Uiteindelik het my ouer jakoeza-“broer” die hoogste posisie in die bende bereik en die baas geword. Ek was verheug om die onderleier te wees.
‘Hoe voel my vrou en dogters oor my lewenswyse?’ het ek gedink. Dit moes vir hulle ’n verleentheid gewees het om ’n man en ’n pa te hê wat ’n misdadiger is. Ek is weer op 30-jarige ouderdom gevange geneem en weer toe ek 32 was. Hierdie keer was die straftyd van drie jaar vir my baie moeilik. My dogters is nie toegelaat om my te kom besoek nie. Ek het dit gemis om met hulle te praat en hulle ’n drukkie te gee.
Omtrent dieselfde tyd wat ek my laaste straftyd begin uitdien het, het my vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Dag ná dag het sy vir my geskryf oor die waarheid wat sy geleer het. ‘Wat is hierdie waarheid waarvan my vrou praat?’ het ek gewonder. Ek het die hele Bybel deurgelees terwyl ek in die gevangenis was. Ek het nagedink oor wat my vrou in haar briewe aangaande ’n hoop vir die toekoms en oor God se voorneme gesê het.
Ek het gehou van die hoop dat mense vir ewig in die Paradys op aarde kan lewe, aangesien ek regtig bang was vir die dood. Ek het altyd gedink: ‘As ’n mens doodgaan, is jy ’n verloorder.’ Wanneer ek terugkyk, besef ek dat dit vrees vir die dood was wat my aangedryf het om ander seer te maak voordat hulle my kon seermaak. My vrou se briewe het my ook laat insien hoe leeg my doelwit was om die hoogste sport in die bendewêreld te bereik.
Ek is nogtans nie beweeg om die waarheid te bestudeer nie. My vrou het haar aan Jehovah toegewy en een van sy gedoopte Getuies geword. Hoewel ek in my brief ingestem het om na hulle vergaderinge toe te gaan, het ek nie daaraan gedink om een van Jehovah se Getuies te word nie. Dit het vir my gevoel asof my vrou en dogters ver van my af weggegaan en my agtergelaat het.
Ek kom uit die gevangenis
Die dag van my vrylating het uiteindelik aangebreek. By die hek van die Nagoja-gevangenis het talle bendelede tougestaan om my te verwelkom. In die groot skare mense het ek egter net na my vrou en my dogters gesoek. Toe ek my dogters sien, wat in drie en ’n half jaar heelwat gegroei het, het ek begin huil.
Twee dae nadat ek huis toe is, het ek my belofte aan my jongste dogter nagekom en ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon. Die opgewekte gesindheid van almal wat teenwoordig was, het my verbaas. Die Getuies het my hartlik verwelkom, maar ek het nie op my gemak gevoel nie. Toe ek later uitvind dat diegene wat my gegroet het bewus was van my agtergrond as ’n misdadiger, was ek verward. Ek het egter hulle hartlikheid aangevoel en is geboei deur die Bybeltoespraak wat gehou is. Dit het gehandel oor hoe mense vir ewig in die Paradys op aarde kan lewe.
Die gedagte dat my vrou en dogters tot in die Paradys behoue sou bly en dat ek vernietig sou word, het my baie ontstel. Ek het ernstig nagedink oor wat ek sou moes doen om vir ewig saam met my gesin te lewe. Ek het dit begin oorweeg om van my lewe as ’n bendelid weg te breek, en ek het die Bybel begin bestudeer.
Ek breek weg van my lewe as ’n misdadiger
Ek het opgehou om bendevergaderinge by te woon en het nie meer met die jakoeza omgegaan nie. Dit was nie maklik om my denkwyse te verander nie. Ek het met ’n groot ingevoerde motor rondgery, net vir die genot—dit het my ego gestreel. Dit het my drie jaar geneem om my motor vir ’n beskeie model in te ruil. Ek was ook geneig om altyd ’n maklike uitweg te soek. Namate ek egter die waarheid geleer het, kon ek sien dat ek moes verander. Maar dit is soos Jeremia 17:9 sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit.” Ek het geweet wat reg is, maar dit was moeilik om toe te pas wat ek geleer het. Die probleme waarvoor ek te staan gekom het, het soos ’n groot berg gelyk. Ek het bekommerd geraak, en menige keer het ek daaraan gedink om die studie te staak en af te sien van die idee om een van Jehovah se Getuies te word.
Toe het my Bybelstudiehouer ’n reisende opsiener met ’n soortgelyke agtergrond as myne genooi om ’n openbare toespraak in ons gemeente te hou. Hy het die hele ent van Akita af, 650 kilometer daarvandaan, na Soezoeka toe gekom om my aan te moedig. Sedertdien het ek, nes ek moeg geword het en daaraan gedink het om tou op te gooi, telkens ’n brief van hom ontvang waarin hy my gevra het of ek trou op die weg van die Here wandel.
Ek het aanhou bid tot Jehovah om my te help om al my bande met die jakoeza te verbreek. Ek was vol vertroue dat Jehovah my gebed sou verhoor. In April 1987 het ek uiteindelik daarin geslaag om my aan die jakoeza-organisasie te onttrek. Aangesien my eie sakeonderneming my elke maand oorsee, weg van my gesin, geneem het, het ek van werk verander en ’n skoonmaker geword. Dit het beteken dat my middae vry was vir geestelike bedrywighede. Ek het vir die eerste keer ’n salariskoevert ontvang. Dit was maar min, maar dit het my baie gelukkig gemaak.
Toe ek die onderleier in ’n jakoeza-organisasie was, was ek materieel goed daaraan toe, maar nou het ek geestelike rykdom wat nie sal vergaan nie. Ek ken Jehovah. Ek ken sy voornemens. Ek het beginsels waarvolgens ek moet lewe. Ek het ware vriende wat omgee. In die jakoeza-wêreld was bendelede op die oog af besorg, maar geen jakoeza wat ek geken het, nie eers een nie, sou sy lewe vir ’n ander gee nie.
In Augustus 1988 het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer, en die volgende maand het ek ten minste 60 uur per maand daaraan begin bestee om ander te vertel van die goeie nuus wat my lewe verander het. Ek dien sedert Maart 1989 as ’n voltydse bedienaar en het nou die voorreg om as ’n bedieningskneg in die gemeente te dien.
Ek kon van die meeste van die oorblyfsels van my jakoeza-lewe ontslae raak. Maar daar is een wat oorgebly het. Dit is die tatoeëermerk op my liggaam wat my, sowel as my gesin en ander, aan my jakoeza-verlede herinner. My oudste dogter het eendag in trane van die skool af gekom en gesê dat sy nie meer skool toe wou gaan nie omdat haar vriende vir haar gesê het dat ek ’n jakoeza is en tatoeëermerke het. Ek kon die saak met my dogters uitpraat en hulle verstaan nou die situasie. Ek sien uit na die dag wanneer die aarde ’n paradys gaan wees en my vlees “fris van jeugdige krag” sal word. Dan sal my tatoeëermerke en die herinneringe aan 20 jaar as ’n jakoeza iets van die verlede wees (Job 33:25; Openbaring 21:4).—Soos vertel deur Jasoeo Kataoka.
[Prent op bladsy 11]
Ek sien uit na die dag wanneer my tatoeëermerke uitgewis sal wees
[Prent op bladsy 13]
Saam met my gesin by die Koninkryksaal