Waarom floreer georganiseerde misdaad?
AL CAPONE, die berugte bendelid uit Amerika se Drankverbod-era (1920-33), het beweer dat hy net ’n sakeman was wat in die behoeftes van die wet voorsien het—die wet van vraag en aanbod. ’n Regsgeleerde vir die grootste jakoeza-sindikaat in Japan het gesê: “’n Mens kan nie ontken dat daar ’n groot aanvraag na [seks, dwelms en dobbelary] is nie.” Hierdie aanvraag bring georganiseerde misdaad voort. Hoewel niemand ’n slagoffer van misdaad wil wees nie, wend party mense hulle tot misdaadorganisasies en maak van hulle dienste gebruik.
Neem byvoorbeeld die beskermingskemas wat deur bendelede in baie lande gebruik word as ’n bron van inkomste. Hoewel hulle soms eerlike winkeleienaars die teiken maak, buit hulle gewoonlik dié uit wat verdagte sakeondernemings bedryf. Die eienaar van ’n casino in Sjinjoekoe, Tokio, wat onder die dekmantel van ’n video-arkade sake doen, het gesê: “’n Klerk is met ’n mes gesteek en van 2 miljoen [jen (R93-500)] beroof. Maar ons wou nie die polisie ontbied nie.” Waarom nie? “Aangesien ons met onwettige bedrywighede (dobbelary) besig is, wil ons niks met die polisie te doen hê nie. Wanneer ’n klant in ons winkel handuit ruk, laat ons die jakoeza kom.” Die eienaar van hierdie casino betaal R19 000 per maand aan die jakoeza, wat maar min is in vergelyking met die R1401 000 wins wat hy gedurende daardie selfde tyd uit sy onwettige bedrywighede maak. Waar kom hierdie geld vandaan? Uit die sakke van diegene wat dit geniet om onwettig te dobbel.
Dieselfde geld vir eerbare sakeondernemings wat probleme wil vermy. ’n Gesaghebbende in New York het geraam dat ’n verfkontrakteur wat R70 miljoen per jaar verdien R17,7 miljoen bespaar het deur omkoopgeld aan bendelede te betaal. Dit het die kontrakteur in staat gestel om goedkoop arbeid te gebruik en probleme te vermy met die vakbond wat deur die bende beheer word. In Japan het kapitaliste, gedurende ’n ekonomiese bloeityd, hulle geld in eiendomme gestort en ou huise en winkels gesloop om plek te maak vir indrukwekkende geboue. Wanneer inwoners nie wou uittrek of hulle grond wou verkoop nie, het beleggers die jiageia, meestal maatskappye wat bande met die jakoeza het, ingeroep om hulle uit te sit.
Toe die jakoeza gesien het hoe maklik dit was om gedurende die tagtigerjare geld te leen en te maak, het hulle maatskappye gestig en inderhaas tot die eiendoms- en aandelemark toegetree. Banke en finansiële instellings het geld in hierdie maatskappye gestort, klaarblyklik ywerig om self ’n wins te maak. Maar toe die seepbel uiteindelik gebars het, het die banke dit baie moeilik gevind om hulle geld terug te kry. ’n Voormalige polisiebeampte wat oor die langdurige resessie in Japan gepraat het, het in Newsweek gesê: “Die werklike rede waarom die probleem van onbetaalde lenings nie vinnig opgelos kan word nie, is omdat ’n aansienlike deel daarvan met georganiseerde misdaad verband hou.”
Ja, georganiseerde misdaad skiet wortel en floreer waar mense gretig is om hulle drange te bevredig, en nie omgee hoe hulle dit doen nie. Die begeerte na plesier, seks en geld voorsien ’n teelaarde vir dwelmhandel, prostitusie, dobbelary en geldskietery. Betrokkenheid by sulke bedrywighede beteken gewoonlik dat jy die bende ryk maak. Hoe waar is dit tog dat georganiseerde misdaad aan die wense voldoen van diegene wat daarop uit is om hulle eie vleeslike begeertes te bevredig!
Sogenaamde familiestelsel
Benewens die vraag na onwettige bedrywighede is daar vandag ook ’n ander behoefte waarop georganiseerde misdaad floreer. Die gewese hoof van een van die grootste jakoeza-sindikate in Japan het volgehou dat hy die misdadigers ingeneem en vir hulle gesorg het en sodoende voorkom het dat hulle sleg word. Hy het beweer dat hy ’n vader vir die bendelede was. Die meeste misdaadsindikate, ongeag hulle nasionaliteit, bou hulle organisasies op sulke sogenaamde familiebande.
Neem byvoorbeeld Tsji Soen,a wat uit ’n arm gesin in Hongkong gekom het. Sy vader het hom dikwels verskriklik geslaan oor onbenullighede. Die jong Tsji Soen het opstandig geraak en het op die ou end by die berugte Triades aangesluit toe hy 12 jaar oud was. In die misdaadorganisasie het hy ’n plek gevind waar hy gevoel het hy “hoort”. As gevolg van sy onverskrokkenheid in gewapende gevegte is hy spoedig bevorder tot ’n posisie waar ’n hele paar mans aan hom ondergeskik was. Eindelik is hy tronk toe gestuur, toe hy net 17 jaar oud was.
Baie mense soos Tsji Soen wend hulle tot misdaadorganisasies om die familieband te vind wat daar nie by die huis was nie. Die lede beweer dat hulle omgee, maar die jongeres word dikwels teleurgestel wanneer hulle uitvind dat elke lid hoofsaaklik in homself belangstel.
Engel van lig
Toe die grootste misdaadsindikaat in Japan in 1992 onder ’n nuwe antibendewet as ’n gewelddadige groep bestempel is, het een van die leiers volgehou dat die groep hulleself as “ridderlik” beskou en dat hulle teen die bose stry. Toe die verskriklike aardbewing Kobe in 1995 getref het, het dieselfde bende voedsel, water en ander noodvoorraad aan hulle bure uitgedeel. “Sulke vrygewigheid”, het die Asahi Evening News berig, “gaan beslis die jakoeza se blywende beeld in Japan versterk as misdadigers wat eer verdien.”
Hoofde van misdaadorganisasies het al dikwels probeer om die skyn van welwillendheid te bewaar. Pablo Escobar, die berugte hoof van Colombia se Medellín-dwelmkartel, was vir die krotbewoners van sy stad “’n mitiese figuur—deels Messias, deels Robin Hood, deels Godfather in die feitlik feodale sin van die patrón, die baas”, het Ana Carrigan in Newsweek geskryf. Hy het skaatsbane vir kinders en ordentlike huise vir die armes gebou en ook vir straatkinders werk gegee. Hy was ’n held vir diegene wat by sy gunste en gawes baat gevind het.
Misdadigers wat skynbaar veilig agter hulle sindikate skuil, is egter net pionne van ’n universele meestermisdadiger. Dit Bybel sê vir ons wie dit is. “Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander. Dit is dus niks besonders as sy bedienaars ook aanhou om hulleself in bedienaars van regverdigheid te verander nie. Maar hulle einde sal volgens hulle werke wees” (2 Korintiërs 11:14, 15). Vandag glo die meeste mense nie dat Satan ’n werklike persoon is nie. ’n Negentiende-eeuse Franse digter het gesê: “Die Duiwel se slimste set is om jou daarvan te oortuig dat hy nie bestaan nie.” Hy skuil agter die skerms en manipuleer wat aangaan, nie net in misdaadsindikate nie, maar regoor die wêreld. “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, verduidelik die Bybel. Jesus het Satan beskryf as “’n mensemoordenaar toe hy begin het, . . . ’n leuenaar en die vader van die leuen”.—1 Johannes 5:19; Johannes 8:44.
Bybelprofesieë onthul dat Satan die Duiwel sedert 1914 besonder bedrywig is. Sedert daardie jaar mobiliseer hy sy magte in ’n hewige oorlog teen God se volk. Hy is besig om die mensdom in ’n maalkolk van chaos in te trek. Hy is die hoofrede waarom misdaad en misdaadorganisasies vandag floreer.—Openbaring 12:9-12.
Sal die meesterbrein agter die wêreld se misdaadorganisasies ooit uit die weg geruim word? Sal die mensdom ooit vrede en orde geniet? Kan jy wegbreek van die bose ryk wat Satan vandag op die aarde opgebou het?
[Voetnoot]
a Van die name is verander ter wille van die betrokkenes se veiligheid.
[Venster op bladsy 7]
Hoe om jou gesin te beskerm
’N GEBREK aan ’n warm, verenigde gesinsatmosfeer kan jongmense ’n maklike prooi vir misdaadsindikate maak. In die Verenigde State kom die meeste van die jongmense wat by bendemoorde betrokke raak na bewering uit mindergegoede of gebroke gesinne. “Omdat hulle minderbevoorreg is”, sê ’n amptenaar van ’n verbeteringskool in Noord-Carolina, “word hulle maklik getref deur die sterk band tussen die baas en die handlangers en die gevoel van eenheid as ’n lid van ’n organisasie, wat hulle vir die eerste keer in hulle lewe ervaar.”
’n Jong jakoeza in die Ooste wat bereid is om ’n lewende skild vir sy baas te wees, sê iets soortgelyks: “By die huis was ek altyd alleen. Hoewel ons ’n gesin was, het ek nooit gevoel dat ons ’n openhartige gesprek kon hê nie. . . . Maar nou kan ek openhartig met die ouens gesels.” Eensame jongmense is dankbaar teenoor lede van ’n misdaadorganisasie wat hulle by ’n stelsel betrek wat soos ’n familie is.
“Die jakoeza-mense is baie, baie liefdevol”, sê die leier van ’n groep meisies wat motorfietsryers in Okinawa is. “Dit is miskien hulle slenter; maar, jy sien, aangesien ons nog nooit met teerheid behandel is nie, tref dit ons.” Die superintendent van ’n instelling vir meisies wat misdade gepleeg het, bevestig dat bendelede “baie bedrewe daarin is om meisies se harte te steel”. Wanneer eensame meisies hulle in die middel van die nag bel, haas bendelede na hulle toe en luister na wat hulle te sê het, sonder om noodwendig enige seksuele toenadering te soek.
Hulle liefdevolle gesindheid duur net totdat hulle die jongmense op wie hulle aas heeltemal vasgevang het. Sodra die jongmense verstrik is, word hulle uitgebuit—meisies in prostitusienetwerke en seuns in die misdaadorganisasie.
Hoe kan jy jou geliefdes beskerm?
“Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie”, vermaan die Bybel (Kolossense 3:21). Dit moedig ouers nie aan om toegeeflik te wees nie. ’n Bybelspreuk sê: “’n Seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande” (Spreuke 29:15). Die Bybel moedig vaders—en ook moeders—eerder aan om redelik te wees in hulle handelinge met hulle kinders, om na hulle te luister en die kommunikasiekanaal met hulle oop te hou. Dan sal die kinders vry voel om hulle ouers in hulle vertroue te neem wanneer hulle probleme ondervind.
Benewens openhartige kommunikasie moet ouers vir hulle kinders standaarde in die lewe stel. Waar kan ’n vader sulke riglyne vind? Die Bybel sê: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Neem die tyd om die Bybel met jou kinders te bespreek deur middel van ’n gesinsbybelstudie. En skerp ’n gesonde vrees vir Jehovah in hulle hart in sodat hulle altyd Jehovah se leiding tot hulle eie voordeel sal volg.—Jesaja 48:17, vgl. NW.