’n Wêreld sonder misdaad—Hoe?
DIE stryd teen georganiseerde misdaad is wêreldwyd aan die gang. “Daar is in ’n baie kort tydjie merkwaardige vooruitgang teen die Mafia gemaak”, het die U.S.News & World Report gesê, “wat hoofsaaklik te danke is aan een wet, die Wet op Afperser- en Verdorwe Organisasies, of RICO.” Dit maak voorsiening vir die skuldigbevinding van misdaadorganisasies op grond van ’n patroon van afpersbedrywighede, nie net individuele dade nie. Dít, tesame met inligting wat ingewin is deur middel van afluisterapparate en by bendelede wat in ruil vir versagting informante geword het, het tot die sukses van die stryd teen die Mafia in die Verenigde State bygedra.
Ook in Italië straf die owerhede die bendes swaar. In gebiede soos Sisilië, Sardinië en Kalabrië, waar georganiseerde misdaad erg is, is weermageenhede uitgestuur om openbare geboue en belangrike gebiede te patrolleer om aanvalle deur misdadigers te voorkom. Die regering beskou dit in dieselfde lig as ’n burgeroorlog. Met berugte hoofde van misdaadsindikate agter tralies en ’n voormalige eerste minister wat weens sy beweerde bande met die Mafia aangekla is, is Italië besig om resultate te behaal.
In Japan het die regering die jakoeza onder strenge beperking geplaas toe hulle op 1 Maart 1992 die Wet teen Georganiseerde Misdaad in werking gestel het. Wanneer ’n organisasie kragtens hierdie wet as ’n bende-organisasie bestempel word, is daar 11 dade van gewelddadige dwang waaraan dié organisasie hom nie skuldig mag maak nie, waaronder die eis van omkoopgeld, deelname aan beskermingskemas en inmenging in die beslegting van geskille vir betaling. Die regering beoog om deur die toepassing van hierdie wet alle bronne van bendes se inkomste af te sny. Die wet het misdaadorganisasies swaar getref. Sommige groepe het ontbind, en ’n misdaadbaas het selfmoord gepleeg—blykbaar as gevolg van die streng toepassing van die wet.
Regerings en wetstoepassingsinstansies stry inderdaad hard teen georganiseerde misdaad. Die Mainichi Daily News het nogtans, in ’n berig oor ’n konferensie van regters en polisiebeamptes van oor die hele wêreld wat in 1994 gehou is, gesê: “Georganiseerde misdaad word in feitlik alle wêrelddele sterker en ryker en het ’n jaarlikse inkomste van tot 1 biljoen dollar [4,67 biljoen rand].” Ongelukkig is mensepogings om misdaadsindikate uit te delg, beperk. Een rede hiervoor is dat beregting in baie gevalle nie summier geskied en nie onfeilbaar is nie. Vir baie mense lyk dit of die wette dikwels die misdadiger begunstig, nie die slagoffer nie. Die Bybel het ongeveer 3000 jaar gelede gesê: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen.”—Prediker 8:11.
Hoe om uit misdaadorganisasies te kom
Behalwe dat regerings van buite af op georganiseerde misdaad toeslaan, het hulle al probeer om mense in die misdaadsindikate te help om uit te kom. So ’n stap is nie maklik nie. “Die enigste manier om die Mafia te verlaat, is in ’n doodskis”, lui ’n ou gesegde. Wanneer ’n bendelid die jakoeza-organisasie wil verlaat, word daar van hom verwag om ’n groot bedrag geld te betaal of om sy pinkie of ’n deel daarvan te laat afsny. Benewens die vrees wat daarmee gepaardgaan om bande met die onderwêreld te verbreek, moet ’n voormalige bendelid ook nog die werklikheid van ’n eerlike lewenswyse onder die oë sien. Sy werksaansoeke sal dikwels afgekeur word. In sommige lande is daar egter polisietelefoondienste om bendelede te help wat probeer wegbreek en wat sukkel om ’n goeie werk te kry.
’n Bendelid het sterk motivering nodig om druk van die bendefamilie en die vooroordeel van die gemeenskap die hoof te bied en ’n eerlike lewe te begin lei. Wat kan hom beweeg om dit te doen? Dit kan liefde vir sy gesin wees, ’n verlange na ’n vreedsame lewe of ’n begeerte om te doen wat reg is. Die sterkste beweegrede word egter goed toegelig deur die verhaal van Jasoeo Kataoka in die volgende artikel.
Jasoeo Kataoka is een van honderde mense wat hulle lewe heeltemal verander het. Die dierlike eienskappe wat hulle vroeër geopenbaar het, is vervang deur die nuwe persoonlikheid “wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:24). Mense wat soos wolwe was, woon nou vreedsaam tussen saggeaarde, skaapgeaarde burgers, en hulle help selfs ander!—Jesaja 11:6.
Breek weg van die gees van die wêreld
Soos in die vorige artikel genoem is, is dit nie net alle misdaadsindikate wat onder die een onsigbare gesag van Satan die Duiwel is nie, maar eintlik die hele wêreld. Mense besef dit nie eens nie, maar Satan het die wêreld georganiseer om sy misdadige planne te bevorder. Net soos die misdaadsindikate rykdom en sogenaamde familiestelsels voorsien, speel hy die rol van ’n welwillende meester deur mense van rykdom, plesier en ’n samehorigheidsgevoel te voorsien. Hoewel jy dit miskien nie besef nie, is jy dalk al deur sy bose planne mislei (Romeine 1:28-32). Die Bybel sê vir ons dat “vriendskap met die wêreld vyandskap met God is” (Jakobus 4:4). Dit is nie veilig om vriende te maak met hierdie wêreld wat onder sataniese invloed is nie. Die Skepper van die heelal het ’n menigte engele onder leiding van Jesus Christus wat gereed staan om Satan en sy demone gevange te neem sodat die wêreld van hulle bose invloed gereinig kan word.—Openbaring 11:18; 16:14, 16; 20:1-3.
Hoe kan jy dan onder die invloed van Satan se wêreld uitkom? Nie deur ’n kluisenaarsbestaan te voer nie, maar deur weg te breek van die gesindhede en denkpatrone wat vandag die wêreld oorheers. As jy dit wil doen, sal jy teen Satan se bangmaaktaktiek moet stry en sal jy die lokmiddels moet weerstaan wat hy gebruik om mense in sy greep te hou (Efesiërs 6:11, 12). Dit sal opofferings verg, maar as jy vasbeslote is en as jy gebruik maak van die hulp wat Jehovah se Getuies aanbied, kan jy wegbreek net soos ander al gedoen het.
Wat sal gebeur nadat God hierdie chaotiese wêreld van misdaad gereinig het? “Die nageslag van die goddelose word uitgeroei”, sê die Bybel, en dit gaan voort: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:28, 29). Dan sal daar geen rede wees om bang te wees vir diegene wat dierlike eienskappe gehad het nie, want hulle sal verander wees deur “die kennis van Jehovah”, wat die hele aarde sal oordek.—Jesaja 11:9, NW; Esegiël 34:28.
Sulke verandering is vandag reeds ’n werklikheid, soos die volgende lewensverhaal van ’n voormalige jakoeza-lid in Japan toon.
[Prent op bladsy 10]
In God se nuwe wêreld sal almal die werk van hulle hande geniet