Klein ligdraertjies van Nieu-seeland
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIEU-SEELAND
DIE nag was stikdonker—maanloos en helder. Toe die kamp se ligte uitgaan, het dit gelyk of ons in ’n heelal vol helder sterre is. Ons het teen ’n steil paadjie afgestap na ’n warm bron onder in ’n smal kloof. Aan weerskante van die stomende water het plante gegroei. Ons het ná ’n lang dag se reis in die water ontspan. Hierdie poel, met warm water wat vanself uit die grond uitborrel, was by ons oornagverblyf in ’n karavaanpark.
Ek het gekyk hoe ’n ster vinnig deur die lug beweeg. Ek het omgedraai om my vrou daarvan te vertel, en met die omdraai het ek gestruikel en ’n harde geplons veroorsaak. Tot my verbasing het etlike sterre skielik doodgegaan—weggeraak! En toe ek my verbasing uitspreek, het ’n hele hoop van hulle verdwyn. Dit het gelyk of ek ’n gat in die heelal veroorsaak het!
Terwyl ek probeer het om uit te pluis wat gebeur het, het die sterre weer een vir een begin verskyn, en ek het nou gesien dat die een hoop baie nader aan my was as die hoofgroep sterre. Om die waarheid te sê, party was naby genoeg om aan te raak. Ons het vir die eerste keer met Nieu-Seelandse glimwurms kennis gemaak. Hulle het aan die onsigbare muur van plante bo ons gehang, en hulle sagte liggies het met die sterre op die agtergrond saamgesmelt.
Die Nieu-Seelandse glimwurm is nie ’n wurm nie, maar ’n insek. Hy verskil van glimwurms en vuurvliegies in ander wêrelddele. Sy naam Arachnocampa luminosa laat jou dalk dink dat hy ’n soort liggewende spinnekop is. Maar dit is ook nie die geval nie.
Nie lank ná ons eerste ontmoeting nie het ons weer glimwurms raakgeloop, by die Waitomo-grotte op Nieu-Seeland se Noord-eiland. Laat ek ons reis na die glimwurmgrot beskryf, waar ons per boot na hierdie klein diertjies gaan kyk het.
Waitomo-grot
Die Glimwurm-grot is ’n wonder; pragtig verlig om die luisterryke kunstigheid te toon van die stalaktiet- en stalagmietformasies, wat oor etlike duisende jare gevorm is. Ons gids het ligte aangeskakel wanneer ons elke area genader het, en ons het verstom gestaan oor die fassinerende formasies en tonnels—’n onverwagte en vreemde ondergrondse wêreld vol wonders. Ons voetstappe het onheilspellend weerklink toe ons bymekaargekom het aan die bopunt van ’n trap wat in die donkerte afgedaal het. Namate ons oë aan die donker gewoond geraak het, het ons klein straaltjies groenerige lig hoog bo ons begin sien. Die glimwurms!
Ons het ’n aanlêplek bereik en in ’n boot geklim. Ons het van die aanlêplek af wegbeweeg en die donker ingevaar. En net toe ons om ’n draai gaan, het iets wat ek net as ’n saamgeperste weergawe van die hele Melkweg kan beskryf bo ons verskyn—die dak van die grot was geheel en al met glimwurms bedek. Die skrywer George Bernard Shaw het hierdie plek “die agtste wonder van die wêreld” genoem.
Die fassinerende glimwurm
Aan die einde van die toer het ons verwondering oor die glimwurm ons aangespoor om meer oor hom te leer. En wat ons geleer het, was net so fassinerend as was ons gesien het. Die Nieu-Seelandse glimwurm, wat sy lewe as ’n klein larwetjie begin, met sy stertliggie reeds aangeskakel, bou ’n hangmat van slym en sy wat deur afsonderlike kliere in sy mond afgeskei word en heg dit aan die dak van ’n grot vas. Die hangmat is eintlik ’n tonnel waarin die larwe heen en weer kan beweeg.
Die glimwurm het voedsel nodig om aan die lewe te bly, en daarom vang hy ses tot nege maande lank vis. Maar sy vangs is in die lug, hoewel dit via die water kom. Die stroom is nodig om ’n voorraad muggies, muskiete, steenvlieë en eendagsvlieë, wat deur lig aangetrek word, nader te lok. Om hulle te kan vang, laat die glimwurm ’n klomp syagtige lyne (soms tot 70) van sy hangmat afhang. Aan elke lyn is daar ’n ry eweredig gespasieerde druppels taai slym, wat die lyne laat lyk soos stringetjies pêrels wat regaf hang.
Die fassinerendste deel van die glimwurm is die lig waarmee hy die vislyne verlig. Die Nieu-Seelandse glimwurm is een van ’n groep insekte wie se lig nie met die senustelsel verbind is nie. Tog kan hy die lig na willekeur afskakel. Die ligorgaan is aan die punt van die uitskeidingsbuise geleë, en deel van die larwe se asemhalingstelsel dien as ’n weerkaatser, wat die lig afwaarts stuur. Hy skakel die lig af deur die suurstof of die chemikalieë wat nodig is om die lig voort te bring te beperk.
Maar die lig aan die einde van die glimwurmtonnel is nie die veelbelowende teken wat ’n insek verwag nie. Hy vlieg in die dodelike gordyn vas, waar ’n chemikalie hom na bewering geleidelik verdoof. Wanneer die larwe die vibrasies van die spartelende slagoffer voel, hang hy op waaghalsige wyse uit sy hangmat uit en trek die lyn in sy mond op deur middel van sametrekkings van sy lyf.
Nadat die larwe ses tot nege maande lank visgevang en geëet het, verander hy in ’n papie en geniet dan die lewe as ’n volwassene. Of die volwasse vlieg werklik veel van die lewe geniet, is te betwyfel. Hy sal net twee of drie dae lewe, aangesien die volwasse vlieg nie ’n mond het nie en dus nie kan eet nie. Die res van sy bestaan word aan voortplanting gewy. Volwasse mannetjiesvlieë bevrug die wyfies sodra hulle uit hulle kokonne breek. Dit kan die wyfie ’n hele dag neem om haar eiers, een vir een, te lê, en daarna gaan sy dood. Nadat hulle bygedra het tot die vonkelende sterrestelsel wat soveel genot aan mense verskaf, is die klein Nieu-Seelandse ligdraertjie se lewensiklus van 10 tot 11 maande verby.
[Prent op bladsy 16]
Teenoorstaande bladsy: Ons gaan die glimwurmgrot binne
[Prent op bladsy 17]
Bo: Die dak van die grot met ’n ligvertoning deur glimwurms
[Prent op bladsy 17]
Regs: Glimwurms se vislyne
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Prente op bladsye 16-17: Waitomo Caves Museum Society Inc.