Ons is onafskeidbare vriende
TRACY is my gidshond, ’n tien jaar oue swart Labrador. Met haar hulp kom ek heel goed oor die weg. Sy voorsien my ook van kameraadskap en vertroosting. Dit is dus geen wonder dat ek baie lief vir haar geword het en dat ons onafskeidbare vriende is nie.
Partykeer skiet mense onopsetlik te kort op ’n manier wat Tracy nooit te kort skiet nie. Eendag het ek byvoorbeeld vir Tracy by die huis gelos en saam met ’n vriendin gaan stap. Ons was lekker aan die gesels toe ek skielik val. My vriendin het vergeet dat ek blind is, en sy het my nie gewaarsku dat daar ’n randsteen is nie. Dit sou nie gebeur het as Tracy daar was nie.
Eenkeer het Tracy selfs my lewe gered. Ek het met ’n straat af geloop toe ’n vragmotor skielik buite beheer in my rigting begin swenk het. Ek het sy enjin gehoor, maar kon natuurlik nie sien waarop dit afstuur nie. Tracy het die gevaar gesien en begryp en my gou na veiligheid getrek.
Ek is blind, en tog sien ek
Ek is in 1944 in die suide van Swede gebore en is blind sedert my geboorte. Ek is na ’n kosskool vir blinde kinders gestuur, waar ek braille geleer lees en skryf het. Musiek het ’n belangrike deel van my lewe geword, veral om die klavier te speel. Nadat ek my skoolopleiding voltooi het, het ek my studie in tale en musiek aan die Universiteit van Gotenburg voortgesit.
My lewe het egter vir altyd verander toe twee van Jehovah se Getuies op die universiteitskampus aan my deur geklop het. Kort voor lank het ek die vergaderinge van die Getuies begin bywoon en selfs vir ander begin vertel wat ek geleer het. In 1977 het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. Hoewel ek fisies blind is, het ek deur ’n studie van God se Woord iets van ongeëwenaarde waarde ontvang—geestelike gesigsvermoë.
Vandag beskou ek myself baie beter daaraan toe as diegene wat fisies kan sien, maar geestelik blind is. (Vergelyk Johannes 9:39-41.) Ek is verheug om ’n duidelike geestesbeeld van God se nuwe wêreld te hê, waar, volgens sy belofte, die oë van die blindes sal sien—ja, waar alle liggaamsgebreke genees sal word en waar selfs die dooies opgewek sal word!—Psalm 146:8; Jesaja 35:5, 6; Handelinge 24:15.
Al is ek ongetroud en fisies blind, kom ek heel goed klaar met Tracy as my lojale metgesel. Laat my toe om te vertel hoe sy my help om my sekulêre werk te doen en my bediening as een van Jehovah se Getuies uit te voer (Matteus 24:14; Handelinge 20:20; Hebreërs 10:25). Maar eers, ’n bietjie meer oor Tracy self.
Uitgekies vir spesiale afrigting
Toe Tracy maar agt maande oud was, is sy getoets om te kyk of sy as ’n gidshond sou kwalifiseer. Sy was kalm, maklik om af te rig en het nie maklik vir skielike harde geluide geskrik nie. Daarna is sy dus ’n tyd lank saam met ’n gesin geplaas om normale gesinslewe te ervaar. Later, toe sy groot genoeg was, is sy na ’n afrigtingskool vir gidshonde gestuur.
By hierdie skool het Tracy geleer om te doen wat van ’n gidshond vereis word, naamlik om haar toekomstige eienaar te help om deure, trappe, hekke en paadjies te vind. Sy het ook geleer hoe om op besige sypaadjies te loop en hoe om strate oor te steek. Sy is ook geleer om by die randsteen stil te staan, verkeerstekens te gehoorsaam en van gevaarlike hindernisse weg te draai. Ná ongeveer vyf maande van afrigting was sy gereed om te werk. Dit is toe dat Tracy na my toe gebring is.
Wat Tracy vir my doen
Elke oggend kry Tracy my uit die bed sodat ek haar kos kan gee. Dan maak ons klaar vir werk. My kantoor is ongeveer 20 minute se loop van ons woonstel af. Ek ken natuurlik die pad, maar Tracy se werk is om my te help om daar uit te kom sonder om in motors, mense, lamppale of iets anders vas te loop. Wanneer ons daar aankom, gaan lê sy onder my lessenaar. Dan, gedurende my etenstyd, gaan stap ek gewoonlik met haar.
Saans, nadat ons van die werk af tuisgekom het, begin die beste deel van ons dag. Dit is wanneer Tracy my in die huis-tot-huis-predikingswerk lei en my na die huise neem waar ek Bybelstudies hou. Baie mense is vriendelik teenoor haar en streel en omhels haar, en soms gee hulle my ’n lekker happie vir haar. Ons woon ook elke week die Christelike vergaderinge by. Ná die vergaderinge hou die kinders daarvan om Tracy te groet en te omhels tot haar groot vreugde.
Ek weet dat Tracy net ’n hond is en dat sy eendag sal doodgaan. Dit beteken dat ek uiteindelik ’n ander gidshond sal moet kry. Maar vir eers is ons ’n span, en ons het mekaar nodig. Wanneer Tracy nie by my is nie, word ek taamlik onseker van myself, en sy word senuweeagtig en rusteloos wanneer sy my nie kan lei nie.
’n Behoefte aan begrip
Dit is verbasend dat mense ons soms probeer skei. Hulle beskou Tracy as net ’n gewone hond of troeteldier en verstaan nie ons hegte verhouding nie. Hierdie mense moet verstaan dat Tracy vir my is wat ’n rystoel vir ’n verlamde is. Om ons te skei, is soos om my oë weg te neem.
Hoe beter mense die verhouding tussen my en Tracy verstaan, hoe minder probleme sal daar wees. ’n Rystoel word byvoorbeeld maklik aanvaar, maar ’n gidshond, ongelukkig nie altyd so maklik nie. Party mense is bang vir honde of hulle hou net nie van hulle nie.
Die inligting in ’n voublad oor gidshonde, wat uitgegee is deur die Sweedse Vereniging vir die Blindes, is baie nuttig. Dit sê: “Die gidshond is ’n bewegende hulp vir die blinde. Ja, meer as dit. Dit is ’n lewende hulp. . . . Dit is ’n vriend wat jou nooit in die steek sal laat nie.”
Tracy dien in werklikheid as my oë in die donkerheid, en sy help my om ’n lewe te lei wat nou so normaal moontlik is. Tog is ek seker dat ek binnekort, in God se beloofde nuwe wêreld, al die asemrowende wonders van die skepping sal kan sien. Ek is dus vasbeslote om nou my geestelike gesigsvermoë te bewaar.
Met Tracy se kop in my skoot is ons dus nou gereed om na die opname van die jongste nommer van Die Wagtoring te luister.—Soos vertel deur Anne-Marie Evaldsson.