Rubbertapping—’n Werk wat jou lewe raak
Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië
VYFUUR in die oggend is die Nigeriese reënwoud donker en koel. In ’n kleisteenhuis in die middel van die woud word John wakker en trek hy gou sy klere aan. Dan verlaat hy sy huis en gaan hy die donker nag in met ’n lantern, ’n plastiekemmer en ’n kort mes met ’n geboë lem. Die volgende vier uur gaan hy van boom tot boom en maak hy insnydings in die bas van elke boom.
Dit is die eerste van ’n lang reeks gebeure wat uiteindelik jou lewe kan raak. Hoe so? Omdat die bome wat John sny rubberbome is. En rubber is een van ons waardevolste en mees algemeen gebruikte hulpbronne.
Duisende produkte
Dink net aan die rol wat rubber in jou lewe speel. Jou skoensole en -hakke is moontlik van rubber gemaak. Jou mat se onderkant en jou meubels bevat dalk skuimrubber. Die rek in jou klere is waarskynlik van rubber gemaak. Wanneer dit reën, trek jy dalk ’n reënjas en stewels aan wat van rubber gemaak is. Gaan jy swem? Duikpakke, duikbrille en paddavoete bevat rubber. Wil jy nie swem nie? Miskien sal jy verkies om maar net op ’n rubberlugbed rond te dryf of om met ’n rubberstrandbal te speel. In jou huis is daar moontlik rubberrekkies, rubberuitveërs en rubberlym. Wanneer jy vanaand gaan slaap, lê jy dalk op ’n matras en ’n kussing wat van rubberprodukte gemaak is. As jy koud kry, sal jy dalk ’n warmwatersak nader trek wat van rubber gemaak is.
Buiten al hierdie dinge is daar talle produkte wat beslis nie baie goed sal werk sonder rubberonderdele nie—sluitringe, dryfbande, pakstukke, buise, silinders of kleppe. Oor die algemeen het motors byvoorbeeld ongeveer 600 rubberonderdele. Volgens The World Book Encyclopedia word daar altesaam tussen 40 000 en 50 000 rubberprodukte vervaardig.
Waarom is rubber so nuttig? Dit is duursaam, hittevas, rekbaar, waterdig, lugdig en skokbrekend. Dink aan die band, of dit nou vir ’n fiets, ’n motorvoertuig of ’n vliegtuig is. Omdat dit van rubber is, verslyt ’n band nie so gou weens aanhoudende aanraking met die pad nie, en dit sal ook nie wegbrand weens die aanhoudende wrywing nie. Wanneer jy deur waterplasse ry, hoef jy nie bang te wees dat die band deurweek sal word en sal verrot nie; dit sal ook nie verweer nie. Rubber keer nie net dat water in die band kom nie, maar dit voorkom ook dat die saamgeperste lug uitlek. Wat meer is, terwyl jy voortbeweeg, help die skokbrekende vermoë van die rubber in jou bande dat jy nie die knikke in die pad voel nie. Trouens, sonder rubber sal dit vir vervaardigers baie moeilik wees om ’n band te maak.
Jy sal dus heel moontlik daarmee saamstem dat rubbertappers soos John ’n waardevolle diens lewer wat ons lewens op ’n positiewe manier raak. Nie alle rubber kom natuurlik van bome af nie. Sintetiese rubber, wat van chemikalieë vervaardig word, maak ’n groot deel van die bedryf uit. Albei soorte rubber het hulle voor- en nadele. Baie produkte kan albei soorte gebruik, en die keuse hang dikwels van die heersende pryse af. Vir ander produkte kan ’n mengsel van sintetiese en natuurlike rubber gebruik word. Die meeste motorbande bevat meer sintetiese rubber as natuurlike rubber. Maar omdat sintetiese rubber minder bestand is teen hitteopbouing, word ’n groter persentasie natuurlike rubber in die bande van renmotors, vragmotors, busse en vliegtuie gebruik.
Boomtapping
Rubberbome groei die beste in warm, nat klimaatstreke naby die ewenaar. Baie van die wêreld se natuurlike rubber kom van plantasies in Suidoos-Asië, veral Maleisië en Indonesië. Die res kom van Suid-Amerika sowel as Wes- en Sentraal-Afrika.
John tap ’n boom eers wanneer dit ongeveer ses jaar oud is. Die boom sal die daaropvolgende 25 tot 30 jaar rubber produseer en sal omtrent 20 meter hoog word. Wanneer die boom ophou om rubber te produseer, kan dit aanhou groei, tot ’n hoogte van 40 meter, en dit kan tot 100 jaar of ouer word.
Rubber wat direk van die boom kom, lyk meer na melk as na ’n motorband. Hierdie melkerige vloeistof, wat lateks genoem word, bevat klein stukkies rubber. Sowat 35 persent van die lateks is rubber. Die res is meestal water.
Om die lateks te tap, maak John ’n skuinssny in die bas. Hierdie sny gaan halfpad om die boom. Hy is versigtig dat hy nie te diep sny nie, aangesien dit die boom sal beskadig. Die lateks begin dadelik vloei ná die sny gemaak is; dit vloei al met die keep langs wat deur die sny gevorm is en loop in die bamboesbakkie in wat John aan die boom vasgemaak het. Dit vloei twee of drie uur; dan hou dit op.
’n Dag of twee daarna, wanneer John die boom weer tap, sal hy nog ’n sny net onder die eerste maak. Die volgende keer sal hy weer onder daardie een sny. Uiteindelik is ’n hele stuk van die boom se bas afgesny. Nou sal John ’n ander deel van die boom begin tap en die kaal stuk los om heeltemal te herstel sodat dit weer in die toekoms getap kan word.
John werk vinnig en beweeg alleen deur die stil woud terwyl hy die bome sny om die lateks te laat uitvloei. Later kom hy na elke boom toe terug en gooi hy die lateks wat uitgevloei het in sy emmer. Daarna gooi John mieresuur en water by die lateks. Dit laat dit verdik en stol, amper soos asyn melk laat dik word. Dan dra John die emmer lateks op sy kop na die hoofpad toe, waar dit deur ’n vragmotor van die nabygeleë rubberverwerkingsaanleg opgetel word.
John keer nou terug huis toe om te bad, te eet en te rus. In die laatmiddag, wanneer hy sy huis weer verlaat, is hy netjies aangetrek en dra hy ’n aktetas in sy hand. Hierdie keer sal hy nie van boom tot boom gaan nie, maar van huis tot huis. As ’n gewone pionierbedienaar het John ’n volle aandeel aan die predikings- en dissipelmaakwerk.
Terwyl John sy eerste Bybelstudie vir die dag hou, bereik die lateks wat hy versamel het die verwerkingsaanleg. Daar sal die rubber van die water geskei word, gedroog word en in bale saamgepers word vir verskeping. Weldra sal dit na Engeland, Japan of die Verenigde State op pad wees. Die wêreldwye rubberbedryf lewer elke jaar meer as vyfmiljoen ton rubber. Hoewel dit onwaarskynlik is, bestaan die moontlikheid dat die rubber in die sole van jou volgende paar skoene van ’n boom af sal kom wat deur John getap is.
[Prent op bladsy 18]
John besig met sy werk om rubberbome te tap
[Prent op bladsy 20]
John neem aan die Christelike bediening deel