Byeboerdery—’n “lekker” storie
Deur Ontwaak!-medewerker in Griekeland
DIE oggendskemering sprei sy sagte glans stadig oor die hemel uit. In die mis en koelte van die vroegoggend hou ’n vragmotor langs die pad aan die voet van ’n berghang stil. Twee donker figure klim uit—geklee in handskoene, stewels, katoenoorpakke en gesluierde wyerandhoede. Met versigtige maar vinnige bewegings laai hulle ’n klomp houtkiste op die vragmotor. ’n Paar diewe wat maklik wegkom met hulle buit? Nee, ’n paar byeboere wat goed kyk na hulle swerms kosbare bye—gereed om in die pad te val na ’n ander bestemming waar daar nektarvervaardigende plante is.
’n Byeboer is ’n spesiale soort mens, wat spog met ’n wisselwerkende verhouding met ’n spesiale soort insek. Aan die een kant is daar die heuningby; uit ’n ekonomiese oogpunt dalk die waardevolste van alle insekte, wat heuning en byewas vervaardig en ’n groot verskeidenheid gesaaides bestuif. Aan die ander kant is daar die mense wat ’n bestaan uit byeboerdery maak en wat terselfdertyd ’n liefde vir hierdie klein diertjies het en “hulle geheime verstaan”, soos een van hulle dit stel.
’n Versorger van ‘daaglikse wonderwerke’
Dit klink dalk maklik om ’n byeboer te word: Skaf ’n aantal korwe vol byekolonies aan, plaas hulle in ’n nektarvervaardigende omgewing en keer ná ’n paar maande terug om die produkte te oes. Maar dit is nie die geval nie. Om uit te vind presies wat daarby betrokke is, het ons gesels met John en Maria, professionele byeboere, wat ons met graagte van hulle geliefde beroep vertel het.
“As ’n byeboer sien jy daagliks wonderwerke”, sê John terwyl hy oor ’n oop korf leun. “Tot nog toe verstaan niemand presies die hoogs georganiseerde gemeenskapslewe, die gevorderde kommunikasievaardighede en die briljante werkgewoontes van die heuningby nie.”
John vertel van die geskiedenis van professionele byeboerdery en noem dat byeboere in die verlede heuning geoes het deur die kolonies, wat in hol bome en ander holtes nes gemaak het, uit te roei. In 1851 het Lorenzo Lorraine Langstroth, ’n Amerikaanse byeboer, egter uitgevind dat bye spasies van ongeveer ses millimeter tussen waskoeke laat. Mensgemaakte houtkorwe waarin ’n soortgelyke spasie tussen koekrame gelaat word, kon dus gebruik word. Dit het nou moontlik geword om individuele rame uit ’n byekorf te verwyder en heuning en was te oes sonder om die kolonie uit te roei.
“Om suksesvol met bye te boer”, gaan John voort, “moet jy baie lief wees vir jou byekolonies. Jy is soos ’n pa vir jou bye, en ek glo dat hulle dit besef en dienooreenkomstig reageer. Jy word ook hulle dokter, hulle versorger, die een wat hulle gedurende die moeilike wintertye voer.”
Maria voeg by: “’n Goeie byeboer kan baie uitvind deur net na ’n byekorf te kyk, wat gewoonlik tussen 8 duisend en 80 duisend bye bevat. ’n Bedrewe persoon sal, wanneer hy die korf oopmaak, deur bloot na die geluid van die gegons te luister, weet of die kolonie florerend, produktief en ‘gelukkig’ is; of dit honger is; of dit ’n ‘weeskind’ is omdat die koninginby gesterf het; of iets onaangenaams dit ontstel het en veel, veel meer.”
Belangrike faktore vir suksesvolle byeboerdery
“Dit is uiters belangrik dat ’n byeboer versigtig moet besluit waar hy sy korwe gaan neersit”, verduidelik John. “Ons doen baie moeite om blomryke velde te vind waar daar kos sal wees vir die bye.
“Die byeboer soek dalk lemoen- en lindebloeisels sodat sy kolonies besig kan bly. Gedurende die somer en herfs sal ’n omgewing met baie pyn- en dennebome help om heuning van ’n goeie gehalte en ’n helder rooierige kleur te lewer, wat goed verkoop. Velde wildetiemiebloeisels sal die allerbeste heuning lewer—koningsheuning, soos byetelers dit noem. Die bye is ook lief vir witklawer, geelstinkklawer en lusern.”
Gesonde verstand is baie belangrik. Maria verduidelik: “Wanneer ons die korwe in ’n bergstreek plaas, is dit beter om hulle naby die voet van die berg te plaas. Die bye kan dus teen die berg opvlieg, die blomdraende bome besoek, en dan—volgelaai—teen ’n makliker, afdraende paadjie terug na hulle korwe toe afvlieg. As die korwe hoog teen die berg op bokant die bome was, sou dit die bye uitput en die kolonie se produktiwiteit benadeel.”
“Elke byeboer verstaan die lewensbelangrike rol wat die koningin in die welsyn en produktiwiteit van ’n kolonie speel”, sê John terwyl hy een van die korf se rame, waarin ’n jong koningin haar in die middel van die nes tuisgemaak het, versigtig omhoog hou. “In korwe wat min nuwe bye en heuning voortbring, moet die koningin doodgemaak en vervang word. Kolonies met jong koninginne maak die meeste heuning. En wanneer ons nuwe kolonies wil skep, neem ons ’n gesonde dubbele korf met baie bye en skei dan die boonste en onderste kaste. Die koningin bly in die een helfte, en daarom plaas ons ’n jong, gepaarde koningin in die ander helfte. Teen die tyd dat die blomme bloei, sal die nuwe koningin al eiers lê en die korf met jong werkerbye vul.”
Hoe lank leef ’n by? Daar word gesê dat die werkerby se lewensduur omgekeerd eweredig aan sy arbeidsaamheid is. In die somer, wanneer ’n by ongeveer 15 uur per dag van blom tot blom gaan op soek na kos en teen ’n spoed van ongeveer 21 kilometer per uur vlieg, leef hy slegs ses weke lank. In die winter is dit fisies minder veeleisend vir die bye, aangesien hulle slegs twee tot drie uur per dag werk, en daarom kan hulle ’n paar maande lank aan die lewe bly.
Verskillende produkte
Wanneer ons oor byeboerdery praat, is heuning natuurlik die eerste ding waaraan ons dink. Hierdie soet, taaierige vloeistof is nektar wat deur die werkerby in heuning verander is. ’n Kommersiële korf kan gemiddeld 29 kilogram per jaar produseer. Byewas is nog ’n kosbare byproduk van die by se bedrywigheid. ’n Heuningkoek kan ongeveer vyf tot ses jaar lank gebruik word. Teen daardie tyd het die kleur daarvan al donkerder geword as gevolg van die verskillende mikrobes en parasiete wat daarop leef en moet dit vervang word. Die verouderde heuningkoeke word verwerk vir hulle byewas. Die gemiddelde kommersiële produksie is 9 tot 18 kilogram byewas vir elke ton heuning wat geoes word.
Stuifmeel—wat die vernaamste bron is van proteïene, vitamiene, minerale en vet vir die ontwikkeling van die koningin, werker en hommel—word ook deur sommige geprys as ’n goeie natuurlike geneesmiddel vir ’n aantal fisiese ongesteldhede. ’n Korf kan ongeveer vyf kilogram daarvan in een jaar lewer. Stopwas is ’n stof wat bye gebruik om hulle korf mee te isoleer en om enige indringer wat te groot is om te verwyder mee te omhul.
Die vervaardiging van ongeveer ’n kwart van die voedsel wat ons verbruik, hang, direk of indirek, af van die heuningby se vermoë om gesaaides te bestuif. Appels, amandels, waatlemoene, pruime, pere, komkommers en verskillende soorte bessies is almal van bye afhanklik vir bestuiwing. So ook verskeie saadgewasse, waaronder wortels, uie en selfs sonneblomme. Vleis- en suiwelprodukte word ook deur bye geraak, want bye bestuif die lusern wat voedsel vir vee word.
“Instinktief wys”
“Ek dink die meeste byeboere glo aan God”, sê Maria, en herinner ons daaraan dat ons nie die bye se komplekse sosiale struktuur, hulle fassinerende ontwikkeling van ’n ingewikkelde gemeenskapslewe en hulle uitnemende vermoëns in oriëntasie en kommunikasie kan verklaar nie. Talle mense wat bye bestudeer en versorg, sal dit alles geredelik toeskryf aan die feit dat bye “instinktief wys” is; en daardie instink is mildelik aan hulle gegee deur ons Grootse Skepper, Jehovah God.—Vergelyk Spreuke 30:24, NW.
[Venster/Prente op bladsy 26]
Van die blom na jou tafel
1 Die veldwerker-heuningby besoek ’n blom en versamel nektar
Terwyl die bye blomme besoek, versamel hulle nektar in hulle heuningmaag, wat ’n vergroting van hulle slukderm is. Die by moet tussen 1000 en 1500 besoeke aan individuele blomme bring om hierdie maag vol te maak
2 Terug in die korf word nektar in die heuningkoek gestoor
Wanneer die veldby die korf binnegaan, bring hy die inhoud van sy heuningmaag op in die mond van ’n jong werkerby. Die werkerby stort dan die nektar in ’n sel en verrig die take wat nodig is om nektar in heuning te omskep
3 Die byeboer oes die heuning
Met ’n verhitte lem verwyder hy die was wat die selle in elke raam bedek. Dan plaas hy die rame in ’n heuninguitswaaier, wat die heuning deur middel van sentrifugale druk sal verwyder
4 Heuning word in flesse of individuele porsies verpak
Etikette op heuningflesse sê van watter plante die bye die heuning gemaak het. As die fles deursigtig is, kan jy dalk aan die kleur van die heuning die gehalte daarvan vasstel
5 Heuning is goed vir jou gesondheid!
Heuning word maklik deur die liggaam opgeneem en vinnig in energie omgesit. Verslae toon dat dit gebruik kan word om brandwonde en verskillende soorte vleeswonde te behandel