Singapoer—Asië se ontsierde juweel
KLANG! Die swaar staaldeure van Singapoer se Tsjangi-vrouegevangenis het onheilspellend toegeslaan agter ’n tenger 71-jarige weduwee, ’n Christen. Sy is een van Jehovah se Getuies en het haar standpunt aan die presiderende regter probeer verduidelik: “Ek is nie ’n bedreiging vir hierdie regering nie.”
Klang! Sy is gevolg deur ’n 72-jarige ouma, nog ’n Christen. Haar oortreding? Sy het vier Bybelpublikasies van die Wagtoringgenootskap in haar besit gehad, met inbegrip van haar persoonlike eksemplaar van die Heilige Bybel self.
Altesaam is 64 burgers van Singapoer, tussen die ouderdomme van 16 en 72, in hegtenis geneem en skuldig bevind. Sewe-en-veertig het uit beginsel geweier om boetes te betaal en is vir verskillende tydperke wat wissel van een tot vier weke opgesluit. Hoe kon dit in ’n stadstaat gebeur wat al beskryf is as een van die beste plekke ter wêreld om in te woon? Hoe kon dit in ’n stadstaat gebeur wat wêreldwyd bekend is vir sy ekonomiese stabiliteit, merkwaardige ontwikkeling en moderne geboue sowel as sy beweerde godsdiensverdraagsaamheid?
’n Moderne stadstaat
Eers, ’n kort geskiedenis. Die hedendaagse geskiedenis van Singapoer het in 1819 begin met die aankoms van Brittanje se sir Thomas Stamford Raffles. Raffles, ’n verteenwoordiger van die Oos-Indiese Kompanjie, was op soek na ’n basis vir hulle werksaamhede in die Ooste. Hy het besluit om Singapoer te oorweeg. Sodoende het ’n handelsentrum ontstaan wat tot vandag toe ’n impak op die ontwikkeling van Oos-Asië het.
Voor Singapoer onafhanklik geword het, is dit beskryf as ’n vuil stad. Vandag sal niemand Singapoer as vuil beskryf nie. Die teendeel is waar. Oor die laaste 30 jaar is die stad byna heeltemal herbou, en waar moontlik is die karakter van die ou stad bewaar deur die voorkant van ouer geboue te behou of deur historiese geboue in hulle geheel deel van moderne geboue te maak. Singapoer het ’n kruispad van seehandel in die Ooste geword, en daar kan dikwels tot 800 skepe op ’n keer in die hawe getel word. Met moderne hipertegnologiese toerusting kan ’n groot houerskip binne ure afgelaai en weer gelaai word. Die stad se finansiële kern vra en kry ongeveer R280 200 of meer per vierkante meter vir vaste eiendom.
Die bevolking van ongeveer 3400 000 bestaan uit ’n groot mengelmoes van Chinese, Maleiers, Indiërs, Europeërs en ander. Hulle praat onder andere Mandaryn, Maleis, Tamil en Engels.
Die vinnige bo- en ondergrondse treine wat oor 83 kilometer strek, gee Singapoer een van die modernste, doeltreffendste vervoerstelsels ter wêreld. Oral in die stad is daar groen parke tussen die toringhoë, moderne geboue. Die toeris wat die land vir die eerste keer besoek, móét eenvoudig die heeltemal gerestoureerde Raffles-hotel besoek, wat nou tot nasionale monument verklaar is aangesien dit uit 1889 dateer. Nog iets wat eenvoudig gesien móét word, is die botaniese en tuinboukundige sentrum van 52 hektaar, waarvan vier hektaar bewaarde oerwoud is waar tiers eens op ’n tyd rondgeloop het.
Godsdiensvryheid gewaarborg
As ’n komplement tot sy ongeëwenaarde ekonomiese vooruitgang belowe Singapoer godsdiensvryheid vir al sy inwoners. Ongelukkig het Singapoer nie sy belofte gestand gedoen nie. Veral mense wat met die gemeente van Jehovah se Getuies omgaan, het gevind dat dit die geval is.
Die Grondwet van die Republiek van Singapoer, in Artikel 15(1), voorsien die basiese waarborg vir godsdiensvryheid: “Elkeen het die reg om sy godsdiens te bely, te beoefen en te propageer.”
Artikel 15(3) van die Grondwet waarborg: “Elke godsdiensgroep het die reg—
(a) om sy eie godsdienssake te behartig;
(b) om instellings vir godsdienstige of liefdadigheidsdoeleindes te stig en te onderhou en
(c) om eiendom aan te skaf en te besit, asook om dit in ooreenstemming met die wet in besit te hou en te bestuur.”
Jehovah se Getuies was reeds in 1936 deel van die samelewing in Singapoer. Hulle het baie jare lank gereelde gemeentelike vergaderinge in hulle eie Koninkryksaal gehou wat in Exeterstraat 8, regoor ’n besige mark, geleë is. Die gemeente het gefloreer en terselfdertyd sy eie unieke bydrae tot die stabiliteit van die gemeenskapslewe gelewer.
Jehovah se Getuies verban
Op 12 Januarie 1972 het dit alles verander. ’n Uitsettingsbevel is uitgevaardig volgens die Regering se Verbanningswet, hoofstuk 109, wat die Christensendeling Norman David Bellotti en sy vrou, Gladys, wat al 23 jaar in Singapoer gewoon het, beveel het om die land te verlaat. Dit is kort daarna gevolg deur ’n bevel wat die registrasie van die Gemeente van Jehovah se Getuies in Singapoer ingetrek het. Binne ure is die Koninkryksaal in beslag geneem deur die polisie wat deur die voordeur gebars het. Byna onmiddellik daarna is ’n amptelike verbod op alle lektuur van die Wagtoringgenootskap geplaas. Sodoende het ’n tydperk begin waarin Jehovah se Getuies onderdruk is.
Die Koninkryksaal is daarna deur die regering verkoop as deel van hulle eiemagtige optrede, en dit is alles sonder kennisgewing gedoen—geen verhoor, geen geregtelike ondersoek, geen geleentheid om te reageer nie.
Die regering van Singapoer het herhaaldelik verwys na die feit dat Jehovah se Getuies nie diensplig doen nie as regverdiging vir die algehele verbod. Nog heel onlangs, op 29 Desember 1995, het mnr. K. Kesavapany, Singapoer se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies in Genève, in ’n brief aan S.Eks. Ibrahim Fall, Assistent-Sekretarisgeneraal vir Menseregte, van die Verenigde Nasies in Genève, die volgende gesê:
“Ons regering se verbod op die beweging van Jehovah se Getuies spruit voort uit besorgdheid oor landsveiligheid. Die voortbestaan van die beweging sal skadelik wees vir volkswelsyn en goeie orde in Singapoer. ’n Noodsaaklike gevolg van die intrekking van Jehovah se Getuies se registrasie was dat al hulle publikasies verbied word om krag te verleen aan die verbod op die beweging en om die verspreiding en uitbreiding van hulle opvattings te beperk.”
Wat die protes betref oor die gevaar vir die landsveiligheid van Singapoer, moet daarop gelet word dat die aantal jong mans wat weier om diensplig te doen ongeveer vyf persone per jaar is. Singapoer het ’n leërmag van ongeveer 300 000. Die regering van Singapoer het selfs geweier om die moontlikheid van burgerlike diens vir die handjievol mense wat daarby betrokke is te bespreek.
Onverbloemde onderdrukking
Ná etlike jare van gespanne verdraagsaamheid het ’n nuwe hoofstuk van onverbloemde onderdrukking van menseregte in 1992 begin ontvou toe verskeie mense in hegtenis geneem is—hulle is daarvan aangekla dat hulle lektuur in hulle besit gehad het wat volgens die Wet op Ongewenste Publikasies verbied word. In 1994 het die Wagtoringgenootskap die 75-jarige W. Glen How, QC, ’n regsgeleerde wat al sy hele lewe lank een van Jehovah se Getuies is, na Singapoer gestuur. Sy status as ryksadvokaat het hom die nodige erkenning gegee om voor die howe in Singapoer te verskyn. In die lig van die godsdienswaarborg van die Grondwet is ’n beroep op Singapoer se Hooggeregshof gedoen, en die geldigheid van die inhegtenisnames asook die verbod van 1972 is betwis. Op 8 Augustus 1994 het hoofregter Jong Poeng How, van die Hooggeregshof van Singapoer, die appèl afgewys. Verdere pogings om teen die beslissing te appelleer, was onsuksesvol.
Vroeg in 1995 het dit gelyk of die regsgeding wat op die Grondwet van Singapoer gegrond was tot selfs meer onderdrukkende maatreëls aanleiding gegee het. As deel van ’n plan wat op militêre wyse uitgevoer is en Operasie Hoop genoem is, het geheime agente van die Geheime Genootskappe-afdeling van die speurafdeling toegesak op verskeie klein groepies Christene wat in huise vergader het. Nagenoeg 70 offisiere en steunpersoneel het die kommandotipe klopjagte gedoen, wat tot die inhegtenisname van 69 persone gelei het. Almal is na ondervragingsentrums geneem waar party regdeur die nag ondervra is, en almal is daarvan aangekla dat hulle vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon het en Bybelpublikasies in hulle besit gehad het. Sommige is tot 18 uur in volstrekte afsondering gehou en kon nie eers hulle gesinne skakel nie.
Aanklagtes teen buitelanders is teruggetrek. Maar 64 wat burgers van Singapoer is, is laat in 1995 en vroeg in 1996 in die hof verhoor. Al 64 is skuldig bevind. Sewe-en-veertig, tussen die ouderdomme van 16 en 72, het nie die boetes van duisende rande betaal nie en is van een tot vier weke tronk toe gestuur.
Voordat hulle na hulle selle toe gestuur is, is mans en vrouens naak uitgetrek en voor ’n hele paar mense deursoek. Party vroue is aangesê om hulle arms uit te strek, vyf keer te hurk asook hulle mond oop te maak en hulle tong op te lig. Ten minste een vrou is aangesê om haar vingers te gebruik om haar anus oop te maak. In die gevangenis moes sommige van die mans water uit toiletpanne drink. Party jong vroue is soos gevaarlike misdadigers behandel en is vir die duur van hulle vonnis in alleenopsluiting gehou en halwe rantsoene gegee. Sommige gevangenisbewaarders het selfs geweier om vir die Getuies hulle Bybels te gee.
Maar kom ons kyk na ’n paar opmerkings van sommige van die vroue wat opgesluit is. Wat hulle eerstehandse verslae aan die lig gebring het, was in skerp teenstelling met die skoon voorkoms van hierdie moderne stad.
“Die sel was vuil. Die wasbak en toilet was in ’n skokkende toestand. Dit was smerig en vuil. Onder die bank waarop ek gesit het, was spinnerakke en vullis.”
“Ek is aangesê om al my klere uit te trek, en hulle het vir my ’n stel gevangenisklere, ’n seepbakkie (sonder seep) en ’n tandeborsel gegee. Die ander gevangenes in my sel het vir my gesê dat korttermyngevangenes nie tandepasta of toiletpapier kry nie.”
“Ons was 20 in een sel. Die toilet is die tipe waaroor ’n mens moet hurk, met ’n muur wat tot by my middel kom. Die badkamer het net een stort en een wasbak met ’n kraan gehad. Ons moes in groepe van ses was—soggens moes almal in die sel binne ’n halfuur stort.”
Ondanks die trauma van die gevangenskap het almal dit ’n voorreg geag om God te dien—wanneer ook al, waar ook al en wat ook al die omstandighede is. Beskou die volgende opmerking van ’n tienermeisie:
“Van die oomblik af dat ek in die gevangenis was, het ek my altyd herinner aan waarom ek daar was. Ek het elke dag tot Jehovah gebid dat hy na my gebed sal luister en my nie sal versaak nie. Ek het geweet dat hy my gebed verhoor het, want dit was sy heilige gees wat my gehelp het om te volhard. Ek het toe eers besef watter hegte verhouding ek met hom geniet, en dit het my grootliks versterk om te weet dat hy ons beskerm. Ek dink dit is ’n voorreg om hierdie beproewing ter wille van sy naam te verduur.”
Dit was nie lank voordat die kwessie onder die aandag van koerante regoor die wêreld gekom het nie. Die pers in Australië, Kanada, Europa, Hongkong, Maleisië, die Verenigde State en ander plekke het herhaaldelik oor die gebeure berig gelewer. The Toronto Star, van Kanada, het die ontsteltenis van die oomblik opgesom met die opskrif “Ouma skuldig bevind omdat sy Bybel besit”. Die wêreld het weliswaar talle ernstige probleme waarby baie meer mense betrokke is, maar in hierdie geval is die vraag wat oral deur verbaasde mense gevra word dieselfde. “In Singapoer?”
Dit is moeilik om te begryp waarom ’n godsdiens wat in meer as 200 lande regoor die wêreld openlik funksioneer en die volle beskerming van die wet geniet die skyf van vervolging in Singapoer gemaak word. Dit word selfs moeiliker om te begryp wanneer ons in aanmerking neem dat geen ander godsdiens in Singapoer so onredelik en eiemagtig behandel word nie.
Trouens, ’n assistent-superintendent van die polisie wat ’n klopjag op Jehovah se Getuies gelei het, het aan die hof erken dat dit die enigste keer was dat hy en sy offisiere opdrag gegee is om ’n godsdiensvergadering op te breek. Die volgende is aanhalings uit die transkrip van die getuienis:
Vraag: (Aan die getuie) Het die Geheime Genootskappe-afdeling sover jy weet ooit enige ongeregistreerde godsdiensgroep, behalwe Jehovah se Getuies, ondersoek en vervolg?
Antwoord: Nie waarvan ek weet nie.
Daarna is die ondervraging voortgesit.
Vraag: (Aan die getuie) Het jy al ooit ’n soortgelyke klopjag op ’n klein godsdiensgroep gedoen wat in ’n huis byeenkom en nie onder die Wet op Genootskappe geregistreer is nie?
Antwoord: Ek het nie.
Oproep om aksie
Amnestie Internasionaal en die Internasionale Regsassosiasie het elk hulle eie spesiale waarnemer gestuur om die integriteit van die verhore te monitor. Amnestie Internasionaal se onpartydige waarnemer, Andrew Raffell, wat self ’n advokaat in Hongkong is, het die volgende gesê: “Ek het in my verslag gesê dat dit na ’n skynverhoor gelyk het.” Hy het verder verduidelik dat regeringsamptenare wat as getuies opgeroep is nie aan die hof kon verduidelik waarom die lektuur van Jehovah se Getuies as ongewens beskou is nie. Raffell het ’n lys opgestel van sommige van die Bybelpublikasies wat verbied is, waaronder Geluk—Hoe om dit te vind en Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut. Hy het bygevoeg dat hulle nie werklik in enige opsig as ongewens beskou kan word nie.
Die waarnemer van die Internasionale Regsassosiasie, Cecil Rajendra, het die volgende gesê:
“Van die begin af was dit vir hierdie waarnemer duidelik dat die hele verhoor niks meer as ’n . . . klugspel was nie wat oënskynlik gehou is om vir die wêreld te wys dat demokrasie nog steeds in Singapoer beoefen word.
“Die uitslag was ’n uitgemaakte saak en daar was nooit enige twyfel voor, gedurende of teen die einde van die verhoor dat al die beskuldigdes skuldig bevind sou word aan die aanklagtes teen hulle nie.
“Hoewel die verhoor in ’n laerhof gehou is en die aanklagtes eintlik klein oortredings van die Wet op Genootskappe was, was die atmosfeer in die geregshof gelaai met vrees en intimidasie.
“Dit was grootliks toe te skryf aan die feit dat daar nie minder nie as 10 polisiemanne in uniform was (6 binne en 4 buite die hofsaal) sowel as verskeie manne van die Spesiale Afdeling in gewone klere wat in die galery gesit het.”
Rajendra het kommentaar gelewer oor die manier waarop die verhoor self gehou is, en voorts gesê:
“Die gedrag van die voormelde regter gedurende die waarnemingstydperk (sowel as gedurende die res van die verhoor, soos gesien kan word uit die transkripte) het veel te wense oorgelaat. . . . Strydig met alle norme van ’n regverdige verhoor het die regter telkemale aan die kant van die prosekusie ingegryp en die verdediging verhinder om prosekusie-getuies oor bewysstukke te kruisvra, soos bv. die King James-vertaling van die Bybel, wat deur die prosekusie ingedien is om te toon dat die beskuldigde verbode publikasies in sy besit gehad het!”
Singapoer se onderdrukking van menseregte het internasionaal soveel besorgdheid laat ontstaan dat ’n Belgiese tydskrif met die titel Human Rights Without Frontiers ’n verslag van 18 bladsye uitgegee het wat uitsluitlik handel oor die aanval deur die regering van Singapoer op Jehovah se Getuies. In ’n redaksionele artikel het Willy Fautré, hoofredakteur van daardie tydskrif, baie bondig die ware vlak van mensevryheid in enige politieke staat omskryf:
“Alhoewel godsdiensvryheid een van die beste aanduidings van die algemene toestand van mensevryheid in enige gegewe gemeenskap is, is baie min sekulêre menseregte-organisasies betrokke by die verwydering van daardie vorme van diskriminasie en onverdraagsaamheid op grond van godsdiens of oortuiging, of in die ontwikkeling van beleide wat godsdiensvryheid sal beskerm en bevorder.”
Human Rights Without Frontiers het sy lys van aanbevelings in vet letters op die agterblad van hulle verslag gepubliseer.
Jehovah se Getuies is ’n aanwins vir Singapoer. Hulle respekteer die regte van hulle naaste en sal nie enige misdaad teen hulle pleeg nie. Geen burger van Singapoer hoef bekommerd te wees dat een van Jehovah se Getuies by sy huis sal inbreek of hom op straat sal beroof, hom sal aanrand of sal verkrag nie.
Hulle vrywillige openbare bediening versterk en verbeter die gesinslewe en bevorder goeie burgerskap. Hulle hou gratis Bybelstudies met enigiemand wat die opbouende beginsels van die Bybel wil leer en wat wil leer hoe om dit in sy of haar lewe toe te pas. Hulle vergaderinge vir Bybelstudie en gebed is deel van hulle Christelike opvoeding. Dit het van hulle goeie burgers gemaak.
Burgers van Singapoer wat hulle republiek respekteer en die beste toekoms vir hulle land wil hê, moet die regering aanspoor om weer te kyk na die regmatige plek van Jehovah se Getuies in Singapoer se samelewing. Dit is tyd om die sanksies teen hulle op te hef en aan hulle dít terug te gee waarop elke burger geregtig is—godsdiensvryheid.
[Venster op bladsy 26]
Die wêreld se oë is op hulle
1. “Toe die Singapoer-polisie een aand verlede Februarie skielik, op ’n militêre wyse, op vyf wonings toegesak het, is 69 mans, vrouens en tieners in hegtenis geneem en na die polisiehoofkantoor geneem. Dit is nie hoe bybelstudievergaderinge veronderstel is om te eindig nie.”−The Ottawa Citizen, Kanada, 28 Desember 1995, bladsy A10.
2. “Vir almal wat hulle vir godsdiens- en gewetensvryheid beywer, sal dit ’n bron van ware vreugde wees as die Regering van Singapoer sy standpunt met betrekking tot die lede van hierdie onskuldige en skadelose groep wysig en hulle toelaat om hulle geloof sonder vrees of hindernis te beoefen en te bevorder.”—Professor Bryan R. Wilson, Universiteit van Oxford, Engeland.
3. “In ’n reeks verhore wat aanleiding gegee het tot proteste deur internasionale burgerlike vryheidsgroepe het howe in Singapoer sedert laas November 63 Getuies van Jehovah veroordeel.”—Asahi Evening News, Japan, 19 Januarie 1996, bladsy 3.
4. “Jehovah se Getuies moet toegelaat word om in vrede te vergader en hulle godsdiens te beoefen sonder die bedreiging van inhegtenisname of opsluiting. Godsdiensvryheid is ’n fundamentele reg wat deur die Grondwet van Singapoer gewaarborg word.”—Amnestie Internasionaal, 22 November 1995.
5. Tsjan Sioe-tsjing, voorsitter van die Regs- en Vredeskommissie van Hongkong se Katolieke Bisdom, het in ’n brief aan Lee Koean Jew, hoofminister, Eersteministerskantoor, gedateer 1 Junie 1995, gesê: “Die vernaamste kwessie is die volgende: selfs as die regering van Singapoer meen dat diegene wat weier om diensplig te doen die wet oortree en aangekla moet word, behoort ander lede wat bloot aan godsdiensvergaderinge deelneem om te aanbid, nie geraak te word nie. . . .
“Ons skryf dus om u Regering te versoek om:
1. Jehovah se Getuies nie te verban nie sodat hulle godsdiens- en gewetensvryheid kan geniet;
2. op te hou om die lede van Jehovah se Getuies aan te kla wat bloot hulle godsdiensvergaderinge bywoon;
3. daardie lede van Jehovah [se] Getuies wat onlangs in hegtenis geneem is net omdat hulle godsdiensvergaderinge bygewoon het, vry te laat.”
[Prent op bladsy 23]
Jehovah se Getuies by die geregshof nadat aanklagtes teen hulle ingedien is
[Prent op bladsy 23]
Hierdie 71-jarige Getuie het vir die regter gesê: “Ek is nie ’n bedreiging vir hierdie regering nie.” Tog is sy opgesluit