Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 5/8 bl. 14-19
  • “Ek was vasbeslote om vir die keiser te sterf”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek was vasbeslote om vir die keiser te sterf”
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ellendige toestande in China
  • Op pad na Singapoer
  • Eerder die dood as om oor te gee
  • Die verowering van Singapoer
  • Ek sien tragedie in Hirosjima
  • Ek verloor my geloof in die gode
  • Ek vind die ware God
  • Die vreugde om die allerhoogste God lojaal te dien
  • Die uitvoering van God se wil—my lewenslange vreugde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Singapoer—Asië se ontsierde juweel
    Ontwaak!—1997
  • “Geen Hirosjimas meer nie!”
    Ontwaak!—1991
  • Van keiseraanbidding tot ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 5/8 bl. 14-19

“Ek was vasbeslote om vir die keiser te sterf”

1. “’n Soldaat moet lojaliteit sy plig maak.

2. ’n Soldaat moet welvoeglikheid sy lewenswyse maak.

3. ’n Soldaat moet militêre dapperheid hoog aanslaan.

4. ’n Soldaat moet regverdigheid hoogag.

5. ’n Soldaat moet ’n eenvoudige lewe lei.”

HIERDIE vyf punte was die artikels van ’n eed wat geformuleer is om rekrute in die Japannese Keiserlike Leër aan te spoor. Elke rekruut moes die vyf artikels elke dag vir hoë offisiere opsê, en hulle is met die vuis geslaan as hulle dit verkeerd opsê. Onversetlike lojaliteit teenoor die keiser en vaderland is veral beklemtoon.

Ek is in 1938 opgeroep, toe Japan in die Chinees-Japannese oorlog van 1937-45 gewikkel was. By elke geleentheid is die gedagte by ons ingeprent dat die oorlog heilig is en dat die gode, of kami, van Japan ons die oorwinning sou gee, net soos die “goddelike wind” (kamikaze) die Mongole uitgewis het toe hulle Japan teen die einde van die 13de eeu aangeval het.

Na die militêre en “geestelike” opleiding het ons in 1939 na die slagveld vertrek. My ouers het vir my ’n gordel met duisend stekies gegee wat ek om my heupe moes dra. Dit is gemaak deur duisend verskillende mense wat elkeen ’n stekie met rooi gare daarop gewerk het as ’n gebed om oorwinning en my voortdurende voorspoed as soldaat. Toe dit tyd word om na China te vertrek en van my land afskeid te neem, het ek gemengde gevoelens gehad. ‘Dis dalk die laaste keer dat ek my vaderland sien’, het ek gedink. Terselfdertyd was ek vasbeslote om vir die keiser te sterf.

Ellendige toestande in China

Gedurende Julie 1939 het ons in die bloedige hitte van die Chinese vasteland aan ’n opruimingsoperasie in sentraal-China deelgeneem. Ek was ten volle toegerus en het met ’n rugsak van 30 kilogram gemarsjeer, maar ek het altyd my gordel met die duisend stekies gedra. Teen die einde van ’n dag se mars, sowat 40 kilometer, het my seer voete gesleep. Ek het die blase met ’n swaard stukkend gesteek en salisielsuur daarop gegooi. Die pyn het soos messteke deur my geskiet! Maar ek het met hierdie selfpyniging aangehou totdat die blase eelte geword het en ek nie meer pyn gevoel het nie.

Ek het omtrent heeltemal ontwater van die gestap in die hitte. Soms het ek bruin water uit ’n spruitjie in ’n watersak gegooi, chloorkalk bygevoeg en my dors geles. Enige drankie het dadelik in sweet verander, en dit het my klere deurweek en wit soutvlekke op my uniform gelaat. Kort voor lank het ek gejeuk, en my hele lyf het gepyn. Eendag het ek my uniform losgeknoop en gesien dat ek vol luise was wat nete lê! Ek het hulle een vir een doodgedruk, maar ek kon nie die stryd teen hulle wen nie. Ons het almal luise gehad. Toe ons dus by ’n spruitjie kom, het ons almal daarin gespring om te bad. Almal het van kop tot tone opgeswelde, rooi merke van die luisbyte gehad. Nadat ons gebad het, het ons ons uniforms in kookwater geweek om die luise dood te maak.

Later is ek na die divisiehoofkwartier in Sjanghai verplaas en het ek ’n betaalmeester geword. My werk as ’n betaalmeester was om vir die troepe boek te hou en om na die geldtrommel om te sien. Eendag het ek gesien hoe twee Chinese arbeiders daarmee probeer weghardloop. Ek het hulle gewaarsku, my vuurwapen op hulle gerig en gevuur. Hulle is albei op slag dood. Later het hierdie voorval my gewete baie jare lank gepla.

Op pad na Singapoer

Laat in 1941 het ons opdrag ontvang om volledig toegerus aan boord van ’n skip te gaan. Daar is niks oor ons bestemming gesê nie. Toe ons in Hongkong aankom, is daar fietse, tenks en afstandskanonne opgelaai. Ons het gasmaskers en someruniforms ontvang, en toe het ons weer vertrek. ’n Paar dae later is daar vir ons gesê: ‘Ons gaan ’n wetenskaplike oorlog van ongekende omvang voer. Maak nou seker dat julle ’n afskeidsbrief aan julle gesin agterlaat.’ Ek het ’n laaste brief aan my ouers geskryf waarin ek hulle smeek om my te vergewe omdat ek niks gedoen het om my plig as kind na te kom nie. Ek het vir hulle gesê dat ek my lewe vir die keiser gaan opoffer en vir my land gaan sterf.

In die vroeë oggend van 8 Desember 1941, dieselfde dag dat Japannese bomwerpers Pearl Harbor aangeval het, het ons, terwyl dit nog donker was, ’n amfibiese aanval op die kus van die Songkhla-provinsie, Thailand, gedoen.a Die see was baie onstuimig. ’n Touleer het langs die moederskip afgehang. Ons moes twee derdes daarteen afklim en dan in ’n aanvalsboot spring, wat soos ’n blaar in die wind rondgeslinger is. En ons het dit gedoen met ons swaar rugsakke aan! Die vyand het ons gebombardeer, maar ons aanval het geslaag. Ons opmars deur die oerwoude na Singapoer het begin.

As betaalmeester was my vernaamste werk gedurende die maneuver om te sorg dat daar kosvoorrade vir die troepe is. Ons moes dit plaaslik bekom, aangesien ons nie kon staatmaak op voorrade uit Japan nie. Dit het beteken dat betaalmeesters saam met die soldate aan die front moes opruk, kosvoorrade soek en dit vir ons gebruik moes neem. Hoewel ek nie toe daaroor skuldig gevoel het nie, was dit niks anders as grootskaalse diefstal nie.

Eerder die dood as om oor te gee

Gedurende ’n hewige geveg by Alor Setar naby die grens tussen Thailand en Maleia het ons op ’n groot pakhuis vol kos afgekom. Ek het gedink: ‘Die Betaalmeesterskantoor in die agterhoede moet hierdie wonderlike nuus hoor.’ Ek het vertrek in ’n motor wat ons van die Britte buitgemaak het, met een van my manne as die bestuurder. Ons het vrolik voortgery totdat ons om ’n draai gekom het en ’n ry Britse tenks gesien het. Ons het verdwaal en ons in sowat 200 Oos-Indiese en Britse soldate vasgery! Was dit ons einde? As ons nie met geweld kon deurbreek nie, sou ons veragtelike gevangenes word. As Japannese soldate was ons vasbeslote om eerder te sterf as om in skande as krygsgevangenes te lewe. Ek het my pistool op die bestuurder se slaap gerig, en hy het sy mes teen my maag gehou. Ek het hom beveel om reguit aan te hou ry. Ons het deur ’n spervuur van masjiengeweerkoeëls gejaag. Hoewel ons ongedeerd was, was ons heeltemal gedisoriënteer. Ons het by ’n doodlooppad gekom, die voertuig daar gelaat en deur die oerwoud begin stap. Ons het etlike dae lank gesukkel om ons troepe te bereik, terwyl ons deur slange aangeval en deur vyande agtervolg is. Toe ons hulle uiteindelik bereik, het ons uitgevind dat hulle reeds ’n verslag geskryf het wat sê dat ons gesneuwel het.

In Kuala Lumpur, Maleia, het ons baie Britse krygsgevangenes gesien. Hulle het ’n skerp kontras gevorm met die Japannese soldate vir wie die gedagte om ’n krygsgevangene te word onterend en skandelik was. Die Britte was nog optimisties en het gesê dat die bordjies eendag verhang sou word. Ons het hulle woorde geïgnoreer, want ons het al hoe vinniger gevorder.

Die verowering van Singapoer

Kort daarna het ons die eiland Singapoer bereik. Die strand was vol myne en doringdraadheinings. Konsentrasievuur van ons afstandskanonne op ’n hoek van die strand het gehelp om ’n brughoof te vorm, en ons het aan land gegaan.

Singapoer is ’n betreklike klein eilandjie, maar altesaam 160 000 soldate het daarop geveg. Terwyl ons stelselmatig voortbeweeg het, het ons oor die lyke van ons kamerade geval. Die Britte het ons nagaanvalle gevrees. Japannese Kessjitai (Vasbeslote om te sterf)-selfmoordafdelings, elk met ’n stuk of twaalf lede, het die een na die ander swaardaanval gedoen. Wanneer ’n oproep om nog vrywilligers gedoen is, het almal hulle vrywillig aangebied. Ons het dit as ’n eer beskou om vir die keiser te sterf.

Toe ons in Februarie 1942 die Johor-seestraat van die Maleia-skiereiland oorgesteek het, het ons gevind dat die vyand hulle beroemde Tsjangi-artillerie weg van ons af gedraai het, omdat hulle gedink het dat ons van die see af sou kom. Maar toe hulle eers op ons gerig was, was hulle inderdaad gedug.

Bomme van die vyand se artillerie het groot gate in die pad voor ons gelaat en dit onmoontlik gemaak vir die militêre voertuie om daaroor te ry. ’n Stuk of twaalf krygsgevangenes is beveel om om ’n gat te staan. ’n Vuurpeloton met masjiengewere het op hulle aangelê en geskiet. Nog ’n stuk of twaalf gevangenes is beveel om die lyke in die gat te gooi en hulle met grond toe te maak. Met nog ’n sarsie masjiengeweervuur het hulle die volgendes geword om ’n gat te vul. Die proses het aangehou totdat die pad heeltemal herstel was. (Dit is nou vir my pynlik om terug te dink aan sommige van die gruweldade wat ons gepleeg het, maar hulle was ’n deel van die grusame werklikheid van daardie verskriklike oorlog.) Teen daardie tyd was my gewete as ’t ware “gebrandmerk”, so verhard dat ek geen emosie gevoel het toe ek hierdie gruweldaad sien nie.—1 Timotheüs 4:2.

Op 15 Februarie 1942 het ’n hooggeplaaste Britse offisier met ’n wit vlag saam met ’n paar van sy manne na ons toe aangestap gekom. “Dit is generaal Percival!” het ’n kameraad geskree. ‘Ons het dit reggekry!’ het ek by myself gedink. Die opperbevelhebber van die Britse troepe in Maleia het oorgegee. Ek onthou hierdie geskiedkundige gebeurtenis nog goed. My vertroue in die mag van die Japannese gode van weleer is versterk.

Nadat ons Singapoer verower het, is ek na verskeie plekke gestuur, waaronder Nieu-Guinee. Toe, in 1943, het ek ’n bevel ontvang om na Japan terug te keer. Ek was verheug oor die vooruitsig om my ouers weer te sien. Maar as gevolg van vyandelike duikbote moes ons skip wag. Teen daardie tyd het die gety van die oorlog gekeer. Ek het onthou wat die Britse krygsgevangenes in Kuala Lumpur vir ons gesê het. Ja, die bordjies is verhang.

Ek sien tragedie in Hirosjima

Toe ek uiteindelik in Japan aangekom het, het ek my hande saamgevou in ’n gebed van dankbaarheid tot die gode en tot Boeddha. ‘Dit moes die beskermende krag van die gordel met die duisend stekies en die eertydse gode gewees het wat my beskerm het’, het ek gedink. Aangesien ons ontslaan is, het die posbevelvoerder ons beveel om kinders te hê. “As jy nie ’n gesin gaan hê nie”, het hy gesê, “is jy onpatrioties.” Om hierdie opdrag te kon uitvoer, was ek vasbeslote om te trou. ’n Familielid het die huwelik vir my gereël, en ek is in Desember 1943 met Hatsoeko getroud.

Ek was ’n tronkbewaarder in die buitewyke van Hirosjima toe ’n atoombom die stad op 6 Augustus 1945 verwoes het. Iemand moes diegene in die puin gaan help. “As enigeen van julle bereid is om te gaan al sterf julle, kom staan asseblief eenkant”, het my opsiener gepleit. Hoewel my vrou ons eerste kind verwag het, het my agtergrond in die leër my aangespoor om te gaan. Ons het kopbande met die opkomende son in die middel en met die karakters vir die woord Kessjitai daarop ontvang.

Ons sending was om die gevangenes in die tronk in Hirosjima te bevry. Op pad soontoe het ons verby riviere gery wat vol lyke was. As gevolg van die geweldige hitte van die ontploffing het mense in die riviere gespring. Toe ons by die tronk aankom, het ons noodhulp op die gevangenes toegepas en hulle met ’n vragmotor hospitaal toe geneem. Ek het nie toe besef dat Katsoeo Mioera, een van Jehovah se Getuies wat sy Christelike neutraliteit in Japan gedurende die oorlog gehandhaaf het, op daardie tydstip as gevolg van sy geloof in daardie tronk was nie.

Ek verloor my geloof in die gode

’n Week later moes ek by die Betaalmeesterskantoor van die Geniekorps in Hirosjima aanmeld. Terwyl ek na die motor geloop het wat my soontoe sou neem, het ’n plaaslike skool ’n spesiale uitsending deur sy gemeenskapsluidspreker uitgesaai. Dit was die eerste keer dat keiser Hirohito se stem oor die radio gehoor is. Ek het stil en regop gaan staan en na sy aankondiging geluister. Daar het trane in my oë gekom en spore op my wange gelaat. Dit het gevoel asof al my krag my verlaat het. Hy het gesê dat hy die ‘ondraaglike gaan verdra’. Hy sou gedwee verskoning maak en aan die Geallieerde Magte oorgee! Die onvergeeflike woord “oorgee” is op die lippe van die god-keiser gehoor!

Die “goddelike” wind het nooit gewaai nie, en Japan, die “goddelike” land, is verslaan. My vertroue in die keiser en my land was verpletter. Die dae het doelloos en sonder hoop verbygesleep. Ek het verskeie godsdienste ondersoek, omdat ek gedink het dat die ware God nie onder die gode was waarin ek geglo het nie. Maar hulle het almal selfsug bevorder, en hulle is gekenmerk deur geloofsgenesing en hebsugtige gewin. Uiteindelik het ek in my eie soort godsdiens geglo. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die betoning van naasteliefde deur ’n mens se werke die einddoel van die lewe is. Aangesien ek fietse verkoop het, het ek probeer om fietse van goeie gehalte teen redelike pryse te verkoop en op ’n liefdevolle manier vinnige hersteldiens te voorsien. My werk het die plek ingeneem wat die gode vantevore in my hart gehad het.

Ek vind die ware God

Vroeg in 1959, terwyl ek in my winkel gewerk het, het ’n egpaar my besoek en my Die Wagtoring en die Ontwaak! aangebied. Hulle was Jehovah se Getuies, en hulle het ’n paar dae later teruggekeer om my aan te moedig om die Bybel te bestudeer. Aangesien ek altyd meer oor God wou weet, het ek geredelik ingestem. Ek het my vrou genooi om ook die weeklikse studie by te woon.

Uiteindelik het ek begin besef dat ek in iets sonder enige grond geglo het. Ek kon nou sien hoe belaglik dit was dat ek my vurig toegewy het aan iemand wat nie redding kon voorsien nie. Psalm 146, verse 3 en 4, het enige gehegtheid aan die keiser wat nog in my hart was, verwyder. Dit lui: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” Die onvoorwaardelike lojaliteit wat ek gedurende die oorlog aan die keiser en my land gegee het, sou ek nou gee aan die groot Universele Soewerein en die Skepper van die lewe, Jehovah God.

Daar was egter een ding wat swaar op my hart gedruk het. Dit was die bloed wat ek vergiet het in die gevegte in China—en veral in Singapoer. Hoe kan ’n man met soveel bloedskuld soos ek die groot Universele Soewerein dien? Hierdie probleem is in 1960 opgelos, toe ’n kringbyeenkoms gehou is in Iwakoeni, waar ons gewoon het. Ons het huisvesting verskaf aan die sendeling Adrian Thompson en sy vrou, Norrine, terwyl hy die stad besoek het om oor die byeenkoms toesig te hou. Ek het die geleentheid aangegryp om aan my diepste bekommernisse uiting te gee deur hom van my ondervindinge in Singapoer te vertel. “Ek het baie bloed vergiet. Sal ek ooit God se goedkeuring kan geniet?” het ek hom gevra. Daarop het hy net gesê: “Jy is in dieselfde situasie as die eerste-eeuse Romeinse hoofman Cornelius.” Sy woorde het die laaste bietjie twyfel laat verdwyn, en ek is die volgende dag saam met my vrou gedoop.—Handelinge 10:1-48.

Die vreugde om die allerhoogste God lojaal te dien

Wat ’n vreugde is dit om die Grootste Persoon in die heelal, Jehovah, te kan dien, wat voortrefliker is as al die ander gode wat ek al gedien het! En watter voorreg is dit tog om aan ’n geestelike oorlog as soldaat van Jesus Christus te kan deelneem! (2 Timotheüs 2:3). Ek het begin om my trou aan God in my familie te toon. Kort nadat ek gedoop is, het ek gehoor hoe my pa vir my ma sê: ‘Tomiji sal nie voor die Boeddhistiese altaar buig nie, en hy sal ook nie meer roudienste by ons familiegraf hou nie.’ Die Japannese beskou dit as ’n betuiging van liefde wanneer kinders jaarliks roudienste tot eer van hulle ouers hou. Toe ek my pa se woorde hoor, het dit my aangespoor om hom ook van die waarheid te vertel. Ek het ’n Bybelstudie met hom gehou, en hy is in die herfs van 1961 gedoop, saam met my dogter Eiko en my seun, Akinoboe. Masako, my jongste dogter, het hulle voorbeeld gevolg. My ma het haar eie godsdiens gehad en wou eers nie studeer nie, maar na baie jare het sy Jehovah ook saam met ons begin dien.

In 1975 het ek by my vrou in die voltydse bediening as ’n gewone pionier aangesluit. Sedertdien kon ek as ’n soldaat van Jesus Christus in die gemeente dien. Wanneer ek ’n bietjie moeg voel, dink ek aan die ywer wat ek gehad het toe ek die keiser en my land gedien het en sê dan vir myself: ‘As ek die keiser en my land met soveel toegewydheid gedien het, hoe kan ek minder doen terwyl ek die groot Universele Soewerein dien?’ En dan het ek weer krag om aan te gaan (Jesaja 40:29-31). Ek dien geen mens meer onder dwang van die vyf artikels van die eed nie, maar ek dien die allerhoogste God, Jehovah, met hartgrondige toegewydheid wat op juiste kennis gegrond is. Hy verdien ons heelhartige lojaliteit.—Soos vertel deur Tomiji Hironaka.

[Voetnoot]

a Die aanval op Pearl Harbor het plaasgevind op 7 Desember 1941, Hawaise tyd, wat 8 Desember in Japan en in Thailand was.

[Prent op bladsy 15]

Tomiji Hironaka gedurende die oorlog

[Prente op bladsy 16]

Werkers van die burgerlike beskermingsdiens bestry brande in die gevegte in Singapoer

Generaal Percival se oorgawe aan die Japannese

[Erkenning]

The Bettmann Archive

[Prent op bladsy 17]

Hirosjima nadat die atoombom in 1945 daarop geval het

[Erkenning]

USAF photo

[Prent op bladsy 18]

Ek en my vrou met die boek wat ons lewe verander het—die Bybel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel