Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 5/1 bl. 28-31
  • “Hier is ek, stuur my”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hier is ek, stuur my”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Keuse wat ek vroeg in die lewe gemaak het
  • Na Singapoer
  • My toewysing in Shanghai
  • Hongkong en toe Birma
  • Terug in Australië
  • Terug na waar dit alles begin het
  • Die uitvoering van God se wil—my lewenslange vreugde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Singapoer—Asië se ontsierde juweel
    Ontwaak!—1997
  • Jehovah voorsien in al my behoeftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Jehovah, my vertroueling van jongs af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 5/1 bl. 28-31

“Hier is ek, stuur my”

SOOS VERTEL DEUR WILFRED JOHN

Gewapende Birmaanse militêre wagte het van weerskante van die rivier op ons afgestorm. Met gevelde bajonette en gewere het hulle deur die water wat tot by hulle middellyf gereik het, gebars en ons onder die hoofwegbrug omsingel.

EK EN my metgesel was vreesbevange. Wat was aan die gang? Hoewel ons nie die taal verstaan het nie, het ons gou verstaan wat aangaan—ons was onder arres. Met net ons handdoeke om ons middel gebind, is ons sonder seremonie na die naaste polisiestasie geneem en deur ’n Engelssprekende offisier ondervra.

Dit was 1941, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en ons was daarvan verdink dat ons saboteurs was. Nadat ons verduideliking van ons Christelike predikingswerk die offisier tevrede gestel het, het hy gesê dat ons gelukkig was om lewend uit die konfrontasie te kom. Die meeste verdagtes, het hy gesê, word sonder enige vrae geskiet. Ons het Jehovah gedank en die offisier se raad ter harte geneem om nie in die toekoms by brûe te vertoef nie.

Hoe het ek in so ’n situasie in Birma (nou Myanma) beland? Laat ek verduidelik en ’n bietjie agtergrondinligting oor myself gee.

’n Keuse wat ek vroeg in die lewe gemaak het

Ek is in 1917 in Wallis gebore, en op sesjarige ouderdom het ek saam met my ouers en my jonger broer na Nieu-Seeland verhuis waar ek op my pa se melkplaas grootgeword het. Op ’n dag het hy ’n pak boeke huis toe gebring wat hy by ’n tweedehandse winkel gekoop het. Onder hulle was twee boekdele van Studies in the Scriptures wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society uitgegee is. Hulle het my ma se kosbaarste besittings geword, en soos Timotheüs se ma, Eunice, het sy ’n begeerte by my ingeskerp om my jeug te gebruik om Jehovah se Koninkryksbelange te bevorder.—2 Timotheüs 1:5.

In 1937 het ek voor ’n keuse te staan gekom: om my pa se melkplaas oor te neem of soos God se profeet Jesaja vir Jehovah te sê: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Ek was jonk, gesond en sonder verantwoordelikhede. Ek het die plaaslewe geken en dit geniet. Daarenteen het ek geen ervaring as ’n voltydse bedienaar, of pionier, gehad nie. Wat sou dit wees—om op die plaas te werk of as ’n pionier te dien?

Sprekers van die Australiese takkantoor van Jehovah se Getuies was ’n bron van bemoediging. Hulle het ons gebied in Nieu-Seeland besoek en my aangespoor om my kosbare jeug in die diens van God te gebruik (Prediker 12:1). Ek het die saak met my ouers bespreek en hulle het saamgestem dat dit wys is om God se wil eerste te stel. Ek het ook oor Jesus Christus se woorde in die Bergpredikasie nagedink: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:33.

My keuse was gemaak! Aangesien daar toe nie ’n tak van Jehovah se Getuies in Nieu-Seeland was nie, is ek genooi om by die Australiese tak in Sydney te dien. In 1937 het ek dus aan boord gegaan van ’n skip onderweg na Australië om ’n voltydse bedienaar van Jehovah God te word.

‘Watter toewysing sal ek ontvang?’ het ek gewonder. Maar, wat het dit in elk geval saak gemaak? Ek het in werklikheid vir Jehovah gesê: ‘Hier is ek. Gebruik my waar u wil.’ Ek het twee jaar lank gehelp om fonograwe te maak wat in daardie dae deur Jehovah se Getuies gebruik is om plaatopnames van Bybeltoesprake vir die huisbewoners te speel. My vernaamste opleiding by die tak was egter om met lektuurvoorrade te werk.

Na Singapoer

In 1939 het ek ’n toewysing na die Verre-Ooste ontvang—om by die Genootskap se depot in Singapoer te dien. Die depot het as middelpunt gedien vir die ontvangs en verskeping van lektuur van Australië, Brittanje en die Verenigde State na baie lande in Asië.

Singapoer was ’n veeltalige stad waar Oosterse kulture met Europese kulture gemeng het. Die Maleise taal was die algemene spreektaal, en om van huis tot huis te kon preek moes ons as uitlanders dit leer. In baie tale het ons wat ons getuieniskaarte genoem het, gehad. Op hierdie kaarte was daar ’n kort aanbieding van die Koninkryksboodskap gedruk.

Aanvanklik het ek die Maleise getuieniskaart gememoriseer en toe geleidelik my woordeskat in daardie taal uitgebrei. Maar ons het ook Bybellektuur in baie ander tale gehad. Vir die Indiese bevolking het ons byvoorbeeld publikasies in Bengali, Goedjarati, Hindi, Malabaars, Oerdoe en Tamil gehad. Om mense van soveel taalgroepe te ontmoet was vir my ’n nuwe ondervinding.

Hoe goed onthou ek die skrikwekkende aankondiging in September 1939, die verklaring van oorlog in Europa. Ons het gewonder: ‘Sal dit uitbrei en die Verre-Ooste insluit?’ Vir my het dit gelyk soos die voorspel tot Armageddon—presies op tyd, het ek gedink! Ek was tevrede dat ek ten volle en behoorlik gebruik maak van my jeug.

Saam met my werk by die depot het ek ’n volle deelname aan gemeentelike vergaderinge en die velddiens gehad. Bybelstudies is gehou en party persone het gunstig gereageer en is gedoop. Hulle is na ’n nabygeleë strand geneem en in die warm water van die Singapoer-hawe ondergedompel. Ons het selfs besluit om ’n byeenkoms te hou en stilweg uitnodigings onder belangstellendes rondgestuur. Tot ons vreugde het ongeveer 25 mense gekom na wat ons geglo het ons laaste byeenkoms voor Armageddon sou wees.

Die oorlog het kommunikasie tussen die Genootskap se takke kwaai beperk. Ons Singapoer-depot het byvoorbeeld ’n kort kennisgewing ontvang dat drie Duitse pioniers Singapoer die een of ander tyd op ’n ongenoemde skip sou bereik op pad na ’n onbekende toewysing. ’n Paar weke later het hulle opgedaag en ’n opwindende tien ure by ons deurgebring. Hoewel taal ’n probleem was, kon ons verstaan dat Shanghai hulle toegewese bestemming was.

My toewysing in Shanghai

’n Jaar later het ek ook ’n toewysing ontvang om in Shanghai te dien. Ek het geen straatadres gehad nie, net ’n posbusnommer. Nadat ek deeglik by die poskantoor ondervra is, kon ek voldoende bewys van my identiteit lewer om die Genootskap se residensiële adres te kry. Die Chinese bewoner het egter vir my gesê dat die tak geskuif het en dat daar geen aanstuuradres was nie.

‘Wat moet ek nou doen?’ het ek gewonder. Ek het stilweg om leiding gebid. Toe ek opkyk, het ek drie mans gesien wat effens langer as die gewone stroom mense was en ietwat anders gelyk het. Hulle het beslis soos die drie Duitsers gelyk wat Singapoer daardie paar uur vlugtig aangedoen het. Ek het vinnig voor hulle ingestap.

“Verskoon my, asseblief”, het ek opgewonde gestamel. Hulle het gaan staan en met ondersoekende oë agterdogtig na my gekyk. “Singapoer. Jehovah se Getuies. Onthou julle my?” het ek gevra.

Na ’n paar oomblikke het hulle geantwoord: “Ja! Ja! Ja!” Ons het mekaar spontaan omhels, en trane van vreugde het oor my wange gerol. Hoe het dit gekom dat daardie drie mans, uit miljoene mense, op daardie oomblik by daardie plek verbygeloop het? Ek het net gesê: “Dankie, Jehovah.” Drie Chinese gesinne, die drie Duitsers en ek was op daardie stadium die enigste Getuies in Shanghai.

Hongkong en toe Birma

Nadat ek ’n paar maande in Shanghai gedien het, het ek ’n toewysing na Hongkong ontvang. Toe my voorgenome pioniermaat uit Australië nie opdaag nie, was ek op my eie, die enigste Getuie in die kolonie. Weer moes ek my daaraan herinner dat ek vir Jehovah gesê het: “Hier is ek, stuur my.”

Ek het my bediening hoofsaaklik op die Engelssprekende Chinese toegespits, maar ek het dit moeilik gevind om verby die hek te kom, omdat die bediendes wat daar geplaas was net Chinees gepraat het. Daarom het ek ’n bietjie Chinees in twee van die algemeenste dialekte geleer. Dit het gewerk! Ek het die bediende wat op wag was, genader, my visitekaartjie getoon, my bietjie Chinees gepraat, en gewoonlik is ek dan binnegelei.

Toe ek eenkeer ’n skool besoek het, het ek hierdie metode gevolg in ’n poging om met die skoolhoof te praat. ’n Junioronderwyseres het my in die ontvangsportaal ontvang. Ek het haar deur ’n aantal klaskamers gevolg, die kinders se eerbiedige gebare beantwoord en my voorberei om aan die skoolhoof voorgestel te word. Die onderwyseres het geklop, die deur oopgemaak, teruggestaan en gewys dat ek kan instap. Tot my verontwaardigde verbasing het sy my beleef na die toilet geneem! Sy het my Chinees blykbaar misverstaan en het, soos die skoolhoof later verduidelik het, my verkeerdelik vir ’n loodgieter- en rioleringinspekteur aangesien.

Na vier maande se bedrywighede is ek deur die polisie in Hongkong in kennis gestel dat ’n verbod op ons predikingswerk geplaas is en dat ek óf sal moet ophou preek óf gedeporteer sal word. Ek het deportasie verkies aangesien die deur tot voortgesette prediking elders nog oop was. Terwyl ek in Hongkong was, het ek 462 boeke by mense gelaat en twee ander gehelp om aan die bediening deel te neem.

Van Hongkong is ek na Birma gestuur. Daar het ek as pionier gedien en by die depot in Rangoen (nou Yangon) gehelp. Een van die interessantste ondervindinge was om in die stede en dorpe te preek wat versprei lê langs die hoofroete van Rangoen na Mandalay en anderkant die Chinese grensdorp Lashio. Ek en my pioniermaat het ons op die Engelssprekende gemeenskap toegespits en honderde intekeninge op die Consolation (nou bekend as die Ontwaak!) bekom. Terloops, hierdie hoofpad van Rangoen na Mandalay sou bekend word as die Birma-pad, die weg waarlangs die Amerikaanse oorlogsvoorrade in China ingestuur is.

Omdat ons enkeldiep deur die stof moes sukkel, het ons dikwels die behoefte aan ’n behoorlike bad gehad. Dit het tot die voorval gelei wat aan die begin vertel is, toe ons gearresteer is terwyl ons in ’n rivier onder ’n brug gewas het. Kort daarna het militêre operasies en siekte ons verplig om na Rangoen terug te keer. Ek kon tot in 1943 in Birma bly, toe uitgebreide oorlogsoperasies my verplig het om na Australië terug te keer.

Terug in Australië

Intussen is daar in Australië ’n verbod op die bedrywighede van Jehovah se Getuies geplaas. Die verbod is egter gou opgehef en mettertyd is ek weer genooi om by die takkantoor te werk. Later, in 1947, het ek met Betty Moss getrou wat by die Genootskap se tak in Australië gewerk het. Betty se pa en ma was pioniers en het haar en haar broer Bill aangemoedig om die pionierdiens hulle loopbaan te maak. Betty het die dag waarop sy skool verlaat het die pionierdiens betree, op 14-jarige ouderdom. Ek het gedink dat ons goed bymekaar sou pas, omdat sy ook in werklikheid vir Jehovah gesê het: “Hier is ek, stuur my.”

Nadat ons ’n jaar getroud was, is ek genooi om kringwerk te doen en gemeentes van Jehovah se Getuies te besoek. Om in die Australiese binneland te werk, was ’n ware uitdaging. Skielike oorstromings het dikwels reisprobleme opgelewer, veral op gladde kleigrondpaaie. Somertemperature het tot 43 grade Celsius in die koelte gestyg. In die seiltente waarin ons gebly het, was die snikhete somers vir ons amper onuithoubaar en die winters bitter koud.

Dit was ’n vreugde gewees om as ’n streekopsiener te dien toe daar net twee streke in Australië was. Donald MacLean het een streek bedien en ek die ander een. Dan het ons streke geruil. Dit is opwindend om van die gemeentes te lees wat nou bestaan waar ons eers gedien het. Die saadjies van Bybelwaarheid het ongetwyfeld ontkiem en vrugte voortgebring!

Terug na waar dit alles begin het

In 1961 het ek die voorreg gehad om die eerste klas van die Gileadsendingskool by te woon nadat dit na Brooklyn, New York, verskuif is. Ek het vorige uitnodigings na die skool ontvang, maar om gesondheidsredes kon ek dit nie aanvaar nie. Aan die einde van die tien-maande-kursus is ek genooi om Nieu-Seeland as my toewysing te aanvaar.

Daarom is ek en Betty sedert Januarie 1962 hier in Nieu-Seeland, een van die lande wat in die verre suide geleë is. Daar word dikwels daarna verwys as een van die pêrels van die Stille Oseaan. In teokratiese sin was die kring- sowel as die streekwerk ’n vreugde. Ons werk die afgelope 14 jaar, sedert April 1979, by die Nieu-Seelandse takkantoor.

Ek en Betty is nou albei in ons middel-sewentigerjare, en tussen die twee van ons het ons 116 jaar ononderbroke voltydse Koninkryksdiens. Betty het in Januarie 1933 met pionierdiens begin en ek in April 1937. Dit het ons al soveel vreugde verskaf om te sien hoe ons geestelike kinders en kleinkinders dít doen wat ons gedoen het toe ons jonk was, naamlik, om ag te slaan op die raad in Prediker 12:1: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid.”

Wat ’n vreugde was dit tog om feitlik ons hele lewe daaraan te wy om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en dissipels te maak soos ons Here Jesus Christus beveel het! (Mattheüs 24:14; 28:19). Ons is so bly dat ons soos die profeet Jesaja van lank gelede op God se uitnodiging gereageer het: “Hier is ek, stuur my.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel