Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 6/22 bl. 7-10
  • Jou dieet—Kan dit jou dood veroorsaak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou dieet—Kan dit jou dood veroorsaak?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jou dieet en hartsiekte
  • Die rol van cholesterol
  • Bloedcholesterol en dieet
  • Vette en cholesterol
  • Waarom vette en cholesterol verminder
  • Kanker en dieet
  • Hoe kan die risiko verlaag word?
    Ontwaak!—1996
  • Hoe om ’n gesonde dieet te kies
    Ontwaak!—1997
  • Laat koffie jou cholesterolvlak styg?
    Ontwaak!—2000
  • Hoe om jou gesondheid te beskerm
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 6/22 bl. 7-10

Jou dieet—Kan dit jou dood veroorsaak?

“Jy het ’n koronêre arterie wat erg vernou is, ’n obstruksie van ongeveer 95% . . . Op hierdie oomblik is jy ’n hartaanvalstatistiek wat net wag om te gebeur.”

DIE 32-jarige Joe kon nie glo wat die kardioloog wat hom ondersoek het om die oorsaak van die pyn in sy bors vas te stel, sê nie. Byna die helfte van die mense wat aan hartsiektes sal sterf, weet nie eens dat hulle dit het nie.

Maar wat het tot Joe se toestand aanleiding gegee? ‘Twee-en-dertig jaar lank het ek die tipiese Amerikaanse “vleis en melk”-dieet gevolg’, sê Joe. ‘Op die een of ander manier het die feit dat die Amerikaanse dieet gevaarlik vir my gesondheid is nie tot my deurgedring nie.’

Jou dieet en hartsiekte

Wat was fout met Joe se dieet? Dit het basies te veel cholesterol en vet, veral versadigde vet, bevat. Van sy jeugjare af het Joe hom met feitlik elke mondvol kos ’n kandidaat vir koronêre hartsiekte gemaak. Trouens, ’n vetryke dieet word gekoppel aan vyf van die tien hoofoorsake van sterftes in die Verenigde State. Hartsiektes is bo-aan die lys.

Die verband tussen dieet en hartsiektes word duidelik gesien in ’n studie wat in sewe lande gedoen is onder ongeveer 12 000 mans tussen die ouderdomme van 40 en 49. Die uiterstes onthul veral baie. Die studie het getoon dat Finse mans—wat 20 persent van hulle kilojoules as versadigde vet eet—verhoogde bloedcholesterolvlakke gehad het, terwyl Japannese mans—wat slegs 5 persent van hulle kilojoules as versadigde vet eet—lae bloedcholesterolvlakke gehad het. En die hartaanvalsyfer onder Finse mans was ses keer hoër as onder Japannese mans!

Maar koronêre hartsiektes is nie meer iets ongewoons in Japan nie. In die afgelope paar jaar, namate Westerse kitskos gewild geraak het daar, het die inname van diervette met 800 persent toegeneem. Nou het Japannese seuns selfs hoër bloedcholesterolvlakke as Amerikaanse seuns van dieselfde ouderdom! Dit is duidelik dat vet in die dieet asook cholesterol ’n rol speel in lewensgevaarlike toestande, veral hartsiektes.

Die rol van cholesterol

Cholesterol is ’n wit, wasagtige stof wat noodsaaklik is vir lewe. Dit kom voor in die selle van alle mense en diere. Ons lewer vervaardig cholesterol, en die voedsel wat ons eet, bevat ook verskillende hoeveelhede daarvan. Bloed vervoer cholesterol na die selle in molekules wat lipoproteïene genoem word, wat uit cholesterol, vette en proteïene bestaan. Die twee soorte lipoproteïene wat die meeste van die bloedcholesterol vervoer, is laedigtheidslipoproteïene (LDL) en hoëdigtheidslipoproteïene (HDL).

LDL’s is ryk aan cholesterol. Terwyl hulle in die bloedstroom sirkuleer, gaan hulle selle binne deur LDL-reseptors aan die selwande en word hulle afgebreek vir gebruik deur die sel. Die meeste selle in die liggaam het sulke reseptors, en hulle neem LDL op. Maar die lewer is so ontwerp dat 70 persent van die verwydering van LDL uit die bloedstroom deur LDL-reseptors daar plaasvind.

HDL’s, aan die ander kant, is cholesterolhonger-molekules. Terwyl hulle deur die bloedstroom beweeg, neem hulle oortollige cholesterol op en vervoer dit na die lewer. Die lewer breek cholesterol af en verwyder dit uit die liggaam. Die liggaam is dus wonderlik ontwerp om die cholesterol wat dit nodig het te benut en van die res ontslae te raak.

Die probleem ontstaan wanneer daar te veel LDL in die bloed is. Dit vergroot die moontlikheid dat plaak op arteriewande sal aanpak. Wanneer plaak aanpak, vernou die arteries en die hoeveelheid suurstofdraende bloed wat deur hulle kan vloei, verminder. Hierdie toestand word aterosklerose genoem. Die proses gaan stadig en stil voort en neem dekades voor enige simptome waargeneem word. Een simptoon is angina pectoris, of borskaspyn, soos wat Joe ondervind het.

Wanneer ’n koronêre arterie heeltemal afgesluit is, dikwels as gevolg van ’n bloedklont, sterf die deel van die hart wat bloed van daardie arterie ontvang. Die gevolg is ’n skielike, dikwels dodelike, miokardinfark—beter bekend as ’n hartaanval. Selfs gedeeltelike afsluiting van ’n koronêre arterie kan tot die afsterwe van hartweefsel lei, wat dalk nie deur ernstige fisiese ongemak waarneembaar is nie. Afsluiting van arteries in ander dele van die liggaam kan beroertes, gangreen van die bene en selfs verlies van nierfunksie veroorsaak.

Dit is nie verbasend dat LDL slegte cholesterol en HDL goeie cholesterol genoem word nie. As LDL-vlakke hoog of HDL-vlakke laag is, is die gevaar van hartsiektes groot.a ’n Eenvoudige bloedtoets sal dikwels aandui dat gevaar dreig lank voor ’n persoon merkbare simptome, soos angina, ondervind. Dit is dus belangrik om jou bloedcholesterolvlak onder beheer te hou. Kom ons kyk nou hoe jou dieet hierdie vlak kan beïnvloed.

Bloedcholesterol en dieet

Cholesterol is ’n natuurlike deel van voedsel wat van diere verkry word. Vleis, eiers, vis, pluimvee en suiwelprodukte bevat almal cholesterol. In teenstelling hiermee bevat voedsel van plante geen cholesterol nie.

Die liggaam vervaardig al die cholesterol wat dit nodig het, daarom is cholesterol wat in voedsel ingeneem word ekstra. Die meeste van die cholesterol in ons dieet beland in die lewer. Wanneer cholesterol in ons dieet die lewer binnegaan, verwerk die lewer dit gewoonlik en verminder sy eie cholesterolproduksie. Dit hou die totale hoeveelheid cholesterol in die bloed onder beheer.

Wat gebeur egter as daar soveel cholesterol in die dieet is dat dit nie vinnig deur die lewer verwerk kan word nie? Dit vergroot die moontlikheid dat cholesterol die selle van die arteriewande direk sal binnedring. Wanneer dit gebeur, vind aterosklerose plaas. Die situasie is veral gevaarlik wanneer die liggaam aanhou om dieselfde hoeveelheid cholesterol te vervaardig ongeag die hoeveelheid cholesterol wat ons deur ons dieet inneem. In die Verenigde State het 1 uit 5 persone hierdie probleem.

Dit sal dus wys wees om jou inname van cholesterol te verminder. Maar ’n ander komponent van ons dieet het ’n selfs groter uitwerking op die bloedcholesterolvlak—versadigde vette.

Vette en cholesterol

Vette val in twee kategorieë: versadig en onversadig. Onversadigde vette kan mono-onversadig of poli-onversadig wees. Onversadigde vette is beter vir jou as versadigde vette, aangesien die inname van versadigde vette die cholesterolvlak in die bloed verhoog. Versadigde vette doen dit op twee maniere: Dit help om meer cholesterol in die lewer te vervaardig en onderdruk LDL-reseptors op lewerselle, wat die spoed verminder waarteen LDL uit die bloed verwyder word.

Versadigde vette word hoofsaaklik aangetref in voedselsoorte wat van diere af kom, soos botter, eiergeel, varkvet, melk, roomys, vleis en pluimvee. Sjokolade, kokosneut en kokosolie, plantaardige vet en palmolie is ook ryk daaraan. Versadigde vette is solied teen kamertemperatuur.

Onversadigde vette, aan die ander kant, is ’n vloeistof teen kamertemperatuur. Voedsel wat mono-onversadigde vette en poli-onversadigde vette bevat, kan jou bloedcholesterolvlak help verlaag as dit geëet word in die plek van voedsel wat versadigde vette bevat.b Terwyl poli-onversadigde vette, wat algemeen in mielie-olie en sonneblomsaadolie voorkom, beide goeie en slegte cholesterol verminder, verminder mono-onversadigde vette, waaraan olyf- en kanola-olie ryk is, slegs die slegte cholesterol sonder om die goeie cholesterol te beïnvloed.

Vette is natuurlik ’n noodsaaklike deel van ons dieet. Daarsonder sal vitamiene A, D, E en K byvoorbeeld glad nie opgeneem word nie. Die liggaam het egter baie min vet nodig. Daar word maklik in hierdie behoefte voorsien deur die inname van groente, boontjies, graansoorte en vrugte. Die liggaam word dus nie noodsaaklike voedingstowwe ontsê as die inname van versadigde vette beperk word nie.

Waarom vette en cholesterol verminder

Sal ’n dieet wat ryk is aan vette en cholesterol altyd die bloedcholesterol verhoog? Nie noodwendig nie. Thomas, wat in die openingsartikel genoem is, het besluit om ’n bloedtoets te laat doen ná sy onderhoud met Ontwaak! Die resultate het getoon dat sy cholesterolvlakke binne die gewenste perke was. Sy lewer was blykbaar in staat om die cholesterolvlak onder beheer te hou.

Dit beteken egter nie dat Thomas nie in gevaar verkeer nie. Onlangse studies dui daarop dat cholesterol in ons dieet die gevaar van koronêre hartsiektes kan vergroot sonder dat dit die bloedcholesterol beïnvloed. “Voedsel wat ryk is aan cholesterol bevorder hartsiektes selfs in mense met lae bloedcholesterol”, sê dr. Jeremiah Stamler, van Northwestern-universiteit. “En dis waarom dit vir alle mense van belang moet wees om minder cholesterol te eet, ongeag hulle bloedcholesterolvlak.”

Daar is ook die kwessie van vet in die dieet. Te veel vet in die bloed, hetsy dit van versadigde of onversadigde vet in die voedsel is, veroorsaak dat rooi bloedselle saamklomp. Sulke verdikte bloed vloei nie deur die nou haarvate nie en veroorsaak dat die weefsel nie die nodige voedingstowwe kry nie. Geklompte selle wat deur die arteries beweeg, versteur ook die suurstofverspreiding na die arteriewande, wat skade veroorsaak aan die wandoppervlak, waar plaak maklik kan begin vorm. Maar daar is nog ’n gevaar daaraan verbonde om groot hoeveelhede vet in te neem.

Kanker en dieet

“Alle vette—versadig en onversadig—is betrokke by die groei van sekere soorte kankerselle”, sê dr. John A. McDougall. Een opname van die internasionale voorkomssyfer van kolorektale kanker en borskanker het ontstellende verskille getoon tussen Westerse nasies, waar diëte baie vet bevat, en ontwikkelende nasies. In die Verenigde State is kolorektale kanker byvoorbeeld die tweede algemeenste kanker vir mans en vrouens saam, terwyl borskanker die algemeenste is vir vroue.

Volgens die Amerikaanse Kankervereniging is die voorkoms van kanker onder groepe mense wat na ’n land met ’n hoë kankersyfer verhuis uiteindelik dieselfde as vir daardie land, na gelang van hoe lank dit hulle neem om na die nuwe lewenstyl en dieet oor te skakel. “Japannese immigrante na Hawaii”, sê die kookboek van die kankervereniging, “ontwikkel ’n Westerse kankerpatroon: hoog vir kolon- en borskanker, laag vir maagkanker—die omgekeerde van die Japannese patroon.” Daar is ongetwyfeld ’n verband tussen kanker en dieet.

As jou dieet baie totale vet, versadigde vet, cholesterol en kilojoules bevat, moet jy ’n paar veranderinge aanbring. ’n Goeie dieet kan lei tot goeie gesondheid en kan selfs talle van die slegte gevolge van ’n slegte dieet regstel. In die lig van opsies soos pynlike omleidingsoperasies, wat dikwels R190 000 of meer kos, is dit beslis verkieslik.

Deur verstandig te kies wat jy eet, kan jy gewig verloor, beter voel en jouself help om sekere siektes te voorkom of te genees. Wenke in hierdie verband word in die volgende artikel bespreek.

[Voetnote]

a Cholesterol word gemeet in milligram per desiliter. ’n Gewenste vlak van totale cholesterol—die totaal van LDL, HDL en cholesterol in ander lipoproteïene in die bloed—is minder as 200 milligram per desiliter. ’n HDL-vlak van 45 milligram per desiliter of meer word beskou as goed.

b Die 1995-Dieetriglyne vir Amerikaners stel voor dat ’n mens se totale vetinname niks meer as 30 persent van die daaglikse kilojoules uitmaak nie en hulle stel voor dat versadigde vet verminder word tot minder as 10 persent van die kilojoules. ’n Vermindering van 1 persent in die kilojoule-inname van versadigde vette lei gewoonlik tot ’n vermindering van 0,8 milligram per desiliter in die bloedcholesterolvlak.

[Diagram op bladsy 8]

Dwarssnit van koronêre arteries: (1) heeltemal oop, (2) gedeeltelik vernou, (3) feitlik heeltemal vernou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel