Van ons lesers
Pret Ek stem saam dat daar talle veilige maniere is waarop jongmense pret kan hê, soos gemeld word in die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek pret hê?” (22 September 1996). Ons kan na ’n museum of ’n dieretuin toe gaan, piekniek hou of selfs ’n geselligheid reël. Selfs diegene van ons met min finansiële middele kan pret hê deur ander jongmense oor te vra om speletjies te speel of ’n maaltyd te nuttig.
V. A., Brasilië
Dapper kat Ek moes julle eenvoudig laat weet hoeveel ek die artikel “Die band tussen ’n ma en haar kleintjies” waardeer het, wat in die nommer van 22 September 1996 verskyn het. Ek woon in ’n land waar seksuele gebruike geen perke ken nie en waar talle jong meisies nie skroom om ’n aborsie te ondergaan nie. Ek dink dat die ma-kat wat Scarlett genoem word ’n puik voorbeeld van ’n pligsgetroue ma is.
E. B., Mali
Ek was ontroer toe ek die verhaal van Scarlett gelees het, wat sulke algehele onverskrokkenheid getoon het om haar kleintjies uit ’n brandende garage te red. Sy het my beïndruk as ’n kat wat vir baie mense heelwat kan leer. Ek dink dit is wonderlik dat julle sulke artikels publiseer.
D. W., Duitsland
Julle hartverblydende artikel oor Scarlett en haar kleintjies was die kragtigste artikel oor aborsie wat ek nog gelees het.
J. G., Verenigde State
Ek kon nie die trane keer toe ek die artikel lees nie. Ek was nog altyd lief vir alle soorte diere, en ek waardeer die lesse wat Jehovah ons deur hulle leer. Dit is vir my baie ontstellend om te weet dat “intelligente” mense nie dieselfde sorg en aandag aan hulle eie kinders gee nie.
C. C., Verenigde State
Tinnitus Baie dankie vir die artikel “Tinnitus—’n Geraas waarmee jy moet saamleef?” (22 September 1996). Ek ly al ses jaar daaraan. Ek was bevrees dat ek aan ’n ongeneeslike siekte ly omdat geen dokter my kon sê wat my toestand presies genoem word nie. Die artikel het ’n kalmerende uitwerking op my gehad. Nou probeer ek daarmee saamleef terwyl ek wag vir God se nuwe wêreld, waar niemand meer siek sal wees nie.—Jesaja 33:24.
C. F., Italië
Ek het hierdie probleem bykans tien jaar gelede begin ondervind. Dit was verskriklik om te dink dat ek hierdie geraas onophoudelik sou hoor! Maar nou leer ek om met my lawaaierige oor saam te leef. Ek sien uit na die tyd wanneer ek, danksy Jehovah, weer STILTE sal hoor!
J. S., Tsjeggiese Republiek
Ek ly al die afgelope twee en ’n half jaar aan tinnitus en het allerhande mediese toetse ondergaan, onder andere ’n CAT-aftasting van die brein. Angs en spanning was frustrerende probleme in my lewe. Noudat ek julle artikel gelees het, leer ek om met die kwaal saam te leef.
M. G. T. F., Sri Lanka
My man ly aan tinnitus. Hy ly ook aan major depressie. Hierdie inligting het my gehelp om meer empatie met hom te hê. Soms pla die geraas hom baie, en ek moet erken dat ek nie die medelye getoon het wat ek moes nie. Ek het opregte waardering vir die logiese manier waarop hierdie artikel geskryf is. Ek is seker dat dit baie huweliksmaats van diegene met tinnitus sal help om meer begrip te toon.
L. F., Verenigde State