Die band tussen ’n ma en haar kleintjies
SY WAS net ’n rondloper, kortharige, naamlose kat met vyf kleintjies, wat in die armoedige strate van oostelike New York aan die lewe probeer bly het. Sy het ’n bouvallige, leë garage waar brande gedurig uitgebreek het haar tuiste gemaak. Sy het die buurt gefynkam op soek na stukkies oorskietkos sodat sy haar kleintjies, wat groter geword het, kon voed.
Dit alles sou op 29 Maart 1996 om 6:06 die oggend verander. ’n Brand het uitgebreek wat vinnig deur die garage versprei het. Die katgesin se tuiste was in vlamme gehul. Die brandweerspan, Ladder Company 175, het gereageer en die brand gou onder beheer gebring. David Giannelli, een van die brandweermanne, het die katjies hoor huil. Hy het drie van hulle net buite die gebou gevind, nog een was reeds meer as halfpad oor die straat en die vyfde was op die sypaadjie. Die katjies was te klein om op hul eie te kon ontsnap. Giannelli het opgemerk dat elke katjie se brandwonde erger as die ander s’n was, aangesien party langer vir hulp gewag het terwyl die ma-kat hulle een-een uitgedra het.
Die verslag in New York se Daily News van 7 April 1996 het hierdie berig gehad oor waar die ma gevind is en oor haar besorgdheid: “Giannelli het die ma gevind waar sy op ’n nabygeleë oop stuk grond van pyn inmekaargesak het, en dit was ’n droewige gesig. Haar ooglede was toegeswel van die rook. Die kussinkies van haar pote was erg gebrand. Daar was lelike brandmerke op haar gesig, ore en bene. Giannelli het ’n kartondoos in die hande gekry. Hy het die ma-kat en haar kleintjies versigtig daarin gesit. ‘Sy kon nie eens haar oë oopmaak nie’, het Giannelli gesê. ‘Maar sy het hulle een vir een met haar poot aangeraak—hulle as ’t ware getel.’”
Toe hulle by die Vereniging vir Dieresorg in North Shore aankom, het dit naelskraap gegaan. Die verslag het voorts gesê: “Geneesmiddels wat skok teëwerk, is gebruik. Die dapper kat is ’n buisie antibiotika binneaars toegedien. Antibiotiese room is sagkens op haar brandwonde gesmeer. Toe is sy in ’n suurstoftenk geplaas om haar te help asemhaal terwyl al die personeellede by die Vereniging vir Dieresorg hulle asem opgehou het . . . Binne 48 uur het die heldin regop gesit. Haar geswolle oë het oopgegaan, en die veeartse het vasgestel dat hulle nie beskadig is nie.”
Staan gerus stil en dink hieroor na. Sien vir ’n oomblik voor jou geestesoog hoe hierdie moedige ma, wat van nature bang is vir vuur, in die rookgevulde, brandende gebou ingaan om haar huilende kleintjies te red. Om een keer in te gaan om haar hulpelose kleintjies te red, sou ongelooflik wees; om dit vyf keer te doen, en elke keer met die pyn van bykomende brandwonde op haar pote en gesig, is ondenkbaar! Die dapper dier is die naam Scarlett gegee omdat die vel onder die brandwonde skarlakenrooi was.
Toe hierdie roerende verhaal van die band tussen ’n ma en haar kleintjies vanuit die Vereniging vir Dieresorg in North Shore aan die hele wêreld uitgesaai is, het die telefone aanhoudend begin lui. Meer as 6000 mense het van plekke so ver as Japan, Nederland en Suid-Afrika gebel om te hoor hoe dit met Scarlett gaan. Sowat 1500 het aangebied om Scarlett en haar kroos aan te neem. Een katjie is later dood.
Scarlett het die harte van mense regoor die wêreld geraak. Dit laat ’n mens wonder of Scarlett se voorbeeld van die band tussen ’n ma en haar kleintjies nie die harte roer van miljoene moeders van vandag nie wat óf van hulle kinders ontslae raak terwyl hulle nog in die baarmoeder is, óf kort ná hulle geboorte deur mishandeling.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
North Shore Animal League