Eenvoudige maatreëls in die stryd teen malaria
Aangesien die wêreld se aandag toegespits is op burgeroorloë, misdaad, werkloosheid en ander krisisse, is malariasterfgevalle nouliks iets wat in die spitstydnuus kom. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bedreig malaria nietemin vandag byna die helfte van die wêreldbevolking, en ongeveer 300 miljoen tot 500 miljoen mense kry elke jaar malaria, wat dit “die algemeenste asook een van die dodelikste van alle tropiese siektes” maak. Hoe dodelik?
Elke 20 sekondes sterf daar iemand aan malaria. Die jaarlikse sterftesyfer is dus altesaam meer as 1,5 miljoen—’n syfer wat gelyk is aan die hele bevolking van Botswana. Nege uit tien malariasterfgevalle kom voor in tropiese Afrika, waar die meeste slagoffers jong kinders is. In die Amerikas het WGO die hoogste voorkomssyfer van malaria in die Amasonegebied aangeteken. Ontbossing en ander ekologiese veranderinge het ’n groeiende aantal malariaslagoffers in daardie deel van die wêreld agtergelaat. In party van Brasilië se Amasonegemeenskappe het die probleem nou so ernstig geword dat meer as 500 uit elke 1000 inwoners besmet is.
Hetsy in Afrika, die Amerikas, Asië of elders, malaria tref hoofsaaklik die armste bevolkingsgroepe. Hierdie mense, sê WGO, “het die minste toegang tot gesondheidsdienste, kan persoonlike beskerming die minste bekostig en is die verste weg van georganiseerde malariabeheer-aktiwiteite”. Tog is die benarde situasie van hierdie armes nie hopeloos nie. In die laaste jare, sê TDR News, ’n nuusbrief oor navorsing wat gedoen word oor tropiese siektes, het een van die belowendste metodes om malariasterfgevalle te voorkom meer bekombaar geword. Wat is hierdie lewensredder? Muskietnette wat met insekdoders behandel is.
Voordele van muskietnette
Hoewel die gebruik van muskietnette ’n eenvoudige oplossing is, het dr. Ebrahim Samba, direkteur van WGO se tak in Afrika, aan Panos Features, ’n nuusbrief van die Panos-instituut, gesê dat eksperimente wat gedoen is om die doeltreffendheid van muskietnette in die stryd teen malaria te toets “uiters opwindende resultate” opgelewer het. In Kenia het die gebruik van muskietnette wat met bioafbreekbare insekdoders behandel is byvoorbeeld die algehele sterftesyfer, nie net malariasterfgevalle nie, onder kinders wat jonger as vyf is met een derde laat daal. Behalwe dat dit lewens red, “kan nette die druk op gesondheidsdienste aansienlik verminder” omdat minder pasiënte hospitaalbehandeling vir malaria nodig sal hê.
Een probleem moet egter nog opgelos word: Wie betaal vir die nette? Toe mense in een Afrikaland gevra is om daarvoor by te dra, het die meeste geweier. En dit is geen wonder nie, want vir mense wat in lande woon wat jaarliks minder as R25 per persoon aan gesondheidsorg bestee, is selfs ’n muskietnet—met of sonder insekdoders—’n luuksheid. Maar aangesien hierdie voorkomingsmaatreël regerings minder sal kos as om malariapasiënte te behandel, sê VN-deskundiges dat “dit ’n uiters lonende gebruik van karige regeringsfondse sal wees om behandelde muskietnette te versprei en die geld daarvoor te verskaf”. Trouens, om muskietnette te voorsien, kan vir regerings ’n manier wees om fondse te bespaar. Vir miljoene van hulle arm burgers beteken dit egter baie meer—dit is ’n middel om hulle lewe te red.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
CDC, Atlanta, Ga.