Die Groot Skeurvallei
Deur Ontwaak!-medewerker in Kenia
DIT is ’n reusagtige skeur, ’n groef in die aarde se oppervlak wat so groot is dat dit van die maan se oppervlak af gesien kan word! Dit strek vanaf die Jordaanvallei in noordelike Israel al die pad tot in Mosambiek—’n ontsagwekkende 6400 kilometer—en loop dus langs byna die hele lengte van Afrika af.
In 1893 het die Skotse geoloog J. W. Gregory die eerste omvattende studie van hierdie natuurwonder gedoen. Gregory het besef dat die reusagtige sloot nie deur die erosie van water en wind gevorm is nie, maar “deur die grootskaalse insinking van die rots, terwyl die aangrensende landmassa stilgestaan het”. (Vergelyk Psalm 104:8.) Hy het hierdie enorme kraak in die aarde se oppervlak die Groot Skeurvallei genoem.
Hedendaagse wetenskaplikes het nog steeds nie ’n volledige begrip van die onderaardse kragte waardeur hierdie vallei millenniums gelede geskep is nie. Nietemin kan ’n mens nie anders as om gefassineer te wees deur die groot verskeidenheid wat daarin gevind kan word nie. Dié deel van die Groot Skeurvallei wat in Afrika lê en in Etiopië begin, sluit een van die mees onherbergsame plekke op die aarde in, die Danakil-depressie (ook bekend as die Afar-driehoek). Hierdie reusagtige soutpan grens aan die Rooi See en is ’n woestyn wat 150 000 vierkante kilometer beslaan. Hier het die aarde tot 120 meter onder seevlak ingesink. Temperature kan tot ’n skroeiende 54 grade Celsius styg. Daarvandaan styg die skeur in die Etiopiese hoogland in—’n koel 1800 meter bo seevlak, waar bergpieke tot 4300 meter hoog is. Digte reënwoude bedek die hange van hierdie vrugbare hoogland en voed talle riviere, soos die Blou Nyl. Wanneer ’n mens suid beweeg tot in die skeur se oostelike vertakking gaan dit voort om op ’n dramatiese manier te styg en te daal.
Al met die lengte van die Groot Skeurvallei langs is daar vulkaniese pieke van verskillende vorms en groottes sowel as kleiner skeure wat vertak. In die westelike skeur het vulkaniese beweging die Ruwenzori- en Virunga-gebergtes gevorm wat op die grense van Rwanda, Zaïre en Uganda lê. Party pieke toon steeds tekens van geotermiese werking, en af en toe bars daar rook en vuurwarm lawa uit. Naby die oostelike skeur is daar ou vulkaniese pieke soos Kilimandjaro en Berg Kenia wat so hoog is dat hulle ten spyte van die snikhete ekwatoriale son met sneeu bedek is. Warm bronne waaruit stoom en oorverhitte water borrel, word ook regdeur die hele Skeurvallei aangetref, wat getuig van die intense aktiwiteit wat nog steeds diep onder die aarde se oppervlak voorkom.
Verder suid, in Tanzanië, grens ’n uitgestrekte grasvlakte aan die vallei. In die Masai-taal word dit siringet genoem, ’n woord wat “wye oop ruimte” beteken. Die bekender naam daarvoor is die Serengeti-vlakte, en die oorvloedige grassoorte wat daar voorkom, onderhou groot troppe wilde diere. Dit is hier waar die groot wildebeestrek plaasvind—’n waarlik skouspelagtige gebeurtenis!
Mere van die Skeurvallei
Al langs die oostelike deel van die Groot Skeurvallei in Afrika is daar ’n reeks mere wat baie natriumkarbonaat bevat. Hierdie chemikalieë het van vulkaniese opvanggebiede uitgespoel of het deur ondergrondse vulkaniese werking in die mere beland. Party mere, soos die Turkana-meer in noordelike Kenia, is effens alkalies. Die Turkana-meer wat partykeer ’n pragtige liggroen kleur word, is omring deur duisende vierkante kilometer eensame woestynbossies en is die tuiste van die grootste krokodilbevolking in die wêreld. Mere soos die Magadi-meer van Kenia en die Natron-meer in Tanzanië is so deurtrek van soute dat hulle byna soliede afsettings van aangepakte wit soda vorm. Die oorsaak? Die afwesigheid van ’n uitloop wat andersins die sout sou wegdra. Die meeste van die water gaan deur verdamping verlore en laat ’n hoë konsentrasie minerale agter. Daar is min diere wat in en om die bitter waters van die Skeurvallei se sodamere aan die lewe kan bly. Merkwaardige uitsonderings is egter die grasieuse pienk flaminke wat van een sodameer na die ander beweeg en die mikroskopiese alge eet wat in die bytende waters floreer. Hier drom flaminke by die miljoene saam en vorm ’n lewende see van pienk.
’n Ander inwoner wat in hierdie andersins dodelike waters floreer, is ’n klein vissie wat tilapia grahami genoem word. Hierdie alkali-bestande vis word dikwels naby onderwaterstoomopeninge gevind, waar die water so warm is dat dit ongemaklik is om dit met die hand aan te raak. Tog bly hierdie klein vissie daar aan die lewe en leef hy van die meer se alge.
Net ’n paar van die oostelike skeur se mere het vars water. Die Naivasha-meer, in Kenia, is so ’n meer. Dit is 1870 meter bo seevlak geleë, en die helder waters daarvan is die tuiste van ’n verskeidenheid visse sowel as troppe seekoeie wat in die son bak. Al langs die oewers is daar welige groen beddings papirus en waterplante, wat meer as 400 verskillende spesies kleurvolle voëls huisves. Teen die agtergrond van geel akasiabome en die omliggende bergreekse is die Naivasha-meer iets baie moois om te aanskou.
In die skeurvalleistelsel lê die tweede grootste varswatermassa in die wêreld, die Victoria-meer. Die waters daarvan spoel teen die oewers van Kenia, Uganda en Tanzanië, en dit is een van die bronne van die Nylrivier. Verder suid is die Tanganjika-meer, waarvan die waters ’n diepte van 1440 meter bereik. Dit is die tweede diepste meer in die wêreld.
’n Groot verskeidenheid diere
Die Oos-Afrikaanse Skeurvallei onderhou ’n wye verskeidenheid dierelewe. Buffels, kameelperde, renosters en olifante is van die groot soogdiere wat in die skeur se wilde, grenslose uitgestrektheid aangetref word. In die droë, waterlose gebiede kan sebras, gemsbokke en volstruise gesien word. Sierlike wildsbokke spring hoog in die lug terwyl hulle oor die grasvelde hardloop. Gespikkelde katte soos die luiperd en die jagluiperd jag op die oop vlaktes, en die gebrul van die majestueuse leeu kan dikwels in die nagtelike ure gehoor word. Hoog in die Virunga-bergreeks woon die seldsame berggorillas. Ver ondertoe op die bodem van die skeur beweeg troppe bobbejane stadig oor die ruwe terrein op soek na insekte, sade en skerpioene. Kragtige arende en aasvoëls met ’n enorme vlerkspan sweef hoog in die lug op warm lugstrome. Kleurvolle loeries, houtkappers, horingbekvoëls en papegaaie bewoon laeveldse doringbome. Akkedisse van alle vorme, groottes en kleure hardloop haastig rond asof hulle pote aan die brand is.
Nomades van die Skeurvallei
Die Oos-Afrikaanse Skeurvallei is die tuiste van talle nomadiese herderstamme wat die halfwoestyn bewoon. Hulle is geharde mense wat met die lang hale loop wat kenmerkend van die Afrika-nomades is. In die gebiede waar dit min reën, sal hele dorpies dikwels hulle goed oppak en na nuwe weiveld vir hulle vee gaan soek. Hulle beweeg vryelik oor die ongemerkte grense van lande sonder paspoorte of visums en staan blykbaar onverskillig teenoor vooruitgang in die buitewêreld en teenoor ander lewenswyses. In hierdie afgeleë gebiede gaan die lewe teen ’n stadige pas voort. Tyd word gemeet aan die opkoms en die ondergang van die son. ’n Man se rykdom word bepaal deur die aantal kamele, bokke, beeste of skape wat hy besit of deur die aantal kinders in sy huis.
Huise word op ’n eenvoudige, dog vindingryke, manier gebou. Boomtakke word gebuig en aan mekaar vasgemaak om ’n koepelvormige struktuur te vorm. Die buitekant word dan bedek met geweefde gras, die velle van diere of modder wat met beesmis gemeng is. Binne sulke huise is daar dikwels ’n kookvuur, ’n hokkie vir huisdiere en ’n bed wat dalk niks meer as ’n stuk dierevel is nie. Die vuur in die herd vul die huis met rook, wat ontslae raak van al die vlieë en muskiete in die huis. Dikwels sal ’n dorpie of familiegroep hulle klein koepelhutte in ’n sirkel bou wat aan die buiterand met ondeurdringbare doringtakke omring is om hulle vee snags teen wilde diere te beskerm.
Deur die lengte en breedte van die Groot Skeurvallei word ’n verskeidenheid mense gevind met kenmerkende gelaatstrekke, tale en gebruike, wat na gelang van hulle stamme en geografiese ligging verskil. Godsdiensopvattings verskil ook baie. Party het Islam aangeneem; ander die sogenaamde Christelike godsdiens. Baie is bygelowig en geneig om enigiets wat hulle nie kan verstaan nie aan bonatuurlike kragte toe te skryf. In onlangse jare het invloede van die buitewêreld baie van die afgeleë gebiede bereik deur programme wat opvoeding en mediese sorg voorsien.
Dit is nie verbasend dat Jehovah se Getuies ook pogings aanwend om met hierdie geharde nomade in aanraking te kom nie. Die Getuies wil hulle graag leer van die Bybel se belofte van ’n tyd wanneer niemand meer met moeite ’n bestaan uit die dor land hoef te maak nie. Die Bybel sê: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing” (Jesaja 35:1). Intussen bly die Groot Skeurvallei ’n herinnering aan die groot verskeidenheid in die skeppingswerke van die Maker van alle dinge, Jehovah God.
[Kaart op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ISRAEL
EGIPTE
SAOEDI-ARABIË
Rooi See
JEMEN
Golf van Aden
ERITREA
SOEDAN
UGANDA
RWANDA
BURUNDI
ZAÏRE
ZAMBIË
MALAWI
DJIBOUTI
ETIOPIË
SOMALIË
KENIA
TANZANIË
MOSAMBIEK
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 15]
Op die Serengeti-vlakte vind ’n waarlik skouspelagtige gebeurtenis plaas—die groot wildebeestrek
[Erkenning]
Onder: © Index Stock Photography and John Dominis, 1989
[Prent op bladsy 16, 17]
Flaminke drom by die miljoene saam en vorm ’n lewende see van pienk
[Prente op bladsy 16, 17]
Jehovah se Getuies dra die Bybel se boodskap oor aan die mense van die Skeurvallei