Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 8/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Misdaad—’n winsgewende bedryf
  • Boeklees bly gewild
  • Water bly die beste
  • Nou—Hepatitis G
  • “Die Millennium-fout”
  • Diere wat rekords verbeter
  • Daardie ontwykende vlieg!
  • Seeskilpad-krisis
  • Morsekode byna in onbruik ná 150 jaar
  • Die jaar 2000—Sal rekenaarineenstortings jou raak?
    Ontwaak!—1999
  • Waar die mens en die skilpad ontmoet
    Ontwaak!—1993
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
  • Die navigasiestelsel van die seeskilpad
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 8/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Misdaad—’n winsgewende bedryf

Georganiseerde misdaad in Italië maak na raming elke jaar R890 miljard tot R1,065 biljoen, sê die Kommersiële Konfederasie, ’n vereniging van Italiaanse sakemanne, se verslag vir 1997. Ten minste R80 miljard kom glo van die dwelmhandel, R49 miljard van prostitusie en R66-80 miljard van woekerrente en bedrogskemas. “Drie uit elke tien kommersiële ondernemings word bestuur deur individue of maatskappye wat bande met misdaadorganisasies het; 20 tot 25 persent van die banktransaksies wat elke dag gedoen word, het ’n duister oorsprong”, sê die koerant La Repubblica.

Boeklees bly gewild

Rekenaartegnologie het nog nie die Britte se leesgewoontes verander nie, aldus ’n opname deur die Instituut vir Beleidstudies. Volgens ’n berig in The Times “het byna die helfte van diegene met wie ’n onderhoud gevoer is, gesê dat hulle besig is om ’n boek te lees vir ontspanning, ’n verhouding wat sedert 1989 min verander het”. Vrouens lees meer as mans, en mense ouer as 55 lees die meeste. Kookboeke is die gewildste, gevolg deur misdaad- of spanningsverhale, liefdesromans en 20ste-eeuse fiksie. Hoewel 30 persent van huishoudings ’n rekenaar het, is slegs 7 persent van hulle toegerus om ’n CD-ROM te gebruik, die boek se mededinger. En anders as ’n skootrekenaar, sê The Times, word ’n interessante boek nie bederf as daar op die strand sandkorrels daarin kom of deur woelige skares in ’n besige duikweg beskadig nie, en ’n mooi boek kan “net soveel estetiese bevrediging verskaf as wat die inhoud daarvan stimulerend is”.

Water bly die beste

“Die lang soektog na ’n chemikalie vir brandbestryding wat nie die osoonlaag beskadig nie, het uiteindelik gelei tot . . . water”, sê New Scientist. “Nadat die Noorweegse Brandnavorsingslaboratorium in Trondheim honderd eksperimentele brande geblus het, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat water in die vorm van ’n fyn mis ’n geskikte plaasvervanger is vir osoonvernietigende halone, wat nog algemeen in brandblussers gebruik word.” Halone—samestellings van koolstof, broom en fluoor—smoor die vure. Waterdruppeltjies doen dieselfde wanneer hulle verdamp en tot 1700 keer hulle oorspronklike volume uitsit om die suurstof te vervang. Die enigste kere wat hulle nie so doeltreffend soos halone was nie, was in klein, smeulende vure wat nie warm genoeg geword het om die water te laat verdamp nie. Maar daar word nog steeds gesoek na kunsmatige plaasvervangers vir halone, aangesien water ’n ander probleem skep: Dit is nie baie winsgewend om dit te verkoop nie.

Nou—Hepatitis G

Dokters in Japan het bevestig dat pasiënte binne ’n maand nadat hulle bloedoortappings ontvang het, besmet was met die hepatitis G-virus, ’n nuwe soort wat in 1995 in die Verenigde State geïdentifiseer is. Toe dokters weer die bloed ondersoek het van lewerkankerpasiënte wat tussen 1992 en 1994 by Tokio se Toranomon-hospitaal geopereer is, het hulle ontdek dat 2 van die 55 pasiënte voor die operasie besmet was en dat 7 ander ná die operasie besmet geraak het. Die besmette bloed wat elk van die 7 pasiënte ontvang het, het van gemiddeld 71 skenkers gekom, het die dokters gesê, wat daarop dui dat 1,4 persent van die bloedvoorraad wat gebruik is met die nuwe virus besmet was. Baie min is bekend oor die hepatitis G-virus of watter persentasie van die draers nog hepatitis of lewerkanker sal ontwikkel, sê die Asahi Evening News.

“Die Millennium-fout”

“Dit staan bekend as die Millennium-fout, die Jaar-2000-probleem of sommer net ‘Y2K’” en dit is “een van die potensieel verwoestendste magte bekend aan die moderne rekenaarwêreld”, sê U.S.News & World Report. Dit het in die sestigerjare begin toe rekenaars duur en hulle geheue beperk was. Om plek te bespaar, het programmeerders slegs die laaste twee syfers van die jaar in datums gebruik. Vir die rekenaar was die jaar 1997 eenvoudig “97”. Die probleem? “Op 1 Jan. 2000 sal ongeveer 90 persent van die wêreld se rekenaarhardeware en -sagteware ‘dink’ dis die eerste dag van 1900.” Daar het alreeds foute ingesluip. “By een staatsgevangenis het die fout veroorsaak dat rekenaars verskeie gevangenes se vonnisse verkeerd uitgewerk het, en hulle is toe vrygelaat”, sê Newsweek. “Winkels en restaurante het geweier om sommige kredietkaarte te aanvaar omdat hulle vervaldatum met ‘00’ die rekenaars verwar het. En in verskeie state het vragmotorbestuurders gevind dat hulle interstaatlisensies gekanselleer is toe rekenaars nie aansoeke om hernuwings kon verwerk wat datums later as die millennium het nie.” Na raming sal korporasies regoor die wêreld R2,66 biljoen moet bestee om die datumkodes te verander—en hulle hoop dat hulle dit in die oorblywende twee jaar sal kan doen.

Diere wat rekords verbeter

Gedurende die noordelike somer van 1996 het ’n gewone seeswael ’n rekord opgestel vir “die grootste afstand wat ’n dier tot dusver tydens migrasie afgelê het” en waarvan ons bewyse het, sê die Italiaanse koerant Corriere della Sera. Agtien weke ná die seeswael sy reis begin het in Finland, waar hy gering is, is hy in die staat Victoria in Suidoos-Australië gevang—ná ’n tog van 24 400 kilometer waartydens hy ’n gemiddelde van 200 kilometer per dag afgelê het. Die vorige rekord is gehou deur ’n arktiese seeswael wat in 1955 ’n afstand van 22 530 kilometer van Rusland na Australië gevlieg het. Party ander diere wie se migrasie duisende kilometers dek, is blourugsalm, palings, koningvlinders, groen seeskilpaaie en boggelwalvisse.

Boggelwalvisse neem gewoonlik ongeveer 102 dae om van Alaska na Hawaii te migreer, maar navorsers het een ontdek wat net 39 dae geneem het om die 4465 kilometer te swem! Die tog verteenwoordig ’n gemiddelde spoed van 4,8 kilometer per uur. Dieselfde walvis is ook al in Mexiko opgemerk. Boggelwalvisse migreer na Hawaii om te kalf omdat hulle kalfies te min vet het om in die ysige waters van Alaska te oorleef. Hulle migrasie is een van die grootste afstande wat seesoogdiere aflê, berig The Times van Londen.

Daardie ontwykende vlieg!

Waarom is dit so moeilik om ’n vlieg dood te slaan? Hoe kry hy dit reg om so vinnig weg te kom? Die geheim lê in ’n struktuur in sy brein wat die reusevesel genoem word. Dit is ’n lintagtige sel wat nie chemies nie, maar elektries met ander dele van die vlieg se brein kommunikeer. Die stroom vloei gevolglik vinnig na die deel van die brein wat die spring- en vliegaksie aktiveer en stel die vlieg in staat om binne ’n paar duisendstes van ’n sekonde buite gevaar te beweeg. Die meeste mense neem byvoorbeeld ongeveer ’n kwart van ’n sekonde voor die hand kan reageer op iets wat gesien is. Noudat navorsers aan Brittanje se Sussex-universiteit toegerus is met hierdie kennis, hoop hulle om ’n insekdoder te ontwikkel wat die vlieg se reaksie suksesvol buite werking sal stel, berig The Times van Londen.

Seeskilpad-krisis

Die seeskilpadbevolkings word gevaarlik klein omdat hulle te veel gejag word in Asiaties-Pasifiese waters, berig The Weekend Australian. Dit het daartoe gelei dat Australië en Indonesië saam ’n konferensie in Java aangebied het met die doel om bewaringsmetodes te verbeter. Omdat skilpaaie migreer en aan geen spesifieke land behoort nie, beteken die beste bewaringsprogramme in een land maar min as ’n ander land op die migrasieroete die skilpaaie jag sonder om aan hulle toekoms te dink. “Na raming word 50 000 skilpaaie elke jaar in Bali alleen doodgemaak vir die toeristebedryf”, sê die koerant, “en honderdduisende skilpadeiers word geoes vir voedsel.” Papoea-Nieu-Guinee dryf ook handel in seeskilpaaie, waaronder die bedreigde karetseeskilpad en kwesbare leerskilpad en groen seeskilpad. Ander spesies wat bedreig word, is die valkbekseeskilpad, platrugseeskilpad en Olyfkleurige Ridley-seeskilpad.

Morsekode byna in onbruik ná 150 jaar

Meer as 150 jaar gelede het Samuel Morse, ’n Amerikaanse uitvinder, vir elke letter van die alfabet ’n spesifieke kode van punte en strepies gegee. Dit het dit moontlik gemaak om boodskappe oor radiogolwe uit te tik deur middel van ’n toestel wat ’n Morsesleutel genoem word. Duisende lewens is al ter see gered wanneer skepe in nood die noodkode SOS gebruik het. Die leërs van die wêreld het ook gebruik gemaak van hierdie eenvoudige kommunikasiemiddel, en so ook ontelbare amateurs wat vir plesier boodskappe stuur. Die groot voordeel van die Morsekode is dat dit so duidelik is, ’n belangrike faktor wanneer ’n radio-operateur ’n sterk aksent het of nie die taal praat van die mense wat waarskynlik sy boodskap gaan hoor nie. Maar Morseboodskappe is stadigaan vervang deur direkte radiokontak en satellietkommunikasiestelsels. In 1993 was die kode nie meer ’n vereiste vir seevaartuie nie. Frankryk het vroeër hierdie jaar die gebruik van die Morsestelsel laat vaar, en teen 1999 sal dit wêreldwyd in onbruik wees.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel