Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 3/22 bl. 25-27
  • Waar die mens en die skilpad ontmoet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar die mens en die skilpad ontmoet
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons sien die eerste een
  • Die skilpaaie word gemerk
  • Die eiers word hervestig
  • Die mens moet leer om om te gee
  • Die navigasiestelsel van die seeskilpad
    Ontwaak!—2011
  • Die jaarlikse besoek van die reuseleerskilpaaie
    Ontwaak!—1994
  • Die wonder van sand
    Ontwaak!—2003
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 3/22 bl. 25-27

Waar die mens en die skilpad ontmoet

Deur Ontwaak!-medewerker in Australië

DIE beste tyd om ’n seeskilpad in die natuur te sien, is wanneer sy haar eiers in haar pas gevormde nes in die sand lê. Wil jy dus saam met my kom terwyl ons Mon Repos besoek—’n strand van een en ’n half kilometer aan die kus van Queensland, Australië se sonskynstaat? Moenie bekommerd wees dat die brandende subtropiese son ’n ergernis sal wees nie, want ons sal in die nag gaan. Die beste tyd om so ’n boeiende uitstappie te onderneem, is tussen agtuur die aand en middernag.

Dit is verkieslik om saam met ’n opgeleide gids en in ’n klein groepie te gaan, aangesien daar verskeie moets en moenies is as ons ’n groot wyfieskilpad wil sien en aan haar wil raak. Terwyl ons bo die hoogwatermerk langs die strand aanstap, vra die gids ons om nie ons flitsligte aan te skakel nie, omdat lig die skilpaaie ontstel. En ons is verbaas oor hoe goed ons die meterwye skilpadspore selfs sonder ligte in die sand kan sien.

Vervolgens vertel ons gids ons ’n paar interessante feite omtrent die seeskilpaaie in die gebied. Daar is ses verskillende spesies in Australiese waters, maar net vier van hulle word aangetref hier by Mon Repos, wat die vernaamste broeigebied langs die Bundabergse kus is. In volgorde van algemeenheid is die vier spesies: die karetskilpaaie (Caretta caretta), platrugskilpaaie (Natator depressa), groen skilpaaie (Chelonia mydas) en leerskilpaaie (Dermochelys coriacea).

Ons sien die eerste een

Daar heers groot opgewondenheid wanneer ons ’n groot skilpad opmerk. Sy is van die soort wat ons eerste genoem het—’n karetskilpad. Ons kyk in stilte terwyl sy uit die branders tot bo die hoogwatermerk op die sand kruip. Wanneer ons uiteindelik nader beweeg, sien ons dat sy ’n pieringvormige gat gegrawe het deur die sand en plantegroei om haar weg te skraap. Dit voorkom dat gras oor die nes groei en die skilpadjies vaskeer wanneer hulle oor 7 tot 12 weke uitkom. Sy het ook reeds die peervormige nes voltooi deur sand met haar agterste swempote onderskeidelik te skep en uit te skiet—skep met die regter, skiet met die linker; skep met die linker, skiet met die regter. Dit alles neem omtrent 45 minute.

Tot nou toe kon ons haar maklik versteur het en kon sy na die water toe teruggegaan het, maar sodra sy die eiers begin lê, kan ons aan haar raak. Die bewaarder skyn ’n lig op haar en ons mag foto’s neem as ons wil. Die skilpad hou 10 tot 20 minute aan om eiers in die nes te laat val, asook ’n helder, slymagtige vloeistof wat die eiers teen swamme en insekte beskerm terwyl hulle ontwikkel. Karetskilpaaie lê per broeisel gemiddeld 120 eiers die grootte van tafeltennisballetjies—14 dae uit mekaar, verskeie kere per seisoen—met twee tot vier jaar tussen seisoene.

Wanneer ons aan die skilpad raak, is ons verbaas oor hoe sag haar vel is—’n faktor wat skilpadleer so begeerlik maak en skilpaaie se voortbestaan bedreig. Haar dop, of karapaks, bestaan uit beenplate en is vergelykbaar met ’n ruggraat en ribbebene. Nou begin sy haar eiers toegooi. Maar aangesien sy hulle naby aan die getylyn gelê het, moet hulle verskuif word as hulle gaan bly voortbestaan. Dit sal deur twee lede van die navorsingspan gedoen word wat by ons groep aangesluit het.

Die skilpaaie word gemerk

Ons skilpad gaan op een van haar voorste swempote gemerk word om met die navorsing van seeskilpaaie te help. Dit is nie ’n maklike taak nie, omdat sy so besig is om sand rondom haar uit te skiet. Die plaatjies word van ’n roesvrye titaanmengsel gemaak. Op die agterkant is ’n adres, en dit is in die belang van die navorsingsprojek dat alle skilpaaie wat gesien word se nommer ook aangemeld moet word. Slegs wanneer die skilpad doodgaan, moet die plaatjie afgehaal en teruggestuur word saam met die besonderhede van waar die skilpad gevind is. Voorop die plaatjie is die skilpad se identifikasienommer. Ons skilpad s’n is T54239, maar ons het besluit om haar Tabita te noem.

Omdat Tabita nog nie vantevore gemerk is nie, het sy waarskynlik nog nooit nesgemaak nie en kon sy derhalwe belangrike informasie verstrek sodat skilpaaie en hulle eiers in die Stille Suidsee beskerm kan word. Om hierdie informasie te kry, sien ons hoe daar reg hier op die strand ’n klein operasie op die skilpad gedoen word! Die prosedure word laparoskopie genoem en word algemeen op mense uitgevoer. Tabita word sagkens omgekeer en op ’n kruiwa neergesit wat as ’n draagbaar dien. Ons voel jammer vir haar en vind dat dit haar skynbaar kalmeer as ons haar keel vryf. Dit is nie trane wat ons sien nie, maar ’n soutoplossing wat sy afskei om sand uit haar oë te was en ontslae te raak van ’n oormaat sout wat ophoop omdat sy seewater drink. Dit hou nie met pyn verband nie. Nou word haar vel bo haar agterste swempoot geskrop; daarna word ’n pypie deur ’n klein insnyding gesteek en ’n bietjie lug word ingeblaas. Deur na haar eierstokke te kyk, stel die navorsers vas dat dit haar eerste voortplantingseisoen is en dat sy nog baie eiers het wat besig is om ryp te word. Al hierdie inligting word opgeteken; daarna word die lug deur ’n klep uitgelaat en die insnyding word toegewerk.

Nadat sy weer omgekeer is op die sand, peil Tabita instinktief na die water toe. Die golwe spoel oor haar en voer ’n verligte Tabita die see in.

Die eiers word hervestig

Toe ons omdraai, sien ons dat die eiers reeds uit die nes verwyder is. Ná vier uur heg die eier aan die binnekant van die dop vas en vorm daar bloedvate. As hulle daarna beweeg word, sal dit hulle bederf. By die broeiplek word daar gewoonlik twee uur vir die hervestigingsproses toegelaat en die slaagsyfer vir die hervestiging van eiers is baie hoog. Die doel daarvan is om die nes en eiers teen water en erosie te beskerm. Die temperatuur van die sand bepaal die geslag van die skilpadjies. Die meeste eilande het koel sand en lewer meestal mannetjies op, terwyl die warmer sand van Mon Repos meestal wyfies oplewer.

Die skilpadjies broei tussen Januarie en Maart uit. Hulle krap teen hulle sanddakke wat die sand stadig laat inval en hulle hoër lig. As die sand nie te warm is nie, sit hulle die reis uit die nes voort en skarrel hulle haastig see toe. Maar hulle reis het maar pas begin. Daar word geglo dat dit 50 jaar duur voor hulle geslagsrypheid bereik. Slegs ’n klein persentasie lewe so lank.

Die mens moet leer om om te gee

Ongelukkig dra die mens se onverskilligheid en onbedagsaamheid baie daartoe by om die ses bekende spesies seeskilpaaie te verminder. Plastieksakke wat in die see gegooi word, word dikwels met jellievisse verwar en deur die skilpaaie geëet. Dit verstop hulle spysverteringskanale en veroorsaak dat hulle van die honger doodgaan. Ander rommel kan skilpaaie verwurg. Selfs bootskroewe kan ’n gevaar inhou as die stuurman nie versigtig is nie. Daar is bowendien ook oliestortings en giftige afvalstowwe wat hele kusbevolkings gedurende ’n broeiseisoen kan uitwis. En omdat ’n skilpad elke 15 minute vir lug na die oppervlak toe moet kom, kan visnette wat ’n skilpad verstrengel hom laat versuip.

Namate meer mense bewus word van hierdie gevare en leer om die omgewing beter te bewaar, sal daar ongetwyfeld meer geleenthede wees vir die mens en die skilpad om te ontmoet—wat die mensdom sal beïndruk en bekoor met net nog ’n wonder van die skepping se verbasende voortplantingsiklus.

[Prente op bladsy 26]

Bo links, regsom: klein operasie, terug see toe, eiers word hervestig, ’n swempoot word gemerk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel