Ons beskou die wêreld
Radioteleskoop in die ruimte
Japan se Instituut vir Ruimte- en Astronoutiese Wetenskap het onlangs ’n radioteleskoop met ’n deursnee van agt meter gelanseer, berig Science News. Hierdie nuwe teleskoop is uniek omdat dit met ongeveer 40 landradioteleskope in verskillende wêrelddele verbind is. Hierdie stelsel staan bekend as die Baielangbasislyn-ruimtesterrewag. Uitstralings van radiobronne in die ruimte, soos kwasars en gravitasiekolke, word deur hierdie toestelle, wat ver van mekaar geleë is, opgevang en gekombineer om ’n enkele beeld voort te bring. Hoe verder die ontvangers van mekaar af is, hoe beter is die skeiding van die finale beeld. Hierdie teleskoop se elliptiese wentelbaan sal dit op sy verste punt ongeveer 20-000 kilometer van die aarde af neem. Die nuwe ruimteteleskoop gee ’n skeiding wat 1000 keer hoër is as wat die Hubble-ruimteteleskoop in sigbare lig verkry. “Met daardie skeiding”, sê Science News, “kan ’n waarnemer in Los Angeles ’n ryskorrel in Tokio waarneem.”
TV vir kleuters?
Besige ouers is dalk geneig om hulle klein kindertjies voor die TV neer te sit, sodat hulle tyd kan kry om na nodige take om te sien. Maar volgens die tydskrif Parents kan dit gevaarlik wees vir die kind. Dit sê: “Daar is onweerlegbaar bewys dat gewelddadige programme”, onder andere baie tekenprente, “tot groter aggressie in jong kykers lei.” Daarbenewens toon studies wat deur Dorothy Singer van Yale-universiteit gedoen is dat “gereelde televisiekykery voor kleuterskoolouderdom ook verband hou met swak gedrag en vertraagde leesgereedheid” later in die kind se lewe. Dorothy Singer beveel aan dat eenjariges niks meer as 30 minute per dag TV kyk nie. ’n Ander bekommernis is ongelukke wat kan gebeur terwyl die kind alleen by die TV is. Die skrywer Milton Chen sê: “Dit neem net ’n minuut vir ’n woelige kleuter wat sonder toesig gelaat word om in gevaar te beland.” Die tydskrif Parents stel voor dat jy jou kind en ’n paar onskadelike speelgoed in ’n speelhok sit waar jy ’n ogie oor hom kan hou wanneer jy middagete moet maak of die telefoon moet antwoord.
Internetverslawing-steurnis
“Die jongste gevolg van die inligtingsera is dalk verslawing aan die Internet”, berig die Canadian Medical Association Journal. Dr. Kimberly Young het 496 strawwe gebruikers van die Internet ondervra, waarvan 396 as afhanklike gebruikers geïdentifiseer is. Die navorsing het getoon dat die gevolge van Internetverslawing “sosiale afsondering, onenigheid in die huwelik, akademiese mislukking, buitensporige finansiële skuld [en] afdanking” insluit. Dr. Young sê dat die steurnis “net so ’n werklike verslawing is as alkoholisme en kompulsiewe dobbelary”. Die tydskrif het bygevoeg dat “tuisrekenaargebruikers die grootste gevaar loop”. Hoewel enigiemand verslaaf kan raak aan die Internet, “is ’n tipiese verslaafde ’n middeljarige vrou met beperkte opvoeding”, sê dr. Young. Van die gevaartekens is dat mense die Internet vir al hoe langer tye gebruik en “belangrike sosiale of beroepsaktiwiteite [daarvoor] prysgee”.
Operasie Tier wankel
In 1973 is Operasie Tier in Indië van stapel gestuur om die uitwissing van die land se nasionale dier te voorkom. Teen daardie tyd het die aantal tiers in Indië reeds tot 1827 verminder. Die projek het internasionale ondersteuning geniet en merkbare sukses behaal. Teen 1989 het die Indiese tierbevolking tot oor die 4000 toegeneem. Maar nou is die tier weer in gevaar, volgens India Today. Na raming het Indië se tierbevolking tot minder as 3000 verminder. Waarom? Sommige sê dat wilddiewe ’n gemiddelde van ten minste een tier per dag doodmaak. Operasie Tier se oogmerk was om die groot kat te beskerm. Maar dit lyk nie of dit daardie oogmerk kan bereik nie. “Die veldwagters, op wie daar dikwels geskiet word, is ontmoedig en swak toegerus”, sê die verslag. Die tier “staar uitwissing in die gesig”.
Lyk oud maar sterf jonk
Soos die volgende berigte toon, meen navorsers dat rokery die verouderingsproses kan versnel. Langtermynrokers se kanse om voor hulle tyd grys te word, is vier keer groter en hulle kanse om bles te wees of bles te word, is twee keer groter, volgens die Lancet van Brittanje. Die UC Berkeley Wellness Letter het hieroor verslag gelewer en gesê dat rokers meer plooie het en dat hulle kanse om hulle tande te verloor twee keer groter is as dié van nierokers. Die berig verwys na ’n onlangse studie wat in die British Medical Journal verskyn het wat toon dat mans wat hulle hele lewe lank rook se kanse om 73 jaar oud te word slegs die helfte so goed is as diegene wat nie rook nie. Daarbenewens berig die tydskrif Good Housekeeping dat “nierokers wat saam met rokers woon se kanse 20 persent groter is om hartsiektes op te doen”.
Weerliggevaar
“Meer mense word deur weerlig doodgeslaan as wat ons dink”, berig die koerant The Australian. Elke jaar word tussen vyf en tien mense in Australië deur weerlig doodgeslaan, en dit is verantwoordelik vir meer as 100 beserings, verduidelik die berig. Daar is min waarskuwing dat ’n mens getref gaan word, hoewel “sommige mense gesê het dat hulle kon voel hoe hulle hare penorent staan net voordat hulle getref is”, sê Phil Alford van Melbourne se Weerkunde Buro. Om jou kanse te verbeter om nie getref te word nie, stel Alford voor dat jy skuiling teen donderstorms soek in ’n soliede gebou of in ’n motor met ’n staalkap en wat nie aan metaalstrukture raak nie.
Depressie by bejaardes
“Depressie by bejaardes neem ’n ander vorm aan as in die geval van jonger mense”, berig die Jornal do Brasil. Hierdie depressie word nie geopenbaar deur angs of ongerustheid nie, maar word eerder “gekenmerk deur die verlies van kognitiewe vermoëns—geheue, konsentrasie en denkvermoë”. Wat meer is, sê professor Paulo Mattos van Rio de Janeiro se Federale Universiteit, “depressiewe bejaardes openbaar oormatige skuldgevoelens met betrekking tot onbeduidende dinge. Hulle verloor belangstelling in wat hulle voorheen gedoen het of in die dinge wat hulle voorheen plesier verskaf het”, onder andere gesprekvoering. Sulke simptome word soms verkeerdelik as net deel van bejaardheid beskou, sê die berig. Om sulke gedragsveranderinge te kan herken en depressie te kan identifiseer, sê dr. Mattos, “is dit baie belangrik dat mense voortdurende kontak met bejaarde familielede het”.
Termiete wat goud ontgin
In 1984 het ’n man van ’n plattelandse dorpie goud in die Afrikaland Niger ontdek, en die goudstormloop wat daarop gevolg het, het myners van baie lande na die gebied gebring. Die Kanadese geoloog Chris Gleeson het onthou dat ou beskawings in Afrika termiethope gebruik het om goudafsettings te vind. In Niger word ’n soort termiet aangetref wat groot hope bou, wat ongeveer 1,8 meter hoog en 1,8 meter in deursnee is. Die hope word groter namate die termiete dieper grawe—soms tot 75 meter diep—in hulle soeke na water, verduidelik die tydskrif National Geographic. Gleeson het monsters van baie hope geneem in die hoop dat dit hom sou wys waar om te grawe. Die meeste monsters het nie goud bevat nie, maar party het wel! “Enige hoop met enige goud daarin het goud in die hele hoop gehad”, het hy gevind. Dit wil voorkom of die termiete alles wat hulle teëkom terwyl hulle vir water grawe na die oppervlak bring, goud inkluis.
Selfoon-etiket
Die verskyning van draagbare selfone het die behoefte aan outydse maniere beklemtoon, volgens die Far Eastern Economic Review. Tina Liu, ’n bedryfsadviseur in Hongkong, moedig die betoning van respek en bedagsaamheid aan, vir beide die persoon wat die oproep ontvang en vir diegene wat moontlik om jou is. Sy stel voor dat ’n mens duidelik, maar nie hard praat nie en nie eet of drink terwyl jy die telefoon gebruik nie. Liu beveel ook aan dat ’n mens die aantal oproepe tydens vergaderinge tot ’n minimum beperk en oproepe na ’n ander telefoon deurskakel, of in plekke soos hospitale, biblioteke en ouditoriums van ’n vibratorluisein gebruik maak. As jy gesellighede onderbreek deur oproepe te beantwoord, kan vriende of familielede voel dat hulle geïgnoreer word. Van maaltye in ’n restaurant sê Liu: “’n Kêrel wat oor die telefoon gesels terwyl hy saam met ’n vrou is, moet liewer die oproep beëindig voor die uitwerking van sy bos blomme verflou.”
‘Slim vloeistowwe’
Solank elektrisiteit deur sekere vloeistowwe gestuur word wat gesuspendeerde deeltjies bevat, vorm die deeltjies klein kettinkies, wat veroorsaak dat die vloeistof dikker word. Hierdie verskynsel word die Winslow-effek genoem en is vernoem na dr. W. M. Winslow, wat dit in 1940 ontdek het. Sedertdien het die motorbedryf asook ander mense, waaronder dr. Winslow self, wat nou 93 is, voortgegaan om na ’n praktiese toepassing van sulke ‘slim vloeistowwe’ te soek. Proefnemers by Michigan se Staatsuniversiteit in die Verenigde State het geweet dat gesmelte melksjokolade sekere eienskappe van ‘slim vloeistowwe’ het. Soos verwag is, het ’n gesmelte sjokoladestafie tydens ’n onlangse eksperiment amper onmiddellik styf en semisolied geword toe dit aan ’n sterk elektriese veld blootgestel is. ’n Ander ‘slim vloeistof’, wat bestaan uit mielieblom wat in paraffien gesuspendeer is, se digtheid wissel tussen dié van melk en botter namate die sterkte van die elektriese veld verander word.