Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bedreigde spesies
  • Beskerm kinders teen ontvoerders
  • Gewelddadige passasiers
  • Verminking van vroue duur voort
  • Hondehulp aan epilepsielyers
  • Nuwe gesindhede in Japan
  • Gevaarlike bestuursgewoontes
  • Die kookkuns —Aan die uitsterf?
  • Radioaktiewe geboue
  • Hipertegnologiese diefstalvoorkomingstoestelle
  • Miljoene ly—Kan hulle gehelp word?
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2000
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
  • Motorongelukke—Is jy veilig?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Bedreigde spesies

In Duitsland het die Federale Minister van Omgewingsbewaring, Angela Merkel, haar besorgdheid in die openbaar uitgespreek oor die hoë persentasie spesies in daardie land wat bedreig word. Met die vrystelling van ’n boek oor die omgewing, wat deur die ministerie uitgegee is, het Angela sekere sorgwekkende statistiek bekend gemaak. Volgens die Süddeutsche Zeitung raam deskundiges dat van die gewerwelde diere wat inheems aan Duitsland is “40 persent van alle soogdiere, 75 persent reptiele, 58 persent amfibieë, 64 persent varswatervisse en 39 persent voëls bedreigde spesies is”. Plante vaar niks beter nie, met 26 persent van alle spesies wat bedreig word. In die verlede was pogings ontoereikend om die gevare te verminder wat die natuurlike omgewing bedreig. Angela het “’n nuwe strategie om die natuur te beskerm”, bepleit.

Beskerm kinders teen ontvoerders

Ouers in Duitsland raak al hoe meer besorg oor die veiligheid van hulle kinders, veral ná die onlangse reeks ontvoerings van meisies in daardie land. Volgens die Nassauische Neue Presse het Julius Niebergall, ’n terapeut by die Duitse Vereniging vir die Beskerming van Kinders, ’n paar voorsorgmaatreëls aan die hand gedoen. Ouers kan byvoorbeeld sekere plekke op die pad skool toe en terug aan hulle kinders uitwys—’n winkel of ’n huis—waar hulle in ’n noodgeval om hulp kan vra. Kinders moet ook geleer word om nie met vreemdelinge te praat of toe te laat dat vreemdelinge aan hulle raak nie. Niebergall het beklemtoon dat “kinders moet leer dat hulle nee mag sê”, selfs vir grootmense. Veral as hulle deur ’n potensiële ontvoerder bedreig word, moet kinders ander grootmense om hulp vra. “Help my asseblief. Ek is bang vir hierdie man”, is wat hulle geleer kan word om te sê.

Gewelddadige passasiers

Kommersiële lugdienste rapporteer ’n ernstige toename in gewelddadige gedrag in die geval van ontstoke passasiers. Wanneer hulle deur dinge ontstel word, soos vertraagde vlugte en verlore bagasie, “spoeg [passasiers] op vlugpersoneel, gooi skinkborde en slaan partykeer werknemers. Soms val hulle selfs die vlieëniers aan”, berig The New York Times. Amptenare is veral besorg as sulke aanvalle op vliegtuie in die lug plaasvind, aangesien dit ongelukke kan veroorsaak. Een lugdiens rapporteer elke maand omtrent 100 gevalle van skellery of fisiese aanvalle. Die Times sê dat “passasiers wat ontwrigting veroorsaak mense is van albei geslagte, verskillende velkleure en baie ouderdomme, en dat hulle ewe onaangenaam in die ekonomiese, besigheids- of eerste klas is. Omtrent een uit elke drie was onder die invloed.”

Verminking van vroue duur voort

Die verminking van vroulike geslagsorgane (FGM) is nog steeds in baie lande ’n probleem, veral in Afrika, volgens The Progress of Nations 1996, ’n jaarlikse verslag wat deur die Verenigde Nasies uitgegee word. Ofskoon heelparty lande wette teen hierdie onmenslike gebruik uitgevaardig het, word omtrent tweemiljoen meisies elke jaar vermink. Die slagoffers is hoofsaaklik tussen die ouderdomme van 4 en 12. “Benewens die onmiddellike vrees en pyn, kan die gevolge langdurige bloeding, infeksie, onvrugbaarheid en die dood insluit”, sê die verslag. (Sien die Ontwaak! van 8 April 1993, bladsye 20-3, vir meer inligting oor FGM.)

Hondehulp aan epilepsielyers

In Engeland word honde opgelei om epilepsielyers te waarsku dat hulle ’n epileptiese aanval gaan kry. Dit gee die pasiënt genoeg tyd om hom vir die aanval voor te berei, berig The Times van Londen. “Weens die feit dat die hond beloon word omdat hy gedurende ’n aanval geblaf het”, verduidelik die bestuurder van ’n liefdadigheidsorganisasie wat in die opleiding van honde vir gestremde mense spesialiseer, “is hy gevoelig vir die tekens en simptome wat net voor die aanval by die lyer voorkom. Aangesien hy weet dat so ’n reaksie ’n beloning tot gevolg gaan hê, raak die hond fyn ingestel op sulke tekens.”

Nuwe gesindhede in Japan

Die Jeuginstituut van Japan het onlangs ’n opname onder 1000 hoërskoolleerlinge in Japan gemaak, berig The Daily Yomiuri. Die opname het getoon dat 65,2 persent van die leerlinge niks daarmee verkeerd sien om weg te bly van klasse nie. Bykans 80 persent beskou onwilligheid om na onderwysers te luister in dieselfde lig, en ongeveer 85 persent van die leerlinge vergoelik ongehoorsaamheid aan ouers. Volgens The Daily Yomiuri toon dieselfde opname dat 25,3 persent van die meisies dink dat ’n mens persoonlik moet besluit of jy prostitusie wil beoefen terwyl jy nog op skool is.

Gevaarlike bestuursgewoontes

● “Vyftig persent van alle padsterftes in Brasilië word deur drankmisbruik veroorsaak”, sê die koerant Gazeta do Povo van Curitiba, Brasilië. Dronkbestuur veroorsaak “meer as 26 000 sterfgevalle elke jaar”. Hierdie ongelukke “vind meestal plaas tydens kort ritte en in goeie weer”. Alhoewel ’n dronkbestuurder miskien vol selfvertroue is, is sy vermoë om vinnig te reageer nie so goed nie, en stel hy sodoende sy eie veiligheid asook dié van ander padgebruikers in gevaar. Toetse toon dat iemand onder die invloed van alkohol dit moeilik, selfs onmoontlik, vind om onverwagse situasies te hanteer. Volgens die koerant kan dit tussen ses en agt uur neem om alkohol te metaboliseer, en geen sterk koffie of ’n koue bad sal ’n beskonke bestuurder help om veilig te bestuur nie.

● Volgens ’n Britse opname begaan die gemiddelde motoris 50 ernstige flaters per week. The Times van Londen berig dat die 300 bestuurders met wie die onderhoud gevoer is, erken het dat hulle oor die algemeen tydens 98 persent van hulle ritte ten minste een keer agterlosig was. In 1 uit elke 2 ritte het hulle kwaad geword. Die kans wat die meeste bestuurders waag, is om die snelheidsgrens te oorskry, en meer as die helfte het gesê dat hulle al in ’n ongeluk betrokke was. Navorsing in Toronto, Kanada, dui daarop dat die kanse om ’n ongeluk te maak vier keer groter is as bestuurders motorfone gebruik terwyl hulle bestuur. Die gevaar is die grootste gedurende die eerste tien minute nadat die oproep begin het, moontlik omdat die bestuurder se aandag afgetrek word en hy gevolglik langer neem om te reageer.

Die kookkuns —Aan die uitsterf?

Volgens ’n 12 maande lange studie van eetgewoontes in die Australiese staat Queensland is die kookkuns dalk aan die uitsterf. The Courier Mail berig dat die meeste mense onder 25 jaar nie die nodige vaardighede het om hulle eie etes te kook nie. Margaret Wingett, ’n lektrise in openbare gesondheid en samesteller van dié studie, het gesê dat jongmense in die verlede—hoofsaaklik meisies—tuis deur hulle moeders of op skool geleer is om te kook. Maar deesdae lyk dit asof die meeste jongmense, meisies inkluis, nie weet hoe om te kook nie en blykbaar nie daarin belangstel om te leer nie. Baie verkies voorafverpakte of geriefskos. Party mense glo dat sulke eetgewoontes aanleiding kan gee tot hoë bloeddruk, suikersiekte en hartsiekte.

Radioaktiewe geboue

Volgens die tydskrif Asiaweek is daar in Noord-Taiwan “105 geboue, waarin daar 1249 woonstelle is, wat besoedel is” met radioaktiwiteit. Dit is ontdek deur ’n werknemer van ’n kragstasie wat besig was om vir sy seun te demonstreer hoe ’n stralingsmeter werk. Terwyl hy ’n lesing in hulle kombuis geneem het, was hy geskok om te sien hoe die naald tot in die gevaarstrook skiet. Ná verdere ondersoek is daar bevestig dat die woonstelgebou asook ander besoedel was. Toetse het getoon dat die bestraling gekom het van betonstaal in die gebou se mure. Kenners is dit nie eens oor hoe die radioaktiwiteit in die staal gekom het nie.

Hipertegnologiese diefstalvoorkomingstoestelle

Mikrofoto’s, vroeër ’n gunsteling van spioene om geheime boodskappe te stuur, word in Brittanje gebruik om inbrake te help voorkom. Die foto’s, wat elkeen niks groter as ’n punt is nie, bevat ’n huishouding se poskode 60 of 70 keer en word gebruik om besittings te merk wat diewe kan lok. The Times van Londen berig dat die foto’s “in ’n sterk kleefstof dryf in ’n bottel met ’n kwas, soortgelyk aan ’n bottel naellak. Elkeen bevat tot 1000 mikrofoto’s en die koper kan sy item versigtig merk of verf, net soos hy wil.” Die potensiële dief word deur ’n duidelike etiket gewaarsku en hy kan nooit seker wees dat hy alle versteekte foto’s verwyder het nie. ’n Rekenaarvlokkie wat ontwikkel is om beseerde vegvliegtuigvlieëniers in die Viëtnamoorlog te identifiseer, word eweneens gebruik om skilderye, beeldhouwerk of meubels te identifiseer. Die vlokkie, wat nie veel groter as ’n ryskorrel is nie, is moeilik om op te spoor nadat dit versteek is, en dit bevat besonderhede soos die geskiedenis, beskrywing en eienaarskap wat deur ’n aftaster gelees kan word. Hierdie inligting kan help om vas te stel wie die regmatige eienaars is van items wat in die besit van diewe gevind word, sê The Times.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel