Van ons lesers
Verdraagsaamheid Ek is 22 jaar oud, en ek wil julle bedank vir die reeks “Verdraagsaamheid—Het die wêreld te ver gegaan?” (22 Januarie 1997). Jong Christene kom voor baie uitdagings te staan. Hierdie artikels het my aangemoedig om nie tot uiterstes oor te gaan nie en het my meer vasbeslote gemaak om Jehovah te dien ondanks die wêreld se druk.
M. B., Italië
Die raaf Ek het baie gehou van die leersame artikel “Die raaf—Wat maak hom anders?” (8 Januarie 1997). Ek is 18 jaar oud en is kort tevore as ’n deeltydse natuurvorser by ’n plaaslike natuursentrum aangestel. Onder die diere waarna ons omsien, is daar twee pragtige rawe. Ek het gevind dat hulle presies is soos julle artikel beskryf het—baie intelligent. Ek is van plan om die artikel ook vir my kollegas te wys.
J. C., Verenigde State
Die inligting wat julle voorsien het, was baie feitelik en interessant. ’n Welbekende feit hier op die kampus van die universiteit wat ek in Ghana bywoon, is dat voëls van die kraaifamilie berugte diewe is. Daar word gesê dat die kraaie hier enigiets sal steel—van vis tot seep. Daar word selfs gesê dat kraaie party studente se kospotte oopgemaak en hulle kos geëet het!
F. A. A., Ghana
Kombuispret Dankie vir die artikel “Die kombuis kan pret wees” (8 Januarie 1997). Ek het ook baat gevind by gesprekke wat in die kombuis gevoer is. Terwyl ek uie en aartappels geskil het, het my ma my geleer om Jehovah lief te hê en my aangemoedig om hom heelhartig te dien. Hierdie kombuisgesprekke was veral van groot nut gedurende ’n moeilike tydperk toe my pa ons godsdiens teëgestaan het. Nou het ek en my ma die vreugde ondervind om te sien hoe my pa ’n kneg van Jehovah word. Ek het ook geleer hoe om verskeie smaaklike disse voor te berei!
A. M. M., Italië
Ek werk as ’n kok in die huis van iemand wat in die vermaaklikheidsbedryf is. Ek het dus al baie geleenthede gehad om geestelike voedsel te deel met besoekers—waaronder party beroemdes—terwyl ek in die kombuis werk. Ek hou Bybellektuur in ’n kombuislaai. By een geleentheid het ek met ’n besoeker ’n Bybelbespreking aangeknoop. Hy het later weer kombuis toe gekom om verder te gesels. Terwyl ek ’n hoender gebraai het, het hy hardop uit my eksemplaar van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! gelees. Ja, julle is reg. Die kombuis kan pret wees!
A. R., Verenigde State
Bely sondes Ek dien as ’n gemeentelike ouer man, en ek wil graag my waardering uitspreek vir die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek my sonde bely?” (22 Januarie 1997). Hierdie artikel het ’n hele paar jongmense aangespoor om ernstige oortredinge te bely wat hulle ’n tyd gelede begaan het. Dit was ’n vreugde om te sien dat hierdie jongmense, nadat hulle liefdevolle hulp ontvang het, hulle verhouding met Jehovah herstel het. Hulle is vasbeslote om hulle reinheid te bewaar.
O. B., Italië
Die artikel het my gehelp om te besef dat dit baie skadelik kan wees om dinge te verswyg. ’n Belydenis gee miskien aanleiding tot skande en verleentheid, maar wanneer jy jou sonde teenoor Jehovah en jou ouers bely, geniet jy ’n hegter verhouding met hulle.
B. K., Guyana
Die artikel het net op die regte tyd gekom. Dit het my help besef dat ek my ouers en die gemeentelike ouer manne moes vertel wat ek gedoen het. Ek het gevoel asof die artikel vir my geskryf is. Toe ek hulle eindelik van my probleme vertel het, het ek soveel beter gevoel!
A. A., Verenigde State