Krag van die sneeu
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
DIE Australiese Alpe, wat soms die dak van Australië genoem word, lê in die state Nieu-Suid-Wallis en Victoria. In hierdie alpe lê die Snowy-berge, die bron van die Snowy-rivier. A. B. (Banjo) Paterson is so geïnspireer deur hierdie ruwe alpynse terrein en sy taai ruiters met hulle pioniersgees dat hy die gedig “The Man From Snowy River” geskryf het, waarvan daar later ’n rolprent gemaak is.
Maar deesdae is die gevaarlike hange van die legendariese ruitersweg die ligging van die sluise van ’n tegnologiese wonder—die Snowy-berge se Hidro-elektriese Skema. In 1967 het die Amerikaanse Genootskap van Ingenieurs hierdie ingewikkelde netwerk van waterleidings, tonnels, damme en kragstasies as “een van die sewe ingenieurswonders van die moderne wêreld” aangewys. Sou jy graag hierdie alpynse “wonder” wou besoek? Maar kom ons kyk eers waarom dit gebou is en deur wie dit gebou is.
’n Droë land
Dit is verbasend dat die vroeë setlaars, wie se drome tot die Skema aanleiding gegee het, nooit eers aan hidro-elektriese krag gedink het nie. Omdat daardie 19de-eeuse boere van die Murray-Darling-bekken, Australië se belangrikste landbougebied, deur droogtes geteister is, wou hulle eenvoudig ’n betroubaarder waterbron hê.
Hulle het geweet waar die water is—in die Snowy-rivier. Maar die Snowy het teen die ander, geil kant van die alpe afgestort en in die Tasman-see ingeloop. Dit het na grootskaalse vermorsing gelyk. As hierdie koue, suiwer water hoog in die alpe na die bolope van die effe onbestendige Murray- en Murrumbidgee-rivier weggekeer kon word, sou boere ’n waardevolle finansiële buffer teen droogtes hê. Dit was ’n aanloklike droom.
In 1908 het die droom ’n tree nader aan verwesenliking gekom toe die Federale Parlement die nabygeleë distrik Canberra as die ligging van Australië se nasionale hoofstad gekies het. Sou hidro-elektrisiteit in die behoeftes van hierdie toekomstige stad voorsien? Weer het mense na die Snowy-berge gekyk.
Verskeie voorstelle—sommige vir hidro-elektrisiteit en ander vir besproeiing—is voorgelê en verwerp. Toe, in 1944, is die eerste hidro-elektriese-besproeiingskema voorgelê, en dit het gou steun gekry. In 1949 het die federale regering die verantwoordelikheid om die tweeledige skema te ontwerp en te bou aan die Snowy-berge se Hidro-elektriese Owerheid opgedra.
Maar hoe sou ’n jong land wat hoofsaaklik landbou bedryf het en nie die kundigheid of ekstra mannekrag gehad het nie ’n projek aanpak wat ongeëwenaard in grootte en ingewikkeldheid was?
Van puinhope tot sneeu
Die antwoord was immigrasie. Europa het nog nie sy ewewig ná die Tweede Wêreldoorlog herwin nie en was ’n nagmerrie van puinhope, werkloosheid en haweloosheid. In samewerking met die Verenigde Nasies het Australië dus enige Europeër met die vereiste vaardighede genooi om aansoek te doen om op die Skema te werk.
In reaksie hierop het tienduisende werkers van ongeveer 33 lande die puinhope van Europa verlaat en Australië toe gegaan. Hulle het twee derdes van die Skema se totale werkkragte uitgemaak, en hulle het ook Australië se bevolkingsamestelling vir altyd verander. Brad Collis sê in sy boek Snowy: “’n Land waarvan . . . die Britte die grondslag gelê het, het amper oornag een van die wêreld se groot multikulture geword.” Collis voeg by: “[Die mans] is in die berge ingestuur—vyand en bondgenoot, verdrukker en slagoffer—om saam te werk.” Hoewel hulle nie oornag as ’n span saamgewerk het nie, hét hulle mettertyd.
Lewe in die alpe
In die vroeë dae van die Skema het die reis tot in die alpe ’n mens ’n twyfelagtige verwelkoming gegee. Verysde, modderige, steil en kronkelende paadjies het die tog ’n stadige, senutergende ondervinding gemaak. Trouens, op sommige plekke was die terrein so steil en onbegaanbaar dat selfs kangaroes selde gesien is! Geen wonder nie dat die Snowy-owerheid, volgens Collis, “glo die eerste organisasie ter wêreld was wat die dra van veiligheidsgordels verpligtend gemaak het”.
Die huisvesting was beswaarlik beter as die paaie—oortollige weermagtente sonder grondbedekking! Uiteindelik het meer as 100 kampe en tentdorpe hoog in die berge soos paddastoele opgeskiet. Een van hulle, Cabramurra—nie meer ’n tentdorp nie—is die hoogste dorpie in Australië.
Soos jy jou kan voorstel, het dit ’n mens se uithouvermoë tot die uiterste beproef om in hierdie strawwe, troostelose omstandighede te werk en te slaap. Wintersneeustorms het deur murg en been gebyt, die somer se versengende hitte het elke beweging moeitevol gemaak en swetende gesigte en rûe was swart van die ondraaglike swerms vlieë. Hoe het die Europeërs tog nie die vlieë gehaat nie!
Maar die meeste het deurgedruk. Die oorlog het hulle gebrei en taai gemaak, en hulle was vasbeslote om ’n sukses van hulle nuwe lewe te maak. Baie het selfs begin hou van die wilde Australiese bosveld, met sy eienaardige diere en slange, asook sy voëls wat skreeu en krys in plaas van fluit en tjirp. Mettertyd het beskeie houthuisies die tente vervang, en vrouens en kinders het opgedaag.
Maar hoe nou gemaak met al die tale? Stel jou manne voor wat met swaar masjinerie en boortoerusting of plofstowwe werk en nie duidelik met mekaar kan kommunikeer nie! Dit was ’n resep vir rampspoed, en gevolglik het die Owerheid gratis, nauurse Engelse klasse ingestel. As werkers hulle werk wou behou, moes hulle ’n basiese vlak van taalvaardigheid bereik, en daarom kan ’n mens verstaan waarom die klasse goed bygewoon is!
Ondanks al hierdie struikelblokke is die projek ná 25 jaar—1949 tot 1974—op tyd en binne die begroting voltooi. Hoewel die koste van R2,7 miljard volgens vandag se standaarde beskeie is, was dit beslis nie destyds beskeie nie, veral vir ’n land met net agtmiljoen mense wat ná die oorlog nog gesukkel het om op die been te kom.
Ter viering van die prestasie beplan die Owerheid nou ’n 50-jarige herdenking in 1999. Dit sal ’n reünie insluit van almal wat aan die projek gewerk het—as hulle opgespoor kan word. “Hierdie mense het gehelp om een van die ingenieurswonders van die wêreld te bou en het die verloop van Australië se geskiedenis verander”, sê die huidige kommissaris. “Ons wil hulle bedank.”
Die Skema se grootte en kapasiteit
Die brosjure The Power of Water sê “die Skema strek oor ’n gebied van 3200 vierkante kilometer en sluit 80 km waterleiding, 140 km tonnels en 16 groot damme in”. Hierdie damme bevat seweduisend biljoen liter water—13 keer meer as Sydney-hawe, wat ongeveer 530 biljoen liter bevat—waarvan die Eucumbene-meer die hoofopvangdam is. Die sewe kragstasies, wat al tot 6400 gigawatt-uur elektrisiteit in ’n jaar opgewek het, kan tot 17 persent van die elektrisiteitsbehoeftes van die suidoostelike Australiese vasteland, onder meer Sydney, Melbourne en Canberra, voorsien.
Die turbines loop nie gewoonlik 24 uur per dag nie, behalwe wanneer die daaglikse aanvraag hoog is en stoomkragsentrales hulp nodig het. Hidro-elektrisiteit is veral geskik vir spitstyd-ondersteuning omdat dit so vinnig op skielike toenames in aanvraag reageer—twee tot drie minute, vergeleke met die etlike ure wat dit ’n steenkoolstelsel neem om elektrisiteit te begin opwek.
Hoe die Snowy-skema werk
Die Skema, sê die Snowy-owerheid, is “uitsonderlik in die opsig dat dit die ingewikkeldste, veeldoelige multireservoir-hidroskema ter wêreld is”. Dit bestaan uit twee ineengeskakelde dele—die Snowy-Murray-ontwikkeling en die Snowy-Tumut-ontwikkeling.
Die Snowy-Murray-ontwikkeling keer die Snowy-rivier se water weg van die Island Bend-dam af deur ’n bergtonnel na die Geehi-dam, wat ook water van die Geehi-rivier af kry. Van hier af stort die water 820 meter ver na die twee Murray-kragstasies. Terselfdertyd kry Guthega-kragstasie water van die Snowy-rivier se boloop naby die berg Kosciusko, Australië se hoogste berg. Van Guthega af vloei die water in die hooftonnelstelsel by Island Bend. Die feit dat ’n aantal tonnels, onder andere die tonnel wat die Eucumbene- en Island Bend-meer verbind, tweerigtingvloei toelaat, dra grootliks tot die Skema se aanpasbaarheid by.
By die Snowy-Tumut-ontwikkeling vloei water van die Eucumbene-meer, die Tooma-dam, die Happy Jack-dam en die Tumut Pond-dam afwaarts deur sluise en ’n reeks van vier kragstasies voordat dit in die Tumut-rivier, ’n takrivier van die Murrumbidgee, uitgelaat word. Hierdie deel spog met die grootste kragstasie, Tumut 3, waarvan elk van sy ses sluise groot genoeg is sodat ’n verdiepingbus daarin sal pas!
Buite spitstye pomp die Skema ook water stroomop van die Jindabyne-meer na die Eucumbene-meer, en van onder die Tumut 3-kragstasie, wat ook as ’n pompstasie gebruik word, na die Talbingo-reservoir. Maar waarom elektrisiteit mors deur water stroomop te pomp? Dit is verbasend genoeg om profyt te maak. Die pompe loop op goedkoop krag wat buite spitstye van die stoomkragsentrales gekoop word. Dan, gedurende spitstye, word die water weer vrygelaat en die hidro-elektrisiteit wat opgewek word, word met ’n wins weer aan die netwerk verkoop. Die meeste van die water—meer as 2000 biljoen liter jaarliks—word natuurlik kosteloos in die westelike rivierstelsels vrygelaat.
Is dit skoon elektrisiteit?
Ja, want water is ’n niebesoedelende, hernieubare hulpbron met geen afvalprodukte nie. Geen onooglike skoorsteenpype en koeltorings ontsier die alpe nie. Die duisende mense wat in die winter in hierdie alpynse speelterrein ski of in die somer sy voetslaanpaaie aandurf, is dus skaars bewus van die tonnels en kragstasies onder hulle.
Verder sou ’n bykomende vyfmiljoen metrieke ton koolstofdioksied elke jaar in die atmosfeer vrygestel word indien die elektrisiteit wat deur die Skema opgewek word van stoomkragsentrales gekom het.
Die omgewing het nogtans nie heeltemal ongeskonde daarvan afgekom nie, veral nie die Snowy-rivier nie. Aangesien baie van sy water weggekeer word, is dit ’n blote stroompie in vergelyking met vroeër jare. Daarbenewens het die Skema se groot damme sommige grasvelde oorstroom, en hulle nuwe hoogwaterlyne het beteken dat die dorpe Adaminaby en Jindabyne hervestig moes word.
Aan die ander kant is die Snowy-skema besonder betroubaar—wat getuig van die wyse raad van die Owerheid se eerste kommissaris: “Welwillendheid en respek word deur prestasie verkry, nie deur propaganda nie.”
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Alle foto’s op bladsye 16-19: Snowy Mountains Hydro-electric Authority
[Prent op bladsy 16]
Lugfoto van Tumut 3-kragstasie, die grootste stasie in die Snowy-skema
[Prent op bladsy 18]
Werkers moes onder ongunstige toestande woon
[Prent op bladsy 18]
Om as ’n span saam te werk, moes die werkers Engels leer
[Prent op bladsy 19]
Die bou van die Skema het onder meer behels dat tonnels deur berge gegrawe word