Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/8 bl. 16-19
  • Die lewe is anders in Australië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lewe is anders in Australië
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Europese kolonisasie
  • Die mense is ook anders
  • Padgebruik—’n groot verskil
  • Verskillende weerpatrone
  • Ander verskille
  • Uitgestrekte gebiede
  • Waar kamele en brumbies rondswerf
    Ontwaak!—2001
  • In hulle soeke na goud het hulle ’n tuiste gevind
    Ontwaak!—2011
  • Gevaar!—Ek is giftig
    Ontwaak!—1996
  • Australië se lawaaierige, lastige papegaaie
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/8 bl. 16-19

Die lewe is anders in Australië

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

IN ONLANGSE jare het Australië aan baie mense bekend geword as die land “down under”. Maar waarna verwys hierdie uitdrukking? Dit verwys na die lande onder, of benede, die ewenaar. Tegnies gesproke kan alle lande in die Suidelike Halfrond “down under” genoem word. Maar gewoonlik word slegs Australië en Nieu-Seeland so genoem. Hierdie artikel sal die aandag vestig op Australië, wat kom van die Latynse woord australis, wat “suidelik” beteken.

Die lewe in Australië is anders as die lewe in baie lande in die Noordelike Halfrond. En sy geografiese ligging is nie die enigste rede hiervoor nie. Daar is baie ander verskille wat besoekers oplet.

Europese kolonisasie

In 1788 het die Europese kolonisasie van hierdie groot, sonnige land begin. ’n Groep seilskepe bekend as die Eerste Vloot het by die Sydney-inham ingevaar. Hulle passasiers was merendeels gevangenes van Engeland, Ierland en Skotland, wat saam met hulle die Engelse taal gebring het. Gedurende die volgende 150 jaar was die meeste immigrante van Britse herkoms.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die immigrasiepatroon verander. Vandag is daar duisende “nuwe Australiërs” van verskillende lande, waarvan die meeste uit Italië en Griekeland kom. Die immigrante het groter verskeidenheid aan die Australiese lewenswyse gegee en het saam met hulle hulle eie tale en unieke uitspraak van Engels asook hulle kookkuns en kulture gebring.

Dit verklaar waarom daar soveel aksente hier gehoor word. Maar selfs diegene wie se families al baie geslagte lank hier woon, het ’n unieke aksent en manier van Engels praat. Die Australiese uitspraak van die Engelse klinkers a, e, i, o, u het ’n plat, dikwels onduidelike klank, wat soms eers ná ’n tyd duidelik onderskei kan word. Dan is daar uitdrukkings wat eie is aan Australië. Ongeag hoe laat dit byvoorbeeld is, die gebruiklike manier van groet is nie “Goeiemôre” of “Goeienaand” nie, maar eerder ’n vriendelike “G’day, mate!” (“Dagsê, vriend!”) Dan word daar dikwels vriendelik na ’n mens se gesondheid verneem, en die besoeker sal dalk gevra word: “How yer goin’, mate, orright?” (“Gaan dit goed, vriend?”)

Die mense is ook anders

Dit het aanpasbaarheid en karaktervastheid geverg om in hierdie onherbergsame land aan die lewe te bly. Dit is dalk waarom baie Australiërs so optimisties is en wat aanleiding gegee het tot die uitdrukking: “She’ll be right, mate!” (“Alles sal regkom, vriend!”) Dit impliseer dat ’n mens nie te bekommerd hoef te wees wanneer dinge sleg lyk nie, want alles behoort uiteindelik goed af te loop.

Die voorwoord van die publikasie The Australians sê: “Dit spreek vanself dat ’n land wat in kettings gebore is, en tweehonderd jaar later een van die mees dinamiese en welvarendste van die kleiner nasies geword het, fassinerende en uiteenlopende karakters moet voortbring. . . . Hulle is . . . die Australiërs.”

Kameraadskap word deur baie Australiërs beskou as iets wat oor die laaste twee eeue weens ’n sterk oorlewingsinstink ontstaan het. Hulle wys graag op die moed van die Australiese soldate gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Saam met die Nieu-Seelandse weermag het hierdie geharde troepe bekend gestaan as Anzacs, ’n akroniem vir die gesamentlike Australiese en Nieu-Seelandse Leërkorps. Hulle het ook algemeen bekend geword as “diggers”, oftewel grawers, maar daar is onsekerheid of dit verwys na die feit dat hulle loopgrawe gegrawe het of gedelf het in die goudvelde van Australië, waarheen mense gedurende die negentiende eeu gestroom het.

Padgebruik—’n groot verskil

Besoekers van lande waar voertuie aan die regterkant van die pad ry, vind dit baie vreemd om in Australië te bestuur. Regoor die land word voertuie aan die linkerkant van die pad bestuur.

As jy dus in Australië opdaag en van ’n land kom waar mense aan die regterkant van die pad ry, kan jou eerste treë oor ’n besige straat gevaarlik wees. Die reël ‘kyk links, dan regs en dan weer links’ waaraan jy gewoond is, kan rampspoedig wees. Nou moet jy dink, ‘kyk regs, dan links en dan weer regs’ voor jy die straat oorsteek. Mooi so! Jy leer vinnig. Oeps! Jy het amper aan die verkeerde kant van die motor ingeklim. Jy het vergeet dat die bestuurder in hierdie land aan die regterkant sit!

Verskillende weerpatrone

In vergelyking met die Noordelike Halfrond is die seisoene in Australië omgekeerd. Warm, droë winde kom uit die noorde en noordweste, terwyl al die koue weersveranderinge uit die suide kom. Daar word nooit hier van die koue noordewind gepraat nie, maar wees versigtig vir die ysige suiderstorm, met sy koue lug en moontlike sneeu en sneeustorms.

Australië is die wêreld se droogste en warmste vasteland, met temperature in die droë binnelandse gebiede wat 30 grade Celsius bereik. Die hoogste temperatuur wat al opgeteken is, is 53,1 grade Celsius. Die laagste temperatuur is -22 grade Celsius, naby die berg Kosciusko, Australië se hoogste bergpiek, in die omgewing van die Snowy-berge.

Volgens standaarde in die Noordelike Halfrond word dit hier nie baie koud nie. Neem Melbourne, die hoofstad van die staat Victoria, as voorbeeld. Hoewel hierdie stad reg in die suide van Australië lê, wissel die gemiddelde daaglikse temperatuur in Julie van 6 tot 13 grade Celsius. Vergelyk dit met Beijing, China, se daaglikse gemiddelde temperatuur in Januarie van -10 tot 1 graad Celsius of met New York se -4 tot 3 grade Celsius. Al twee stede is omtrent net so ver soos Melbourne van die ewenaar af geleë. Waarom is dit warmer in Australië, veral aangesien dit naby Antarktika—die koudste plek op aarde—geleë is?

Die verskil is dat die Noordelike Halfrond deur landmassas oorheers word terwyl die Suidelike Halfrond deur oseane oorheers word. Australië en Nieu-Seeland word deur duisende vierkante kilometer oseaan omring, wat ’n buffer van warmer lug vorm teen die yskoue Antarktiese lugmassas, en sodoende die klimaat warmer hou.

As gevolg van die grootte van die Australiese kontinent is die klimaatverskille in die verskillende streke taamlik opvallend. In die suideliker state is die seisoene duidelik onderskeibaar, met helder, koue of ryperige winteraande, wat gewoonlik deur aangename, warm dae gevolg word. Hierdie aangename winterdae kom dikwels ooreen met die somertemperature van baie lande in die Noordelike Halfrond. Maar in die noordelike state van Australië word die jaar eenvoudig in twee seisoene verdeel—die lang droë seisoen en die nat seisoen met sy moesonreëns. In Darwin, die hoofstad van die Noordelike Gebied, bly die temperatuur ongeveer 32 grade Celsius.

Ander verskille

Omdat die weer op die grootste deel van die vasteland meestal warm is, trek die meeste Australiërs informeel aan. Maar dit is belangrik om ’n wyerandhoed te dra. As gevolg van die groter blootstelling aan sonlig kry meer mense hier velkanker as in gematigder lande.

Aangesien daar nog baie uitgestrekte gebiede in Australië is, is baie piekniekareas gebou met fasiliteite om ’n vleisbraai in die opelug te hou. Vleis is redelik goedkoop, en daar is dus altyd wors en biefstuk by ’n vleisbraai. Maar is daardie mense om die braaivleisvuur besig om mekaar geheime handseine te gee? Nee, hulle waai maar net hulle vry hand om die vlieë weg te hou! Vlieë en muskiete is nogal ’n probleem as jy buite eet, veral in warmer weer.

As ’n mens in Australië woon, moet jy dus leer om met vlieë en muskiete saam te leef, en die meeste huise het gaasdeure voor en agter. Vroeër jare het mense hoede gedra met ’n hele paar kurke wat van die rand afhang om vlieë weg te hou. Vandat mense insekdoders begin gebruik het, word sulke hoede nie meer so dikwels gesien nie.

’n Ander verskil het te doen met die uitsonderlike, kleurvolle blomme asook blomstruike en bome. Die sterk geur wat gewoonlik in die Noordelike Halfrond geruik word, is afwesig. Hier moet die tuinliefhebber sy neus na aan die blomme hou om werklik die geur te kan waardeer. Dit is natuurlik nie waar van alle Australiese blomme nie. Die daphne- en jasmynstruike is byvoorbeeld ’n besonderse genot om te ruik. Maar oor die algemeen het bloeisels hier minder geur as in kouer streke.

Uitgestrekte gebiede

Ruimte is ’n aspek van die lewe in Australië wat werklik anders is. Die konsep van wat naby of ver is, is anders hier as in baie noordelike lande. Afstande tussen sommige dorpies is so groot dat ’n mens ure lank kan reis voordat jy nog ’n dorpie sien. Dit is veral so in wat goedig die Agterveld genoem word. Hier is die ruimte en rustigheid oorweldigend, en ’n besoeker kan sy longe met vars, onbesoedelde lug vul. Hier naby is ’n eukaliptusboom, wat algemeen bekend staan as ’n bloekomboom. In die binneland tref ’n mens meestal bloekombome en wattel-, oftewel akasiabome, aan.

So teen skemer sien ’n mens ’n pragtige sonsondergang. Maar donker kom verbasend vinnig, want daar is baie min skemerlig in Australië. Kort voor lank vertoon ’n uitsonderlike helder Suidelike naghemel sy menigte sterre, waaronder die bekende sterrebeeld wat die Suiderkruis genoem word. Die bloekombome is skerp omlyn teen die aandlug terwyl die natuurlewe tot rus kom, en dit is asof die stilte wat jou omsluit die uitgestrektheid beklemtoon.

Jy moet die kampvuur heeltemal blus voor jy in jou slaapsak klim. Dit is baie belangrik, want wanneer ’n brand in die Australiese bos buite beheer raak, word dit gou-gou ’n monster wat niks in sy pad ontsien nie. Die toppe van die bloekombome ontplof in die intense hitte, wat veroorsaak dat die vuur teen ’n skrikwekkende spoed versprei. In die warm, droë somermaande vrees diegene wat naby die bosveld woon voortdurend vir veldbrande. Indien die maak van vure verbied word en daar regulasies in verband met die maak van vure in die buitelug bestaan, moet dit streng nagekom word.

Kort voor lank breek die dag aan, en jy word wakker met lawaaierige gelag wanneer ’n swerm kookaburras wat die aand in ’n nabygeleë bloekomboom deurgebring het vrolik begin sing. Jy is nog deur die slaap wanneer jy by jou tent uitkyk en ander bome vol pragtig gekleurde voëls sien. Teen hierdie tyd het jy moontlik al baie van hulle gesien, sowel as ander diere, waaronder kangaroes, koalabere, emoes en miskien selfs ’n buidelmuis. Dié wat jy nie graag wil teëkom nie, is slange en spinnekoppe. Ja, hierdie vasteland het van die giftigste slange en spinnekoppe ter wêreld. Maar die meeste van hulle sal nooit ’n gevaar vir jou inhou as jy hulle nie pla nie.

Dis tyd vir ontbyt om die kampvuur—gewoonlik in die vorm van spek en eiers, asook snye goed geroosterde brood. Die vars lug het jou lekker honger gemaak. Dan, terwyl jy ten spyte van die vlieë jou ontbyt probeer geniet, begin jy nadink oor hierdie ondervinding in die bos, wat jou ’n idee gegee het van hoe uitgestrek die Australiese vasteland is.

Nou het jou reis deur hierdie uitgestrekte land tot ’n einde gekom, en jy keer terug huis toe. Jou nadere kennismaking met die vriendelike Australiërs en hulle beskeie lewenswyse sal jou ongetwyfeld nog lank bybly. Soos die meeste besoekers sal jy ook waarskynlik eendag weer hiernatoe wil kom. Maar daar is een gevolgtrekking wat jy ongetwyfeld gemaak het: Die lewe is anders in Australië!

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Parkiet en pienk kaketoe: Met vergunning van Australian International Public Relations; vrou: Met vergunning van West Australian Tourist Commission

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel