Krag uit die hartjie van ’n berg
“DIE dagreis wat jy ’n leeftyd lank sal onthou.” Dit is hoe my besoek aan die suidweste van Nieu-Seeland se Suid-Eiland in die reisbrosjures beskryf is. En dit is waar. Die reis van Manapouri na die Doubtful-sont, oor water en berge, het my in aanraking gebring met unieke besienswaardighede en indrukwekkende ingenieursprestasies. Dit was soos om ’n agtste wonder van die wêreld te aanskou—’n hidrokragstasie wat in die hartjie van ’n berg weggesteek is.
My reis het my ook laat dink aan Nieu-Seeland se oudste inwoners, die Maori, en hulle ou legendes en tale. “Manapouri” kan, volgens twee Maori-verhale, ‘meer van verdriet of trane’ of ‘meer van die verdrietige hart’ beteken. Dit was ook die naam van die dorp waar ek daardie onvergeetlike dag begin het.
’n Onverwagse gesig
Terwyl ons boot glad oor die rustige meer gesnel het, het ons pragtige U-vormige valleie en toringhoë berge gesien. Ons was gelukkig om ’n pragtige helder dag te hê, aangesien hierdie gebied tot 7 500 millimeter reën per jaar kry! Dit is dus vir ’n fotograaf ’n paradys met bome en welige plantegroei wat langs die berghange op groei. Die geraas van ons boot op ons 75-minuut lange reis oor die meer was die enigste bewys dat mense in die gebied in gaan. Maar ’n reis waarheen?
Na ’n onverwagse gesig—by West Arm, by die verste punt van die meer, het die skakelterrein van ’n hidro-elektriese kragstasie in die middel van nêrens verrys. Wat kon enigeen beweeg het om ’n kragstasie hier te bou, so ver van waar mense woon? Slegs ’n unieke stel geografiese en geologiese omstandighede kon enige ingenieur of landmeter hierdie inspirasie gee.
Daardie idee het in 1904 gekom toe P. J. Hay, ’n landmeter, besef het watter potensiaal hierdie watermassa het. Die oppervlak is meer as 180 meter bo seevlak en aangesien dit byna 450 meter diep is, is die bodem ongeveer 260 meter onder seevlak! Ja, dit word van die see geskei deur net ongeveer tien kilometer bergagtige terrein. Maar dit sou nog 60 jaar duur voordat sy idee ’n werklikheid kon word. Wat het aanleiding gegee tot die begin van hierdie projek? ’n Australiese smelterykorporasie in Nieu-Seeland het krag nodig gehad vir sy smeltery by Tiwai Point, naby Invercargill, ongeveer 160 kilometer daarvandaan in ’n reguit lyn. Maar hoe sou elektrisiteit opgewek word?
’n Droom word ’n werklikheid
Die plan, wat deur Bechtel-ingenieursmaatskappy in Amerika ontwikkel is, was om diep in die berg genaamd Leaning Peak in te grawe en ’n kragstasie direk onderaan die punt van die Manapouri-meer te bou. Die water kon dus by skagte afval en sewe turbines aandryf wat elektrisiteit sou opwek. Die elektriese krag sou dan na die nasionale netwerk oorgedra word deur die skakelterrein aan die oewer van die meer. (Sien diagram, bladsy 17.) Maar hoe sou al daardie water afloop? Die tonnelgrawers moes ’n aflooptonnel uitgrawe met ’n deursnee van nege meter en wat ongeveer 10 kilometer ver onder die berge loop. Dit sou die water toelaat om van Deep Cove in die Doubtful-sont, een van Nieu-Seeland se manjifieke fjords, in te vloei. Vir daardie tonnel alleen moes 760 000 kubieke meter rots verwyder word.
Stel jou voor die groot hoeveelheid rots wat net vir die waterskagte en die turbinesaal uit die berg uitgehaal sou moes word. Hierdie saal, of masjiensaal, alleen is 111 meter lank, 39 meter hoog en 18 meter wyd. ’n Amerikaanse voetbalveld of ’n sokkerveld sal in sy lengte inpas. Maar daar was eers ’n tonnel nodig sodat die masjiensaal, waar die turbines en kragopwekkers sou wees, bereik en uitgegrawe kon word. Dit was op sigself ’n unieke uitdaging!
Hierdie padtonnel wat na die masjiensaal kronkel, is meer as twee kilometer lank en het elke tien meter ’n egalige gradiënt van een meter. Toe ons die berg in ons toerbus binnegaan, was dit ’n sobere gedagte dat ons in die berg se binneste afdaal.
Toe ons uiteindelik uit die bus klim en in die turbinesaal ingaan, was dit soos iets uit ’n wetenskapsverhaal—’n groot wetenskapskatedraal in die dieptes van ’n berg! Maar een vraag het my gepla: Hoe het hulle al die swaar masjinerie op die terrein gekry vir hierdie ingewikkelde projek? Die enigste toegangspunte was oor die see of oor die meer. Daar was geen paaie nie. Daar is besluit dat dit makliker sou wees om die meeste van die kragopwekkingsmasjinerie oor die see te bring. Maar ’n bergreeks het die weg na die kragstasieterrein versper. Die oplossing? Bou ’n pad.
Nieu-Seeland se steilste staatshoofweg
In 1963 het werk aan die padverbinding van Deep Cove na West Arm begin, volgens een bron “een van die moeilikste padbouondernemings in die wêreld”. Waarom? “Reën, sneeu, riviere van modder en massas struikgewasse het die voltooiingstyd van 12 tot 24 maande gerek.” Die pad wat ongeveer 23 kilometer lank is, het uiteindelik NZ$1.60 per sentimeter gekos—’n baie duur pad! Met gradiënte so groot soos 1 op 5 het dit Nieu-Seeland se steilste hoofweg geword. Tog was dit die belangrikste skakel om 87 000 ton materiaal van seevlak oor die Wilmot-pas (670 m) na meervlak te vervoer. Een vrag alleen het 290 ton geweeg, en dit het ’n 140-wielvervoerder vereis wat deur ’n stootskraper en padskraper getrek is en deur nog ’n stootskraper gestoot is! Maar die werk is gedoen.
Uitwerking op die ekologie
Watter uitwerking het hierdie groot projek op die plaaslike ekologie? Aangesien die grootste deel van die kragstasie ondergronds is, kan dit nie gesien word nie, behalwe vir die skakelterrein en die transmissielyne oor die berge. Selfs die kragmaste en kabels word deur die uitgestrektheid van die gebied verdwerg. Maar daar is nog ’n vraag wat beantwoord moet word.
Hoe word die Manapouri-meer se watervlak gehandhaaf as dit in werklikheid van die agterkant af leeggemaak word? Een basiese faktor is die hoë reënval per jaar in die gebied. Manapouri se dorpsgebied kry jaarliks gemiddeld 1 250 millimeter, terwyl die kragstasie by West Arm 3 750 millimeter kry. Streng riglyne word ook gevolg om die vlak van die meer te beheer sodat dit so naby as moontlik aan sy natuurlike vlak bly. Aangesien die Manapouri-meer aan die bokant van ’n waterstelsel is wat die Te Anau-meer en die Bo- en Benede-Waiau-riviere (sien kaart) insluit, word keerdamme gebruik om die vlak te handhaaf wat vir die kragstasie nodig is. Wanneer daar te veel water is vir die kragopwekkers om te hanteer, word die keerdam se sluise oopgemaak om die oortollige water uit te laat.
Wie vind hierby baat?
Die oprigting van Nieu-Seeland se grootste hidrokragstasie is ’n voorbeeld van internasionale samewerking. Die turbines is in Skotland vervaardig, die kragopwekkers in Duitsland en die transformators in Italië. Die eerste van die kragopwekkers is in 1969 in gebruik geneem. Teen September 1971 was al sewe in werking. Wie vind baat by al hierdie opgewekte krag? Die meeste gaan na die smeltery by Tiwai Point en die res gaan in Nieu-Seeland se nasionale netwerk in. Die kragstasie by Manapouri en ’n onafgebroke elektrisiteitsvoorsiening is uiters belangrik vir die smeltery-onderneming. Die onderbreking van elektrisiteitsvoorsiening vir langer as twee uur kan daartoe lei dat die smeltery ’n paar maande lank moet sluit. Die Manapouri-kragstasie en die mense by die smeltery werk dus saam om standvastigheid te verseker.
Ons het die busrit oor Wilmot-pas en af na die Doubtful-sont geneem. Daar het ons die afloopwater gesien wat van die Manapouri-kragstasie in die stil sont instroom. Hierdie sont, of fjord, het ’n merkwaardige eienskap. “Die oppervlak van die fjord is ’n varswaterlaag wat op digter seewater lê. In die fjord bly die varswater ’n afsonderlike laag—’n rivier wat rustig oor hierdie ingeslote see vloei.”—Manapouri to Doubtful Sound, deur Barry Brailsford en Derek Mitchell.
’n Ander motorboot het ons vir ’n rustige rit op die sont geneem. Op een stadium het die kaptein die motore afgesit, en ons het na die groot stilte van daardie ongerepte paradys geluister. Die geroep van ’n voël het af en toe oor die water weerklink. Wat ’n kontras met die tierende krag van die Manapouri-hidro-elektriese stasie net ’n paar kilometer verder, wat in die hartjie van ’n berg weggesteek is.—Bygedra.
[Diagram/Prente op bladsy 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Kragstasie-uitleg
Manapouri-meer
Hyserskag
Inlaatsluisskag
Inlaatpype en filters
Aflooptonnel na Deep Cove
Nooduitgang
Buitestasie
Kragkabelskag
Toegangstonnel
Transformatorkluis
Masjiensaal
Dienstonnel
[Prente]
Skakelterrein
Masjiensaal
Manapouri-kragstasie
[Prent op bladsy 15]
Doubtful-Sound, New-Zealand
[Prent op bladsy 16]
Die toegangstonnel in die berg in en af na die masjiensaal