Wat het van al die kabeljou geword?
DAAR was so baie kabeljoue in die water dat “’n boot skaars daardeur geroei kon word”. Dit is wat die ontdekkingsreisiger John Cabot in 1497 gesê het toe hy een van die wêreld se rykste visgronde beskryf het—die Grand Banks van Newfoundland. Teen die einde van die 17de eeu het die jaarlikse kabeljouvangs by Newfoundland byna 100 000 metrieke ton bereik. In die daaropvolgende eeu het die opbrengs verdubbel.
Vandag het die situasie egter dramaties verander. Die kabeljoubevolking is nou so uitgeput dat die Kanadese regering in 1992 sy eie verbod op die vangs van Atlantiese kabeljou geplaas het, wat veroorsaak het dat omtrent 35 000 mense in ander sektore moes gaan werk soek. In 1997 is die moratorium steeds van krag. Maar wat het van al die kabeljou geword?
Gedurende die sestigerjare het internasionale vissersvlote op die Newfoundlandkus se visbanke toegesak en ontsaglike hoeveelhede kabeljou gevang. Teen 1968 het treilers van ’n stuk of twaalf lande jaarliks 800 000 ton vis van Newfoundland se visbanke gevang. Dit was drie keer meer as die gemiddelde jaarlikse vangs van die vorige eeu.
Hoewel kouer water, die robbeaanwas en die migrasie van kabeljou moontlik ’n rol gespeel het in die groot afname van die kabeljoubevolking, moet die kabeljouramp in groot mate aan menslike gierigheid toegeskryf word. “Dit was oorbevissing—niks anders nie”, sê een marienebioloog.
Wat hou die toekoms in vir die Atlantiese kabeljou? Party mense twyfel of daar genoeg jong visse is om volgroeid te raak, te broei en die spesie aan te vul. The Evening Telegram van St. John’s het gesê: “Kanada se oudste bedryf, die Atlantiesekabeljou-vissery, sal net in die geskiedenisboeke floreer.” Maar daar is hoop!
Die Bybel verseker ons dat daar binnekort, op God se voorspelde nuwe aarde van regverdigheid, geen plek vir gierigheid sal wees nie (2 Petrus 3:13). Jehovah sal “die verderwers van die aarde . . . verderf” en die land en die see laat wemel van lewe tot die seën van dié wat hom wil dien en behaag.—Openbaring 11:18.
[Foto-erkennings op bladsy 31]
© Tom McHugh, The National Audubon Society Collection/PR
Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.