Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/08 bl. 20-23
  • Waarom die nette leeg is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom die nette leeg is
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Grand Banks —die begin van die vernietiging
  • Die impak van die industriële visvangs
  • Die nekslag
  • Wêreldwye visvangkrisis
  • Waarom duur oorbevissing voort?
  • Wees vissers van mense
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wat het van al die kabeljou geword?
    Ontwaak!—1997
  • Visvangs op die See van Galilea
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Vissers van mense in wêreldomvattende waters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 11/08 bl. 20-23

Waarom die nette leeg is

“Ek het al goeie en slegte jare gesien, maar ek het nog nooit so ’n krisis in die visvangbedryf gesien soos ons nou beleef nie”, sê die 65-jarige George, wat aan die noordoostelike kus van Engeland visvang. “Alles is uitgedun—salm, witvis, kabeljou, kreef—alles.”

DIT is nie net George wat besorg is nie; soortgelyke ontstellende berigte kom van oral oor die wêreld. In Peru is Agustín die kaptein van ’n vissersboot van 350 ton. “Die sardientekort het sowat 12 jaar gelede begin”, sê hy. “In Peru was daar altyd heeljaar volop vis, maar nou het ons dikwels maande lank niks om te doen nie. Ons het nooit meer as 25 kilometer van die kus af visgevang nie, maar nou vaar ons tot 300 kilometer ver om ’n vangs te kry.”

Antonio, wat in Galicië, Spanje, woon, sê: “Ek vang al meer as 20 jaar vis. Ek het gesien hoe die see se hulpbronne geleidelik opgebruik word. Ons neem meer uit die see as wat dit kan voortbring.”

Oorbeviste oseane kan nie op so ’n dramatiese wyse gefotografeer word soos reënwoude wat onder stootskrapers deurgeloop het nie, maar die verwoesting is net soveel van ’n werklikheid. ’n Onlangse waarskuwing van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie het in verband met oorbevissing gesê: “Die situasie is veral ernstig en kommerwekkend as mens in ag neem dat sowat 75 persent van die wêreld se viswaters reeds ten volle benut, oorbenut of uitgeput word.”

Vis is die hoofbron van diereproteïen vir ’n vyfde van die mensdom. Die volhoubaarheid van een van ons belangrikste voedselsoorte is dus op die spel. Vis is nie oral in die oseane ewe volop nie. Trouens, wat lewe betref, is die grootste deel van die oop see soos ’n woestyn. Die produktiefste viswaters is gewoonlik naby die kus en in gebiede waar daar opwelwater ryk aan voedingstowwe is. Fitoplankton, wat onderaan die mariene voedselketting is, lewe van hierdie voedingstowwe. Hoe vernietig vissermanne juis die visgebiede waarvan hulle afhanklik is vir hulle bestaan? Die geskiedenis van een spesifieke visgebied voorsien ’n paar antwoorde.

Die Grand Banks —die begin van die vernietiging

Dit was asof ’n goudstormloop begin het toe die Italiaansgebore seevaarder en ontdekkingsreisiger John Cabota die Atlantiese Oseaan van Engeland af oorgesteek het en die Grand Banks-visgebied, in ’n vlakwatergebied naby die kus van Kanada, ontdek het. Dit was net vyf jaar ná die geskiedkundige seevaart van Christophorus Columbus in 1492. Kort voor lank het honderde vissermanne die Atlantiese Oseaan getrotseer om op die Grand Banks te gaan visvang. Geen Europeër het al ooit water met soveel kabeljou gesien nie.

Kabeljou was goud werd. Dit was gesog weens sy wit vleis wat feitlik vetvry is, en is steeds die gunsteling op die wêreldmark. ’n Atlantiese kabeljou weeg gewoonlik tussen 1,4 en 9 kilogram, maar sommige op die Grand Banks was so groot soos ’n mens. In die eeue daarna het vissermanne hulle vangste vergroot toe hulle geleer het om sleepnette en langlyne met duisende hoeke te gebruik.

Die impak van die industriële visvangs

Teen die 19de eeu het sommige Europeërs besorgdheid begin uitspreek oor visbevolkings, veral wat haring betref. Maar professor Thomas Huxley, president van die British Royal Society, het in 1883 by die Londense Internasionale Visseryskou gesê: “Hierdie visgetalle is so onbegryplik groot dat die hoeveelhede wat ons vang, relatief onbeduidend is . . . Daarom glo ek dat die kabeljoubevolking . . . en waarskynlik al die groot seevisbevolkings onuitputlik is.”

Min mense het Huxley se mening in twyfel getrek, selfs nadat industriële visvangs met stoomaangedrewe bote op die Grand Banks begin het. Die aanvraag na kabeljou het toegeneem, veral ná 1925 toe Clarence Birdseye van Massachusetts, VSA, ’n proses uitgevind het om vis vinnig te vries. Vissermanne het hierop gereageer deur dieselaangedrewe treilers te gebruik om selfs groter vangste in te bring. Maar verdere oorbenutting sou volg.

In 1951 het ’n skip wat vreemd gelyk het, van Brittanje af gekom om op die Grand Banks vis te vang. Dit was 85 meter lank en het ’n kapasiteit van 2 600 grootton gehad. Dit was die wêreld se eerste fabriekskoeltreiler. Op die agterstewe het dit ’n helling gehad, waar die yslike net met wenasse ingetrek kon word, en op die laer dekke het dit rye masjiene gehad wat die vis outomaties gefileer en gevries het. Met behulp van radar, visopspoortoestelle en eggo-oriënteerders kon die skip weke lank, dag en nag, skole vis jag.

Ander nasies het die kommersiële potensiaal besef, en kort voor lank het honderde van hierdie treilers die oseane bevaar en tot 200 ton vis per uur uitgetrek. Party skepe het ’n kapasiteit van 8 000 ton gehad en het sulke groot nette gehad dat dit oor ’n makrostraler kon pas.

Die nekslag

“In die laat 1970’s”, sê die boek Ocean’s End, “het die meeste mense nog vasgeklou aan die wanopvatting dat daar geen einde aan die oseaan se oorvloed is nie.” Deur die loop van die 1980’s het al hoe meer reusetreilers op die Grand Banks visgevang. Wetenskaplikes het gewaarsku dat die kabeljoubevolking op die randjie van uitwissing is. Maar tienduisende mense was nou van hierdie vissery afhanklik vir hulle bestaan, en die politici wou nie ongewilde besluite maak nie. Uiteindelik, in 1992, het wetenskaplikes getoon dat die kabeljoubevolking in 30 jaar met ’n skokkende 98,9 persent afgeneem het. Die vang van kabeljou op die Grand Banks is verbied. Maar dit was te laat. Vyfhonderd jaar nadat dit ontdek is, was een van die wêreld se rykste visgebiede uitgeput.

Vissermanne het gehoop dat die kabeljougetalle vinnig sou herstel. Maar kabeljou word meer as 20 jaar oud en neem lank voordat hulle volwassenheid bereik. In die jare sedert 1992 het die verwagte herstel nog steeds nie plaasgevind nie.

Wêreldwye visvangkrisis

Wat op die Grand Banks gebeur het, is ’n ontstellende voorbeeld van die wêreldwye probleem in die visvangbedryf. In 2002 het Brittanje se minister van omgewingsake gesê dat “60 persent van die wêreld se visbevolkings nou deur visvangs uitgewis word”. Tuna, swaardvis, haai en skerpioenvis is onder die talle spesies wat bedreig word.

Talle welvarende lande, wat reeds hulle eie viswaters gestroop het, soek nou na verafgeleë viswaters om te benut. Die kus van Afrika het byvoorbeeld van die wêreld se vrugbaarste viswaters. Baie Afrikaleiers kan dit nouliks bekostig om vislisensies te weier, wat ’n vername bron van buitelandse valuta vir hulle staatskoffers is. Dit is nie verbasend nie dat plaaslike mense kwaad is oor die uitdunning van hulle visbevolkings.

Waarom duur oorbevissing voort?

Vir ’n buitestander lyk die oplossing eenvoudig—staak oorbevissing. Maar dit is nie so eenvoudig nie. Kommersiële visvangs vereis ’n baie groot belegging wat toerusting betref. Elke visserman hoop dus dat die ander sal ophou om vis te vang sodat hy kan aanhou. Die gevolg is gewoonlik dat niemand ophou nie. Daarbenewens is regerings dikwels die grootse beleggers in vissery, wat hulle ’n deel van die probleem maak. Die tydskrif Issues in Science and Technology sê: “Nasies het dikwels [die VN se] doelwitte vir visbewaring beskou as ’n morele kode wat ander nasies moet nakom, maar wat hulle self bereid was om te verbreek.”

Sportvissermanne is ook deels verantwoordelik. Die tydskrif New Scientist het oor ’n studie in die VSA berig: “Hengelsport is verantwoordelik vir 64 persent van gerapporteerde vangste van oorbeviste spesies langs die Golf van Mexiko.” Aangesien sport- en kommersiële vissermanne albei groot invloed het, verkies politici om eerder te doen wat hulle gewilder maak as om visbevolkings te beskerm.

Kan die wêreld se visbevolkings beskerm word? Boyce Thorne-Miller sê in sy boek The Living Ocean: “Totdat daar ’n noemenswaardige verandering in mense se gesindhede is, is daar niks spesifieks wat oseaanspesies kan red nie.” Gelukkig het die Skepper, Jehovah God, ’n Koninkryk opgerig wat die toekomstige veiligheid van die ganse aarde sal verseker.—Daniël 2:44; Matteus 6:10.

[Voetnoot]

a John Cabot is in Italië gebore, waar hy Giovanni Caboto genoem is. Hy het in die 1480’s na Bristol, Engeland, verhuis, en van daar af het hy in 1497 op sy seevaart vertrek.

[Lokteks op bladsy 21]

Oorbeviste oseane is verwoes, net soos reënwoude wat onder stootskrapers deurgeloop het

[Lokteks op bladsy 22]

‘Sowat 75 persent van die wêreld se viswaters word reeds ten volle benut, oorbenut of uitgeput.’—Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie

[Lokteks op bladsy 23]

Vis is die hoofbron van diereproteïen vir ’n vyfde van die mensdom

[Prent op bladsy 23]

Kambodja

[Prent op bladsy 23]

Kommersiële visvangs, Alaska

[Prent op bladsy 23]

Demokratiese Republiek van die Kongo

[Foto-erkenning op bladsy 20]

© Janis Miglavs/​DanitaDelimont.com

[Foto-erkenning op bladsy 22]

Bo: © Mikkel Ostergaard/Panos Pictures; middel: © Steven Kazlowski/SeaPics.com; onder: © Tim Dirven/Panos Pictures

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel