Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 12/22 bl. 10-12
  • Verveel jou werk jou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verveel jou werk jou?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tree entoesiasties op
  • Doen jou bes
  • “Versier” jou werk
  • Hou aan leer
  • ’n Paar laaste wenke
  • “Hoop op Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Geniet jou werk
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Bybelboek nommer 18—Job
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ’n Voorbeeldige man wat teregwysing aanvaar het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 12/22 bl. 10-12

Verveel jou werk jou?

JY WERK waarskynlik ongeveer agt uur per dag. Dit is te veel tyd en te veel lewe om aan verveling op te offer! En tog is baie werk in die 20ste eeu eentonig en gee dit die werker min waarop hy trots kan wees.

Jy kan dus baie daarby baat vind as jy jou werk interessant maak. Jy put groter vreugde uit jou werk en jy leer hoe om enige toekomstige werk interessant te maak. Kom ons kyk dan na ’n paar maniere hoe dit gedoen kan word.

Tree entoesiasties op

Party gesaghebbendes stel voor dat jy werk asof jy dit geniet. As jy dit doen, sal jou gesindheid dalk wel later verander.

‘Maar ek kan nooit entoesiasties wees oor my werk nie!’ sê jy dalk. Jou werk behels moontlik ’n streng roetine, soos werk in ’n monteerfabriek. Of dalk doen jy jou werk al soveel jaar dat jy meen dit is onmoontlik om belangstelling daarin te hernieu. Maar eenvoudige taktiek soos om te glimlag en regop te staan, kan jou help om meer entoesiasties oor jou werk te voel.

Dit sal moontlik ook help as jy jou geheel en al toespits op wat jy doen. Moet dit nie werktuiglik doen nie, en moenie jou werk doen terwyl jy aan middagete, die naweek of selfs ander werk dink wat gedoen moet word nie. Dit is gewoonlik verstandig om ten volle te konsentreer op die taak waarmee jy besig is. Die resultaat? Jy sal die werk moontlik begin geniet, en dit sal dan lyk of die tyd vinniger verbygaan.

Dit is wat natuurlikerwyse gebeur wanneer jy verdiep raak in ’n bedrywigheid wat jy werklik geniet. Jy kan dieselfde bereik deur jou te dwing om ten volle aandag te skenk aan werk wat jy gewoonlik nie geniet nie.

Doen jou bes

As jy jou bes doen, kan dit jou help om bevrediging uit jou werk te put. Sulke raad is natuurlik in stryd met die gewilde idee dat jy so min as moontlik moet probeer doen wanneer jy die werk oninteressant vind. Maar verwaarlosing, uitstellery en minimale inspanning sal jou energie waarskynlik uitput en net meer kommer en moegheid veroorsaak. In party gevalle ly die persoon wat gespanne, bekommerd en uitgeput van die werk af kom heel moontlik omdat hy nie ywerig werk nie.

Volgens die Bybel kan vrye tyd selfs genotvoller wees as ’n mens hard werk aan ’n projek. “Vir ’n mens is daar niks beter nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk” (Prediker 2:24, NW). Vir party klink dit dalk soos ’n oudmodiese leuse, maar ander pas hierdie tydlose beginsel toe. Hulle stem saam dat daar inderdaad “niks beter” is as dat hulle die vrugte van hulle harde werk geniet nie. Die boek The Joy of Working erken: “Werk wat goed gedoen is, gee ’n innerlike gloed van bevrediging.”

Doen dus jou bes, en jy sal waarskynlik voel dat jy meer energie het. Doen meer as net die volstrekte minimum, en jy sal heel moontlik gelukkiger voel. Doen die belangrike take eerste, en jy sal jou middagetes en naweke meer geniet as iemand wat homself uitput deur werk uit te stel.—Vergelyk Ester 10:2, NW; Romeine 12:11; 2 Timoteus 2:15.

Pleks van met ander mee te ding, moet jy jouself probeer oortref (Galasiërs 6:4). Stel nuwe standaarde, nuwe doelwitte. Streef daarna om beter te doen. ’n Vrou, wie se werk insluit dat sy oor en oor dieselfde naaiwerk doen wat party as hopeloos eentonig sou beskou, het ’n speletjie daarvan gemaak om vas te stel hoe gou sy dit kan doen. Sy het vasgestel wat haar produktiwiteit per uur is, en toe het sy daarop probeer verbeter. Sy geniet waarlik haar werk omdat sy daarna streef om haar volle potensiaal te bereik.—Spreuke 31:31.

“Versier” jou werk

Doktors Dennis T. Jaffe en Cynthia D. Scott beveel aan: “Dink aan jou werk as ’n leë huis. Jy trek in en kyk na die vorm en struktuur daarvan. Dan begin jou eie skeppingsvermoë posvat. Jy beplan hoe jy die ruimte gaan gebruik, versier die huis en maak dit jou tuiste. Jy maak dit jou eie deur jou stempel daarop te druk.”

Die meeste werk word vir jou gegee met ’n beskrywing van die reëls en riglyne. As jy net doen wat van jou verwag word, is dit soos om ’n leë huis te bewoon. Daar is geen persoonlikheid nie. Maar as jy jou eie styl bysit, kan jou werk soveel interessanter word. Twee mense sal nooit ’n werk op dieselfde manier “versier” nie. Een kelner sal die bestellings van gereelde klante memoriseer. ’n Ander sal besonder vriendelik en beleef wees. Albei geniet hulle werk omdat hulle betrokke raak by wat hulle doen.

Hou aan leer

Nog ’n manier waarop ’n mens vreugde uit jou werk kan put, is om te leer. Die boek Tension Turnaround verduidelik dat ons brein se vermoë om inligting te verwerk, vermeerder namate ons groei. Dit verduidelik waarom die dinge wat ons in die verlede opgewonde gemaak het ons nou dalk verveel. Die oplossing is om die brein se begeerte na nuwe inligting te bevredig deur nuwe dinge te leer.

As jy meer oor jou werk leer, kan dit mettertyd daartoe lei dat jy werk gegee word wat aangenamer is. Maar selfs as dit nie gebeur nie, sal die leerproses op sigself jou werk interessanter en bevredigender maak. Die skrywers Charles Cameron en Suzanne Elusorr sê: “As jy leer, laat dit nie net jou selfvertroue toeneem deur jou vermoëns te vermeerder nie; dit het ook ’n uitwerking op jou algemene gesindheid teenoor die lewe: dat probleme opgelos kan word, moeilikhede oorkom kan word, vrese verminder kan word en dat meer dinge moontlik is as wat jy gedink het.”

‘Maar’, maak jy dalk beswaar, ‘ek het lankal alles oor my werk geleer wat ek kon!’ Kan jy in daardie geval dinge leer wat indirek met jou werk verband hou? Jy kan byvoorbeeld besluit om meer te leer oor menseverhoudinge of oor jou toerusting. Miskien kan jy leer hoe om ’n beter kantoormemorandum te skryf of hoe om ’n beter vergadering te hou. Jy kan leer wat die doeltreffendste manier is om toesighouers te behandel.

Hoe gaan jy hierdie dinge leer? Die maatskappy waarvoor jy werk, bied moontlik kursusse aan waarvan jy gebruik kan maak. Of ’n biblioteek het dalk net die boeke wat jy nodig het. Maar moenie minder ooglopende inligtingsbronne oor die hoof sien nie. Dit kan opvoedkundig wees om mense dop te hou terwyl hulle werk en te let op hulle sterk punte en hulle swakhede. Jy kan uit jou foute leer, en jy kan ook uit die sukses leer wat jy behaal het deur te dink aan wat jy reg gedoen het. Wat jy uit jou eie ondervindinge en jou waarneming van ander leer, kan jou iets leer wat jy dalk nooit in boeke sal lees of in ’n klaskamer sal hoor nie.

’n Paar laaste wenke

Daar is nog ’n manier waarop jy jou werk kan benader. Jy kan besluit dat jy beter verdien—dat ander al die kanse gegun word en dat jy nooit ’n geleentheid gegee is om die werk te doen wat jy werklik wil doen nie. Jy kan eindelose gesprekke voer met ander wat met jou saamstem, en jy kan jouself oortuig dat dit alles waar is.

Maar dit is dalk nie waar nie. Baie mense wat hulle werk geniet, het geleer om dit te geniet. Iemand wat dit geniet om huise te ontwerp, sal dit dalk ook uiteindelik geniet om ’n bus te bestuur. Waarom? Omdat sy skeppende benadering van die werk hom vreugde en bevrediging gee.

Bevry jou dus van die negatiewe denke wat die werksweek donker maak in teenstelling met die naweek. Moenie tyd mors deur jou vorige mislukkings te hersien, te dink aan wat volgende verkeerd sal loop en bekommerd te wees oor wat ander van jou dink nie. Kyk na die werk voor jou. Gee dit jou volle aandag. Probeer om net so verdiep daarin te raak as wat jy in jou gunstelingstokperdjie verdiep sou raak. Maak dit jou beste poging tot nog toe, en put vreugde uit werk wat goed gedoen is.

[Venster/Prent op bladsy 11]

Moenie jou werk verwaarloos nie

Die Bybel sê in Spreuke 27:23, 24: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee; want ’n skat is nie vir ewig nie—of sal ’n kroon wees van geslag tot geslag?” Wat beteken dit?

Dit beteken dat rykdom (’n skat) en vername posisies (’n kroon), indien dit enigsins verkry word, dikwels tydelik is.’n Herder in Bybeltye het derhalwe wysheid getoon as hy ywerig na sy skape omgesien het, dit wil sê ‘sy aandag op die troppe vee gerig het’. Soos die volgende drie verse toon, sou dit materiële sekuriteit vir die werker en sy gesin tot gevolg hê.—Spreuke 27:25-27.

Wat van vandag? Mense rig dikwels hulle aandag daarop om ’n fortuin of ’n vername posisie te verkry, wat hulle hoop hulle in staat sal stel om hulle huidige werk te verlaat. Party het realistiese planne; ander droom net. In albei gevalle is dit onverstandig om ’n mens se huidige betrekking te verag of te verwaarloos. Dit is die betroubaarste bron van inkomste en sal moontlik voortgaan om dit te wees. Dit is baie verstandiger as iemand sy aandag op sy “troppe vee” rig deur sy volle aandag aan sy bestendige betrekking te skenk. As hy dit doen, sal dit waarskynlik nou en in die toekoms tot materiële sekuriteit lei.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel