Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 12/22 bl. 15-18
  • Hoe werk lof verwerf in Moskou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe werk lof verwerf in Moskou
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Getuies in Moskou
  • ’n Nuwe vergaderplek
  • Hoe die werk gedoen is
  • Moskou—Sy 850ste herdenking
    Ontwaak!—1997
  • ’n Lang regstryd eindig in ’n oorwinning!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Eenheid wat die wêreld verstom
    Ontwaak!—1993
  • ‘Ons wêreld sou anders wees’
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 12/22 bl. 15-18

Hoe werk lof verwerf in Moskou

IN 1998 is ’n siviele regsgeding waarin daar gevra is dat die bedrywighede van Jehovah se Getuies verbied word, voor ’n munisipale hof in die Golowinski-distrik van Moskou gebring. Daarom sal dit moontlik vir jou ironies wees dat die Getuies onlangs deur plaaslike amptenare van die Golowinski-Distriksadministrasie geprys is.

Waarom het die Getuies lof ontvang van Moskou-amptenare terwyl sommige mense hulle terselfdertyd uit die stad probeer verdryf het? ’n Kort oorsig van die bedrywighede van die Getuies daar sal antwoorde verskaf.

Die Getuies in Moskou

In die middel-1950’s was Moskou een van die min hoofstede in die wêreld waar nie een Getuie van Jehovah gewoon het nie. Waarom nie? Want die Getuies in Moskou is gedeporteer, iets wat ook met duisende ander in die Sowjetunie gebeur het. Waarheen? Die meeste is na Siberiese strafkampe geneem.

Met verloop van jare het ’n paar Moskowiete die Bybel begin bestudeer met behulp van die Getuies se publikasies, wat destyds in Rusland verbied was. In die middel-1970’s het die paar wat toe reeds Getuies geword het, in Moerat Sjakirof se woonstel in Moskou vir Bybelstudie vergader. In die 1980’s het die lede van hierdie groepie baie ander se belangstelling in Bybelstudie gewek.

Toe die werk van Jehovah se Getuies in die Sowjetunie in Maart 1991 wetlik erken is, het ’n groot gemeente van Getuies in Moskou openlik begin funksioneer. Duisende mense wou graag weet waarom die Getuies vervolg is. En hulle wou weet wat die Bybel werklik leer. Toe ’n streekbyeenkoms dus in Augustus 1991 in Kiëf, in die Oekraïne, gehou is, het meer as 2 000 van Moskou af sowat 890 kilometer gereis om dit by te woon. Baie van hulle was onder die 1 843 wat daar gedoop is.

Toe ’n groot internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1993 in Moskou se Lokomotief-stadion gehou is, het 23 743 mense uit meer as 30 lande dit bygewoon. Teen die einde van daardie jaar het die getal gemeentes in die stadsgebied van Moskou tot 21 toegeneem. Vandag, nagenoeg agt jaar later, is daar 104 gemeentes in dieselfde gebied.

Gedurende Junie en Julie vanjaar het 18 292 mense die vier streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies in Moskou bygewoon, en 546 is gedoop. Die dramatiese groei in die getalle van dié wat die Bybel saam met die Getuies begin studeer het, het daartoe gelei dat die leiers van die Russies-Ortodokse Kerk Moskou-amptenare probeer beïnvloed het om die Getuies se bedrywighede te verbied.

Vroeg in 1998 het die hofsaak waarin daar versoek is dat die werk van die Getuies verbied word, in die Golowinski-hof voorgekom. Op 23 Februarie 2001 het die regter uiteindelik beslis dat die Getuies onskuldig is aan die aanklagte wat teen hulle ingebring is. Maar toe die aanklaers die saak na ’n hoër hof in Moskou geappelleer het, is dit vir heroorweging na die oorspronklike hof terugverwys.

Maar waarom het die plaaslike stadsamptenare van Moskou se Golowinski-Distriksadministrasie die Getuies lof toegeswaai ten spyte van sommige mense se pogings om die Getuies se werk te verbied?

’n Nuwe vergaderplek

In Desember 1998 het die Getuies ’n groot tweeverdiepinggebou gekoop wat aan Mikhalkowski-park grens. Dit is voorheen as ’n kulturele sentrum gebruik. ’n Ruk gelede het Getuie-werkers met herstelwerk aan hierdie groot gebou begin. Dit bevat vyf Koninkryksale, of vergaderplekke, vir 22 gemeentes van Jehovah se Getuies.

Op 15 April vanjaar het ’n administrateur van die Golowinski-distrik gevra dat die Getuies op 21 April Mikhalkowski-park skoonmaak. In Rusland is dit iets algemeens vir inwoners en gemeenskapsgroepe om te help met ’n gemeenskaplike poging om parke en hoofweë goed skoon te maak. Op 17 April het die Getuies bymekaargekom om die werk te beplan. By die vergadering is daar besluit dat omtrent 700 werkers nodig sal wees.

Hoe die werk gedoen is

Toe die Getuies op 18 April die Golowinski-distrik se amptenare in kennis gestel het hoeveel harke en ander stukke gereedskap nodig sal wees, het die amptenare nie gedink dat daar eers naastenby 700 werkers sal wees nie. Maar toe werknemers van die administrasie op 21 April teen 9:30 vm. by die park aankom, was daar reeds honderde Getuies, maar daar was net 200 stukke tuingereedskap vir hulle om te gebruik. Later het hulle nog 200 harke gekry om te gebruik. Dié wat nie gereedskap gehad het nie, het die rommel met hulle hande bymekaargemaak en in plastieksakke gesit. Van die Getuies het selfs lang waterstewels en ’n bootjie saamgebring om die dam skoon te maak.

Verteenwoordigers van die administrasie was verbaas oor die werk wat gedoen is. Hulle het gesê dat die mense gewerk het asof hulle besig was om hulle eie eiendom skoon te maak en dat hulle die werk met vreugde en entoesiasme gedoen het. Daar was altesaam omtrent duisend van Jehovah se Getuies wat met die werk by Mikhalkowski-park gehelp het, en meer as 250 ton rommel is verwyder. Die mense wat in die omgewing woon, het gesê dat hulle die park baie lank laas so skoon gesien het.

Soos aan die begin genoem is, was die amptenare beïndruk met wat gedoen is en het hulle dit baie waardeer. ’n Amptenaar van die Golowinski-distrik het geskryf: “Die Golowinski-Distriksadministrasie van die Noordelike Administratiewe Gebied van Moskou bedank die godsdiensgemeenskap van Jehovah se Getuies vir hulle deelname aan die skoonmaak van die Mikhalkowski-park.” ’n Ander amptenaar het soortgelyke woorde van waardering uitgespreek en gesê: “Hierdie eerbare en noodsaaklike werk is tot die voordeel van almal wat die park besoek en verskaf hulle vreugde.”

Hoewel Jehovah se Getuies met graagte gebiede om hulle eiendomme verfraai—en aan projekte deelneem soos die een wat hier beskryf word—is hulle vernaamste werk vandag om mense te vertel van die goeie nuus van God se Koninkryk, die regering wat paradystoestande aardwyd tot stand sal bring (Matteus 24:14). Terwyl hulle Mikhalkowski-park skoongemaak het, het sommige glo gesê dat die werk waarmee hulle daar besig was, goeie opleiding was vir die werk wat ná Armageddon gedoen sal word om die hele aarde te verfraai.—Openbaring 16:14, 16.

Ja, alle liefhebbers van die Bybel sien uit na die tyd wanneer die hele aarde soos ’n pragtige park sal lyk, soos dit God se voorneme was toe hy die eerste mensepaar geskep het.—Genesis 1:28; 2:8, 9, 15; Openbaring 21:3, 4.

[Prent op bladsy 15]

’n Reünie van dié wat in die middel-1970’s in Moerat Sjakirof se woonstel bymekaargekom het

[Prente op bladsy 16]

Vier streekbyeenkomste wat vanjaar in Moskou gehou is, is deur altesaam 18 292 bygewoon

[Prente op bladsy 17]

Hierdie voormalige kulturele sentrum is omskep sodat dit vyf Koninkryksale kan bevat

[Prente op bladsy 18]

Meer as 250 ton rommel is verwyder

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel