Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 6/22 bl. 15-19
  • Moskou se skitterende ondergrondse paleise

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moskou se skitterende ondergrondse paleise
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe dit ontstaan het
  • Kom ons beskou dit van nader
  • Ligte en lug
  • Lof van alle kante
  • Moskou—Sy 850ste herdenking
    Ontwaak!—1997
  • ’n Rit in die “gat in die grond”
    Ontwaak!—1990
  • Moltreinstelsels—een en ’n half eeu oud
    Ontwaak!—1997
  • Hoe werk lof verwerf in Moskou
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 6/22 bl. 15-19

Moskou se skitterende ondergrondse paleise

DEUR ONTWAAK-MEDEWERKER IN RUSLAND

DIT was nie moeilik om te raai waar die moltreinstelsel, of Metro, geleë is nie. ’n Magdom van mense het by ’n ingang ingestroom wat na onder lei. Bokant die ingang het die letter M in ’n helder rooi neonlig geglinster. Die deure van die ingang het voor my oopgeswaai. Binnekant was dit eienaardig om te sien hoe mense vinnig ondertoe beweeg en dit dan lyk asof hulle in ’n afgrond verdwyn. Ek was eers huiwerig. Toe het ek my reggeruk en hulle gevolg.

Dit was die eerste keer in my lewe dat ek in ’n moltreinstelsel was. En nie sommer enige moltreinstelsel nie—die Moskou-metro! Maar wat is so besonders omtrent ’n moltreinstelsel in ’n wêreld waar die mens in die ruimte kan reis, die atoom kan splits en selfs ingewikkelde breinoperasies kan uitvoer?

Vir eers het ek gehoor dat die Moskou-metro waarskynlik die mooiste moltreinstelsel ter wêreld is. Dit is, soos die Russiese spreekwoord sê, “beter om iets een keer met jou eie oë te sien as om honderd keer daarvan te hoor”. Toe ek verlede Julie die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Moskou bygewoon het, was ek gretig om met die Metro te ry.

Hoe dit ontstaan het

In 1902 het ’n Russiese wetenskaplike en ingenieur met die naam Bolinsky voorgestel dat ’n bogrondse vervoerstelsel gebou word wat langs die Kremlin-muur en om die stadsentrum sou loop. Maar die Moskou-stadsraad het destyds die planne vir die ontwikkeling van die stelsel afgekeur. Tien jaar later het die raad die idee ernstig begin oorweeg—dit sou die eerste van sy soort in Rusland wees—maar die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het verdere ontwikkeling vertraag. Die idee is eers in 1931 opnuut oorweeg. Dit is toe dat die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie besluit het dat die land se eerste moltreinstelsel in Moskou gebou moet word. Rusland het dus die 11de land, en Moskou die 17de stad, geword om so ’n reusebouprojek aan te pak.

Moskou se moltreinstelsel het sy eerste spoorlyn, wat omtrent 11 kilometer lank was, teen sewe-uur op die oggend van 15 Mei 1935 in gebruik geneem, slegs drie jaar nadat die bouwerk begin het. Vier treine het by 13 stasies stilgehou en kon ongeveer 200 000 passasiers per dag vervoer. Die Moskowiete en buitelandse besoekers was beïndruk. Dit was só nuut, só buitengewoon! Saans het mense tougestaan om van die Metro se eerste passasiers te wees. Dit was iets besonders. En dit is nog steeds.

Sedert 1935 het die stelsel uitgebrei tot nege spoorlyne met ’n totale afstand van ongeveer 200 kilometer en met 149 stasies. Byna alle ander vorme van openbare vervoer in Moskou, waaronder die lughawe en die waterweë, is op die een of ander manier met die Metro verbind. Trouens, die Moskowiete kan hulle nie ’n lewe sonder die Metro voorstel nie. Dit is te begrype, aangesien die Metro elke dag gemiddeld negemiljoen passasiers vervoer, wat byna dubbel die bevolking van Finland is. In vergelyking hiermee vervoer die moltreine van Londen en New York-stad altesaam net sowat die helfte van daardie getal.

Kom ons beskou dit van nader

Wil jy graag sien wat 20 verdiepings onder die grond geleë is? ’n Roltrap neem ons vinnig af ondertoe. Dit is maar een van die ongeveer 500 roltrappe in die hele stelsel, wat saam meer as 50 kilometer lank sou wees as jy hulle in hulle lengte sou uitlê. En wat ’n sensasie is dit tog om af te gaan met ’n roltrap wat ’n helling van 30 grade het en wat teen ’n spoed van sowat een meter per sekonde beweeg—bykans twee keer die spoed van roltrappe in baie ander lande!

Ons is nou op Majakofskaja-stasie. Die argitektuur laat ons eerder voel asof ons in ’n paleis as ’n ondergrondse stasie is. Ek vind dit moeilik om te glo dat ek werklik ondergronds is. Ek het nog maar selde sulke pragtige argitektuur bogronds gesien, wat nog te sê van ondergronds. Dit is geen wonder dat ’n internasionale argitektuurtentoonstelling wat tussen 1937 en 1939 gehou is vyf van Moskou se Metro-stasies met eerbewyse oorlaai het nie, hierdie stasie inkluis. Maar nie al 149 stasies is natuurlik so paleisagtig soos die Majakofskaja-stasie nie; die meeste van die nuwer stasies is meer beskeie—maar steeds indrukwekkend—elkeen uniek in styl en ontwerp.

Byna al die stasies vertel iets van die Russiese geskiedenis. Marmer, keramiek en graniet is uit 20 verskillende dele van Rusland gebring om as versiering te dien. ’n Fotogids sê: “Die hele land het aan die werk gespring om die Moskou-metro te help bou.” Graniet is vanweë sy duursaamheid op groot skaal vir die vloerversiering gebruik. Dit is ’n belangrike faktor as ’n mens die menigte mense in ag neem wat daagliks op die stasies saamdrom.

Terwyl ons die prag van hierdie ondergrondse paleis geniet, let ons op hoe die treine teen ’n hoë snelheid heen en weer verbysnel. Sowat 90 sekondes nadat die een trein uit die stasie weggetrek het, kan die ligte van die aankomende een reeds gesien word. Loop die treine altyd so dikwels? Tydens die spitsuur is dit wel die geval. Andersins is daar elke drie tot vyf minute ’n trein.

Ons het ons skaars op ons gemaklike sitplekke in die trein tuisgemaak of ons voel self hoe vinnig die trein tot topsnelheid versnel. Dit dreun deur ’n tonnel van net ongeveer ses meter in deursnee, soms teen ’n snelheid van om en by 100 kilometer per uur. Trouens, ’n mens kan binne ongeveer ses uur deur die hele Metro ry! Die Moskowiete verkies die Metro nie net omdat dit die vinnigste vervoermiddel is nie, maar ook omdat dit goedkoop en gerieflik is. Verlede Julie, tydens die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies, het ’n rit na enige plek op die Metro tien roebels gekos, wat toe gelyk was aan drie Suid-Afrikaanse sent.

Die tussenpose tussen twee treine is so kort dat jy dalk wonder hoe die treine teen só ’n hoë snelheid kan ry. Die verduideliking is eenvoudig. ’n Outomatiese spoedbeheerstelsel is spesiaal ontwerp om ongelukke te voorkom. Hierdie stelsel verseker dat die afstand tussen treine nie minder is as die afstand wat nodig sal wees om die trein teen daardie snelheid tot stilstand te bring nie. Met ander woorde, ’n trein wat teen 90 kilometer per uur ry en nader as die vereiste stilhouafstand van die trein voor hom kom, sal outomaties begin rem. Daarbenewens word die masjinis in die voorste trein deur ’n alarmsein gewaarsku. Hierdie stelsel dra natuurlik grootliks tot die veiligheid van hierdie treine by. Is dit dalk die rede waarom die Moskowiete wat die Metro gebruik so kalm en ontspanne lyk? Die meeste van hulle sit rustig en lees, klaarblyklik vol vertroue dat hulle hulle bestemming veilig sal bereik.

Ligte en lug

Vroeg elke oggend, wanneer duisende elektriese motore begin dreun en honderdduisende ligte aangeskakel word, begin miljoene mense hulle weg deur die stampvol ondergrondse paleise baan waar sowat 3200 moltreine dwarsdeur die dag hulle deure beurtelings sal oop- en toemaak. Dit alles word deur ’n ontsaglike hoeveelheid elektrisiteit moontlik gemaak.

Hierdie bedrywighede veroorsaak baie hitte wat gedeeltelik deur die omliggende aarde geabsorbeer word. Maar wat van die oortollige hitte wat tot oorverhitting van die tonnels en stasies kan lei? Wel, soos ’n mens van ’n paleis kan verwag, het elke stasie ’n ventilasiestelsel wat die lug vier keer per uur heeltemal suiwer. Daar is altyd vars lug, ongeag hoe vol die Metro is. Trouens, baie beskou die ventilasiestelsel in die Moskou-metro as die beste ter wêreld.

Gedurende die winter kom hierdie hitte egter goed te pas. Afgesien van die geboue en ingange wat bogronds geleë is, is geen verwarmingstelsel nodig nie. Aangesien die hitte van die treine, die menigtes mense en die aarde self gedurende die lente en somer opgegaar word, word genoeg hitte mildelik afgegee om die ondergrondse paleise gedurende die winter gerieflik warm te hou.

Lof van alle kante

Soos verwag kan word, is die geïllustreerde Metro-gidsboekie kwistig met sy lof: “Die Moskou-metro word tereg as een van die wêreld se mooistes beskou, waarvan die paleisagtige stasies met hulle ingewikkelde netwerk van spoorlyne, bedrading, pypleiding en kabels verteenwoordigend is van ’n waarlik interessante mengsel van die room van kunstigheid en ingenieursvernuf. Hierdie geboue is nie net stasies nie, hulle is eerder argitektoniese meesterwerke van weergalose swier en betowering wat smaakvol versier is met marmer, graniet, staal en teëls, en die beligting beklemtoon die ongewone ontwerp, beeldhouwerk, mosaïek, omlysting, paneelwerk, gekleurde glas en dryfwerk. Die land se beste argitekte en kunstenaars”, waaronder beeldhouers, “het tot die ontwerp en dekor bygedra.”

Nou, nadat ek Moskou besoek en self die Metro gesien het, sal ek met hierdie beskrywing saamstem. Baie van my mede-afgevaardigdes na die byeenkoms was ook beïndruk. ’n Duitse afgevaardigde het vir my gesê: “Dit was asof ek in ’n konsertsaal met pragtige kandelabers ingestap het. Ek was betower.” ’n Besoeker uit die Verenigde State was beïndruk deur die Metro se stiptheid, sindelikheid en doeltreffendheid. En ’n byeenkomsafgevaardigde uit verafgeleë Siberië was verbaas oor hoe ontsaglik groot die ondergrondse geboue is.

As jy Moskou ooit besoek, wil ek jou aanspoor om hierdie skitterende ondergrondse paleise te besoek. Hou in gedagte: “Dit is beter om iets een keer met jou eie oë te sien as om honderd keer daarvan te hoor.”

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Sovfoto/Eastfoto

[Prente op bladsy 16, 17]

’n Paar van Moskou se pragtige ondergrondse stasies

[Erkenning]

Photo credits (clockwise from top left): Laski/Sipa Press; Sovfoto/Eastfoto; Sovfoto/Eastfoto; Laski/Sipa Press; Laski/Sipa Press; Sovfoto/Eastfoto

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel