Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 1/8 bl. 24-25
  • Ontmoet die voël agter die wimpers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontmoet die voël agter die wimpers
  • Ontwaak!—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer voëls in geboue vasvlieg
    Ontwaak!—2009
  • ’n Verwoestende droogte in Suidelike Afrika
    Ontwaak!—1994
  • Die grootmaak van kleintjies in die natuur
    Ontwaak!—2001
  • Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 1/8 bl. 24-25

Ontmoet die voël agter die wimpers

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

“JY HET ons waarskynlik nog nooit ontmoet nie. Ons is voëls, en die meeste mense ken ons as bromvoëls.

“Buiten ons treffende voorkoms is daar ander interessante feite oor ons wat ons jou graag wil meedeel. In die eerste plek bring ons die meeste van ons tyd op die grond deur. Ons is omtrent net so groot soos ’n kalkoen, en soos die kalkoen vlieg ons nie eintlik veel nie.

“Met ons kenmerkende, lomp gewaggel stap ons in die sentrale en suidoostelike gebiede van Afrika. As ons mekaar ooit sou ontmoet, sal jy ons beslis herken aan ons skarlakenrooi keelsakke en kolle om ons oë en natuurlik aan ons pragtige, lang wimpers!

“Bromvoëls teel nie maklik aan nie—ons maak gemiddeld net een kuiken elke ses jaar groot. Gedurende paartyd voorsien ons mannetjies ’n goeie voorraad droë blare om ons neste uit te voer, wat gewoonlik in hol bome of holtes in rotse is. Daarna versorg die wyfies die eiers versigtig 40 dae lank. Saam met ander lede van ons gesinsgroep loop ons vinnig heen en weer om ’n bestendige voorraad wurms, larwes en ander lekkernye aan die wagtende moeder te voorsien. Ons is almal baie verheug wanneer die nuwe aankomelinge, drie maande nadat hulle uitgebroei het, die nes verlaat om by die res van ons gesin aan te sluit.

“Ons vorder stadig tot volwassenheid—dit duur ten minste ses jaar voordat ons heeltemal volwasse is. En dit kan een van ons nog langer neem om sy eie gesin te vestig. Die feit dat ons lank lewe (baie van ons lewe 30 jaar), gee ons natuurlik genoeg tyd om ons gene aan ander geslagte oor te dra.

“Soos jy kan sien, is ons gesinsgeoriënteerd, met groepe van nie meer as agt voëls wat saamlewe en -werk nie. Elke gesin woon in ’n gebied van ongeveer 100 vierkante kilometer van Afrikasavannas, -bosveld en -grasvelde. In party dele van suidelike Afrika het ons tot 70 persent van ons habitat verloor weens landbou en mense wat daar woon.

“Ons beskerm ons gebied vuriglik en patrolleer ons grense gereeld. Ons kos—slange, larwes, skilpaaie en insekte—word nie gedeel nie, selfs nie met bromvoëls van ander gesinne nie. Weens ons aggressiewe gedrag teenoor indringers, maak ons ons partykeer belaglik. Hoe? Wanneer ons ons eie weerkaatsing in ’n vensterruit sien, storm ons dikwels in die venster vas omdat ons die weerkaatsing vir ’n indringer aansien. Die slag van die lang, harde snawel laat die venster gewoonlik aan stukke spat. As gevolg van die baie stukkende vensters het party mense ogiesdraad voor hulle vensters gesit, en ons is baie dankbaar daarvoor!

“Dit is tragies dat daar dodelike bedreigings is om oor bekommerd te wees. Party mense dwing ons uit ons habitat uit. Ander skiet ons met gewere. Boere sit dikwels vergiftigde aas uit vir jakkalse en ander diere wat as ongewens beskou word. Maar hoe moet ons weet dit is vergiftig? Soms begrawe die boere blykbaar die gif om ons te beskerm. Maar aangesien ons gewoonlik met ons lang snawels vir kos grawe, grawe ons so te sê ons eie grafte wanneer ons vergiftigde kos uitgrawe.

“Party mense probeer hard om ons teen hierdie gevare te beskerm. Ons hoop dat ons nie dieselfde lot as ons medevoël die dodo sal hê nie—naamlik uitsterwing. Wanneer jy dan ook al in ons gebied is en ons dreunende roep, doe-doe-doedoedoe doe-doe-doedoedoe, hoor, moet jy ons gerus opsoek. Ons sal ons lang wimpers knip en jou in die ryk van die bromvoël verwelkom.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel