Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 1/22 bl. 15-18
  • Die grootmaak van kleintjies in die natuur

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die grootmaak van kleintjies in die natuur
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onwaarskynlike versorgers
  • Gevleuelde ouers
  • Ouerlike beskerming
  • Moederlike soogdiere
  • “Die pragtigste woudbewoner”
    Ontwaak!—2000
  • Voeding en versorging in die dierewêreld
    Ontwaak!—2005
  • Wat babas nodig het en wil hê
    Ontwaak!—2003
  • Getroue ouers wat saamwerk
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 1/22 bl. 15-18

Die grootmaak van kleintjies in die natuur

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

’N KLEINTJIE word op die uitgestrekte grasvlaktes van Afrika gebore. In die lig van die vroeë oggendson val hy met ’n slag op die grond. Sy ma buk af en lig haar nat en blink pasgebore kleintjie sagkens op sy bewerige pootjies. Ander ma’s en susters haas hulle nader om die nuweling van naderby te bekyk en aan die kleinding te raak en te ruik. ’n Olifantkalfie wat maar net 120 kilogram weeg en minder as 90 sentimeter hoog is, veroorsaak opgewondenheid onder die ander lede van die trop.

Duisende kilometers daarvandaan, in die Amerikas, hang ’n dwergagtige nessie so groot soos ’n vingerhoed aan ’n boomtak. Hier versorg twee bykolibries, wat niks groter as vlieënde insekte is nie, twee klein kuikentjies. Die kleurvolle voëltjies, wat teen ongelooflike snelhede vlieg, is dapper ouers en sal groot diere en selfs mense probeer verdryf wat naby hulle piepklein kleintjies kom.

Ons almal is lief vir klein diertjies. Kinders is gefassineer wanneer hondjies gebore word. Wie geniet dit nie om te kyk na die spelerige manewales van ’n klein katjie, die kostelike gesiggie van ’n apie wat aan sy ma se pels vasklou of ’n uiltjie wat grootoog uit die veiligheid van sy nes loer nie?

Diere se kleintjies is nie altyd so hulpeloos soos ’n mensebaba nie. Party kan kort nadat hulle klein pootjies die grond raak al hardloop. Ander word heeltemal op hulle eie gelaat om hulleself te beskerm en self aan die lewe te bly. Maar die oorlewing van talle jong diere en insekte hang af van ouerlike versorging, beskerming, voeding en opleiding wat die gevolg is van ’n hegte band tussen ouers en hulle kleintjies.

Onwaarskynlike versorgers

Die meeste insekte, visse, amfibieë en reptiele toon nie baie belangstelling in die welsyn van hulle kleintjies nie. Daar is egter ’n paar noemenswaardige uitsonderings. Een baie onwaarskynlike versorger is die vreesaanjaende Nylkrokodil. Hierdie koudbloedige reptiel toon uitsonderlike ouerlike sorg. Nadat die eiers in die warm sand gelê is, bly die ouers naby om hulle toekomstige nageslag te beskerm. Wanneer die klein krokodilletjies gereed is om uit die dop te kruip, begin hulle bromgeluide maak, wat die teken vir die ma is om die grond bo die eiers weg te neem. Later, met behulp van haar kragtige kake, tel sy haar kleintjies versigtig op en dra sy hulle na die rand van die water om die sand van hulle af te was. Die krokodilpa is ook daarvoor bekend dat hy die kleintjies na die water neem om hulle te was. ’n Paar dae lank bly die krokodilletjies naby hulle ma in die water en volg hulle haar soos klein eendjies. So trek hulle voordeel uit haar geweldige krag om hulle te beskerm.

Verbasend genoeg is daar ook visse wat ons as goeie ouers sal beskou. Die meeste tilapias, wat varswatervisse is, lê hulle eiers en hou dit dan in hulle mond vir veilige bewaring. Wanneer hulle uitbroei, swem die klein vissies vry rond, maar bly nogtans naby hulle ouers. As gevaar dreig, maak een van die ouers sy mond wyd oop sodat die vissies blitsvinnig na binne kan swem en wegkruip. Wanneer die gevaar verby is, maak die kleintjies weer hulle verskyning en gaan hulle voort met hulle normale bedrywighede.

Miere, bye en termiete versorg en beskerm hulle kleintjies ook op ’n ongelooflike manier. Hulle staan bekend as samelinsekte en woon in kolonies. Hulle bou beskuttings vir hulle eiers en voorsien kos vir hulle kleintjies. Die heuningby is ’n bekende voorbeeld hiervan. Duisende van hierdie besige bye werk saam om die jonges in die nes te versorg. Instinktiewe wysheid stel hulle in staat om die ‘kinderkamer’ te bou, te herstel en skoon te maak, en selfs die temperatuur en voggehalte daarvan te beheer.

Gevleuelde ouers

Die meeste voëls is baie goeie ouers en bestee baie tyd en energie daaraan om ’n geskikte plek vir die nes te kies, die nes te bou en hulle gesin groot te maak. Een toegewyde neushoringvoëlmannetjie het gedurende die hele 120 dae lange broeityd die nes 1 600 keer besoek en 24 000 stukkies vrugte vir sy maat gebring!

Die swerwer-albatros is nog ’n betroubare versorger. Een van die ouers sal letterlik duisende kilometers vlieg op soek na kos terwyl die getroue maat geduldig by die nes op die tuiskoms wag.

In woestyngebiede gebruik party voëls ’n doeltreffende metode om die dors van hulle kleintjies te les. Hulle vlieg na ’n watergat, waar hulle hulle borsvere deurweek, en keer dan na die nes terug waar die kuikentjies van hulle nat vere af drink.

Wanneer die taak te groot word om die baie bekkies te voer, roep party voëlsoorte die hulp van ander voëls in om hulle kleintjies op te pas. Hierdie helpers is gewoonlik volwasse voëls wat vroeër deur die ouers grootgemaak is, en hulle is gewillig om hand by te sit met die voer en beskerming van die kuikens.

Ouerlike beskerming

Dit is ook ’n voltydse werk om kuikentjies te beskerm. Gevleuelde ouers sal dikwels die nes met hulle uitgestrekte vlerke bedek wanneer dit reën om hulle kuikentjies warm en droog te hou. Spreeus is uitstekende huishoudsters. Om hulle nes teen luise en vlooie te beskerm, versamel hierdie vindingryke voëls stukkies van sekere giftige plante wat hulle in en om die nes sit. Dit dien as ’n insekdoder wat skadelike insekte doodmaak of weghou.

’n Houtsnip-ma toon ongelooflike vindingrykheid wanneer sy haar kleintjies beskerm. Wanneer haar kuikentjie bedreig word, gryp sy hom stewig vas tussen haar bene en liggaam, maak haar vlerke oop en vlieg dan eenvoudig weg met haar kosbare vrag na ’n veiliger plek. Party dapper ouers maak of hulle beseer is om ’n roofdier se aandag af te trek as hy na aan hulle kuikens kom. Die ma sal op die grond lê en haar vlerke klap asof sy beseer is en so die roofdier weglok van die nes af. Wanneer die gevaar verby is, sal sy ophou toneelspeel en wegvlieg na waar dit veilig is. Voëls wat hulle nes op die grond maak, kan deur kunstige stemverandering roofdiere afskrik. Die Noord-Amerikaanse gatlewende uil sis soos ’n slang wanneer sy nes ondersoek word. Die vroeë setlaars was oortuig daarvan dat dié klein uiltjies hulle tuiste met ratelslange gedeel het, en hulle het die nes vermy!

Moederlike soogdiere

In die diereryk word die hoogste vorm van ouerlike sorg onder soogdiere gesien. Olifantkoeie is geheg aan hulle kalfies, en dit lei tot ’n sterk band wat tot 50 jaar lank kan duur. Die kalf is baie afhanklik van sy ma. Die koei beskut hom teen die warm son met haar groot liggaam, soog hom liefdevol en laat hom toe om met sy klein opgeligte slurpie stukkies kos uit haar mond te haal om te eet. Sy was haar kleintjie gereeld af deur water oor sy rug te spuit en hom met haar slurp te borsel. Die grootmaak van ’n olifantkalfie is ’n familieprojek, aangesien ander koeie in die trop ’n belangrike rol daarin speel om die kleintjies in die trop te voed, te leer en te beskerm.

Nog ’n groot soogdier, die seekoei, kan onder water aan haar kalf geboorte gee. Die kleintjies kan heeltemal onder water soog, opkom vir suurstof en dan weer onder die water verdwyn en verder soog. Die seekoeikoei is uiters beskermend teenoor haar pasgebore kalf.

Blouapies is ook goeie ma’s. Nadat sy geboorte gegee het, hou die ma haar kleintjie gedurende die eerste ure styf vas met ten minste een van haar arms om sy nek of skouers. Vir die eerste week klou die apie die meeste van sy tyd instinktief aan sy ma se pels vas. Die ma sal dalk toelaat dat ander wyfies haar kleintjie vashou. Hulle sal moontlik ’n bietjie aan die kleinding vat, hom versorg en vertroetel en met die oulike nuweling speel.

Ja, baie diere is “instinktief wys” en is baie bekwaam in die wyse waarop hulle na hulle kleintjies omsien (Spreuke 30:24-28, NW). Hulle vermoë om ’n behoefte te bepaal of ’n situasie op te som en intelligent daarop te reageer, kan nooit die resultaat van blinde toeval wees nie. Dit is die resultaat van ’n intelligente ontwerp deur ’n intelligente bron—die Skepper van alle dinge, Jehovah God.—Psalm 104:24.

[Prent op bladsy 15]

Klein uiltjies

[Prent op bladsy 16]

Tilapias hou hulle eiers in hulle mond

[Erkenning]

Courtesy LSU Agricultural Center

[Prente op bladsy 16]

Krokodille dra hulle kleintjies

[Erkenning]

© Adam Britton, http://crocodilian.com

[Prent op bladsy 17]

Albatros en kuiken

[Prent op bladsy 17]

Neushoringvoël

[Prent op bladsy 17]

Spreeu

[Prent op bladsy 17]

Houtsnip

[Prente op bladsy 18]

Die seekoeikoei is uiters beskermend

[Erkenning]

© Joe McDonald

[Prent op bladsy 18]

Bobbejaanwyfies maak hulle kleintjies skoon

[Prent op bladsy 18]

Blouapies

[Erkenning]

© Joe McDonald

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel